Sunday, October 15, 2023

Rubriek | Joan Hambidge - Oor vriendskap | 2023


I

Wat is vriendskap en waarom sluit ons verbintenisse met mekaar?

 

Waarom vermy ons ander in vriendskap en word sekere mense deel van ons binne-wêreld?

 

Dikwels kan ons eers ná iemand se finale vertrek hul impak volledig verstaan en dan, wanneer dit helaas te laat is, by ‘n begrafnis die spreekwoordelike blomme bring.

 

Nou onlangs, by die onverwagse afsterwe van ‘n vriendin, wat meer as veertig jaar deel was van lewe, is ek by die herinneringsdiens. Hier sien ek mense wat ek laas op universiteit meegemaak het. Meestal tersluiks; ander meer indringend. Mense verdwyn, maar keer onverwags terug.

 

Party herken jy aan die stem (veral) of ‘n manier van stap. Ander stel hulleself voor en dan onthou jy die tydperk van gedeelde tyd.

 

II

Die spreekwoord waarsku: laat jou vriendelikheid goedkoop wees, maar jou vriendskap duur. 

 

En duur is hier inderdaad betekenisvol. Duur soos in van waarde, maar ook: dit moet kan duur, aanhou.

 

Die uwe het geen geduld met mense wat mekaar sosiaal sien in die skitterlig van uitspattige saambroei-etes en dan agterna mekaar beskinder en kritiseer nie. Hierom verklaar ek altyd my verbintenis met ‘n vriend en stop ‘n losgemaal en praatjies.


In my jeug is “vriendskappe” beleef dikwels rondom een wat die hoofman word en dan storietjies aandra oor die ander om hom te behaag. 

 

Goeie vriendskap beteken dat jy eerder vir iemand direk (en in die oog) moet sê: jy is nou verkeerd.

 

Veral in hoë sosiale samekomste (lees ryk en invloedryk) word dit dikwels die nag van die lang messe. Is dit vriendskap of eerder die ander mens as gebruiksartikel of currency soos die Engelse dit noem?

 

Dit beter om van toksiese verbintenisse weg te stap as om van jou hart ‘n spreekwoordelike moordkuil te maak.

 

Ons dink aan die vriendskap tussen Elisabeth Eybers en Olga Kirsch, die Jodin wat Afrikaans verryk het met haar beroemde gedig:

 

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

 

Olga Kirsch

 

 

III

Jy word gemeet aan jou vriende. Wyle Danie van Niekerk, my uitgewer, wat vra of hy my plante kan natgooi, terwyl ek oorsee rinkink. My buurvrou wat melk en jogurt voor die deur laat, wetend dat ek olik is. My buurman wat sonder om te kla (alweer), my rekenaar kom instel. Ons sekretaresse wat my handtekening elektronies op ‘n Pdf inklik, voordat ek uitgevind het ek kan dit self doen. Die bank wat alyd vriendelik help en selfs ‘n sjokolade oorhandig. Die gesiene afgetrede akademikus in Pretoria wat ‘n gedig in ‘n eerste weergawe lees en belangrike kommentaar lewer. Digtersvriende wat eerlike reaksies gee. Die advokaatvriend wat saam uiteet. Die restaurantbestuurder wat wonderlike kos aanbied en ‘n nuwe dis aanbeveel. Die bekende musikus wat ‘n dag deurbring met my en die waarde van humor en ironie toelig. Die taxibestuuder wat vir my wag in die laatnag voor ‘n restaurant en my sak help indra. Die pompjoggie wat soggens grappies met my maak wanneer ek petrol ingooi. Die jong skoonmaker in ons woonstelblok wat aflewerings uit ander oorde opbring tot voor my deur en per whatsapp laat weet dis hier.

 

Hierdie mense behoort tot verskillende sosiale stande. Maar elkeen word gekoester.

 

 

IV

Jare terug het ‘n man van aansien in ‘n koerant oor ‘n ander hoë geskryf dat hy ‘n wonderlike man was en selfs met gewone mense kon kommunikeer.

 

Meerderwaardig en só uit die hoogte. Ons is almal gewone mense. 

Van waar praat jy? (D’où parlez-pas?)

 

So vra die groot filosoof Paul Ricoeur. Jy moet altyd net uit eerlikheid praat sonder om seermakend te wees. Agter die hand moet ook voor die mond gebeur.

 

D’où parlez-pas?

Joan Hambidge

 

Vir Robert Vosloo

 

Paul Ricoeur vra tereg uit watter plek

praat jy met my? In die hewige nag 

hoor ek jou woorde terugkeer na my:

 

opgeteken in ‘n afdraand-van-die-dag

is-kil, soos daardie Jodin dit verwoord,

presies soos net sý kon; nou spreek 

 

jy my aan in ‘n droom: ná ‘n vertrek

na daardie ander ruimte waar Auden leer

dat gedigte skryf, is om brood te breek

 

met die dooies roepend terug na plek:

hier, ‘n lewe, sienlik, sintuiglik, verleer

wanneer alles verdwyn in die groot wag

 

wanneer ons mekaar dalk weer mag herken

in ‘n ander ruimte buite tyd-en-verdriet:

 

die afdraand van die nag word nou verken.

 

25 September 2023

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)