Tuesday, July 21, 2020

Resensie | Eunice Basson - By die dag | Protea Boekehuis, 2020

Eunice Basson - By die dag. Protea Boekehuis, 2020. ISBN: 978-1-4853-1117-1 (Kunswerk op die omslag: Tipping point deur Frederik Eksteen)

Resensent: Joan Hambidge

By die dag is die tweede bundel van Eunice Basson. Die titel aktiveer 'n idiomatiese segging gelaai met iets van agteruitgang of verandering. Die bundel word ingelei deur 'n motto van Philip Larkin (Days are where we live),  'n digter van die melancholie en bekend vir sy herskrywings van sy eie verse.

Herinneringsverse en verse wat 'n bepaalde plek of ruimte afbaken, word hier aangebied. Daar is 'n sterk bemoeienis met die natuur en omgewing (“skryftekens geëts teen die lug”) en die lykdigte oor geliefdes – soos oor die vader, moeder, broer en Karen Skawran, o.a. – ruk aan die hart. Daarom kan 'n gedig begin met:

Ek sien haar steeds –

Hierdie lykdig som die ingehoue digaksie ten beste op:

Ek neem my ma se hand
Vir my ma (1912–2005)

My ma krimp ineen soos die jare
haar gereedkry en nommerpas
vir die laaste reis.
Oggendtee se ketel het te swaar geword
vir haar hande, moeg van knie en werskaf.
Gewoonte laat verknoopte vingers
steeds oor ’n tafelblad gly ingeval
stof oornag haar trots versand.
My ma word klein, tinktinkieklein,
onseker, broos, aanhanklik –
en ek vou haar hand in myne
waar ons wag op die agterdeur se klik.

All eternity is in the moment  waarsku Mary Oliver, daardie beroemde digter wat ook lewe kry in Johann de Lange se verse. Ofskoon iets verdwyn, of sal weggaan, word dit bewaar in die herinnering of in die gedig.

Vroue en hul ellendes word onder die loep geneem en 'n ongesiene minnares word helder beskryf in “Voorslag” met sy ironiese titel. Die stilte van vergete, ou vroue word pynlik weergegee in die gedig “In klein maat” waar die African violet stom op die vensterbank staan. Die vader se ellendes – 'n slagoffer van die geskiedenis – wag op sy skeppie oorskietkos. “Sien kom klaar” beskryf die Groot Griep en wat met mense gebeur het; dit resoneer nou met ons ervaringe van grendeltyd.

In klein momente vang die digter iets op soos in hierdie gedig:

Geel

Van Caledon tot by Riversdal
skitter die veld kanolageel.
Onder ’n oorhang in dié geweste
word ’n jag dowwerig in oker omlyn –
kameelperde en ’n string volstruise
wat kol-kol deur wind en water
tot skimme vergeel.

Hier is pragtige beeldverse oor huiswerkers en die lot van mense wat ongesiens verniel word deur 'n sisteem van politieke ongeregtigheid. Soos in alle feministiese en vrouebundels, word vernielsug en haatlikheid teenoor vroue uitgewys. Die moeder wat in die agtergrond moet bly en die hartverskeurende gedig oor die kind Poppie wat deur haar ouers verniel is en wat wye media-aandag geniet het. Hierom word die naam (soos) 'n rondomtalie wat steeds bly roep oor almal wat hieroor stilgebly het.  Hierom word die ellende van die Papawerbruid in Afganistan 'n vuishou in die maag. Die Suid-Afrikaanse landskap word ook teen Aleppo, Herat en Delhi geplaas.

In Hélène Cixous se beroemde essay Uitgange / Sorties wys sy op die spanninge in die verhoudinge van outoriteit, van voorreg en gesag. Hierteenoor is daar die meester en slaaf-verhouding, en die skryfdaad, volgens hierdie teoretikus, hef opposisies en konflik op. En bring uiteindelik herstel.  Cixous het eweneens die verskille tussen háár Franse en Algerynse landskappe beskryf in The writing notebooks (Contimuum, New York, 1974).

Die bundel vra: waar is jou hartlandskap? In die ervaring soos beleef of in die gedig soos agterna-beleef? Is die gedig 'n urne of skatkaart? Dalk duiwelsbrood?

As kunskenner en -teoretikus is Basson se ekfrastiese verse onthoubaar: Irma Stern, Nel Erasmus; en veral hierdie een oor Pierneef:

Pontdrif, Limpopo, Junie 1956
Na ’n potloodtekening deur JH Pierneef (1886–1957)

Sy hartland is hierdie boswêreld
waar hy vroegdag, in sy element,
met ’n leersak potlode en kryt gaan sit,
pyp stop, bewus van ’n kolonie muishonde
wat elke beweging uit die verte bespied
soos hy die veld in grafiet belyn,
met ’n seker hand nuwe lewe gee aan drie,
vier apiesdorings in ’n oopte, omring
deur grysappel, blouhaak en witsering.
Later sal hy nog hier en daar ’n tak ligweg arseer,
terugstaan, hom hierdie toneel bly indink,
moontlik in kleur, op ’n groter doek getransponeer
in sy stil ateljee waar hy die boskorhaan
en kwêvoëls van dié oggend weer wil hoor roep.

Hier is aangrypende lykdigte opgeteken en 'n afskeid aan die jeug en waarskynlik 'n verlore liefde:

Niks meer nie

Kom bly by my, al trek my oë deesdae water.
Hou my sonbevlekte hande vas –
net dit, niks meer nie.
Kom bly by my al sit ons net en peusel
aan dit wat was. Niks meer nie.
Al is my kraag deesdae hoog geknoop,
jou hande onbeholpe en skaam,
sit hier by my, net hier,
en lees ’n geliefde reël of twee.
Net dit, niks meer nie.
Wanneer ek soos ’n blaar lig word
en oor die tuin wegwaai, pluk soos altyd
dan ’n pot vol krismisrose, pienk en blou,
vir die voorportaal, oranjegeel
kappertjies vir geur.
Vir dit wat was. Niks meer nie.

By sommige verse voel hierdie leser dat die slotte dalk skerper kon wees of dalk meer vormgerig? Maar dit is 'n klein persoonlike kanttekening vanuit persoonlike smaak. 

Dit is 'n bundel met potloodsketse wat jou bybly. Jy keer terug na die delikate seggings en die mineurtoon van hierdie tweede bundel met 'n titel wat agteruitgang en verloedering impliseer. Niks is meer soos dit eens was nie.

In klein maat baken hierdie digter haar ruimte af.

Eunice Basson