Sunday, November 5, 2017

Resensie | Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman (2017)

Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman. Human & Rousseau, 2017. ISBN 0-7981-7610-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie inskrywing is net ‘n paar kanttekeninge by Schoeman se jongste teks, nadoods gepubliseer as Skepelinge – aanloop tot ‘n roman.

Vir Schoeman-liefhebbers is daar die plesier van lees, navors, nadink, terugkeer. ‘n Boek met endnote. In die koda bely die outeur dat die gedagte vir hierdie boek by hom uitgekom het tydens twee afsonderlike besigtigings van Sokoerof se film Russiese ark (2002), ‘n film wat ek waarskynlik al ses keer besigtig het, met al die onderhoude en nabetragtings rondom hierdie verruklike film.

Oor hierdie magistrale film het ek op 5 Julie 2017 geskryf en die verbintenis tussen Dan Sleigh se roman 1795 en hierdie film uitgewys wat die geskiedenis problematiseer en her-interpreteer (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017). Dit is ‘n 87 minute eenskoot-film. In die post-produksie is die film wel ge-“reframe": en gedeeltes is vertraag of vinniger gestel. (‘n Belangrike stuk inligting vir die leser van ‘n historiese roman; elke navorser interpreteer en raam sy roman vanuit ‘n bepaalde hoek. Dan Sleigh benader sake anders as Schoeman).

Hierdie dikke roman dek (in beginsel) die tydperk 1652 – 1795 en konsentreer op die uitseilende skepe van die VOC tussen Nederland en die Kaap.

Die outeur self beskou hierdie boek as ‘n hibriede skepping, iewers tussen feit en nie-fiksie; selfs as ‘n “historiese improvisasie”.

Hy gebruik die /Xam-gedigte in die Engels, want hy voel nie “gemaklik” met Antjie Krog se Bleek & Lloyd-rendisies nie, ofskoon hy dit wel “verblydend” vind dat dit bestaan. (In sy laaste outobiografiese tekste is daar ook stekies na Afrikaanse kritici te vinde.)

In die koda skryf Schoeman: “Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.” Vir Johan Rossouw, ‘n besondere leser van Schoeman, is hierdie enkele sin die laaste woord oor die temas waaraan hy sy hele lewe gewei het. (Schoeman se laaste sin oor sy lewenswerk | Netwerk24. Besoek 25 Oktober 2017).

Die leser word ook verras met verwysings na T.S. Eliot se "Little Gidding" - kyk na voetnoot 551.


II

Hierdie teks moet benader word as 'n werkboek of 'n aanloop tot 'n roman. Dit vergelyk met postume tekste van bekende skrywers. 'n Mens dink hier aan Vladimir Nabokov se roman wat nadoods deur sy seun Dmitri saamgeflans is. Dit heet The Original of Laura (2009) en is gepubliseer ten spyte van die skrywer se versoek dat sy tekste vernietig moes word.

Wat wel tersaaklik is van sulke romans-in-wording, is dat dit die leser 'n kykie gee in die skrywer se manier van doen en dink.  By die skryf van hierdie bespreking luister ek na Dan Sleigh op RSG (28 Oktober omstreeks 1 nm) wat uiters kundig gesels oor presies wat 'n chronometer is en oor die betekenis van skeepsvaart. (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017).

Wat sou van hierdie boek geword het as die skrywer Schoeman verder hieraan sou werk? Of is die sjarme juis geleë in die onvoltooidheid?


III

Aanloop soos in program: aankondiging. 'n Roman met endnote en bronne. Asof jy hier in die werkkamer van die groot romansier staan wat vertel hoe hy skryf en uit sy groot omvangryke historiese boekery nog 'n boek maak. (Daar is glo veertien ongepubliseerde Schoeman-boeke op pad.)

Van Jung se beroemde droom tot Eliot en Fellini.

Van skeepsdokumente terug tot Shakespeare se Hamlet en The Tempest (hier is 'n woord aangepas, nota 453).

Van John Campbell se Journal of travels in South Africa terug tot by Bontekoe!

"Met vriend die God geleyde" (311) kyk na die betekenis van persoonlike briewe. Individue uit die Kompanjiestyd sou immers iets verklap van daardie tyd ...

Meeste werknemers van die VOC kon nie skryf nie; verder is dit geskryf in standaarde wat toe gegeld het en meeste van hierdie briewe het verlore geraak.

40 000 onafgelewerde briewe is wel gevind op Nederlandse skepe. Hierdie oorlogsbuit - deur Brittanje - het in die Public Record Office in Kew beland en is gedeeltelik getranskribeer as Corpus Brieven als Buit.

Tog bied hierdie briewe min insae vir die navorser, maar analiseer hy wel 'n tersaaklike woordewisseling.

"Woorde. Stemme. Mense wat eens geleef en in kroeë gedrink en baklei het, of mekaar doodgesteek het met messe of met bierkanne, stoele of banke geslaan het sodat die bloed vloei" (318).

En dit is wat Schoeman uitsonderlik maak. Om stemme van die gewone mens aan die vergetelheid te ontruk. Om namens hulle te buikspreek.

As reisiger het hierdie leser die afdeling "Passasiers" insigryk gevind.

'n Diensmeisie kon net een kis met klerasie saamneem (vier voet lank, 2 voet hoog en breed). En sommige van hulle het op die vloer geslaap of op 'n skeepskis naas die kooi van hul werkgewer in die konstabelskamer.

Indien hulle wel 'n huwelik aangegaan het, het hulle 'n identiteit gekry.

Indien nie, identiteitsloos, blote "passasiers"; blote passante of deurreisendes. Dus ook misbruiktes. En hier lewer Schoeman sterk sosiale kommentaar wat feministiese skrywers lank sal besig hou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)