Saturday, April 6, 2013

Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012)



Louis de Villiers. Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke. Quellerie, 2012. ISBN 9780795800252.

A narrator should not supply interpretations of his work; otherwise he would have not written a novel, which is a machine for generating interpretations.
- Umberto Eco. Eindnota tot The Name of the Rose (1983)

I've always said that I learned the English I know through two sources – Marvel Comics and Finnegans Wake.
- Umberto Eco. Onderhoud, Book Magazine, September/Oktober 2002

Hierdie essay gaan aandag gee aan die volgende punte:
1. Die bemarking van die boek
2. Die ongewone voorblad
3. Die tradisie van geweld en obseniteit in die moderne roman
4. Umberto Eco en die “closed” en “open” teks
5. Die invloed van Japannese manga
6. Die storie

1. Die bemarking van die boek
“Louis de Villiers se adrenaliengedrewe, onthutsende debuutroman is vol drama, humor, satire, aksie en nogmaals aksie uit die boonste rakke, maar wees gewaarsku: die boek het ’n skop soos ’n omgesukkelde muil en is beslis nie vir sensitiewe lesers geskik nie.” So lui die bekendstellingsuitnodiging per e-pos van die roman.
Op die agterblad word die leser gewaarsku dat hierdie f-se boek nie vir f-se lesers is nie. Weet dan, leser, wanneer of indien jy hierdie boek ter hand neem, dat jy dit op jou eie verantwoordelikheid doen.
Hierdie subliminale seduksie bepaal alreeds dat lesers met ’n bepaalde verwagtingshorison na die teks gaan. Dit is dus ’n slim bemarkingspel wat die teks by die leser gaan uitbring. Nes Scope se sterretjies op die vroueborste. Hieroor skryf Kobus van Rooyen insigryk in sy verslag oor sensuur hier te lande.1 ’n Skrywer het immers alreeds ’n persona: hier het ons die bekende en omstrede rugbyskrywer en seun van die digter-predikant, IL de Villiers, wat ’n transgressiewe roman publiseer. Die leser word dus reeds deur die bemarking van die roman tot ’n bepaalde tekstuele strategie gedwing. (En ja, die boek het goed verkoop, aldus die bemarkingsafdeling van NB-Uitgewers.)
Umberto Eco (1978:11) skryf soos volg hieroor:
The intervention of a speaking subject [hier dan die uitgewershuis] is complimentary to the activation of a Model Reader whose intellectual profile is determined only by the sort of interpretive operations he is supposed to perform (to detect similarities, to consider certain games …). Likewise the “author” is nothing else but a textual strategy establishing semantic correlations and activating the Model Reader.
Wie is dan die modelleser van hierdie roman? Eco skryf dat die oplossing om so ’n leser te vind, te make het met die vermoë om die “sisteem van nodes” in die teks te aktualiseer. Volgens my, wat ’n Modelleser wou wees, is die volgende aspekte relevant in die leesproses.
2. Die ongewone voorblad
