Sunday, July 12, 2015

‘n Nota by drie onlangse tekste: Judaskus (Rudie van Rensburg), Kamee (Roela Hattingh) en Wonderboom (Lien Botha)


I

Om ‘n dagbladresensent te wees, is ‘n ondankbare taak. Teen ‘n sperdatum in met sowat 800 woorde in jou bladsak, moet jy sowel die boek bemark as jou kritiese oordeel vel. Boonop het jy die gesaghebbende Crito blasend op jou nek, daardie drie-eenheid wat glo bestaan uit ‘n afgetrede uitgewer, ‘n ander uitgewer wat tans in die bedryf staan, en ‘n vrolike slampamper van ‘n redakteur. En hierdie Critikane lewer kritiek sonder dat hulle dikwels die boek gelees het, volgens eie erkenning!

Die Afrikaanse boek moet bemark word. En die polemiese is nie iets waarvoor die resensent hoef van weg te duisel nie. Elke rolspeler is belangrik. Van redakteur tot keurder; van resensent tot die arm man se Oprah Winfrey tot onderhoude in die pers en op Kwêla, Litnet, of waar ook al.

Daar is die afgelope paar jaar hopeloos te min oor styl geskryf in hierdie bedryf. En die uniekheid van styl. Etienne Leroux se onnabootsbare styl kan ‘n mens op ‘n myl ver herken. Selfs ‘n poging van ‘n joernalis en skrywer om dit na te boots nou onlangs op Facebook het myns insiens net bewys hoé enig Leroux in sy soort was. Daardie unieke vermenging van ‘n filosofiese insig met ‘n (on)bedoelde kamp opmerking, maak hom steeds groot. Van Jung tot die Kabbalisme, van argetipes tot popkultuur het hierdie maestro sy insigte ryklik tot roman “vertaal”. Geen wonder Graham Greene het so hoog opgegee oor hom nie. Boonop kon hy ‘n storie vertel en al het ‘n mens nie al die verwysings onder die knie nie, stu die storie voort.


II

 Nou onlangs resenseer Dewald Koen Lien Botha se debuutroman Wonderboom (Queillerie) vir Beeld. Die volledige resensie staan hier onder. Koen maak ‘n opmerking wat my toe laat nadink oor presies wat styl behels. Hy skryf: ”Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.”

Onmoontlik, meen ek. Winterbach se kwirkie-styl? Haar verwysings na Boeddhistiese of eksotiese tekste? Schoeman se gedrae styl, daardie lang sinne wat dikwels sommer oor ‘n paragraaf voortstu? Van Niekerk se styl verskil van boek tot boek: maar vir my gevoel dikwels ‘n poëties ryke aanslag, behalwe in Triomf waar sy buikspreek vir verskoppelinge.

Crito verskil eweneens van Koen:

Die enigste fout wat daar wel in sy redenasie is, is sy konstatering dat Botha se skryfstyl beskryf kan word “as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk”. Só ‘n opmerking help net mooi niks. Met hierdie drie genoemde skrywers wissel die styl van roman tot roman – die Karel Schoeman van Op ‘n eiland kan kwalik in verband gebring word met dié van Afskeid en vertrek; die Marlene van Niekerk van Triomf  met dié van Die vrou wat haar verkyker vergeet het; of die Ingrid Winterbach van Niggie met dié van Die aanspraak van lewende wesens. Waar plaas hy dan vir Lien Botha? Sulke opmerkings lyk imponered, maar beteken uiteindelik net mooi niks. Pleks dat hy fokus op die uniekheid van Botha se styl, en dié probeer tipeer. (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 9 Julie 2015)
En Lien Botha se aanslag? Keurige, poëtiese Afrikaans: “soos ‘n bog gesien vanuit die lug” (217).

*

Op die skaterteks van Kamee (Human & Rousseau) deur Roela Hattingh skryf die gesiene literator Henning Snyman: “...‘n egtheid van woord en gegewe wat geen foefies of truuks nodig het nie. Dit is kortverhale in ‘n tradisie van skrywers soos Elise Muller en Henriette Grové”. Die “skoon”, foefielose styl is wat die literator probeer beklemtoon, verskil van die postmodernistiese teks-binne-’n-teks-aanslag of die paper chase en intertekste.

In ‘n onderhoud met Willem de Vries merk sy op:

Daai slim outjie [Paul] Ricoeur sê dat dinge met ‘n mens gebeur en ons vermoë om dit in mekaar te weef tot ‘n narratief, maak ons mens. (‘Stories maak ons mens’. Besoek 10 Julie 2015)

Die verwysing na Ricoeur as “‘n slim outjie” (dalk ‘n bietjie familiêr om na ‘n gesiene teoretikus as ‘n outjie te verwys?) in ‘n onderhoud beklemtoon ook iets van die stilistiese aanslag in hierdie teks: ‘n opsetlike afbreek van die diskursiewe opposisie tussen teorie en vertelling. Die verwysings is verhuld en op haar beste is haar vertellings onthoubaar en geskakeerd.

