Tuesday, October 28, 2014

Jaco van Schalkwyk - Die alibi-klub (2014)


Jaco van Schalkwyk - Die alibi-klub. Umuzi, 2014. ISBN 978 1 41520 700 0
Resensent: Joan Hambidge

I

Welkom in die Afrikaanse Amerikaanse droom, blaker Toast Coetzer op die agterblad en vir Koos Kombuis is hierdie roman Rock 'n' roll-prosa op sy beste. Die skrywer het in die Skone Kunste aan die Pratt Institute in Brooklyn gestudeer en is 'n kunstenaar. Hierdie is sy debuutroman.

Die roman speel af in New York en herinner sterk aan die romankuns van die Beats. ‘n Mens dink hieraan Kerouac, veral. Daar is verder toespelings op Hunter S. Thompson. Dit handel oor 'n jong man wat werk as kroegman in The Alibi, 'n hool om dit sagkens te stel. Hier maak hy kennis met die "underbelly" van New York: dwelmverkopers en werkersklasmense. Die ervaring van die andersheid van die ruimte, is 'n belangrike aspek van die roman. Die verteller se waarnemings van hoe alles daar uitsien, word goed beskryf. Naturlik stuur alles af op 'n noodlottige oomblik: die 2001 in NYC met die verteller/fokalisator se siniese en afstandelike waarneming.

Die belangrikste aspek van hierdie roman is nie die storie nie. 'n Mens weet immers hoe hierdie soort "coming of age"-roman daar sal uitsien.

Dit is 'n roman geskryf in 'n mengsel van Afrikaans en Engels. Opmerkings soos "VJ sê daar is bad stuff in die mielies" (105). Inderdaad sal die karakters nie korrekte Afrikaans praat nie. Die styl is dikwels gedronge en ondeurdringbaar. 'n Mens word gedwing om sinne meer as een keer te lees om presies agter die kap van die byl te kom, soos bv. "In ruil vir full tuition without scholarship or grant oppurtunities kry hulle 'n paar jaar se losbandigheid, sonder die sluier van hulle onwrikbare sosiale norme" (74). Iewers tussen plegstatige, outydse taal en moderne sleng dus.

Die stad word goed vasgevang. Bakens in New York doem voor die geestesoog op en die hede word afgewissel met nostalgiese herinneringe aan die jeug. Vriendskappe en relasies is vlietend.

'n Mens sou dit ook as 'n quest-roman kon beskryf. Hier is dit nie net 'n fisiese reis nie (die teks is in 'n sirkelgang geskryf), maar ook 'n psigiese verheldering of insig waartoe die verteller kom. Die vuurhoutjies in die binne-skutblad dui hierop: om lootjies te trek. In die kroeg speel die klandisie ook pool en kyk Jeopardy!

Wanneer die verteller Amerika verlaat, verkies hy om die slums en nie die skyline van New York te sien nie. Die roman fokus dikwels op negatiewe aspekte van hierdie tuimelende, oorrompelende stad: daar is gedeeltes oor uitskot en 'n kroeg waarin die reuke die kroeggangers oorrompel. Die opposisie tussen ryk en arm word goed verbeeld.

Daar is toespelings op Afrikaanse gesegdes en liedjies (soos “dis heerlike winter” waarin die karakter sy dronkenskap bely, 134); die sterk passasie oor die Thanksgiving-besoek is eweneens onthoubaar (113); die doellose seksuele ervarings versterk die uitsigloosheid, nes die stank wat telkens beskryf word (soos op bladsy 101) en natuurlik: die pynlike soektog na geliefdes na 9/11 …

Ons moet stilgebore die toekoms verkeerd sluk (91).

Omdat ons hier te make het met iemand se binnespraak en binneruimtes word die landskap word die uitsig op die skyline, in sye eie woorde, onbelangrik (89).

Hy beskryf homself immers ook as ‘n fynproewer van vrot (80).


II

Daar is uitmuntende passasies in hierdie boek - soos onder andere die afdeling 2001 rondom die 9/11-gegewe - maar die roman het hierdie leser onbevredig gelaat.

Stylhebbelikhede en taalfoute soos agressie en spiëeltjies verkeerd gespel (97), lomp sinskonstruksies, oordadige metaforiese konstruksies ("Op straat kyk hardgebakte mense mekaar se murg skeef aan", 97) ondermyn die teks wat die indruk laat van work-in-progress. 'n Mens voel dat sekere gedeeltes onontgin is en dat jy hier te make het met 'n eerste weergawe (“draft”)  van 'n roman.