Die voorblad van Jeanine Henning aktiveer al die kodes in die roman. Soos gevind in die komiekstrip, is daar blokke wat die verhaal vir die leser oordra: ’n rugbybal waarop oa die woord karma afgedruk is, met ’n speler wat twee opponente dus troef met die drie wat gedruk word. Die spookskip in blok 2; in blok 3 die meisie wat ’n man uitslaan; in blok 4 iemand van die onderwêreld wat met ’n koesarigama ’n man se arm afkap; in blok 5 staan die meisie uit die derde blok redelik verniel na haar geveg met ’n man, waarskynlik dieselfde man van blok 4. Hy is nou sonder ’n hemp. Op die agterblad is daar twee vegtende persone met ’n waarskuwing in ’n borrel dat die boek nie bedoel is vir sensitiewe lesers nie. Hiermee word daar aangesluit by die pop-tradisie van Joe Dog en Conrad Botes, wat veral in hul Bitterkomix bytend-satiriese kommentaar lewer op die literêre en politieke sisteem. Joe Dog (Anton Kannemeyer, die seun van die literatuurgeskiedskrywer en biograaf JC Kannemeyer) verwoord in sy komiekstrippe dikwels ’n grensoorskrydende oedipale stryd met die vaderfiguur.
Louis de Villiers, die seun van die digterdominee en redakteur IL de Villiers, publiseer hierdie skokkende en grusame roman ná die dood van die vader; op sigself ’n tersaaklike punt vir die leser om te ondersoek, naamlik die “pastorieseun” wat die grensoorskrydende domein van geweld, seks, dwelms en bedrog ondersoek.2 Hiermee word die konvensie van sobere voorblad dus alreeds ondermyn en kodes van pulpliteratuur aan die leser bekendgestel. Terselfdertyd weet ons ook dat dit ’n ernstige roman is – dit is gepubliseer deur Queillerie met Etienne Bloemhof as die redakteur, wie se idee dit was om ’n riller oor rugby te skryf.
3. Die tradisie van geweld en obseniteit in die moderne roman
Hiermee sluit die skrywer, Louis de Villiers, aan by die tradisie gevestig deur figure soos Irvine Welsh (Filth,1998) en Michel Houellebecq (Atomised, 2000).
In hierdie tradisie is vloek, wreedhede, geweld en wat nog, dikwels daar om die samelewing te ontluister. Hier is dan “’n teater van geweld” sigbaar wat bedoel om te skok en beledig. Trouens, Houellebecq is in Frankryk ook bekend as digter van die melancholie, maar dit is veral die omstrede romans wat buitelandse lesers aantrek en koop. Woorde soos “vulgêr” en “pornografies” word eweneens gebruik om sy tekste te etiketteer, terwyl die kompleksiteite hierdeur verdring word. Die hemel en hel is buuradresse, aldus De Villiers (198) en die gebruik van die term/begrip karma aktiveer dat dade reperkussies het. Dit impliseer eweneens ’n spanning tussen goed en kwaad, met die implikasie dat die goeie sal seëvier.
Bruce Robertson, ’n misantroop, is die hoofkarakter in Irvine Welsh se klassieke roman Filth. (Die voorblad van die slapband-uitgawe het ’n varkkop met ’n polisiepet op!) Die kokaïen-verslaafde speurder se orgie in Amsterdam en die soeke na ’n oplossing vir ’n moord word verder gebanaliseer deur die verwysing na die karakter se anus. Dit word boonop ook grafies voorgestel en die slot lui:
I feel myself slipping out of my Host in a large pile of his excrement and sliding down his legs inside his flannels. Then I am away from him. There’s a piercing scream … somebody’s in pain … like the Other was when the Host was disposing of it … the Other I loved … now the Host is gone and I cannot sustain this any longer. I can’t sustain life outside of the Host’s body … like the Other I am gone, gone with the Host, leaving the screaming others, to pick up the pieces oooooo. (393)
Ek laat die interpretasie hiervan aan die leser se verbeelding oor …
Irvine Welsh © Jeffrey Delannoy

