Tuesday, February 8, 2022

Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in. 

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.

 

Friday, February 4, 2022

Filmrubriek | The power of the dog | 2021

The Power of the Dog, ‘n Jane Campion-film, word bemark as ‘n Western-psigologiese drama. En dis presies wat hierdie pakkende film behels. 

Die film oes lof in oorsee en na haar ongelooflike rolprent The Piano (1993) sit sy nie ‘n voet verkeerd nie. Gebrek aan kommunikasie, stilte – met hierdie teks, vertolk deur Harvey Keitel (as George Baines) en Holly Hunter (as Ada McGrath), het Campion ‘n standaard geskep vir talle filmmakers na haar. 

 

The Power of the Dog ontgin ook onvervuldheid en stiltes. Die hele kwessie van homoseksualiteit in ‘n gerepresseerde samelewing kom hier aan bod. In hierdie opsig behandel dit dieselfde kwessies as wat Hennie Aucamp in “Vir vier stemme” (Volmink, 1981) ontgin via die boeregrap. Roger Austen in sy studie Playing the Game wys daarop dat die gay-persoon in konvensionele tekste geoffer word en doodgemaak word deur die omstandighede wat nie gay-identiteit aanvaar nie. 

 

Die titel verwys na Psalm 22:20, NIV: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

Peter, die jong seun van Rose, word deur Phil gespot, omdat hy verwyfd is en lispel. Dit is ook Peter wat die beeld van die hond in die berg raaksien en hiermee sy eie krag ontgin. Hy neem later wraak op Phil wat hom afgeknou het en verneder het voor ander.

Phil se broer, George, trou met Rose, tot die saggryn van Phil. Dis egter die seun Peter wat later onthul dat sy vader selfmoord gepleeg het. Phil boelie die jong Peter, wat egter nie heeltemal onskuldig is nie. Hy loer Phil af wanneer hy kaal swem en ontdek ook sy weggesteekte porno. Ons sien hoe hy ‘n hasie in sy kamer dissekteer; tot sy moeder se ontsteltenis. Sy wend haar na alkohol.

 

Phil is hatig en verminderend oor haar, en woedend wanneer sy die beesvelle aan Indiane verkoop. 

Phil is intelligent & in die klassieke tale opgelei aan Yale, maar is vuil en slordig. Hy weier ook om te bad wanneer daar besoekers oorgenooi is vir ete. George nooi sy ouers en die goewerneur en sy vrou om Rose te ontmoet.

 

So intimiderend is Phil dat Rose nie kan klavierspeel nie. Haar tong is uitgesny, soos Holly Hunter s’n. Die klavier is hier ‘n simbool van kultuur, wat afgewissel word met Phil se naakswemtonele en sy masturbasie met ‘n sakdoek van Bronco, sy oorlede vriend en mentor, wie se saal ‘n totemplek inneem in die stal.

 

Hy laat Peter ook daarop sit; ‘n prospeksie van dit wat kom. Die moeder is bewus van die verleiding van haar seun. Sy probeer selfs keer dat hy weggaan met Phil.

 

Phil maak ‘n lasso vir Peter, ‘n soort toenadering en seksuele simbool, uit repe vel van die dooie koei waarop Peter afgekom het tydens ‘n solo verkenningstog. Die koei is waarskynlik dood as gevolg van ‘n antraks-infeksie. Peter het handskoene aangetrek voor hy ‘n stuk van die koei se vel afgesny het. (Hierdie toneel moet in jukstaposisie geplaas word met die handskoene wat die moeder in ruil ontvang van die Indiaan se kind as geskenk en betaling en waarmee sy selfs slaap.)

Wanneer Peter en Phil ‘n hasie doodmaak, beseer Phil homself macho sonder handskoene. Hierdie oop wond op sy hand veroorsaak dat hy infeksie kry wanneer hy – omdat Rose die sy velle aan die rondreisende Indiane weggegee het – van die besmette vel gebruik om vir Peter die lasso te vleg. Hy bely ook sy gevoelens oor Bronco vir Peter. Peter op sy beurt, bely dat hy sy vader – wat homself gehang het – moes lossny.

 

Phil word egter siek weens die besmette vel en hy sterf. Voor sy dood probeer hy die lasso vir Peter gee, maar in sy deliriese, koorsige toestand kan hy hom nie opspoor nie.

 

Dit is beduidend dat die jong Peter nie na die begrafnis gaan nie en dan die Bybelteks lees wat die titel aktiveer: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

‘n Vorm van boetedoening?

 

Hy plaas die lasso (steeds met handskoene aan) onder sy bed waar dit uit die oog is – soos Phil se seksualiteit? Hy kyk deur die venster en sien sy moeder en stiefvader: glimlaggend en gelukkig. Sober & “gesond”.

 

Die “bose” homoseksualiteit is besweer. Die onderliggende boodskap van die film is ontstellend; homoseks word bestraf.