Dit is bepaald jammer, want die vertelling kon soveel meer gewees het.

Die roman word sowel in Afrikaans as in Engels gepubliseer.


Endnote:
Vir verdere navorsing sou ‘n mens ook kan kyk na die gedagte van lootjies trek of met vuurhoutjies speel:

Some brief notes on psychoanalytic theory will be necessary throughout this presentation in order to demonstrate my reading of narrative. So, to begin: in his eleventh Seminar, Lacan borrows Aristotle’s concepts of tuché and automaton, redefining them respectively as an ‘encounter with the real’ and ‘the network of signifiers’ (SXI, 52).

SLIDE 2: Automaton

Automaton is the machinery of the Symbolic order. It is the linear ordering that proceeds according to the laws of metonymy and metaphor. Automaton is thus the way in which the Symbolic is structured by a chain of associative connections. Lacan relates automaton to the French Automatisme by which, he notes, we sometimes translate into French (...) the compulsion to repeat (SXI, 67). There is something compulsive about automaton; it is the pure mechanical insistence of the unfolding of the chain of signifiers in the unconscious, the functioning of the primary process that Lacan describes as ‘the insistence of the signs by which we see ourselves governed by the pleasure principle (SXI, 52-3). He articulates this notion of automatic self-reiteration in his second  Seminar in terms of a game of coin flipping that provided a series of “pluses” and “minuses” (or heads and tails). Lacan notes that through the simple act of grouping the results into sets of three for example, “plus, plus,minus” or “minus, plus, minus” – a number of laws emerge which determine the possibility of certain predictable sequences; these groupings can appear only in certain combinations…

Ek haal hier aan uit Narrative Tuché/ Lacan, Vernet and Double Indemnity (1944) | Ben Tyrer (2013). Besoek 24 Oktober 2014


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Sunday, October 26, 2014

Repliek op André-Pierre du Plessis


Repliek op André-Pierre du Plessis

Inderdaad het die Oscar Pistorius-hofsaak ten einde geloop.  Dit word beskou deur internasionale media-kenners as die hofsaak van die eeu. Dit was ons OJ Simpson-saak. 'n Besondere verwikkelde een wat regstreeks gebeeldsend is en waaroor kenners nadink: het dit dalk 'n impak gehad op die getuienis wat gelewer is? Sou die staatsadvokaat en die verdediging minder dramaties opgetree het indien daar nie kameras was nie? Ek begelei tans 'n PhD-student wat hieroor navorsing doen: die representasie in die media en die rol van media-kommentaar (koerante, Twitter, Facebook, ensomeer) met verwysing na die werk o.a. van Baudrillard.

In Die Burger van 25 deser skryf André-Pierre du Plessis in hieroor : Einde van die Oscar Pistorius-‘hofsepie’ (Ek haal ter wille van my repliek sy stuk volledig onderaan hierdie bladsy aan).

Hy skryf: " ’n Bekende skrywer wat by ’n koffiewinkel in die Kaapse strandgebied die Pistorius-verhoor gekyk het, sal nou ’n ander rede vir haar daaglikse besoek moet vind. Sy het glo daagliks gevra dat die musiek afgedraai en die televisie se klank harder gedraai moet word sodat sy die dag se hofverrigtinge kon volg oor ’n kaasomelet vir ontbyt."

Ek is daardie bekende skrywer en die spitsvondige toespeling op kaasomelet, dui dan ook hierop. Inderdaad is die hofsaak hier gevolg, maar ook later op kantoor. Trouens, ek het elke dag hierna gekyk omrede my werk as studieleier en my verpligtinge kom ek nougeset na.

Dit was egter nie 'n sepie nie. Beslis nie Dallas of Sewende laan nie, omdat hierdie hofsaak verreikende gevolge het vir sowel Oscar Pistorius as vir die Steenkamp-gesin. Waarskynlik ook vir ons wat jurielede geword het.

Hy skryf ook: "Feite is dikwels vreemder as fiksie – en meer vermaaklik op TV." Is dit egter blote vermaak?

Ek is van mening dat die Oscar Pistorius-saak 'n paar belangrike kwessies opnuut onder ons aandag gebring het, soos dat dieselfde mense wat die palmtakke swaai, uiteindelik sal deelneem aan die kruisiging.