Houellebecq (gebore Michel Thomas) lewer ook snydende kommentaar op sy gemeenskap. Die skrywer is al van haatspraak aangekla, uitgeskel oor sy obseniteite, en verwyt vir sy meedoënlose kritiek op sy samelewing. Sy roman The map and the territory (gepubliseer in vertaling in 2010: La carte et le Territoire) vermeng ook die konvensies van die “closed” en “open” teks. Jed Martin neem foto’s van Michelin-kaarte. Hy is ook ’n skilder wat die skrywer, Michel Houellebecq, in Ierland ontmoet! Hy versoek die skrywer om ’n katalogus te skryf vir sy uitstalling. Die skrywer word vermoor en Jed Martin raak betrokke by die saak …

So word werklikheid en fiksie dus op sy kop gekeer. De Villiers, Welsh en Houellebecq gebruik skoktegnieke om die korrupsie in hul onderskeie samelewings aan die kaak te stel. In die nawoord word die roman as ’n riller oor Springbokrugby beskryf en al drie hierdie skrywers gebruik die kodes van die speur- en aksieverhaal, konvensioneel populistiese tekste, om hul skerp kritiek oor te dra. Volgens Jerry Palmer in Thrillers – Genesis and structure of a popular genre, wat reeds in 1978 verskyn het, is paranoia kenmerkend van hierdie soort genre! In my studie oor gender, Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk, skryf ek in die jaar 2000 soos volg hieroor op bladsye 225–9:

In Jerry Palmer se Thrillers – Genesis and structure of a popular genre (1978) word die genese van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as ’n belangrike element van hierdie genre in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology". Aksie beteken alles vir hierdie soort held en as daar niks gebeur nie, is hierdie held (soos James Bond) volledig identiteitsloos. Palmer verwys dan ook na dié belangrike passasie in From Russia, with love:

The blueberry arms of the soft life had Bond round the neck and they were slowly strangling him. He was a man of war and when, for a long period, there was no war, his spirit went into decline.

In his particular line of business, peace had reigned for nearly a year. And peace is killing him.

At 7.30 on the morning of Thursday, August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned. (Palmer 1978, p 85)

Dieselfde geld Sherlock Holmes in Wisteria Lodge, argumenteer Palmer verderaan:
My dear Watson, you know how bored I have been since we locked up Colonel Carruthers. My mind is like a racing engine, tearing itself to pieces because it is not connected up with the work for which it is built. Life is commonplace, the papers are sterile; audacity and romance seem to have passed for ever from the criminal world.


Die James Bond-verhaal funksioneer rondom binêre opposisies en in James Bond: une combinatoire narrative het Umberto Eco die volgende opposisies uitgewerk: opposisies van karakters soos held/skurk; held/vrou – opposisies van waardes soos geldmag/ idealisme; programmering/risiko. Bond is dan by uitstek in staat om telkens te kan improviseer binne ’n moeilike situasie, soos Palmer aantoon (1978:7). Bond steek ’n sigaret aan en glip die pakkie in sy bo-sak wat uiteindelik verhoed dat ’n koeël hom tref. Hy maak asof hy dood is en vind dan ’n mes digby sy bagasie wat hom uit hierdie netelige situasie red. Hy dra dus altyd ’n "bag of tricks" met hom saam wat wys op die gevare wat as't ware voorsien of geprogrammeer is.
Ook sy vyand het hul stel planne wat daarop ingestel is om Bond s’n te neutraliseer. Wat wel tersaaklik is, is dat Bond telkens staatmaak op vorige missies waarop hy dan improviseer binne ’n moeilike of dreigende situasie.
Palmer (1978:14) meen egter dat Eco se klassifikasie nie voldoende is nie. Hy verwys na die amateur/professioneel/burokraat as ’n nuttiger sisteem.
Volgens Palmer is die amateur en burokraat nie in staat om uit ervaring te leer nie. In die wêreld van die burokraat is daar niks nuuts en onverwags om te ervaar nie. Alles bestaan soos wat dit behoort te bestaan. Dr No is ’n voorbeeld van só ’n figuur en hierom kan James Bond hom volledig uitoorlê. Bond bring ’n hyskraan (met ’n vrag vol guano) nader en versmoor Dr No hierin.

Ook die amateur kan eweneens nie uit ervaring leer nie, gewoon omdat alles nuut is. Hierteenoor is die professioneel, soos Bond met sy “licence to kill”, in staat tot improvisasie. In vele Bond-romans en -films is dit juis hierdie aspek wat die leser/kyker betrek. In die jongste Bond-films is die spesiale effekte onder meer al so aanskoulik dat selfs die BMW waarin Bond ry, met afstandbeheer werk en by implikasie Bond se kragte oorgeneem het. Die oortreding van reëls of aanwysings word dikwels in Bond-tekste gevind, omdat dit die enigste manier is waarop hy werklik sy vyand kan uitoorlê. Palmer (1978:63) betrek tereg Casino royale (1953), waarin Bond van dobbeltafel na dobbeltafel beweeg ten einde meer oor sy vyand te wete te kom.
Tog herhaal die films telkens dieselfde struktuur wat herinner aan Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1913), waarin die optrede van dieselfde figure telkens teruggevind kan word: die held of doener; die Prinses of "sought-after person"; die boef, en dies meer.
Elkeen van hierdie karakters het volgens Propp spesifieke funksies. Palmer wys ook daarop dat die skurk byvoorbeeld betrokke raak by ’n situasie weens wraak, geld of ’n maglus (soos in die geval van Dr No) (1978:16). Om die eksotiese lewenstyl uit te leef, moet die skurk dus beweeg in die wêreld van die ondergrond of die onwettige bestaan. In hierdie opsig is Fleming se skurke in wese parodieë op onderwêreldse mens of primitiewe krag, soos dikwels in sprokies aangetref word. Hulle leef selfs onder die see of in luukse skepe; in tombes van staal wat dit uiters moeilik maak vir die held om hierdie gevaarlike onderwêreld (ook ’n manifestasie van die onbewuste) te betree.
Palmer voorsien dan ook die volgende tabel:
Professionalism