In die hande van ‘n mindere regisseur sou dit nie oortuig nie, maar Jane Campion vang die tydsgees (onthou dis Montana, 1925) goed vas. Nes Aucamp se “Vir vier stemme” eweneens die tragiek van ‘n gemeenskap se vooroordele ontgin en wat lei tot die selfdood van Freddy. 

 

By Aucamp word dieselfde verhaal vanuit vier perspektiewe vertel: 'n Grap is 'n grap; Aan alles moet 'n einde kom; En hadde de liefde I; En hadde de liefde II; by Campion is daar afdelings wat wys op ‘n gedistansieerde, amper romanagtige vertelling wat in hoofstukke afspeel.

 

Beide tekste gebruik die Bybel met skuld en boetedoening. Beide tekste is briljant. Campion het die draaiboek geskryf wat gebaseer is op Thomas Savage se gelyknamige roman wat in 1967 verskyn het.

 

Teenoor die klavierspel is daar die klank van ‘n banjo. Phil wat steeds musiek kan maak; Rose wat nie meer kan speel nie.

 

Die landskap is hier sterk aanwesig as ‘n krag. 

 

Bronne:

 

Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Tersaaklike rolverdeling:

 

Benedict Cumberbatch as Phil Burbank

Kirsten Dunst as Rose Gordon

Jesse Plemons as George Burbank

Kodi Smit-McPhee as Peter Gordon

 


 © Joan Hambidge 


Monday, January 31, 2022

Rubriek | Feite en fiksies | 2022

I

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz is inderdaad, soos die gesiene historikus, Fransjohan Pretorius uitwys (Die Burger, 26 Januarie 2022) ‘n aangrypende roman. Sommige optredes is waar; ander opgemaak. Daar was nooit iemand soos Mannetjies Mentz nie. Deneys Reitz, die vrybuiterkorpse, “verflenterde groepies” is die basis van die verhaal waar die romanskrywer dan sy verbeelding inspan om ‘n ander blik op die oorlog te gee. Waarskynlik wou Coetzee die oorlog demitologiseer of die leser dwing om aannames te herbesoek? 

 

Pretorius se historiese artikels is uiters tersaaklik. Hierdie roman dwing ‘n mens terug na belangrike tekste oor die ABO. Inderdaad, ‘n alternatiewe historiese roman.


Christoffel Coetzee doen presies dieselfde as DM Thomas in sy beroemde roman The white hotel (1981).

 

In hierdie pakkende roman word Freud se lewe gefiksionaliseer. Thomas versoek die leser volumes 3, 8 en 9 van die Pelican Freud Biblioteek te lees, wat hy ook as meesterlike letterkundige tekste sien.

 

Ene Frau Anna G, ‘n operasangeres, wat leuens vertel aan Freud in terapie, blyk eintlik Elisabeth (Lisa) Erdman te wees. Don Giovanni, die oorlog (die roman begin in 1919 en eindig in 1941) en die Duitse besetting van Kiev, strafkampe, Babi Yar en die ontsettende ellende, word in hierdie roman beskou. Tussen ‘n 100 000 tot 150 000 mense is vermoor onder die bevel van Generaalmajoor Kurt Eberhard.

 

Verdraaiings van feite, ‘n spel met die geskiedenis (wat aanspraak maak op jou kennis van historiese tekste), is opvallend in hierdie twee bekroonde tekste. Beide smokkel met jou kop. Beide beklemtoon die wreedheid van oorlog. Groot skrywers gebruik die werklikheid en maak daarvan iets meer.

 

Coetzee het die Sanlam/De Kat-prys gewen in 1998, plus die M-Net- en Eugène Maraispryse in 1999. Thomas het die Cheltenham-prys verower.

 

In 1999 is Coetzee oorlede. Hoe jammer, want hierdie man kon skryf.

 

Net soos Thomas, ‘n gesiene romanskrywer en vertaler van Russiese digkuns.

 

II

 

Filmmakers speel ook met die konvensies tussen werklike gebeure en fiksionaliteit. Quentin Tarantino doen dit in sy film Once Upon a Time in Hollywood (2019) waar die kyker weet hoe die filmmaker Roman Polanski se vrou Sharon Tate vermoor is. Maar dit gebeur anders in die film.

 

Die feit dat die musiek van die Mamas & the Papas gebruik word in die film, is tersake. Mama Cass Elliott en Michelle Phillips was lede van hierdie groep en hulle lied “Straight Shooter” is gevind op die klavier by die moordtoneel in Polanski se huis. Polanski het ‘n affair gehad met Phillips, terwyl hy getroud was met Sharon Tate.

 

So die kyker beweeg tussen die film as ‘n manjifieke fabel en die werklike geskiedenis: hoe Sharon Tate vermoor is, omdat Manson wou wraak neem. Manson het homself as ‘n rockstar gesien en Terry Melcher, die vorige inwoner van hierdie huis is deur Manson geteiken.