Sy vang iets op van die moderne mens se mengeltaal, omdat sy karakters se egtheid wil voorstel. Daar is slim toespelings na liedjies en gedigte, dikwels verhuld.

“Cassandra stoei met Ricoeur se gedagte dat die onsamehangende gebeure in mens se lewe saamgevoeg kan word deur vertelling” (137).

Die verwysing toeganklik ingebed, is haar handtekening.

*

Oor Judaskus (Queillerie), wat swaar leun op my romantitel Die Judaskus, en hopelik daardie roman aan die vergetelheid sal ontruk, meen Deborah Steinmair dat die vorige roman Kopskoot ‘n naelbyt-misdaadriller is. Ook asof die roman homself lees, sommer in die loop van ‘n enkele nag. Hier sou ‘n mens kon interpreteer dat daar min leesweerstand is; dit is immers ‘n speurverhaal wat bedoel om te vermaak. Ofskoon ‘n speurverhaalskrywer soos P.D. James meer vermag as blote ontsnapping.

‘n Mens gaan beslis nie Rudie van Rensburg se styl met Deon Meyer s’n vergelyk nie. Sy styl is onmiskenbaar. Hy skryf minder gestroop as Meyer en dikwels is daar beelde om idiome wat sy teks verryk: ”Mervin Louw voel koud tot in sy murg ten spyte van die sonnige dag. Vandag gaan hier nie ‘n stralende bruidspaar voor die kansel staan nie. Vandag gaan Satan hier in bevel wees” (192).

Hy ontgin taal: ”Haar goeie bui het nie soos die vorige kere koers gekry nie” (73).
Rudie van Rensburg se styl beslis diepsinniger as die meeste speurverhaalskrywers s’n. Hy skryf ‘n keurige, idiomatiese Afrikaans.


III

Style in literature is the literary element that describes the ways that the author uses words — the author’s word choice, sentence structure, figurative language, and sentence arrangement all work together to establish mood, images, and meaning in the text. (Defining Style - ReadWriteThink. Besoek 9 Julie 2015.)

Hierdie definisie kom handig te pas, terwyl ek reis. Dit wat atmosfeer en veral betekenis in ‘n teks stig, is vir my die belangrikste aspek van styl. En dan: dit wat jy hierna onthou. Hoe ‘n skrywer deur woorde, die spesifiek gekose woorde, ‘n hele wêreld opbou en hoe jy die skrywer daarna onthou. Nooit weer sal ‘n mens na die landskap kyk op ‘n bepaalde manier, omdat ‘n skrywer (of skilder) dit “oopgemaak” en “vertolk” het. Pierneef se skilderye staan byvoorbeeld werklik so kleurvol in die natuur wanneer jy deur landstreke van die Vrystaat ry.

Om die uniek-heid van ‘n skrywer se styl te probeer omskryf, is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook die uitdaging. Die debutant word dikwels met ‘n reeds bekende vergelyk om hierdie assosiasies te aktiveer.

Met wie is Philip Roth op sy dag vergelyk? Of Saul Bellow?

‘n Vergelyking moet gepas wees.  ‘n Skrywer wil immers aan sy of haar stem herken word. En ook parodieë of pastiches bevestig die uniekheid van ‘n stem.

Endnote:


Deur Dewald Koen Maandag 06 Julie 2015 04:00  
Lien Botha – Wonderboom. Queillerie, 2015. ISBN 9780795800955  
Lien Botha is ‘n kunstenaar-fotograaf wat bekend is om haar talle nasionale en internasionale tentoonstellings. 
 Haar debuutroman, Wonderboom, was die produk van ‘n MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die UK onder leiding van Etienne van Heerden.
 Wonderboom speel af in ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika. Daar is geen sentrale regering nie en die land word deur vigilantes beheer. In die Wes-Kaap voer Albino X ‘n diktatoriale skrikbewind op Vergelegen, eens die plaas van Simon van der Stel. Albino X herinner aan ‘n diktator soos Idi Amin en het ‘n voorliefde vir menslike taksidermie en dekadente partytjies. Die ekonomie is aan flarde, daar heers voedseltekorte aangesien boerderybedrywighede grootliks opgeskort is en ‘n algehele tekort aan basiese lewensmiddele is aan die orde van die dag. Elektrisiteit is skaars, kannibalisme kom voor en die land se natuurlike hulpbronne is uitgeput.  
Die roman sluit tematies aan by Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990), Jaco Botha se Miskruier (2005), Koos Kombuis se Raka: Die roman (2005) asook Eben Venter se Horrelpoot (2006) om maar enkeles te noem.  
Die verhaal word vanuit die derdepersoonsperspektief aangebied wat afgewissel word met die protagonis se eerstepersoons­inskrywings in dagboekstyl. 
 Magriet Vos bevind haar midde in Albino X se wurggreep en beplan ‘n uitgerekte reis na die noorde om by haar familielede aan te sluit en sodoende van Albino X se tirannie te vlug. As deel van haar ontsnappingsplan moet sy allerlei uitdagings oorkom wat met tye tragiese gevolge het. Sy reis onder andere met ‘n musiekgroep wat musiek vir bome speel om hul groei sodoende te stimuleer.  
Tydens die tweede fase van haar tog na die noorde word sy as skaap vermom om van die vigilantegroepe wat hulle tydens die reis kan ­teëkom, te ontsnap (sekere gebeure neig telkens na die karnavaleske). Magriet word verder deur ‘n moordbende oorval en amper deur ‘n weldoener verkrag. 