  Amateurism

Bureaucracy



Reciprocity

  Ectopia

One-way information flow



Experience

  Arrogance

Incompetence



Participation 

  Isolation
James Bond-verhale maak ook spesifieke gender-stellings wat die leser/kyker nie kan negeer nie. Bond met sy Aston Martin en Beretta het ’n “licence to kill”. Hy drink sy Martini's "shaken and not stirred" en hy is bestand teen moegheid of enige nagevolge van sy liefdesavonture. Hy word voorgestel as ’n superman en vroue is eweneens nie bestand teen sy sjarme nie. Hulle is dan ook dikwels die prooi ten einde ’n missie suksesvol af te handel. Maar die vroue gebruik Bond ook weer vir húl doeleindes, wat mens die kritiek dat Bond misogonisties is, laat bevraagteken. Ook is dit so dat hierdie teks hul gender-rolle oordryf en bykans parodieer. Dit wat vergroot word (die term blow up in Umberto Eco se The role of the reader, 1978), moet uiteraard weer beskou word.
Die uitstal van James Bond se machismo in sowel die Fleming-tekste as die films maak ’n spesifieke gender-stelling. Op die oog af lyk Bond misogonisties en sou die leser/kyker selfs kon kommentaar lewer op die seksisme waaroor verskeie feministiese kritici al kommentaar gelewer het. Die vroue is egter ook spioene wat Bond soveel misbruik as wat hy hulle gebruik.
Bond se machismo word geëwenaar deur vroulike lis of geslepenheid. Hierdie vroue vertolk net oënskynlik die rol van die "tweede seks". In wese is hulle gelyk aan hom en manipuleer hulle hom soveel deur middel van seks as hy vir hulle.
En wil ek die geheim verklap oor hoe die tatoe lyk op ’n karakter se voorkop in Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke? Gaan gril self!
4. Umberto Eco en die “closed” en “open” teks
Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke is slim geskryf, iewers tussen wat Umberto Eco die “open” en “closed” teks noem. Dit gebruik die geweldstrategieë van die strokiesprent, en die omslag van Jeanine Henning dui dit reeds aan. In die komiekstrip is alles moontlik. En alle interpretasies ook. Enersyds is daar dus die gegewe van rugby (met sy reëls) en andersyds is daar die onderwêreld van rampokkers. Eco se siening van tekstuele strategieë en sy onderskeid tussen die geslote en die oop teks kom nuttig te pas by die lees van hierdie verwikkelde roman, wat die leser op verskeie “inferential walks” neem (1978:23). Uiteraard het elke soort teks ’n modelleser in gedagte en vir hierdie roman is die modelleser een wat hierdie spel tussen die geslote en die oop teks aktiveer. Enersyds, die wêreld van ernstige roman; andersyds, die gegewe van die komiekstrip met sy “unlimited semiosis”, soos Eco dit raak opsom.
Die verskil tussen die oop en die geslote teks word soos volg verduidelik: “A text so immoderately ‘open’ to every possible interpretation will be called a closed one” (8). Vir Eco behoort Superman en die romans van Fleming tot hierdie kategorie. In hierdie soort teks word die leser gedwing om ’n sekere roete te volg en die bedoeling is om vrees of jammerte te ontlok. Die “oop” teks se interpretasies eis dat dit met ander lesings sal “re-echo” (’n woordspel op Eco!). “You cannot use the text as you want, but only as the text wants you to use it” (9). Hierdie soort teks kan dus nie enige analise verduur nie. Die teks bepaal die “korrekte” interpretasie. Eco gebruik ook die konsep van die “negatiewe modelleser” of “unsuitable reader” as daardie soort leser wat in gebreke bly om die reëls van die spel te aktiveer.
En dan: “How did you know? Holmes?”
“’Semiotics’ my dear Watson.”
Die nuwer uitgawe van Eco se boek het ongelukkig nie meer die speelse verwysing na Sherlock Holmes en Dr Watson op die voorblad nie.
5. Die invloed van Japannese manga
Dit is asof Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke ’n komiekstrip is vir grootmense. Die Japannese lees immers op hul treine hierdie soort vertelling en Umberto Eco verwys eweneens na die spanning tussen die komiekstrip en ernstige literatuur. Op die voorblad van The role of reader is Sherlock Holmes in gesprek met Dr Watson, soos hierbo afgedruk. Hulle vind ’n Superman-T-hemp in ’n foonhokkie en Holmes sê:
“This must be a closed text”, waarop Watson antwoord: “But how did you know Holmes?” Die antwoord is: “‘Semiotics’ my dear Watson.”
’n Navorser sou ongetwyfeld die invloed van die Japannese manga op hierdie teks kon naspeur. Shathley Q se doktorale tesis, “Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon”, wat hy in 2009 onder my leiding behaal het, verduidelik die verskillende leestradisies rondom die sogenaamde komiekstrip. Die Japannese manga (komikku) is ’n komplekse kunsvorm wat deur alle ouderdomsgroepe gelees word en wanneer dit na die Weste getransporteer word, verander die aanbod van hierdie kunsvorm (39). Alle genres kom hierin na vore, oa ook sport, wat in Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke geaktiveer word.
Die verskillende kwessies wat hierdie debuutroman so vernuftig aanspreek, maak dit vir die teoretiese leser ’n besonder opwindende roman. Dit ont-spoor die leser se verwagtings met oa die uitdagende gegewens wat dit aanbied, soos rampokkers wat betrokke raak by rugby, ’n man met ’n skokkende tatoeëermerk op sy voorkop, ’n beskrywing van die onderwêreld en die koesarigama wat soos in Hitchcock se films die MacGuffin is wat die plot laat voortstu. Die koesarigama is ’n tradisionele Japannese wapen (“chain-sickle”) wat bestaan uit ’n metaalketting (kusari) en ’n gewig (fundo). In ’n radio-onderhoud vir Skrywers en Boeke (uitgesaai op Woensdag 2 Mei om 8 nm) het die outeur ook aan my bely dat hy veral geïnspireer is deur Oosterse films by die skryf van hierdie roman.
Kusarigama - Wikipedia, the free encyclopedia (Afgetrek 15 April 2012)