En dat die ongekende Schadenfreude van mense skokkend is. Sowel Oscar Pistorius as die Steenkamp-gesin behoort bejammer te word.

Oscar het alles verloor: sy aansien, sy sportloopbaan, sy geld, sy vriende, en, nota bene, sy geliefde. Hy het geen simboliese kapitaal meer nie.

Reeva het haar lewe verloor en haar ouers hul kind, hul toekomsverwagtinge en haar vader se gesondheid is ook in die weegskaal.

Hier is geen wenners nie.

En waarna sal ons nou kyk? 

Ons waarskynlik nadink oor konsepte soos hubris en hamartia en weer na George Steiner se belangwekkende studie terugkeer: The death of tragedy. Dit is in 1961 deur Faber & Faber gepubliseer. 

En tob oor waarom mense so - asof hulle by 'n rugbywedstryd was - hulle hande in die lug gegooi het toe Oscar tronkstraf opgelê is.

The medium is, after all, the message. Hy argumenteer dat ná die sewentiende eeu het God uit die wêreld verdwyn en ons is self hier aandadig. Hoe ironies dat Steiner argumenteer: "the great bang takes place off stage" (79).

Wat ons meegemaak het, is rekonstruksies, vertellinge, belydenisse, sms'e, getuinenis: representasies wat nie die werklike insident kon weergee nie.

Die ware tragedie, aldus Steiner, maak van min woorde gebruik: hoeveel tekste en bespiegelinge bestaan daar nie reeds oor Oscar en Reeva nie?

Maar ofskoon dit nie ware tragedie - soos Oedipus rex of Macbeth - is nie, is dit steeds nie 'n sepie nie.




Einde van die Oscar Pistorius-‘hofsepie’

Deur André-Pierre du Plessis Saterdag 25 Oktober 2014 4:30 vm. 

’n Bekende toneel wat nou nie meer op ons TV-skerms gaan wys nie.

Wat gaan ons kyk noudat Oscar Pistorius se hofsaak tot ’n einde gekom het? Wat gaan op die televisie teen die muur van jou gunstelingrestaurant flits of herhaaldelik op die groot TV-skerm in die ry by die bank speel?

’n Bekende skrywer wat by ’n koffiewinkel in die Kaapse strandgebied die Pistorius-verhoor gekyk het, sal nou ’n ander rede vir haar daaglikse besoek moet vind. Sy het glo daagliks gevra dat die musiek afgedraai en die televisie se klank harder gedraai moet word sodat sy die dag se hofverrigtinge kon volg oor ’n kaasomelet vir ontbyt.

Sedert 2 Maart hou ons bykans daagliks dop wat in ’n vaal vertrek tussen Madiba- en Proesstraat plaasvind in die hooggeregshof in Pretoria. 

Net soos ’n televisiesepie was daar aanvanklik maar min aksie. Die akteurs het dag in en dag uit dieselfde swart klere aangetrek en die rol wat elkeen vertolk het, het nooit te ver afgewyk van daardie eerste week toe elkeen ’n kans gekry het om te praat nie. 

Ons was so gefassineer deur die karakters in hierdie marathon-werklikheidsreeks dat ’n gedokterde foto van regter Thokozile Masipa wat inkopies doen wêreldwyd aandag geniet het.

Vir die kameramanne van die onderskeie nuusorganisasies kon die televisiekameras in die hof ook ’n paar lesse leer – soos hoe om ’n kamera stil te hou. Statiese skote het geen afbreek aan die drama in hofsaal GD tot gevolg gehad nie. 

Vir webblaaie en produksiemaatskappye het die rou beeldmateriaal veel meer oogballe en kykers gebring as wat hulle ooit kon verwag het. 

En vir die joernaliste wat deel was van die televisiedrama, kan dit alles nou ’n moontlike bykomende inkomste beteken uit ’n boek of ’n dokumentêr. 

Maar hoe het Pistorius se verhoor Suid-Afrikaanse televisiekykers en die plaaslike televisielandskap verander, indien enigsins? 

Die feit dat MultiChoice besluit het om ’n hele kanaal toe te ken aan die hofverrigtinge mag moontlik beteken dat daar in die toekoms veel meer toegang tot plaaslike nuusinhoud sal wees. 