 

In Polanski se films is daar eweneens ‘n spel met historisiteit. Sy film The Pianist (2002), ‘n holokaust-memoir, is ten dele gebaseer op sy eie lewe van die oorlog en die impak daarvan. In ‘n dokumentêre onderhoud vertel hy alles van sy pynlike jeug.

Il postino van Michael Radford in 1994 laat Pablo Neruda, die Chileens digter, besoek aflê waar hy nooit was nie. Die beroemde digter is verban na ‘n eiland en die posman gebruik Neruda se gedigte om ‘n meisie se hart te wen. Die impak van die digkuns en die bewondering vir die digter se uitsprake oor die politiek, lei tot die dood van die eenvoudige posman. Met Mario wat opnames van die see maak vir die groot digter …

 

Dit speel af in 1950. Neruda was nooit daar nie. In hierdie tyd was hy in Isla Negra.

 

Die vraag is: het die arme posman alles te letterlik vertolk? Is dit hoekom hy sterf?

 

Ook hier ‘n fyn balans tussen werklikheid en fiksionalisering.

 

III

 

Hoe meer die leser of kyker weet, hoe meer wen die teks aan kompleksiteite. Borges, die groot Argentynse skrywer, het byvoorbeeld ‘n verhaal geskryf waarin ‘n beroemde teks herskryf word. "Pierre Menard, Author of the Quixote"  ("Pierre Menard, autor del Quijote", 1962). Aan wie behoort wat? Wat is werklik en wat het die beroemde kritikus, ene Menard geapproprieer?

 

Hierdie soort tekste wat op ander tekste teer, eis geweldige vaardighede en opleiding in ironie en fantasie. En ‘n kennis van intertekste.

 

Jy kan tekste nie net sommer goedskiks op die woord neem nie. ‘n Roman of film is nooit gelyk aan die werklikheid nie. Dit is die waarheid gelieg, soos TT Cloete opgemerk het.

 

The author as stage-manager soos Peter Conradi dit noem in sy studie oor John Fowles.

 

 

Bronne:

 

Pretorius se rubriek: Mannetjies Mentz – ’n alternatiewe waarheid. Besoek 30 Januarie 2022

 

Onderhoud met Manson: Why Did the Manson Family Kill Sharon Tate? Here’s the Story Charles Manson Told the Last Man Who Interviewed Him. Besoek 30 Januarie 2022  

 

Peter Conradi. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).

 

Friday, January 14, 2022

Resensie | Cas Wepener – Ritmes en rites. Naledi | 2022

Cas Wepener – Ritmes en rites. Naledi, 2022. ISBN: 9781928530763

Resensent: Joan Hambidge

In die Skool vir Tale aan die UK se teekamer staan Van Gennep se groen ensiklopedieë oor liminaliteite. In 1909 verskyn die Rites de passage oor oorgange waarop verskeie psigoanaliste en kenners al gereageer het. Dit is ‘n studie waardeur ek telkens blaai.

Cas Wepener se Ritmes en rites lewer implisiet en eksplisiet kommentaar op Van Gennep. Hierdie teoloog en skrywer lewer hier verslag met ‘n oes van stukke wat in Vrye Weekblad, Beeld en By verskyn het. Toeganklik, met ‘n besonder skerpsinnige oog vir dit wat ons tans beleef in hierdie tyd van inperking. Ofskoon die grendeltyd verby is, word die emosionele letsels nog lank nie deurgrond nie. Op ekonomiese, mediese, emosionele en psigiese vlakke beleef ons die impak van die pandemie, ‘n virale oorlog.

Wepener sien rites, rituele en sakramente as belangrike dade tot heling. Van ‘n sigaretstompie versend aan die Suid-Amerikaanse Katolieke teoloog, Leonardo Boff in Duitsland uit Suid-Amerika tot die wete dat die reis in die pandemie ‘n inwaartse een geword het. ‘n Statiese pelgrimstog, soos hy dit klinkend opsom. Boff se siening van hoe ‘n gewone ding ‘n sakrament kan word. ‘n Brief met ‘n sigaretstompie van sy vader, pas oorlede, verlos hom uit die eensame hede in Duitsland waar hy student is; met die wete dat hy dit wat was, nooit verlore gaan nie.

Hy skryf oor liminale ruimtes, oor beweging van inperking na ‘n nuwe staat. Hy beskryf die ruimte van die “backstage” waar die werklike drama op die (lewensverhoog) weerspreek word. Oor stilte via Simon & Garfunkel en natuurlik die film in Into great silence (Philip Gröning, 2005) wys hy op die bestaan van die swygmonnike. Sy kennis van en bewondering vir Karel Schoeman se romans is opvallend. Hy het immers ‘n studie oor sy werk geskryf: Die reis gaan inwaarts (2017).

Daar is humor wanneer hy ou Kerkbodes lees en doods- en in memoriam-berigte bestudeer. Geweldige insig rondom die slag van ‘n skaap op Clifton-strand via Girard. Drempels en liminaliteite analiseer deur die lens van Victor Turner, ‘n navolger van Van Gennep. Later kom hierdie meester aan die woord, o.a op bladsy 219.

