Tuesday, June 5, 2018

Resensie | Daniel Hugo - Vers & kapittel (2018)

Daniel Hugo - Vers & kapittel. Kraal uitgewers, 2018. ISBN 978 09947 15944

Resensent: Joan Hambidge

Daniel Hugo is digter, vertaler, bloemleser, leser soms op Vers en klank, voormalige omroeper en akademikus. Vers & kapittel se subtitel dui aan dat dit ‘n boek is met artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns, wat tans bewaar word by Akademia. Telkens gee 'n voetnoot erkenning oor presies waar 'n teks verskyn het, hetsy as praatjie, lesing of inleiding. Daar is ook bronvermeldings vir verdere speurwerk.

Die bundel word uitgegee deur Kraal Uitgewers (wat deel is van die Solidariteit Beweging). Dit is verder geborg deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die titel is ‘n bekende idioom: iets met vers en kapittel bewys beteken om iets noukeurig te bewys. In die woord vooraf word Gerrit Komrij se lof besing en sy siening dat ‘n leser nie op teorie hoef te steun nie: al wat glo noodsaaklik is, is gesonde verstand, belesenheid en die vermoë om prikkelend en kernagtig te formuleer. Hugo kritiseer ook die “meganiese” manier van lees wat so gewild is aan universiteite; gelukkig wys hy daarop dat daar uitsonderings is op die “ongelukkige stand van sake” (9). 

En ja, sou ‘n mens wou byvoeg: teoretiese lesings (soos dié van Ina Gräbe), het eweneens ‘n plek in die leesproses, net soos “onskuldige” lees ‘n illusie is. Die leser moet immers weet hoe ‘n kwatryn verskil van ‘n sonnet of distigon – en dit is alreeds teorie. Hy laat hom uit oor kreatiewe werkswinkels en erken die belang van Opperman se laboratorium.

“Die taal as muse” gee ‘n interessante perspektief op “Winternag” met ‘n digterlike reaksie van Hugo op hierdie klassieke vers. In ‘n kort huldeblyk aan die besondere digter en biograaf, J.C. Steyn word die toekoms van Afrikaans aangespreek, terwyl die leser deeglik vertel word van die probleme rondom die vertaling van Omar Khajjam en die “Khajjam-industrie”. Hier word die leser ingelig oor die geskiedenis van die vertaling en welke digters dit al vir ons vertaal het.

Hugo plaas sy kaarte op die tafel. Hy bely dat hy van Komrij se poësie hou, omdat hy ‘n digter van die verstand is. Selfs al maak Komrij se versvorm en taalgebruik ‘n argaïese indruk, is die onderwerpe byderwets. Vernufspoësie en speelse verse is immers Hugo se métier.

En Komrij, terloops was ‘n besondere rubriekskrywer en polemis: met sy aforismes en enorme kennis. Net soos Camille Paglia in Break Blow, Burn (Pantheon, 2005) wanneer sy oor haar gunsteling-verse skryf sonder teoretiese vertoon. Of die rubriekskrywer en voormalige Oxford-professor, Ruth Padell, wie se rubrieke oor die digkuns geboekstaaf is o.a. in The Poem and the Journey (Random House, 2007) waar sy gedigte aan die vergetelheid ontruk. 

Hugo se rubrieke gee sy persoonlike sieninge van die digkuns weer, en dit is altyd vir hierdie leser boeiend wanneer 'n digter sy eie werkswyse verklap. Sy bydraes oor vernufspoësie en die limeriek (dalk eerder limerick?) is uitstekend. Hugo is ‘n boeksnuffelaar en sy entoesiasme vir die skryf en lees van gedigte moet vermeld word.

Soms wys hy foute uit ("Papier, papirus en perkament"); ander kere verduidelik hy presies wat gewen of gemis word in die vertaalproses. Wat verlore gaan, is versklank, kulturele weerklanke, betekenisassosiasies, meerduidighede, subtiele registerwisselinge en nuutskeppings. Daardie vibrasies, soos hy dit tereg noem, wat net deur die moedertaaloor opgevang kan word (80). Soms ontdek hy 'n verband wat vorige kritici nie gesien het nie (Eliot en Cussons); ander kere herontdek hy 'n belangrike digter (I.L. de Villiers) of 'n vergete een (Elizabeth C. M. du Toit). 

Oor "Klipwerk" skryf hy besonder insigryk - met dank aan Christo van Rensburg wat volgens hierdie leser 'n uitstekende artikel oor dié reeks geskryf het naas T.T. Cloete se klassieke analise van 'n klein gedig. Kyk wat vertel hy oor Goethe se gedig en toe 'n hut gebrand het ...

Die verskil tussen vertaling en toeëiening kom ook aan bod.

Uiteraard verskil 'n mens soms; op plekke kon hy dalk verder gegaan het met 'n stelling (soos dat die kanon nie heilig is nie, 225). Hier sou Harold Bloom se The Western Canon van hulp kon wees: ons leef immers in die tyd van onsekerheid en onbestendigheid. Hugo meen dat sonder taallojaliteit en moedertaalonderrig ons taal gedoem is (266).

Dit is 'n moderne Rondom eie werk en Kaneel

Liefhebbers van die digkuns sal dit geniet vir die skryfplesier wat blyk uit elke bydrae en dosente sal dit eweneens handig vind om jong lesers die waarde van stiplees te leer.

Die voorblad, ontwerp deur sy seun aan wie die boek ook opgedra word, gee 'n siniese Hugo weer.

'n Tersaaklike boek uit die hand van 'n bekroonde vertaler.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)