Saturday, June 16, 2018

Gedig | Joan Hambidge - George Seurat: Un dimanche après-midi à l'Île de la Grande Jatte (2018)

Un dimanche après-midi à l'Île de la Grande Jatte © George Seurat

Die ennui van 'n Sondag
neem my na Seurat
se ópgehefde tyd
van 'n man wat trompet
speel vir die onhoorbares
die ongenooides, die ontslapenes,

dié wat deur die dood verdoof

is

in iets soos 'n onvoltooide droom:

pointillisties

staan 'n vrou met 'n parasool
droomverlore verkwiste droom
al Sondagende verewig

in hierdie skildery,
terwyl ek

kliek op Format / paragraph
om die gedig
in enkel-spasie
perfek op te vang,
al bly betekenis 
ontglip

soos dooie tyd
in 'n roman.

© Joan Hambidge