Hy wys op die klaagkultuur en die wysheid dat lof kan voortkom uit ‘n klag. Die Ugandees Katongole se Born from lament is hier ‘n rigtingwyser. Hy lewer kommentaar op Patric Tariq Mellet se The lie of 1652 uit ‘n ander hoek in “Met ‘n Jeep na 1652”. Hy besoek townships en haal aan uit vele digters, skrywers en sangers om sy hand te versterk. Van A.G. Visser tot Churchill Naudé.

Tereg merk Jo van Eeden op in die voorwoord: “Hy kry dit reg om die spieël vas te hou sodat jy vir ’n slag goed daarin kan kyk – selfs al is daardie beeld soms tot verwrongendheid gekraak. Hy gooi die venster wyd oop sodat jy in diep asemteue ook na buite kan kyk – selfs al woed die ergste storm denkbaar net daar op jou voorstoep. En soms plaas hy ’n onderwerp onder ’n vergrootglas – selfs al skroei die son later witwarm presies daar waar die ligstrale en senupunte ontmoet.”

Cas Wepener skryf insigryk oor die temenos (magiese sirkel), soos Jung dit beskryf het. Soos Wilhelm Jordaan en rvr (in Die Burger) maak hulle lesers bewus van die transformasie binne die teologiese en spirituele wêreld.

‘n Hoogtepunt is “Karelsfontein. ‘n Skilder se ode aan Karel Schoeman” (199) waarin Wepener se bewondering vir Schoeman goed saamval met skilder Philip Badenhorst se “innerlike landskappe”. Die fontein van die skilder vloei hier inderdaad saam met die fontein van die grootse skrywer. So ook “Foto’s van die ewige slaap” waarin hy vir ons die gebruik verduidelik aan die einde van die negentiende en vroeg-twintigste eeu om mense in hulle ewige slaap te fotografeer. Hy analiseer “die tekstuur van stilte”, die leesaksie as ritueel op ‘n toeganklike manier. “Om tyd te mors” het my aangespreek.

‘n Kreatiewe speurtog in Kerstyd” (saam met Tanya van Wyk as mede-skrywer) verduidelik die betekenis van relikwieë in verskeie godsdienste. Hy skryf oor die pandemie, oor verhoudings, oor identiteit, oor geregtigheid en versoening, oor moed en hoop, oor die slagvelde in ons samelewing, oor die ritme van tyd en die veelkantige Karel Schoeman.

Net terloops: ons praat nie meer van Ikeys nie, maar van UCT, ‘n multi-kulturele ruimte. Soms is die predikant te sterk aan woord, maar wanneer die skrywer-filosoof praat, spreek dit my aan soos in “’n Erfenis-gelykenis” (60). Geselserige uitdrukkings (biesies bewe, 70) verminder die teks volgens hierdie leser. Of om liturgie as ‘n blikskottel te beskryf (70) deug in koerantrubriek, maar nie in boekvorm nie. Of hoop is ‘n bogger (75).

Dit is ‘n boek wat jy langs jou bed hou vir weer-lees. 

Die voorblad met die kunswerk van Philip Willem Badenhorst is beeldskoon.

Filmrubriek | The Roman Spring of Mrs Stone (1961)

I 

Tennesee Williams is sinoniem met self-verloëning en -misleiding. Min dramaturge kon die spanning tussen waansin en normaliteit so uitstekend ontgin as hy. Blanche DuBois. Of ‘n ongeleefde lewe so briljant weergee. Amanda Wingfield. Of Brick Pollitt as gerepresseerde gay.

 

The Roman Spring of Mrs Stone is die uitstekende filmweergawe van 1961 wat op sy novelle gebaseer is. José Quintero is die regisseur van die film met Vivien Leigh, Warren Beatty, Jill St. John en Lotte Lenya as die belangrikste akteurs. Lotte Lenya sou net hierna in Bond (From Russia with love, 1963) die booswig speel. Gavin Lambert het die draaiboek geskryf wat die essensie van Williams raakvat.

 

II

 

In ‘n klein dokumentêr (as ‘n addendum tot my DVD) is daar ‘n interessante beskouing oor die film te siene. Hoe Vivien Leigh se huwelik met Lawrence Olivier tot ‘n einde gekom tydens die produksie van die film en hoe Warren Beatty, as ‘n jong onbekende akteur, gereis het na ‘n eiland in Puerto Rico waar Williams vakansie gehou het om hom te oortuig dat hy die rol van Paolo moes vertolk. Met ‘n sogenaamde man tan en ‘n Italiaanse grammatika- en fraseboek onder sy blad, het hy Williams oorrompel. Beatty het die rol bó Alain Delon gekry, omdat Williams ‘n inset kon lewer oor wie die akteur moes wees. Dit blyk ook dat hy ten spyte van sy aantreklikheid gesukkel het om kop bo water te hou en selfs dramaskool as ‘n jongeling moes verlaat om werk te vind in New York. Maar hierdie film het hom gevestig as ‘n ernstige akteur, omdat hy bereid was om téén die stereotipiese opvatting van die beefcake in te speel.

