Gerda Taljaard
en Deborah Steinmair – Hartlam.
Kortverhale oor die liefde.
Tafelberg, 2017. ISBN 9780624082736
Resensent: Joan
Hambidge
I
Die lees van die bundel kortverhale word gelees teen die
agtergrond van die #MeToo-beweging wat nou in volle swang is. Vroue van regoor
die wêreld kom na vore. Mans ook. Kevin Spacy is nou uit ‘n film verwyder; House
of cards se opvolg is gekanselleer.
Hierdie
nuwe beweging is so oud soos die berge. Dit staan opgeteken in Euripides se Die
vroue van Troje (Troades) 415 vC waar vroue na die
Trojaanse oorlog in opstand kom teen verkragting en die geweld van die oorlog.
Die gesiene
akademikus, Franco Moretti van Stanford word eweneens van verkragting
aangekla. Hy ontken dit ten sterkste en reageer op die aanklag dat dit
konsensuele seks was.
Hoe moet ‘n mens hierdie aanslag of problematiek benader? As
gender-teoretikus moet die analis gedistansieerd hierna kyk.
Is dit vroueregte wat na vore kom? Die mag van die vrou, die
stemlose wat stemhebbend geraak het? Is dit die slagoffer wat besef dat sy / hy
nie langer stilgemaak sal word nie?
Is dit ‘n aanslag teen celeb-status en rykdom en dat mense
sonder ‘n gewete ander mense se lewens oorneem sonder om hulle regte in ag te
neem? Is dit die “sobbing sisterhood of morality” wat skuldig voel oor hul
Dionisiese verlede en nou hulself probeer reinig soos Camille Paglia dit klinkend
opsom? (Camille Paglia – Wikipedia. Besoek 12 November 2017).
Seks is en
was nog altyd ‘n gevaarlike terrein. Die Rooikappie-verhaal is immers die
belangrikste matriks vir hierdie spel. As jy nie na die moeder (tradisie)
luister nie, betree jy ‘n gevaarlike sone.
Twee romans wat dit voortreflik beskryf het: Erica Jong se Fear
of flying en Philip
Roth se Portnoy’s complaint.
Eersgenoemde verskyn in 1973; laasgenoemde in 1969.
Eersgenoemde analiseer die “zipless fuck”; laasgenoemde
parodieer masturbasie.
The zipless fuck is absolutely pure. It is free of ulterior motives. There is no power game. The man is not “taking” and the woman is not “giving”. No one is attempting to cuckold a husband or humiliate a wife. No one is trying to prove anything or get anything out of anyone. The zipless fuck is the purest thing there is. And it is rarer than the unicorn. And I have never had one.
Isadora Zelda White Stollerman Wing, 29 jaar oud, met twee
digbundels agter die blad, besoek Wenen saam met haar man, en raak verlief op
‘n ander man. Dit speel alles af in die stad van Freud tydens ‘n psigoanalise
kongres. Humor en kwinkslae maak van hierdie roman 'n groot klassiek. En 'n
topverkoper. Agter die skerms was daar glo konflik met haar suster wat gevoel
het dat 'n gedeelte van haar lewe gekaap is deur Jong.
By Roth, soos Hermione Lee uitwys in haar studie Philip
Roth (Methuen, 1982),
is daar psigoanalise, vervreemding, erotiese obsessies, pornografie, stedelike
geweld, Joodse geskiedenis, politieke skuld (en aandadigheid).
II
Om hierdie kollektiewe opstand in Hollywood te probeer
begryp, moet 'n mens so ver teruggaan as die sestigerjare toe seks uit die kas gekom het. Die dokumentêr rondom die
porno chic-film van 1972, Inside Deep Throat (2005), werp ten beste lig op hierdie kwessie.
Bekendes het dit gaan kyk, Jack Nicholson, Warren Beattie; selfs Jackie
Kennedy. Dit verduidelik die verandering in mores. Dit is asof daar nou, in
2017, teenreaksie is op hierdie uitbundige seksuele rewolusie waarop onder meer Camille
Paglia, Norman Mailer, Erica Jong, en Dr Ruth kommentaar lewer. (Inside Deep Throat – Wikipedia. Besoek 13 November 2017).
Die verhaal
van Linda Lovelace is oorbekend. Die ster van die rolprent het later vertel dat
sy gedwing was om in die film op te tree en die kyker kan inderdaad die merke
van geweld op haar arms sien.
