I
Daar is uiteenlopende reaksies op die Wilgenhof-sage wat nou al geruime tyd in die pers afspeel. Vir sommige lesers is dit vervelig. Vir ander ‘n belangrike polemiek, omdat dit lig werp op die verskillende sieninge oor tradisie en vernuwing. Vir sommige (opnuut) ‘n bewys van wit bevoorregting. Daar is ook die Wilgenhof Bond met hul sieninge.
Hierdie skrywer is ‘n oud-student van die US, ‘n voormalige Raadslid aan die US en ken die meeste van die rolspelers persoonlik.
Die aangrypende inhuldiging van die Kanselier, Edwin Cameron is meegemaak met ‘n masker op die gesig. In ‘n voorste bank gesit om beter te kan sien en hoor.
Twee kollegas se seuns is eerstejaars in die koshuis. En vele beriggewing beklemtoon die rasseharmonie en die vreugdevolle saamwees. Voormalige swart inwoners het dit eweneens bevestig. Die ouervereniging bewys dit ook.
Dat hierdie jongelinge se geluk getemper word deur verskuiwings én renovasie is nie in orde nie. Wilgenhof het gesiene persone opgelewer: van regters tot boekeredakteurs; van intellektuele tot regsgeleerdes; van sakemanne tot dosente …
Om die hele kwessie van ad hominem-aanvalle te systap, gaan daar eerder gefokus word op die saak.
II A penny for your thoughts
Die kanselier se onthulling dat die verslag voor die Raad gedien het sonder dat hierdie redigering (aanpassing) met hulle gedeel is, was die rede vir sy skrywe. Met gesprekke tussen hom en die rektor en raadvoorsitter (Wilgenhof/ Edwin Cameron vs Wim de Villiers - DOCUMENTS | Politicsweb | Besoek 7 November 2024).
Op Sondag 27 Oktober word dit in Rapport aan die groot klok gehang.
Weer eens is daar wye reaksie, onder andere, van die voormalige kanselier Johann Rupert, wat bekend maak dat hy ook met die rektor hieroor gepraat het. En ‘n brief wou skryf. Koos Bekker maak eweneens sy stem dik oor dubbelpratery.
Die raadsvoorsitter antwoord op die aantygings in die Daily Maverick en slaan al die aanvalle weg asof die kritiek net ad hominem en teen transformasie gekant is (Why the Wilgenhof debate matters | Besoek 7 November 2024).
Een van die paneellede kan nie onthou wie in die kantoor was toe alles bespreek is nie, en die voorsitter van die paneel, ‘n advokaat, lewer snydende kommentaar. Hier is sy narratief: (Wilgenhof/ How and why we changed our report - Nicky de Jager - DOCUMENTS | Politicsweb | Besoek 7 November 2024).
III Stellenbosch Universiteit se nuwe naam is glo Komiteefontein
Die kwessie van ‘n onafhanklike verslag – wat duidelik nie onafhanklik en objektief kan wees nie – want rolspelers kon vooraf lees en kommentaar lewer, lei tot ‘n spesiale Raadvergadering op Vrydag 1 November.
Met die uitslag: ‘n komitee sal aangestel word om die hele kwessie te ondersoek.
‘n Onafhanklike verslag is dus aangepas asof ‘n professor die uitslag van ‘n nagraadse tesis verander het van revise and resubmit na small editorial changes.
IV Recti Cultus Roborant
Die Kanselier aan ‘n universiteit is die oppergesag. Die rektoraat en raad se besluite mag deur hierdie hoof gekritiseer word. Of aanvaar word. Wyle Elize Botha het onder andere die verandering in die taalbeleid ondersteun toe Chris Brink die rektor was.
Die kanselier is in Jacques Lacan se terme buite die Simboliese Orde: uitgesluit van die vergaderings of enige ander verbintenisse met die Kulturele Orde. Maar kry wél insae.
En hierdie kanselier druk nie net hande by gradeplegtighede of lewer ‘n toespraak nie. Hy lewer tersaaklike en belangrike kritiek op ‘n verkeerde of verdagte besluit.
Onafhanklik (aldus die sinoniemwoordeboek): selfstandig, independent, outonoom.
Ons beleef nou eerder ‘n verslag wat onbekook is. Oftewel: ondeurdag, onoorwoë, onberade, ondeurdink, voortvarend, onbesonne.
Hier is die kanselier se verslag is nie nydig of gemeen nie. Inteendeel. Dit werk met feite.
V Divagasie
Nog ‘n komitee wat moet ondersoek? Dit word bykans soos Italo Calvino se If on a winter’s night a traveller waar die storie telkemale onderbreek word om opnuut te begin.
Metafiksie, ‘n storie-binne-in-‘n-storie.
Wie gaan daardie komitee wees? En bekend gemaak dat Regter Kriegler dit lei …
Bloot om weer tyd te wen? Of ‘n blote Maskerbal? Daar was immers ook ‘n ondersoekspan ná Nefiegate, nie waar nie?
In ‘n roman is hierdie dobbel- én dubbelspel uitdagend soos in André Gide se klassieke roman Les Faux-Monnayeurs (Die vervalsers).
Aan universiteite word die beeld én die simboliese kapitaal ónherroeplik geskaad.
Al het die rektor die universiteit se internasionale aansien verander en etlike biljoene ingesamel, bly hierdie kwessie problematies. Die wat rein-van-hart is en voel die rektor word alweer aangeval, moet die sogenaamde “aanvalle” binne konteks sien. Ons leef in die tyd van openbaarmaking.
Hy wat leef met die swaard, sal val in die swaard. Hy wat verdoesel, sal ontbloot word.
Só dus weg van die rolspelers of persoonlike aanvalle: sit al die kaarte op die tafel.
Joan Hambidge is ‘n Genoot en senior navorser aan die UK. Sy was ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch van 1975 – 1979.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)