 

Sy loopbaan het hiermee ‘n hupstoot gekry, terwyl Leigh se loopbaan  – ten spyte van enorme sukses met A streetcar named desire en Gone with the wind – besig was om met rasse skrede agteruit te gaan.

 

Is dit kuns wat lewe naboots of andersom?, vra een van die kommentators.

 

III

 

Hierdie film som waarskynlik Williams se aard op as onvervulde mens, uitgelewer aan andere en fata. Met ‘n ingewikkelde verhouding met sy familie en die eise om telkens ‘n belangrike dramateks te lewer, het sy lewe toenemend ingewikkelder geraak met allerlei verslawings.

 

The Roman Spring of Mrs Stone vertel die verhaal van ‘n aktrise wat tydens haar vertolking van Rosalind in As you like it besef dat die vertoning ‘n mislukking was. Sy besluit – met die hulp van haar welgestelde eggenoot – om die produksie te kanselleer. Die kyker is bewus van die New Yorkse vriende wat haar beskinder en verminder. Ons is bewus van sy gesondheidsprobleme wat gebruik word om die produksie te eindig.

 

Sy vertrek op vakansie met haar eggenoot, Tom Stone, na Rome en hy sterf op die vliegtuig aan ‘n hartaanval. Hy is veel ouer as sy.

 

In Rome word Karen Stone, die ryk weduwee, die slagoffer van skindertonge en die Contessa Magda Terribili-Gonzales (uitstekend vertolk deur Lotte Lenya), wat haar manipuleer en indwing in ‘n verhouding met ‘n marchetto, ene Paolo di Leo (Beatty). Die Contessa leen ook geld van Karen Stone wat haar daarop attent maak dat Amerikaners nie so naïef is as wat hulle in films voorgestel word nie.

 

Karen raak egter verlief op Paolo, terwyl hy haar manipuleer vir geld. Haar vriendin, Meg lewer besoek af en waarsku haar oor die skindertonge en die paparazzi se uitlatings.

 

Meg, ‘n politieke joernalis probeer haar oorreed om terug te keer New York toe, maar Karen volg haar hart.

 

Want dit was Paolo wat haar waarsku dat ryk vrouens kan sterf aan die hand van ‘n besoeker. Rome, waarsku hy, is ouer as jy; meer as 300 jaar. Jy is net 50 jaar …

Sy is egter vreesloos wanneer hy haar bang praat. Sy antwoord:

"All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience".

 

Is Karen die dramaturg van haar eie lot? Sy lieg immers vir vriende uit die VSA wat op besoek is in Rome dat sy aan ‘n ongeneeslike siekte ly.

 

Meg is die een wat haar probeer beskerm. Meg is reeds weg is wanneer Karen en Paolo se verhouding breek.  Karen haal sy foto uit die raam en ons sien na die vertrek van die gaste wat na die film-footage moes kom kyk of Paolo in ‘n filmrol sou kon speel, net ‘n leë raam.

 

Tydens hierdie besoek aan haar weelderige palazzo is Paolo roekeloos-afsydig en hy flirteer openlik met Barbara Bingham om ‘n rol te kry. Sy oppervlakkigheid word weergegee in sy gesprekke oor ander tydens besoeke aan die barbier. Hy lê ook in sonbaai op haar palazzo se dak.

 

Hy is ‘n opperse emosieswendelaar wat duur klere van Karen ontvang en haar belieg oor ‘n vriend se geldnood. Ofskoon sy weet hy lieg, laat sy hom begaan. 

 

Die geliefde vertrek. Daar is niks meer oor nie. 

 

In die film kyk Karen voortdurend in spieëls. Oomblikke van self-konfrontasie? Of die ouer aktrise wat narsisties na haarself kyk en besef sy het oud geword?

 

Alles beweeg, die sterre, die swaels, waarsku die gigolo. 

 

Ons is bewus van ‘n jong man wat onder haar palazzo bly en haar dophou. Uiteindelik gooi sy ‘n sleutel af na hom. Hy kom na haar kamer en in die slot vermoor hy haar waarskynlik.

 

Jill St. John in die ektra-kommentaar, meen dis ‘n nuwe begin vir Karen Stone. Die kenner van Tennessee Williams weet dis nie so nie. Dis immers ook tersaaklik dat Vivien Leigh Jill St. John tydens die produksie van hierdie film op die filmstel geïgnoreer het. ‘n Deurwinterde Williams-vertolker weet immers hoe sub-teks werk. Jill St. John was immers ‘n Bond-meisie in Diamonds are forever (1971).

 

In ‘n wonderlike oomblik in The Roman Spring of Mrs Stone laat Vivien Leigh (as Karen Stone) vir Jill St. John weet sy het nog geen van haar films gesien nie.