Die roman is in ’n voortdurende spel tussen die oop en die geslote teks en die modelleser word gedwing om dit as ’n ernstige roman te lees weens die komplekse semantiese universum wat hier aangebied word (1979:9). ’n Voortdurende beweeg tussen die kusari en fundo. En tussen die kodes van twee maniere van lees en skryf.
6. Die storie
Dit is ’n rugby-riller waarin die fantasmagoriese seilskip ’n kokaïentransaksie beduiwel. ’n Kaapse sakeman, Eugène Rademeyer, pers die Springbokafrigter af en drie spelers word uit die span gelaat. (Die sage rondom Joost van der Westhuizen se seksvideo word hier kreatief betrek.) Dan is daar ’n weddenskap oor wie die reeks gaan wen. (Hier word Hansie Cronjé se bedrog geaktiveer.) Verkragting, kaping, spelbedrog en afpersing kom aan bod, wat die karma van die titel aktiveer. Alles word in hiperrealistiese taal weergegee en die oordrywing van geweld aktiveer die komiekstrip soos wat die filmmaker Quentin Tarantino in Pulp fiction (1994) eweneens hierdie kodes gebruik en aanpas.
Die roman, so verduidelik die agterblad, poog om allerlei kwelvrae te beantwoord. En om u (dis nou die modelleser) te laat skater, ril, giggel, jubel en opgooi. Hier sluit die roman aan by die filmkuns van Takashi Miike wat by die vertoning van sy film Ichi the Killer die kykers van opgooisakkies voorsien het by die première in Toronto tydens die Internasionale filmfees in 2001.3 Die film is op ’n bekende manga gebaseer. Die gebruik van opgooisakkies as ’n bemarkingsfoefie het eweneens tot polemiek gelei.
Met die lees van Louis de Villiers se roman word die leser eweneens aan die pornografie van geweld en obseniteit blootgestel. In die genoemde film van Miike word ’n man middeldeur gesny en by De Villiers word ’n verkragter se geslagsdele verpulp.
So oorwin die goeie tog die bose en het die geweld ’n funksie in hierdie eiesoortige riller. (En die Bokke wen.) So gelees, het die ernstige interpretasie oorwin teenoor lesings wat bloot by die skokkende of die tel van vloekwoorde vassteek. Ek het meer gefokus op die funksionele gebruik van plat woorde en die aanwending van die Japannese vegkuns en toespelings op die begrip van droomvangers van Amerikaanse Indiane (35). En dan skryf Eco ook in die inleiding van die “blow up” en “narcotize”-beginsels in lees.
Ek het waarskynlik die laasgenoemde aspek toegepas of verdring by die lees van die geweld en obseniteite in hierdie roman. En geplaas binne die tradisie van Welsh en Houellebecq, die sosiale kritiek geaktiveer.
“Shikata ga nai!” 
Eindnotas
1 Hierdie resensie is oorspronklik vir FineMusicRadio geskryf:
Kobus van Rooyen. A South African Censor’s Tale. 

