Julia Kristeva © BGNES News Agency
I
Op ‘n herfsaand laat weet ‘n kollega dat daar die volgende
op die internet verskyn het: (Julia Kristeva was communist secret agent, Bulgaria claims | World news | The Guardian. Besoek 29 Maart 2018).
En sy vra: dink jy hulle het Binet gelees? Sy The seventh function of language had my gaande. ‘n Letterkundige speurverhaal rondom die dood
van Roland Barthes. Is Barthes “per ongeluk” raakgery of was daar ‘n komplot
teen hom? (Woorde wat weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language, 2017).
Watter rol het Kristeva gespeel?
Is
die onthulling dat sy ‘n spioen was in Bulgarye “waar” of “wolhaar”?
Het
die teks dit onthul? Of het Binet, wat ook ‘n politieke ontleder is, oor
binnekennis beskik?
Is “truth stranger than fiction”? Of ‘n merkwaardige
voorbeeld van hoe die fiksionele dimensie dalk die werklikheid bepaal?
II
Tydens ‘n navorsingsbesoek aan die VSA doen ek navorsing
oor dekonstruksie-kritiek aan Yale. Ek ontmoet J. Hillis Miller en Geoffrey
Hartman. Wyle Barbara Johnson gee klas vir Paul de Man wat siek is. Haar klasse
is informeel.
Deconstruction
& Criticism het verskyn. Ek is betower deur die
sjarmante Harold Bloom. Sy seminare sou my belangstelling in psigoanalitiese
leesmodelle verder prikkel.
Paul de Man with Jacques Derrida
‘n Bom bars toe toe daar na De Man se dood uitgevind word
dat hy in sy jeug ‘n Nazi-simpatisant was. Ortwin de Graef skryf hieroor in
1988. Die hele literêre wêreld is in rep en roer. Sommiges meen selfs dat ditbewys
dat dekonstruksie geen politieke relevansie het nie en net eindig in ‘n spel
met woorde. Sy vriend Derrida verdedig hom in ‘n artikel.
Lank
na Derrida se verdediging van Paul de Man, die Yale-dekonstruksie-kritikus,
verskyn daar ‘n biografie wat verdere aspekte van ‘n donker psige openbaar. Nie
alleen was De Man ‘n kolloborateur in sy jeug nie, maar hy het ook sy wettige
vrou in die steek gelaat. Hy het ‘n ander vrou ontmoet, met haar getrou, sonder
om sy vrou te skei. Die wettige vrou is verder nie onderhoud betaal nie en
insinuasies van diefstal, onbetaalde rekeninge, leuens en wat nog, word vertel.
Boonop – so word daar beweer – het hy aan Harvard studeer sonder ‘n regte
graad. Hy het dokumente vervals en almal wol oor die oë getrek. ‘n Mens word by
die lees van hierdie biografie bewus van ‘n pre- en post-bestaan en ‘n
intellektueel wat homself letterlik “oorgemaak” het. Die insinuasies – met
bewyse van sy pro-Nazi-koerantartikels gevind deur Ortwin de Graef – het sy
intellektuele vriende geskok en verskeie teoretici het hom probeer verdedig,
o.a. Derrida, Hillis Miller, en vele meer. (Woorde wat weeg / Paul de Man en die Allegorie van lees).
III
En Kristeva?
Sy is een van die fynste teoretici oor poëtiese taal. Desire in language. Die siening van die chora. Die
matrioska-beginsel.
Miskien moet dit weer herhaal word: ons moet fokus op die
tekste wat skrywers vir ons gee.
“Sabina”
se werk as spioen moet eerder vergeet word. Sy is en bly een van die grootste
denkers van die twintigste eeu, en die rou emosies in die oorgang na ‘n
demokrasie in Bulgarye moet as die verlede gesien word.
© Joan
Hambidge