 

En jy as kyker weet dis ‘n klap na die harde, harde werklikheid. Alles in hierdie film gaan oor betreding en om die vyand in jou private ruimte toe te laat. Sleeping with the enemy. Tydens een van die besoeke van  Contessa Magda Terribili-Gonzales maak sy beledigende opmerkings voor ander gaste oor Karen Stone, wat dit hoor, maar ignoreer. (Lotte Lenya het tereg ‘n Oscar ontvang as beste byspeler vir haar rol.)

 

En dis eweneens relevant dat Rosalind ter sprake kom in hierdie film. Rosalind is immers bekend vir haar skerp tong, skoonheid en vermoë om te oorleef.

Ironies bepaald. Want Karen Stone oorleef nié.

 

 

IV

 

Die belangrikste vertolkings:

 

Vivien Leigh as Karen Stone

Warren Beatty as Paolo di Leo

Lotte Lenya as Contessa Magda Terribili-Gonzales

Coral Browne as Meg

Jill St. John as Barbara Bingham

Jeremy Spenser as Young Man

 

Vir ‘n analise van die novelle: Theoharis Theoharis Constantine - The kindness of strangers : savage rescue in Tennessee Williams' The roman spring of mrs. Stone. Besoek 9 Januarie 2022.

 

© Joan Hambidge

Wednesday, January 5, 2022

Rubriek – TV | The Golden Girls | 2022

Rose, Blanche, Sophia & Dorothy

I

Met die dood van Betty White, ‘n uitstaande aktrise, besoek ek weer The Golden Girls waar die bestes op Youtube versamel word. Hierdie reeks het beslis nie dateer nie en die skerp humor laat ‘n mens steeds bulderlag (23 Fan Favorite Golden Girls Scenes (Part 1). Besoek 5 Januarie 2022).


Die voortreflike ensemble-spel tussen Dorothy, Rose, Blanche en Sophia kan nie genoegsaam besing word nie. 

 

Rita Meade het reeds in September 2014 die belangrikste literêre verwysings uitgewys (Literary Moments of "The Golden Girls"/ A Complete List. Besoek 5 Januarie 2022).

 

Een van die sterkste aweregse huldeblyke is natuurlik na Tennessee Williams (waarop Meade ook wys): 



S5E3: “The Accurate Conception”


Picture it: Blanche’s daughter plans to get artificially inseminated and Blanche is not happy about it. 


Blanche: “You are a Devereaux. A Devereaux has never had to pay for it!”

Dorothy (to the doctor): “She’s always depended on the kindness of strangers.”


Dit is natuurlik die aangepaste woorde van Blanche Dubois wanneer sy na die gestig geneem word in A streetcar named desire.



S5E15: “Triple Play” 


Picture it: Rose and Miles get home from a date.


Miles: “We saw a marvelous production of The Glass Menagerie.”

Dorothy: “Oh, that is one of my favorite plays.”

Rose: “Frankly, I was a little disappointed.”

Miles: “Really?”

Rose: “Yeah, when you told me you were taking me to a revival of Tennessee Williams, I was expecting something more along the lines of a seance.”


Williams bekend om sy beskrywing van mense wat tússen waansin en normaliteit beweeg, is tersaaklik hier. Die feit dat daar ‘n grap van sy dramas gemaak word, wys op die belangrikheid van sy werk as dramaturg. Tydens ‘n TV-vasvra-wedstryd is Williams ook aanwesig.

 

In die loodsepisode word ons immers gewaarsku dat Blanche "more Southern than Blanche Dubois” is.

 

Mae West is ook hier: “Is that a pistol in your pocket or are you just glad to see me?”


Die grap word dan verletterlik: die man haal ‘n werklike pistool uit sy broek wat arme Blanche se sang-optrede verder belaglik maak. Burt Reynolds neem Sophia uit en vra, Wie van julle is die slet? Aldrie steek hulle hande op. Hulle is immers jaloers op Sophia se date.

 

Tydens ‘n hilariese beledigingstoneel tussen Blanche en Dorothy, versoek Sophia hulle om op te hou: “Stop girls, before you say something you both regret.”

 

Wanneer Dorothy en Blanche mekaar beledig, beweer Blanche dat om mense name te noem uiters kinderagtig is. In “Count Bessie” is daar ‘n hoender wat klavier speel met sy snawel.

 

Daar is net te veel goue oomblikke om op te noem. Waarskynlik een van die bestes, is die kondoom-toneel waar Blanche, Dorothy en Rose op ‘n uitstappie gaan. Alles netjies klandestien totdat die verkoopsman oor die interkom uitblaker en vra wat die kondome se prys is aan die bestuurder. Of Dorothy wat mislei word deur ‘n man wat sy dink belangstel in haar; net om te ontdek sy gaan net sy kinders oppas. Sy staan dan op en blaker oor die interkom in die restaurant sy geheim uit. Hy is impotent.