Daar is reeds baie geskryf en gepraat oor hoe ongewoon die besluit was om televisiekameras in die hof toe te laat. As ’n mens dink dit het nou die deure vir nuuskameras na alle toekomstige hofverrigtinge oopgegooi, maak jy egter ’n fout. 

Die uiteindelike besluit berus steeds by die regter. 

Al is die meeste van Pistorius se hofverrigtinge sedert Maart nou beskikbaar op YouTube en ander videoplatforms, kan dit ook net so maklik verwyder word.

Die Suid-Afrikaanse parlement het byvoorbeeld onlangs veel meer toegang tot komiteesittings begin gee deur gereeld hul eie YouTube-kanaal vol te laai met die soort beeldmateriaal wat eintlik net op die parlementskanaal op DStv (kanaal 408) te sien was. 
Die meeste plaaslike nuuskanale het nie net die Pistorius-hofsaak op YouTube geplaas nie, maar het ook begin om toesprake van onder andere die openbare beskermer te wys. 
’n Mens kon selfs in ’n stadium op die parlement se YouTube-kanaal kyk hoe 20 EFF-LP’s die nasionale vergadering ontwrig het met hul dreunsang van “Pay back the money”. Duisende het dié video oor en oor gekyk totdat iemand in Pleinstraat besluit het om dit te verwyder.

As daar dan wel nie weer ’n TV-kanaal die lig sien wat 24 uur ’n dag op slegs een plaaslike nuusgebeurtenis fokus nie, kan ons altyd oorskakel na die parlementêre kanaal in die hoop op ’n bietjie opwinding. 

Die twee jongste nuuskanale op DStv – SABC News en ANN7 – het ook ’n geweldige klomp geld uitgegee om kykers toegang tot die een of ander staatsaankondiging te gee.

Ek hoop wel daar is êrens ’n regter wat vroeg volgende jaar sal instem om kykers weer binne-in ’n hofsaal toe te laat. Want, soos met die Pistorius-verhoor, weet ons almal nou tog te goed: Feite is dikwels vreemder as fiksie – en meer vermaaklik op TV.

■ André-Pierre du Plessis is hoof van Afrikaanse TV by Media24

Saturday, October 18, 2014

Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede (2014)



Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede. Lux Verbi, 2014. ISBN 978 0 7963 1899 2
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie is ‘n tweede uitgawe van Anton van Niekerk se boek Geloof sonder sekerhede. Hoe kan ek nog glo? Die skrywer, ‘n bekende filosoof wat heel dikwels oor etiese kwessies onderhoudend en helder skryf, stel dit duidelik dat hy op kritiek gereageer het. Hy reageer onder andere op ‘n persepsie dat hy probleme sou hê met alle teologie. Waarteen hy wel polemiseer, is teologie wat ten alle koste ‘n “soeke na ortodoksie” is, die sogenaamde teologie wat ‘n konsensus of akkoord is wat ons oral en altyd behoort te glo …

Hierom bely die outeur, verkies hy Erasmus bo Luther. En hoe besonders dat hy kritiek en kritiese vrae verwerk om ‘n belangrike boek te skep wat vir sowel die teoloog as die gewone leser van waarde is.

Dit is 'n besonder ryk geskakeerde teks wat belangrike vrae stel oor geloof. Hoe kan daar 'n God wees wat onder meer die holokaust, Vigs, 'n tsoenami of watookal toegelaat het? Van Niekerk se onderbou is die Christendom, en meer spesifiek, Christelike filosowe en teoloë. My posisie is een van 'n vervloë Protestant, kortstondige agnostikus, wat via die Boeddhisme weer my geloof herwin het. Ek staan buite die kerk, maar geloofsake soos vergestalt vanaf Dante tot vandag interesseer my. Vir my sluit geloof nie wetenskap uit nie. En dit is die belangrikste bydrae van Van Niekerk se boek: hoe spreek ons geloofskwessies aan in 'n moderne, tegnologies-gedrewe wêreld? Hoe moet ons Die Bybel lees? Letterlik of allegories? Oor Job het Jung onder andere 'n uitgebreide studie geskryf.