Lovelace se verhaal is van belang wanneer 'n mens die ontboesemings
lees van vele vroue teen rolprent mogul Harvey Weinstein.
Die oorweldigende reaksie van simpatisante is dat die sisteem hierdie vroue só gemanipuleer het dat hulle nie anders kon as om saam te speel
nie. Nou, by nabaat, is dit 'n opstand teen 'n manlik-gedomineerde sisteem waar
Hollywood-base vroue sonder agentskap kon misbruik.
Dit is relevant om daarop te let dat Lovelace, wat in 'n
motorongeluk sterf nadat sy in verset gekom het teen haar status as porno ikoon,
nie die enigste een was wat 'n prys betaal het nie. In die dokumentêr is dit
die akteur Harry Reems wat teenoor Lovelace speel wie se loopbaan en lewe
verwoes is deur die morele beswaarmakers.
In Julie 1974 word hy deur die FBI gearresteer, omdat hy
obseniteit versprei het. Hy word later op appèl wel vrygeskeld, maar sy lewe,
dit bely hy in die dokumentêr, is verwoes. Hy word 'n verslaafde, verloor sy
huis, sy vriende ...
En boonop word hy die rol ontneem van Coach Calhoun in die
rolprent Grease, omdat gevrees is dat sy reputasie die verkope sou benadeel.
Net soos die ontslag van Spacy waarskynlik 'n finansiële eerder as 'n morele
besluit was.
In 2013 sterf Reems aan pankreas-kanker nadat hy tot bekering
gekom het en 'n “church gypsy” geword het.
Met die kyk van hierdie film (en die onderhoude wat as
ekstras aangebied word), kry die kyker 'n besondere blik op die Nixon-era,
Watergate (die geheime informant was immers Deap Throat gedoop), die peter-meter, en
die algehele opstand teen 'n gerepresseerde samelewing. Daar is selfs 'n Harry
Reems-klub gestig met “stoute” mans wat die porno-ster bewonder het.
Die dokkie wys op vele ironieë. Die morele verontwaardiging
is deur Nixon aangevuur. Deep
Throat was die naam wat vir die geheime informant gegee is wat dokumente laat uitlek het wat tot Nixon se ondergang gelei het. Die film het ook vele grappe uitgelok, soos 'n skerpskertser
(stand-up comedian) wat onder meer spot dat hy die teater besoek het en onder
die indruk was dat die gehoor asmaties was! Die rol van die mafia word ook
uitgewys – hulle was deel van die verspreiding.
Vir Linda Lovelace was dit alles pynlik. In onderhoude bieg
sy, na die publikasie van haar memoir, dat elke keer wanneer iemand na die film
kyk, word sy van voor af verkrag.
Ná haar seksuele bekering word sy deur Gloria Steinem
ondersteun.
'n
Kommentator meen dat die grootste vyande teen vryheid in hierdie tydperk die
feministe was wat hul volledig agter Lovelace as slagoffer geskaar het.
'n Verdere ironie: wanneer Lovelace wel teen die film draai,
poseer sy om den brode as glansmodel vir 'n tydskrif.
III
Hartlam is 'n outydse en familiêre troetelnaam wat dui op
liefde. Die handvol verhale vertel en verklap baie van hierdie toestand.
Gevestigde en minder bekende skrywers is uitgenooi om verhale voor te lê wat
die hele spektrum van die liefdesdiskoers analiseer.
Die subtitel heet “kortverhale oor die liefde”. Hier is
liefde, erotiek, wellus, ensomeer aanwesig.
Hierdie verhale aktiveer die “narrative as mouth”, soos
Hermione Lee dit noem in haar studie oor Philip Roth (10).
In die aangrypende openingsverhaal van Christine
Barkhuizen-Le Roux verhaal “Bouwerk” word die moeder se pynlike reaksie op 'n
dogter se “woman-identified”-kondisie geanaliseer. Sy word uitgesluit van die
dogter se troue wat skerp in haar gemoed afspeel, en rondom stilte tussen haar
en die eggenoot (“Die stilte is ’n dooie, stinkende hond in
die huis”) probeer sy berusting vind oor die dogter se keuse om met 'n vrou te
trou in 'n vreemde land. Sy en haar man word nie genooi nie en dit is vir die
tobbende Malie pynlik dat sy uitgesluit is van haar dogter se troue. Saam met
Tielman bou sy, in haar eie woorde: “Ek ook, antwoord
sy binnetoe. Ek het vir my kind ’n kerk gebou. Een sonder klippe.”
'n Verhaal wat sterk resoneer met die aanklagte van #MeToo is
“Liefdesoffer” van Antoinette Venter.
Hongernood tydens die oorlog lei tot ellendes. (“Wat het 'n
onskuldige vyfjarige seuntjie tog met die Duitsers, die Engelse, Smuts, die
Ossewabrandwag of die Stormjaers uit te waai?”, 133). Meneer verlei Leen
vir kos. Boeta en sy word “gered” - met funeste gevolge. Helena se
vroumenslappies word nie meer opgehang nie en sy raak swanger tot haar moeder
se woede.
Op 15 Augustus 1945 basuin Die Diamantvelder die nuus uit dat die oorlog verby is
en Helena neem die kind na man se vrou wat elf jaar lank sukkel om swanger te
raak. Haar liefdesoffer plaas sy dan in die vrou se arms.
Die slot is treffend: “’n Honger wat nooit gestil sal word
nie.”
Hierdie
verhaal kon net sowel herskryf word met 'n Hollywood-aanslag. Aktrises moet
seksuele gunste lewer vir 'n rol ... (met hierdie kennis, wonder ons nie meer
oor hoekom Gwyneth Paltrow gehuil het toe sy die Oscar ontvang het vir Shakespeare
in love nie ...)
Hierdie
verhaal wys dan 'n oeroue patroon uit: vroue wat deur mans gemanipuleer word.
Henning Pieterse se “Twee wette” wys op die wedersydse
kontrak en wat kan gebeur as die kontrak deur een party verander word. Vir die
man, 'n one night-stand. Vir die vrou, jonger as hy, iets meer.
Hy, middeljarige dosent en aspirantdigter, neem deel aan ’n reeks poësievoorlesings tydens ’n jaarlikse kunstefees. Hy is gelukkig getroud, en uit ervaring weet hy daar is gewoonlik groepstertjies by hierdie funksies – jong meisies wat hul onskuld by ’n “woordkunstenaar” wil verloor, huisvroue wat hul fantasieë wil bewaarheid oor ’n skrywer wat by hul leeskring opgetree het, ouer vroue wat ongemerk na die jonger digter probeer loer. (233)
Die jong maagd word obsessioneel, teister die digter en sy
vrou en die slot is grillig. Daar is bloed wat vloei. Inderdaad twee wette: een
vir die vrou, een vir die man.
“Ek is omdat ons is” van Pieter van Zyl maak slim van intertekste
gebruik. Onder andere Gabriel García Márquez en Eben Venter. Love in the Time of Cholera. Ek stamel ek
sterwe.
Die gevaar
van verbintenisse. Vir die een verby; vir die ander tobbend, verlangend.
“Dit ruik na liefde” van Marié Heese aktiveer op 'n besondere
wyse die bedreiging wat intimiteit impliseer.
Die lot van 'n ouer vrou in 'n ouetehuis met 'n besoeker
resoneer met die gevare wat seksualiteit inhou. Sy ken hom nie - in haar
toestand van demensie, ervaar sy gevaar. Al verloor sy woorde, is hierdie oerpatroon
in haar onbewuste ingraveer.
Heese, 'n ou hand, impliseer meer as wat sy skryf.
Hierdie verhaal ondersoek dus die “in here” versus “out there”
van seksuele interaksies (Lee, 80).
Op die voorblad van Hartlam is daar 'n kykende oog. Tans
beleef ons 'n morele inkeer, 'n mea culpa, mea maxima culpa-aanslag van
ek-het-oortree-en-my-seksualiteit-gebruik-of-ek-is-misbruik versus die
uitbundige viering van seks.
As jongeling het ek iets hiervan meegemaak in New York in
1980 toe ek Oh! Calcutta! en Hair Off-Broadway
in New York op die verhoog gesien het, en The Devil in Ms Jones en Deep Throat op
42nd Avenue gaan kyk het in 'n sleazy porn-teater.
Toe het ek Henry Miller ingesmokkel terug Suid-Afrika toe,
aan die doeanebeampte oorhandig wat dit later gepos het na my tuisadres om
studie-doeleindes.
O quel cul t'as! (What arse you have) het die titel Oh!
Calcutta! geïnspireer.
Nou het alles so dramaties verander dat Isadora Wing en
Portnoy kritiek sal uitlok.