 

Drie weduwees en ‘n geskeide vrou deel ‘n huis in Miami. Die eienaar is Blanche Devereaux. Dorothy se tagtig-jarige moeder, Sophia Petrillo, trek by hulle in nadat die aftree-oord waarin sy gebly het, afgebrand het. Die reeks is opgeneem voor ‘n lewende gehoor. (Skynbaar was daar spanning tussen Dorothy en Rose, omdat sy met die gehoor geflikflooi het.) Bykans elke denkbare sosiale probleem word aangespreek: Vigs, sosiale stande, prostitusie, lesbianisme en ander kwessies word by die kombuistafel bespreek. Rose se gebrek aan insig word dikwels geïllustreer met haar verhale wat niks met die situasie te make het nie, en Sophia maak dikwels bogstories op.

 

Dit is ‘n briljante reeks gepak met intertekste en toespelings op klassieke tekste.



II

Beatrice Arthur vertolk die rol van Dorothy Zbornak (née Petrillo), ‘n onderwyseres uit Brooklyn. Haar ouers is Sisiliaanse immigrante, Sophia and Salvadore (Sal) Petrillo. Sy raak op skool swanger en trou met Stanley Zbornak (Herb Edelman) wat dikwels kamee-vertonings maak. Stan los haar vir ‘n lugwaardin na 38 jaar se getroude lewe en in ‘n wonderlike episode ontmoet sy die nuwe vrou by die troue, wat nie besef dat Dorothy getroud was met Stan nie. Haar sarkasme, humeurigheid en “one liners” is besonders.


Betty White vertolk die rol van Rose Nylund (née Lindström), ‘n Noorweegse Amerikaner. Sy is uiters naïef en teenoor die bruuske, onaantreklike Dorothy, ‘n antagonis. Sy is van St. Olaf, Minnesota en getroud met Charlies. Sy het vyf kinders: Kirsten, Bridget, Gunilla, Adam and Charlie, Jr. Sy werk onder andere as ‘n trauma-begeleier. Later is sy ‘n assistente vir ‘n bestuurder in “consumer”-kwessies. 


Rue McClanahan as Blance Devereux (née Hollingsworth) werk in ‘n kunsmuseum. Sy is die ryk een in hierdie vriendskap. Sy het groot geword op ‘n landgoed in Atlanta, Geordia. Haar man was George, sy het ses kinders en is ‘n opperse mannejagter.


Estelle Getty vertolk die rol van Sophia Petrillo. Gebore in Sisilië, maar “vlug” na die VSA, omdat sy nie met Guido Spirelli wou trou nie. Sy trou met Sal en haar drie kinders is Dorothy, Gloria en Phil, ‘n “cross-dresser”. Haar humor is vinnig en op die punt af en sy blyk ‘n uitstekende kok te wees.



III

So agter al die grappies en opstuur, kom daar ernstige kwessies aan bod soos immigrant-wees teenoor burgerskap, ongehude moederskap, gereëlde huwelike, egskeidings, vrye seks, familie-spanninge, jaloesie, verraad, depressie, trauma.


Dorothy se broer as “cross-dresser” bring eweneens ‘n ander gender-kwessie na vore, ofskoon sy moeder dit kan hanteer.


Wat hierdie reeks voortreflik illustreer, is hoe wrééd humor kan wees. 


Ons lag is, soos Freud reeds uitgewys het, om ons opponente te kan beheer. Deur hulle te verklein(eer) of verminder. Dis die Freudian-punchline soos Jerry Aline Flieger immers argumenteer.


Die vraag natuurlik is: as hierdie reeks nou vir die eerste keer die lig moes sien, sou die politiek-korrektes en die woke-generasie dit kon duld? Dit het begin in 1985 en in 1992 klaar gemaak.


Maar humor is immers die lag met die traan, aldus wyle Fransie Malherbe.


Wys my waarvoor jy lag en ek sal presies weet wie jy is.

 

Bron:

Freud, Sigmund. 1916/ 1976. Jokes and their relation to the unconscious. The Pelican Freud Library volume 6. (Londen: Penguin). (vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).


© Joan Hambidge

Saturday, January 1, 2022

Profiel | Roberto Bolaño (1953 – 2003) | 2022


I

 

Roberto Bolaño gebore in 1953 en oorlede in 2003 is veral bekend vir sy prosa. In hierdie dae lees ek weer die verbluffende 2666, 'n teks wat die grense van die romankuns uitdaag. 'n Paragraaf is 'n vloedgolf van één sin. Karakters verdwyn en kom weer later terug in die storie ...

 

Gebore in Chili, gevlug na Mexiko en Spanje was hy iets van 'n misterieuse figuur. Verslaaf aan dwelms en wagtend op 'n leweroorplanting sterf hy.

 

Daar word vertel dat hy die romans geskryf het om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. In Spanje was hy 'n bokser, skottelgoedwasser, vullisverwyderaar, sekureiteitsbeampte en as kind glo disleksies. Geboelie op skool en dus ‘n outsider.