Protea Boekehuis.
Hierdie boek is ’n verslag van Kobus van Rooyen se lang verbintenis met die Appèlraad van die Publikasieraad vanaf 1980 tot 1990. Hierna het hy voorsitter geword van die uitsaaiwese se klagtekomitee. Hy is ’n ideale ombudsman. Nie alleen is hy ’n vooraanstaande regsgeleerde wat eerstens die werkinge van regskomitees en dus beginsels snap nie, maar hy is die kunste goedgesind. Hier te lande is ’n bloedige stryd gestry om vryheid van spraak en skrif, en die jongste ANC-manewales veroorsaak uiteraard onrus by diegene wat weet wat ’n gemuilbande pers kan inhou. Oom Koot Vorster, Lammie Snyman, Jannie Kruger is vandag net (vergete) name wat deur hierdie tydige en nuttige tydsdokument aan die vergetelheid ontruk word. Die boek word deur Protea-uitgewers as outobiografie gepubliseer en bemark met ’n inleiding deur André P Brink, wie se Kennis van die aand die eerste Afrikaanse boek was wat verban is en gelei het tot die totstandkoming van Taurus-uitgewers. Die verslag van Kobus van Rooyen word deur speelse sketse van Marinus Wiechers vergesel. Hierdie boek ontsluit die invloed van die Bybel, die patriargie en taboes op die Afrikaner-psige. Dit is skokkend, selfs amusant, om te lees hoe mense nie in staat was om buite bepaalde boksies te dink en te reageer nie.
Nie alleen gee die outeur vir ons ’n oorsig van die donker tye van die sensuurraad nie, maar hy wys ook op die wonderlike satiriese uitdagings waartoe dit aanleiding gegee het. Pieter-Dirk Uys en Robert Kirby het dikwels in hulle tekste juis die grense verder gedruk. Scope se verkope is paradoksaal deur hierdie benoude sisteem bemark. Vele anekdotes en grappe (“Moet name soos Nigel en Kakamas ook verbied word?”) laat die leser glimlag, nes die belaglike kwessie rondom ’n boek in Engels versus ’n boek in Afrikaans wat twee verskillende reaksies uitlok.
Kas van den Berg het ook in ’n rubriek uitgewys dat ’n man ’n vrou in Engels, maar nie in Afrikaans nie, kon bed toe neem. Van Rooyen se intelligente hantering van die omstrede film The Omen en John Miles se Donderdag of Woensdag imponeer. Hy was ook in staat om die kaf van die koring te skei. Indien ’n boek net vir ’n koterie van lesers bedoel is, soos ’n Breytenbach-bundel of ’n roman van John Miles, behoort daar anders geoordeel te word. Dubbelsprake wys hy ook uit. Sodat IL de Villiers en Anna M Louw nie eensgesind was met Merwe Scholtz se uitspraak oor Kennis van die aand nie. Geknoeiery van literatore kan ’n mens tussen die lyne aflees.
D.H. Lawrence word aangehaal met sy bekende opmerking dat om aan ’n kunswerk te sny sou wees om aan jou eie neus te sny! As jong mens het die sensuursisteem presies die teenoorgestelde uitwerking op my gehad: dit het my juis bewus gemaak van al die snitte en die verbeelding het dus presies gelet op daardie stiltes of afwesighede. Hoeveel jong mense het nie juis Kennis van die aand in koshuiskamers gelees of biblioteek toe gesnel kwansuis vir navorsingsdoeleindes ten einde ’n verbode teks te kan lees nie! ’n Mens raak plek-plek wel bewus van die probleme waarmee Van Rooyen opgesaal was. Dit was immers ’n staat wat ook ’n noodtoestand kon afkondig, ’n magtige Broederbond gehad het en ministers wat paraat was met hulle boelie-tegnieke.
Die werklike ellendes begin egter met politieke films soos Cry freedom! Die skrywer se huis word bestook met vuur en daar is allerlei speletjies (soos vals advertensies in ’n koerant dat sy huis in die mark is) en ander emosionele geweldpleging. Hy oorleef dit alles en imponeer telkemale wanneer hy oor omstrede onderwerpe skryf soos ’n saak van kinderpornografie teen ’n navorser en valse beskuldigings teen ’n gesiene filmkritikus.
Kobus van Rooyen het waarskynlike stommerike help begryp dat daar iets soos ’n volwasse gehoor bestaan en dat ’n mens die knoppie van ’n TV kan afskakel of ’n boek kan toemaak as dit jou nie behaag nie. Hy wys ten slotte op die paradigma-verskuiwing wat plaasgevind het: van nee tot ja; van wantroue tot vertroue; van fundamentalisme tot realisme en ten slotte, van despotisme tot demokrasie.
2 Ná Rachelle Greeff se onderhoud in BY (Die Burger) van 10 Maart het vele lesers onthuts gereageer op die vloekende predikantseun se uitsprake. Daar is ook gevoel dat hy die beeld van sy vader geskaad het. In hierdie onderhoud maak hy ook uitsprake oor dit wat hy as beperkend ervaar: “Daai land (lees Australië) gee my nou ’n k–k. Dis ’n tronk wat stadigaan ontvou. Ry op treine en jy lees 32 goed teen die muur wat jy nie moet doen nie.”
Die leser sou dit as wraak kon lees dat hy die rampokkers as Melbourne-rampokkers benoem.

3 Vir verdere inligting oor hierdie filmmaker, sien Takashi Miike - Wikipedia, the free encyclopedia. (15 April 2012 afgetrek).
Gebore in 1960 en bekend vir sy gewelddadige films. Hy het al meer as 70 films vervaardig. Hy is bekend daarvoor dat hy die grense van sensuur voortdurend uitdaag in sy films.
Bibliografie
Eco, Umberto. 1983. The name of the rose. (Nome della rosa). Londen: Secker & Warburg. Vertaler: William Weaver.
Eco, Umberto. 1979. The role of the reader. Explorations in the semiotics of texts. Londen: Hutchinson.
Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk.PhD-proefskrif, UK.
Palmer, Jerry. 1978. Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Londen: Edward Arnold.
Shathley Q. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. PhD-tesis, UK.
Van Rooyen, Kobus. 2011. A South African censor’s tale. Pretoria: Protea.
Umberto Eco,  http://www.themodernword.com/eco/eco_quotes.html (op 11 Junie 2012 besoek). 
© Joan Hambidge, April–Junie 2012

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]