Waarskynlik is hoofstuk 7 'n kernhoofstuk waarin die gespanne verhouding tussen geloof en wetenskap belig word. Dit sou 'n fout wees om aan Die Bybel vrae te stel wat dit nie kan beantwoord nie en wanneer hy in polemiek tree met Daniel Dennett en Richard Dawkins, o.a. die skrywer van The god delusion, is die skrywer op sy beste: geloofskennis en wetenskaplike kennis is ewe geldig (182). Valse debatte en valse probleme word aan die orde gestel en sober bekyk.

Bekende skrywers word eweneens aan bod gebring: CS Lewis se geloofskrisis (wat baie goed uitgebeeld word in die rolprent Shadowlands in 1993), Simone de Beauvoir, 'n ateïs, wat in haar laat ouderdom Die Bybel herlees en pittige opmerkings maak oor die rol van Jahwe, die "hoofkarakter" in die Ou-Testament se wreedheid. Hy verduidelik die betekenis van die teodisee, die argument wat God probeer regverdig in die lig van kwaad en lyding. Hy bespreek die rol van Luther, Erasmus en Calvyn in die geskiedenis van die kerk en die betekenis van kairos of daardie oomblik van God se selfonthulling of -prysgawe aan die mensheid. Erasmus se Tot lof van die sotheid as ontwapening teenoor Luther se konfronterende styl ...

Oor aborsie en kloning skryf hy onderhoudend. Hy plaas al sy kaarte op die tafel en laat die leser nadink oor die impak van wetenskaplike ontwikkeling en vra vir 'n verantwoordelikheid vir die toekoms van die mens. Eugenics kom ook aan bod - en hier kan 'n mens weer dink aan 'n roman van Margaret Atwood wat die probleem kreatief ondersoek in Oryx and Crake (2003). Die wetenskap, beweer Van Niekerk, hoef nie te "onttower" nie.

Die volledige politieke spektrum - van Verwoerd tot Zuma - word onder die loep geneem.

Die voormalige pous se raadgewer was onder andere Julia Kristeva, 'n ateïs, maar formidabele intellek wat weer eens beklemtoon dat die spanning tussen geloof en ongeloof nie met een swiepslag weggedink kan word nie. En een van die grootste rolprente oor die Jesus-figuur is immers van Pier Pasolini, eweneens 'n persoon buite die kerk gestaan het en dit heet The Gospel according to St Matthew wat in 1964 verskyn het.

En veral oor die dood gee Van Niekerk ‘n waardevolle en meelewende blik: hy skryf op ‘n nuwe wyse oor die dood. Ons leef eenmalig: die dood is die raamwerk waarbinne ons die suksesse en mislukkings van ‘n lewe kan peil. En hy skryf:”Die dood as misterie is ons voortdurende en onvermydelike herinnering aan ons eie feilbaarheid en onvoltooidheid. Die dodo bring ons letterlik en figuurlik, ‘terug aarde toe’ – so radikaal terug, dat ons weer stof word (‘come to dust’), 299.

Daar is baie boeke, oor sowel die godsdiens as die wetenskap, wat die leser sal prikkel.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)

Monday, October 13, 2014

Koos Kombuis - rock & roll.karoo (2014)



Koos Kombuis - rock & roll.karoo. M & S Boekdrukkers, 2014. ISBN 978-0-620-62716-0. 
Resensent: Joan Hambidge

Die digter vra in die kolofon dat die leser hierdie e-boek nie sal aanstuur nie. Die digter vra pertinent dat die leser eerder sy eie eksemplaar sal aanskaf en die harde werk sal eer.

Goeie genugtig.

Die bundel word aan Etienne opgedra, en dit is waarskynlik Etienne van Heerden, met wie Koos Kombuis gedebuteer het in Brekfis met vier in 1981.

Toe was Koos nog André le Roux-du Toit; Daniel Hugo en Peter Snyders was die ander digters. Die uitgewer was Skoppensboer.

Inmiddels het Koos ’n huishoudelike naam geword, satiriese romans geskryf – soos Suidpunt-jazz (1989) en Somer II (1985) – en veral bekendheid verwerf as musiekmaker. Daar was ook Raka: Die roman (2005), ’n wrang satire.

Hierdie jongste e-digbundel wals met Groot Verseboek en etlike ander bekende Afrikaner-eiesinnighede.

In die hand van Koos Kombuis word daar ’n aweregse blik gegee op die hier-en-nou en swaarwigtige kwessies word ontluister. Die @-teken is daar, nes = en ander rekenaar & internet-simbole.

Soms mis ons ’n konvensionele kappie of ’n deelteken het weggeval . . .

Dis geen groot poësie nie, maar ’n heerlike internetwals sonder gal, maar met sosiale kommentaar.

I

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie,
gebreekte liedjies.
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug
@ poësie.
poësie is d koraalriwwe v kuns.
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie,
verarm deur d opkoms v rock’nroll,
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier.
ek = mal vir poësie. (5)

So plesierig gaan dit:

@ my ou ramkiekie
met net 1 toep
speel ek i/d maanlig
@ my stoep
ek speel v al d sterre
i/d wye lug daarbo
n lied v al d aliens
@ d groot karoo (37)

’n Mens sou vir jong studente kon vra: Waar is Totius, Leipoldt, Opperman (onder andere die ou weduwee Viljee) en al die ander grotes weggesteek in hierdie bundel?

(Die aanhaling toegedig aan Ezra Pound is helaas van Eliot . . .)

Die digter sien homself as ’n Dias van die gees.

Nou onlangs het die digter opslae in Brittanje gemaak met ’n wit-gedig (Cambridge University students speechless over Koos Kombuis’s blank poem) en ons vind hier woordeksperimente soos:

XVII

o brannewyn laat my staan
“ “ “ “ “ gaan
“ “ waars d maan
“ “ eks gedaan (21)

Gedigte klink asof dit in ’n vinnige SMS-taal geskryf is. Maar dit is ’n opsetlike eksperiment, hierdie aanslag. En selfs “Die Stem” word geparodieer:

VIII

(gelofteland)
@ d blou v onse hemel
@ d diepte v ons C
@ ons∞gebergtes
waar d kranse antwoord G

Dit is ’n bundel vir al Koos se fans. Hy lewer aweregse sosiale kommentaar: Karoo-fracking word aangespreek, die soeke na stilte, oudword, die dood . . .

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Netwerk24)

Saturday, September 27, 2014

Brief: Godsdiensonderrig in skole

Richard Dawkins

Geestelike waardes. Oor ons wêreld en waar ons vandaan kom
D. J. Smit

Die Burger, Saterdag 27 September 2014 

Hoe kan ’n mens Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie die Bybel ken nie, vra Joan Hambidge tereg. Dan praat ons nie eens van Van Wyk Louw of Opperman nie, sê sy – en sou ewe goed vele ander kon byvoeg. Trouens, hoe verstaan ons die wysheid opgesluit in ons alledaagse tale en idiome, die grondslae van ons kulture en tradisies, die verwysings van eeue se kuns, musiek en letterkunde, dít wat ons beskou as deugde en waardes – sonder die Bybel? Dan praat ons nie eens van waardigheid en regte, vryheid en demokrasie, ekonomie en wetenskap nie. Hoe verrassend dié herinnering ook mag wees, hoe omstrede sulke aansprake, hoe aanstootlik dié gedagtes vir vele, slegs kollektiewe geheueverlies kan dié blywende erfenis ontken.

Iets soos The King James Bible and the World it Made herinner hieraan – en dié opstelle praat nie eens van die Bybel self nie, dog net van één vertaling. Wat nog te sê van die Bybel sélf – in sy vele vertalinge? Hoe het dié nie die wêrelde help skep wat ons (dalk onbewus) vandag bewoon nie? Dink maar aan die vieringe in Amerika ’n eeu gelede met die King James drie eeue oud. Aan Theodore Roosevelt wat “die groot wetenskaplike Huxley” aanhaal dat dit “die Magna Carta van armes en onderdruktes is, die mees demokratiese boek in die wêreld”. Aan Woodrow Wilson wat dit beskryf as “ongetwyfeld die boek wat demokrasie gemáák het en die bron was van alle vooruitgang”. Sekerlik was albei óórentoesiasties – dalk met een oog op die komende verkiesing. En tog was daar iets waars in wat hulle sê?