 

Sy pa was 'n bokser en trokdrywer; sy ma onderwyseres. Daar was boeke in die huis, maar nie eintlik hoë letterkunde nie.

 

In sy lewe het hy die Chileense letterkundige sisteem as snobisties en afwysend ervaar en veral die hooghartige Isabel Allende, geteiken met argwaan. Volgens Ariel Dorfman het hierdie outsiderskap aan hom 'n enorme vryheid gegee. Iets wat 'n mens dan in sy tekste opvang. Teen die grein en modes van sy tyd, skryf hy asof hy eintlik met homself praat. Hy meng genres en breek konvensies af. In ‘n roekelose, asemsnakkende styl wat absolute bewondering afdwing.

 

2666 verwys (waarskynlik) na die Bybelse Eksodus en die vlug uit Egipte 2 666 jaar nadat God die aarde geskape het. Ander kritici meen weer dis al die bladsye wat hy nagelaat het.

Hierdie roman beslaan vyf afdelings. Die eerste afdeling handel oor die kritici en vier Europese geleerdes, die Fransman, Jean-Claude Pelletier, die Italianer, Piero Morini, die Spanjaard, Manuel Espinoza en Liz Norton, ‘n jong Engelse akademikus op wie die mans verlief is.

 

Hoe elkeen van hulle na haar smag, word uistonderlik kragtig beskryf.

 

Hulle ondersoekveld is die misterieuse Duitse skrywer (met ‘n Italiaanse naam), Benno von Archimboldi. Mevrou Bubis, sy uitgewer vertolk ‘n belangrike rol, nes Rodolfo Alatorre, wat beweer hulle was bevriend. Die soektog na die skrywer lewer aanvanklik niks op nie

Uiteraard omdat identiteite nie “waar” is nie. Mevrou Bubis blyk Barones von Zumpe te wees, net soos wat die identiteit van die skrywer later onthul word. Maar ek wil nie nou ‘n spoiler pleeg nie! Wat ‘n verbeelding.

 

 

II

 

Ek wil egter op sy digkuns die aandag vestig. Dit is altyd 'n wonderlike ervaring om 'n nuwe digter te ontdek en ek is kortweg gaande oor sy poësie.

In 1975 begin hy 'n digkuns-beweging, die sogenaamde Infrarealismo in Mexiko saam met Mario Santiago Papasquiaro, José Vicente Anaya, Rubén Medina en José Rosas Ribeyro.

Hulle motto was: “Blaas die breins uit van die kulturele establishment.”

 

Hierdie beweging was o.a. krities oor die werk van die Mexikaan, Octavia Paz en daar word vertel dat hulle een keer selfs koffie oor hom uitgesmyt het in die openbaar. Paz het vir hom alles verteenwoordig wat hy in die letterkundige establishment verfoei het. 

 

Self portrait at twenty years

 

I set off, I took up the march and never knew

where it might take me. I went full of fear,

my stomach dropped, my head was buzzing:

I think it was the icy wind of the dead.

I don't know. I set off, I thought it was a shame

to leave so soon, but at the same time

I heard that mysterious and convincing call.

You either listen or you don't, and I listened

and almost burst out crying: a terrible sound,

born on the air and in the sea.

A sword and shield. And then,

despite the fear, I set off, I put my cheek

against death's cheek.

And it was impossible to close my eyes and miss seeing

that strange spectacle, slow and strange,

though fixed in such a swift reality:

thousands of guys like me, baby-faced

or bearded, but Latin American, all of us,

brushing cheeks with death.

 

Vertaler: Laura Healy

 

 

Dirty, poorly dressed

 

On the dogs’ path, my soul came upon

my heart. Shattered, but alive,

dirty, poorly dressed, and filled with love.

On the dogs’ path, there where no one wants to go.

A path that only poets travel

when they have nothing left to do.

But I still had so many things to do!

And nevertheless, there I was: sentencing myself to death

by red ants and also

by black ants, traveling through the empty villages:

fear that grew

until it touched the stars.

A Chilean educated in Mexico can withstand everything,

I thought, but it wasn’t true.

At night, my heart cried. The river of being, chanted

some feverish lips I later discovered to be my own,

the river of being, the river of being, the ecstasy

that folds itself into the bank of these abandoned villages.

Mathematicians and theologians, diviners

and bandits emerged

like aquatic realities in the midst of a metallic reality.

Only fever and poetry provoke visions.

Only love and memory.

Not these paths or these plains.

Not these labyrinths.

Until at last my soul came upon my heart.

It was sick, it’s true, but it was alive.

 

‘n Mens vind iets van die Beat-generasie in sy gedigte: die swerwer, die junkie, die bum, die visionêr …

 

Hy is Kerouac versnit met Ginsberg en Borges.

 

Net koors en poësie roep visioene op…

 

Die skrywer is oorlede in 2003 in Katalonië, maar hy het ‘n énorme letterkundige testament nagelaat. The Savage Detectives is eweneens ‘n belangrike teks.



Roberto Bolaño | Getty Images


© Joan Hambidge