Sunday, February 3, 2019

Resensie | Alfred Schaffer -Mens dier ding (2018)

Alfred Schaffer -Mens dier ding. Human & Rousseau, 2018. ISBN13: 978 07981 78143 (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout)

Resensent: Joan Hambidge

I
Die digter gebruik anachronismes en intertekste om die lewe van Shaka Zoeloe oor te vertel. Daar is films (Apocalypse now en Raging bull, o.a.), 'n perskonferensie, selfone, drome, UFO's, die Lonely Planet-gidsboek, komiekstrips, Kafka, Plath, die blinde digter Borges, Superman o.a. wat die storie uit die perspektief van 'n spreker wat soms hoog op dagga is, weergee. Susan Sontag se Illnes as Metaphor luier ook in die agtergrond. Verskillende vertellers en stemme dus. Schaffer teenoor Thomas Mofolo se Chaka, die roman uit 1931 met 'n voorblad van Mohau Modisakeng: Qhata (2011). Die tirannie van indertyd teenoor die geweld van nou. Die bemarking van die bundel wys op die spel tussen mite en werklikhede:
Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê? [1]
Die bekroonde digter Alfred Schaffer (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) word 'n buikspreker vir hierdie figuur. Maar meer as dit. Hy kyk as Nederlander van buite na die kolonistiese landskap. En ook van binne. Schaffer het hier in 2002 sy doktorsgraad voltooi (onder wyle Henning Snyman) en gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was ook mede-redakteur van Nuwe stemme saam met Antjie Krog.

Kom in, dit vries daar buite (vertalings deur Daniel Hugo in 2013) som iets van sy posisie op as inkommer én buitestander.

Mens dier ding is 'n pragboek. My eksemplaar sit vol uitroepe van beelde wat bybly en kwel.

II

Hoe moet 'n mens hierdie bundel benader? Is dit 'n gedig-as-draaiboek? 'n Kreatiewe onderhoud met die historiese figuur, Shaka? 'n Dagdroom? 'n Hallusinasie? Iets geskryf op lekker twakkies? 'n Skaakspel?

Daar is kort vinnige gedigte (soos "Lekker!", 64) en dan weer 'n prosavers (67).

Die stylversnellings en -veranderings plaas die leser pens en pootjies binne die metamodernisme. Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987: 36 - 37) op die sosiale konstruksies van die (on)werklikheid. Dit wat ons dink ons weet, word dikwels op sy kop gekeer. Die anargistiese landskap van die wêreld in meervoude ...

III
Dewald Koen beskou hierdie bundel tereg as 'n tour de force

Hy skryf:
Die bundel is veelsydig van aard en word Koning Sjaka se lewensverhaal deur middel van dagboekinskrywings, monoloë, dagdrome, briewe en herinneringe aangebied. (Versindaba » Resensie/ Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra BezuidenhoutBesoek 3 Februarie 2019)

'n Mens sou kon byvoeg: 'n mens sien ook die binnewerkinge in 'n dagboek van 'n digter se kreatiewe prosesse. Dit tree nie alleen in gesprek met Lady Anne nie, maar ook met Raka.

'n Moderne epos met stylbreuke. Soms liries. Soms verhalend.

Hierdie gevoel word bevestig deur die volgende op bladsy 109:

Nog nie 'n paragraaf verder nie, of Shaka se moeder
lê vir altyd in 'n voetnoot plat op die grond.

Hierdie vers word dan parodies oor die volksaal en met 'n verwysing na method acting:

Die aarde, donkerpers vandag en leeg
is glad soos 'n enorme rolbalbaan.
Daar kom die eerste bal al aangerol.  (110)

Hierdie bundel is reeds met die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs asook die Charlotte Köhlerprijs bekroon. Die vertaling sal waarskynlik geloof word. Dit dans naatloos van Nederlands na Afrikaans.

dag(droom) # 0

Ek kan nie slaap nie ysige naglig hou my wakker.
Soos ’n boomblaar wieg ek heen en weer
hierdie gewieg bring geen rus nie.
In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe
maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos
met sy sonverskroeide bome –
dronk van vermoeidheid ná alles wat ek vernietig het.
Dit was soos ’n geploeter oor ’n eindelose grondpad
in ’n verderflike hitte.
Herwaarts en derwaarts tussen die stamme en die struike
brokstukke mens, gebars of gesmelt.
Hulle sê dit spook hier hulle sê
wat nie beweeg nie moet bevrore wees van angs.
Maar ek het net lief.
Soos in ’n baie ou sprokie.
As ek regop kom dan bid ek, ek bid dan en so bid ek
en ek bid dat iemand my gebed verhoor.
Sirenes swel aan tot anderkant die verte.
Ek het na U gesoek maar kon geen weerstand vind nie.

Hierdie bundel is 'n noodlyn vir die moderne leser. Boonop lees ons in die verantwoording dat De Sovjet UFO dossiers van Paul Stonehill (1998) besoek is. Aha. 

Ons is terug by McHill en Patricia Waugh.

Ek het goed om my rondgekyk maar ek was heeltemal alleen
as mens as dier as ding ... (68)

Endnoot:
1. Versindaba » Nuwe bundels. Besoek 3 Februarie 2019.

Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?

In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.

’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.

Oor die digter

Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy voltooi sy voorgraadse studie in Leiden en verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk hy as redakteur by die uitgewery De Bezige Bij en later by die tydskrif Bunker Hill. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstadt, verskyn in 2000 en word gevolg deur Schuim (2006), Kooi (2008), Mens Dier Ding (2014) en Een lofzang (2016). Sy gedigte is onder meer vertaal in Engels, Frans, Duits, Spaans, Turks en Chinees, en in 2013 verskyn ’n keur van sy gedigte in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo en getiteld Kom in, dit vries daar buite.

Schaffer ontvang ook die volgende toekennings vir sy digkuns: die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C. Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.