Só beskryf Lamin Sanneh (’n gevierde historikus van Gambië, tans van Yale) die invloed van inheemse vertalings in Afrika. In vele moedertale sou die Bybel die “katalisator van ingrypende kulturele verandering” word, sê hy, “die onverwagse maar kragtige wapen téén onderdrukking van plaaslike inisiatief en teen koloniale heerskappy”. Bybelse temas, sê hy, “sou nuwe paradigmas verskaf vir politieke aspirasie, opvoeding, burgerskap en menswaardigheid”. Ons vergeet alte maklik, sê hy, die “uitsonderlike opwinding” en “rewolusionêre invloed” van sulke vertalings. En die téénstand wat hulle daarom so dikwels sou ondervind – van kerk én staat, oraloor. Dink maar aan John Wyclif, die Oxfordse geleerde, wat meer as drie eeue vóór die King James al sý vertaling sou maak, ondanks verset? Veertig jaar ná sy dood opgegrawe, verbrand en sy as in die rivier gestrooi om fináál te verseker sy ketterse Bybelse gedagtes beïnvloed niemand meer nie?

Natúúrlik is al dié verhale pynlik ambigu. Dié invloed was nóóit net heilsaam nie – die boodskap het immers altyd sy woordvoerders. Die geskiedenis van dié uitleg was een van seën én vloek – tót nou. Talle sou bitter ly onder ánder met die Bybel in die hand en ly stééds so – slawe, vroue, vreemdes, kinders. Maar ook dié misbruik word nie vermy deur te wil vergeet nie. Want hoe gaan ons Breyten Breytenbach en Antjie Krog dan verstaan? Of onsself, ons wêreld – met sy genade én sy gruwels?

-----


Terry Eagleton

Brief: Joan Hambidge

Die Burger 16 September 2014

Die debat oor die afskaffing van godsdiens aan skole ten gunste van ‘n meer sekulêre of godsdiensvrye onderrig, maak mense tereg ontevrede. Ateïste – soos agnostici – het inderdaad ook regte. 

Geloof is immers soos ‘n politieke oortuiging dikwels uiters persoonlik en vriendskappe is al beeïndig oor verskille. 

Maar om godsdiens te verban, klink vir my oordrewe en onsinnig. Ons kalender het ‘n Christelike basis. Ons vier Kersfees en selfs in lande waar daar geen erkenning gegee word aan die Christendom nie, word die dag aangeteken. Hoe wenslik is dit om die Christelike etos te verwyder uit skole as daar byvoorbeeld gedigte of boeke voorgeskryf word wat ook oor hierdie kwessie handel? Hoe kan jy Breyten Breytenbach of Antjie Krog verstaan as jy nie Die Bybel ken nie? Dan praat ons nie eens van NP van Wyk Louw of Opperman nie … Daar is verder vele digters en skrywers – ook in ander tale – wat onbegrypbaar sou wees.

Terry Eagleton, die groot Britse Marxistiese kritikus is, het al vir Richard Dawkins gewys op denkfoute oor die geskiedenis van die kerk. In Eagleton se gevleuelde woorde:

“God is not a celestial super-object or divine UFO, about whose existence we must remain agnostic until all the evidence is in. Theologians do not believe that he is either inside or outside the universe, as Dawkins thinks they do.” 

Gaan lees gerus hierdie uitstaande resensie van The God delusion en Eagleton se argumente oor die komplekse geskiedenis van die kerk en teologie.

Ek doseer die Afrikaanse digkuns aan ‘n diverse sosiale gemeenskap en dit bly ‘n uitdaging om verskillende kulture te akkommodeer, eerder as om ‘n sienswyse te verban ter wille van ‘n neutrale, non-teïstiese oortuiging.

Joan Hambidge, Kaapstad

Wednesday, September 24, 2014

Huldiging: DJO 100



Opperman die kanoniseerder, Opperman die digter, Opperman die eerste postmodernis met Kuns-mis, Opperman die kreatiewe begeleier in sy letterkundige laboratorium waar ek indertyd bygesit het, nie as digter nie, maar as jong kritikus.

Opperman het my lewe gered. Hy het my 'n assistentskap aangebied, anders sou ek in 'n sielkundige rigting studeer het.

Ek word sy sy assistente. Dit is 1978. Ek neem vir hom boeke uit in die Carnegie en neem dit laatmiddag na sy huis. Hy is in sy pajamas en knorrig, omdat ek laat is.

