Monday, October 10, 2022

Resensie | Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl) | Naledi, 2022

Saskia de Coster – Nagouers (vertaal deur Wium van Zyl). Naledi, 2022. ISBN 9781776172344, Sagteband, 392pp

Resensent: Joan Hambidge

 

Nagouers is ‘n roman van die Vlaamse skrywer Saskia de Coster, vertaal deur die Afrikaanse literator en skrywer Wium van Zyl. Hierdie vlot geskrewe roman belig die verhaal Saskia en Juli se nie-biologiese ouerskap.


Al die spanninge en genderpolitiek van so ‘n stap word in hierdie roman ondersoek. Juli wil self die kind dra en so word Karl, ‘n gay-Kanadese vriend, deel van die kontrak. In my kenniskring het hierdie leser al die onsekerhede en woelinge rondom só ‘n besluit beleef.


Dikwels wanneer ‘n persoon as surrogaat of skenker optree, tree daar ‘n ander dinamiek na vore met die kind se geboorte: besitlikheid, jaloesie en familieprobleme. Ook ambivalensie.


Karl se moeder is die spreekwoordelike stok in die wiel en tydens ‘n besoek aan haar op die eiland Portes (aan die Kanadese Weskus), word al die spanninge tussen die moderne wêreld en ‘n verstokte hippie-gemeenskap uitgewerk. Daar is ook Indiane. ‘n Teksboekvoorbeeld vir Claude Lévi-Strauss en antropoloë. Die Klahoose word hier ingewerk wat verdere dinamiek in die teks wakkermaak.


Dit is ‘n juweel van ‘n roman wat handel oor ‘n uiters komplekse genderkwessie, maar dit is ironies-sardonies geskryf met verwysings na sprokies (soos Repelsteeltjie) en argetipes. Trygve- teenoor die Loch Ness-monster. Antwerpen teenoor Kanada. Normaal teenoor “aweregs”.


Die humoristiese aanslag is lieflik. Met onder andere ‘n verwysing na Jack Nicholson se skryfwaansin in The Shining, die film van Kubrick (1980), gebaseer op Stephen King se roman van 1977. ‘n Belangrike verwysing wat isolasie en gemoedsversteuringe na vore bring. En raai hoekom is die seuntjie se naam Saul.


Daar word gespot met verskeie clichés soos die “innerlike kind” en hoe families funksioneer, word eweneens onder die loep geneem. Ekshibsionisme is maar alte dikwels die gay-persoon se verweer teen vermindering, aldus Roland Barthes. DA Miller wys dit uit in Bringing Out Roland Barthes (University of California Press, 1993).


Die kwessie van randeiertjies (199) en ouers wat kommentaar lewer op ‘n kind wat so is, soos die Nederlanders gay-mense noem, word goed ontgin.


Skielik verander die aanslag in iets grimmigs met die ontdekking van Karl se verlede. Onthutsing by die verteller. Was sy om die bos gelei deur haar “friend crush” of is dit die gemeenskap wat veroordelend en afwysend is?


Notaboek teenoor ek/sy; dialoog asof in ‘n drama; In die bed teenoor buite gee ‘n kaleidoskopiese vertelperspektief op ‘n besoek aan die eiland met ‘n wete dat die onderbewuste klewerig is (93).


Die roman sit vol pragtige prosa en daar word besin oor die verskil tussen met die hand skryf en op ‘n rekenaar. ‘n Mens dink immers langer wanneer jy iets in ‘n notaboek opskryf.


Hiedie leser was werklik spyt toe die roman klaargelees is. Dit is veerlig geskryf, maar onder draai die primordiale duiwels rond.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld