Tuesday, February 14, 2017

Paul Theroux: The Tao of travel


“You cannot travel the path before you have become the path itself”

I

In 2011 verskyn Paul Theroux se boek met reis-essays. Theroux, die skrywer van die beroemde The great railway bazaar het in 1975 verskyn. Die ekstase van reis en meer spesifiek reis per trein, word in hierdie sonderlinge boek uiters aangrypend beskryf.

Theroux, ‘n Amerikaner, se The mosquito coast, is in 1986 verfilm. Verder is hy ook bekend vir sy komplekse relasie met die skrywer V.S. Naipaul oor wie hy ‘n boek geskryf het, Sir Vidia’s shadow (1998), wat minder vleiend is as sy eerste een in 1972: ‘n Fiktiewe verhaal oor ‘n besoek van Anthony Burgess aan sy huis (“A. Burgess, Slightly Foxed: Fact and Fiction") opgeneem in The New Yorker, wat tot omstredenheid gelei het. Jare terug was daar in The Guardian ‘n portret van die Koningin van Engeland wat eweneens ‘n spel met waarheid en fiksie was. Nie-letterkundige lesers beskou sulke portrette as onaanvaarbaar en verkeerd. Dikwels mis oningeligte lesers ‘n kodewoord wat die fiksionele aard aandui.

II

Jare gelede gee ‘n vriend vir my The tao of travel persent, ’n reisjoernaal-cum-meditasie oor reis. Vanweë ruimte probleme het dit in my garage geland, waar ek dit eers weer twee weke gelede ontdek het, toe onder die stof. Weer eens ‘n bewys: as die leerling reg is vir die les, sal sy die meester ontmoet. In hierdie geval hierdie belangrike versameling met essays. Alles omtrent reis word hier via bekende en minder bekende skrywers gekarteer.

Die reëls van reis; reis as ‘n ellende. ‘n Analise van skrywers wat nooit hul huise verlaat het nie, maar aangrypende en belangrike reisverslae geskryf het soos Emily Dickinson. Reis as gevaar; reis en siekte. Siekte as reis. Probleme wat opgelos word deur gewoon net te wandel en na te dink …

Reis epifanieë; Claude Lévi-Strauss, die antropoloog se ervaring van reis; kos en reis. Evelyn Waugh versus Jack Kerouac; Bruce Chatwin se vermoë om die leser te laat glo hy was werklik daar. Sir Richard Burton wat die Koran en Arabies bemeester het alvorens hy gereis het na hierdie streke.

Daar word eksotiese disse gelys soos olifant-neus, armadillo risotto, apie-ogies, ensomeer (192).

III

Namibië (Foto: EHrez Marom)

Met die lees van hierdie boek, beplan ek ‘n reis na Namibië. Ek bekyk weer Sheltering sky (1990) van Bertolucci, gebaseer op Paul Bowles se verhaal van 1949, met Debra Winger, John Malkovich en Scott Campbell in die hoofrolle. Die verskil tussen ‘n toeris en ‘n reisiger verneem ons aan die begin van die film is dat die toeris met aankoms so gou as moontlik wil terugkeer; vir die reisiger is dit ‘n onbepaalde tyd van weg wees …

Bowles vertolk ‘n rol in die film en hy is ook die “voice over”.

IV

“Here is his library, but his study is out of doors”, word daar geskryf oor Wordsworth. En Werner Herzog, daardie uitmuntende filmmaker, het dikwels ver ente gestap om van psigiese probleme verlos te word. In 1974, toe hy verneem het dat die Duitse filmmaker Lotte Eisner sterwend in Parys lê, het hy vanaf München na Parys gestap in die geloof dat dit haar lewe sou red. Hy was toe 32 jaar oud en beskryf hierdie solo-staptog in Of walking in ice (1980). Hy is dikwels op sy staptogte uit plekke gesmyt weens sy vuil voorkoms. En wanneer ‘n mens na sy films kyk, is dit hierdie obsessiewe aard wat ‘n mens opval, iemand wat bereid is om alles op te offer.

V

Matsuo Bashō

Henry James het van spa tot spa gereis om van sy hardlywigheid verlos te word, terwyl Philip Larkin op ‘n keer geskryf het dat hy graag die Groot Muur van Sjina sou wou sien op voorwaarde dat hy die volgende dag kan terugkeer. Theroux se versameling beweeg tussen lughartige en pynlike herinnerings. Soos Bashō, die beoefenaar van die haikoe, wat op een van sy reise ‘n kind teëkom wat deur sy ouers op hul reis agtergelaat is. Hy gee vir die tweejarige kos, maar laat die kind agter.

“He looked like a tiny bush-clover blossom that would fall any time tonight or tomorrow beneath the blow of an autumn gust” (134).

Hieroor dig hy:

Poets who sang of monkey’s wailing:
How would they feel about this child forsaken
In the autumn wind?

(vertaal deur Makoto Ueda)

VI

Bruce Chatwin

Hierteenoor vind ons die enigmatiese Chatwin. “Walking defined him”, merk Theroux op. Die ewige nomaad. En natuurlik is daar vrae oor presies hoe hy van die Rio Negro tot by Port Madryn gekom het? Wat is waar? Wat is wolhaar?

By Jean-Jacques Rousseau is reis self-ondersoek: Les Rêveries du Promeneur Solitaire.

Graham Greene en D.H. Lawrence se reise het gelei tot boeiende romans, ofskoon eersgenoemde dikwels intense Reiseangst ervaar het. Somerset Maugham het met ‘n manlike lover gereis, omdat hy ‘n ernstige hakelaar was. En aangrypend is die vertelling van die jong meisie van 17 se suksesvolle bootvaart!

Graham Greene

Wanneer Theroux in Engeland toekyk hoe ‘n Brit ‘n hamburger vermorsel in geel vet, sien hy die humor in die situasie raak wanneer die Brit hom uitskel as ‘n Amerikaner wat vol fiemies is. Die gedeelte van hoe jy ‘n aaphandjie eet, is grieselig.

Die resensent, Hugh Thomson vind die titel verkeerd, omdat hy meen daar is nie genoeg kalmte nie en te veel ego in hierdie teks is (The Tao Of Travel, ByPaul Theroux | The Independent. Besoek 14 Februarie 2017).

Hierdie versameling is ‘n antologie met boeiende en uiteenlopende tekste van Samuel Johnson, Sir Francis Galton tot moderne reisigers. En die wyshede van Freya Stark (gebore in 1893) bly ‘n mens by.

© Joan Hambidge