“Waarheen gaan ons? Kombuis toe?”, vra ek senuagtig, want hy is omgekrap.
“Wat? Dink jy dit is die teater van die absurde? Ons gaan studeerkamer toe.”
Hy trap my uit oor ek vir hom – volgens hom – ‘n verkeerde datum deurgegee het van die sekretaresse.
Hy gaan sit. Ek gee vir hom Invisible cities. Hy raak rustig. Eendag gaan ek nog die tekste opteken wat ek moes uitneem vir hom.
Hy tel Penseel op. Daar is 'n kortverhaal in van my (“Van vier tot ses”) met gay-ondertone.
“Dit moet jy ontgin,” seg hy.”Skryf dit oop.” Hy vertel van Hemingway se ontsteltenis toe hy eenkeer 'n rusie – per ongeluk – aanhoor tussen die lesbiese Gertrude Stein en Alice B. Toklas in Parys. Hy wis nie hulle was minnaresse nie.
“Hy was natuurlik 'n bietjie verlief op haar,” lag hy. Hy gesels oor Erica Jong. “Ja, Lina en Antjie hou baie haar ... vir my is die gedigte te 'chatty'.”

Daarna het hy weer my lewe verander.

Ek begin gedigte skryf. Ek is op besoek in Stellenbosch en bel mevrou Opperman.

“Ja kom gerus.” Ek is geskok om hom te sien. Dit is kort voor sy dood.
“Dirk, onthou jy haar?”
“Ja, dis my assistent.” Hy lag met die bekende skewe mondhoek. “Doen jou pliggie ou niggie.”

Ek wens ek kon met hom nou gesels oor Komas uit 'n bamboesstok en hoe hy lank voor die postmodernisme ‘n modewoord was, postmodernisties gedig het.
En hom bedank dat hy my bekend gestel het aan Wallace Stevens in sy huis, in my Honneursjaar, toe hy J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê met ons behandel het.

My bydrae die dag toe hy ons vir tee genooi het,  was oor hoekom die naam van die busdrywer waarin die kinders noodlottig gesterf het, meneer Koekemoer, nie in die gedig oor Henley-on-klip staan nie.
“Skryf dit neer”, roep hy uit. ”‘n Gedig mag nie die banale oorvertel nie.” 

'n Groot digter, dit is hy. En sal hy altyd bly. Opperman se grootste teoretiese werk vir my is Digters van dertig.

Opperman het my liefde vir die Ooskus-Amerikaanse digters aangewakker en my kritiese denke opgeskerp.

Hiermee 'n digterlike huldeblyk:

Ballade van die grysland
                                        
Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)

I

Uit tonnels van die nag tuur ek
oor die landskap van ysterspore,
die vele bundels wat ná u vertrek

hul opwagting maak, die nuwe Edms. OnBpk.
met vele digters en diskoerse,
in die Afrikaanse taal se vele bottelnekke.

Deesdae kap ons slote op die internet,
FaceBook en 'n kollektiewe Versindaba;
die digkuns 'n blote visum by verstek.

Hier is dikwels 'n gezoem om 'n heuningkoek
oor wié mag parlando of katalekteer;
soms word stilte opgeskort; ander kere opgedoek.

Daar is draaisae en gille van polemiek
- sonder om die bundel te lees -
ook herbesoeke met 'n enkele kliek.

Daar word steeds valse syfers neergekrap,
oneerlike resensies uitgekletter,
selfs van 'n eggenoot oor 'n bedmaarskalk.


II

Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
moes ek dikwels vlug oor 'n gedig
van 'n herkenbare minnares, 'n liefdesbom.

Maar die vrees as u, die rekenmeester,
nou moes lees of skerp takseer?
Hoeveel van ons sou by u, o leermeester

'n heilige bees, 'n strak negester
 of 'n Joernaal van Jorik kon prakseer?
“Wees veral versigtig met eendagsterre!”

Die nag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.

Ek sukkel steeds om hierdie gedig
in balans met u en Totius tuis te bring.
O my vrees wat die kritiek mag aanrig.

III

Die laptop is wit-gevlak en koel
soos die dubbelskots deur my vloei …
tot ek die vrees weer lyflik voel.

O as u, die rekenmeester kom,
wat sal u maak van hierdie pastiche?
Ek erken my reëls uit u bron

in die onthouboek, digterlike dinamika:
die ware digter, so leer u ons,
weet geen snars van metafisika.

“En metafiksie?”, wou ek vra?
Die tralies wat hierdie vers omsluit
– huldeblyk gewis en waar, ja –

laat my krukkig gryp na 'n psigoanalise:
Lacan en Žižek, daardie ou spoegbek,
óm en óm … die dun spil van die siel.


D.J. Opperman & "Niggie", sy assistent Joan Hambidge