Magriet se reis versinnebeeld menige Suid-Afrikaner se daaglikse vrese. Botha benut hierdie ­vrese deeglik as deel van haar ­literêre spel om spanning en afwagting te skep.  
Ironies maak Botha van talle onlangse aktuele gebeure gebruik om die morele en politieke verval van die gemeenskap uit te beeld. Verwysings na die MIV-pandemie, die herrie rondom koloniale beelde met spesifieke verwysing na Cecil John Rhodes, asook die elektrisiteitskrisis wat die land tans ondervind, kom aan die bod.  
Botha lewer indirek kommentaar op die kapitalisties georiënteerde verbruikersamelewing wat in hierdie postapokaliptiese Suid-Afrika tot ‘n nuwe vorm van ekonomiese segregasie gelei het. Verwysings na geskiedkundige gebeure soos kolonialisasie deur die VOC, die Anglo-Boereoorlog, apartheid en die Grensoorlog in die voormalige Suidwes-Afrika word op geslaagde wyse by die teks geïntegreer as deel van die verteller se herinneringe aan vervloë dae. Botha fokus dus nie slegs op die negatiewe gebeure van ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika nie, maar kyk ook na die verlede om die toekoms beter te kan interpreteer.  
Met verloop van die narratief besef die leser egter dat Magriet aan geheueverlies ly en dat haar demensie stadig besig is om haar geheue en herinneringe van die verlede te verswelg. Magriet poog om haar herinneringe vas te lê deur dit in ongedateerde dagboekstyl in ‘n boek neer te skryf. Sy verwys ironies na hierdie boek as “Die vergeetboek”, waarin die ­leser gebeure wat voor die aanbreek van anargie in die land plaasgevind het, kan beleef.  
Talle verwysings na musiek, voël­spesies en veral bome kom in die roman voor, net soos in Schalk Schoombie se roman Boomkastele (2015). Hierdie amper terloopse verwysings vorm ‘n integrale deel van Magriet se lewensverhaal aangesien dit met spesifieke gebeure gepaardgaan en bydra tot die skep van ‘n spesifieke ­atmosfeer in die roman. Die beskry­wings prikkel die leser se sintuie en verbeelding.  
Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.  
Soos by laasgenoemde skrywers fokus Botha veral op die sintuig­like waarnemingsvermoë van haar protagonis om die leser te boei. Haar spel met woorde is poëties van aard en paragrawe moet soms herlees word om die inhoud ten volle te kan verwerk.  
Wonderboom is nie eenvoudige leesstof nie, maar is ongetwyfeld een van die belowendste en opwindendste debute wat ek in ‘n lang tyd gelees het.  
Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad. 

© Joan Hambidge

Friday, July 3, 2015

Tinus Horn - Boas Mei is verward (2015)




Boas Mei is verward deur Tinus Horn. Uitgewer: Penguin, 2015. ISBN 9781415206621

Resensent: Joan Hambidge

Baie duidelik op die skaterblad van Tinus Horn se roman Boas Mei is verward staan daar: Fiksie.

In die vrywaringsklousule verneem ons: “Hierdie boek is fiksie. Enige ooreenkoms tussen die karakters en denkbeeldige mense is doelbewus.”

Nou weet jy ook wat Etienne Leroux in gedagte gehad het met sy spel in hierdie soort kontrak tussen teks en leser.

Horn se ander romans heet Droster (1995), Hemel op aarde (’n grafiese roman saam met Alastair Findlay, 1996) en Bomskok (2014). Verder is hy bekend om sy skitterende portrette van Afrikaanse skrywers waarin ’n satiriese blik sy handtekening is.

Dit is amptelik: Ons hoofkarakter is verward.

In hierdie opsig herinner die roman aan Mark Winkler se nou onlangse Wasted (Kwela), waarin die leser bekend gestel word aan ’n outsider-figuur met sy besete, eiesoortige blik op ’n vervreemdende wêreld wat Colin Wilson in The Outsider (1956) so pakkend beskryf het.

Boas is ’n treurige figuur en sy laerskooljare en liefde vir syfers word veral aangrypend vertel. Die verteller lewer implisiete kommentaar op die eise wat die gemeenskap stel. Terwyl Boas “gekamerverlaat het in sy broek”, word die ander kinders beskryf soos Gawie Enslin, wat vas aan die slaap is omdat daar weer nie die oggend brood by die huis was nie.

Boas se liefde vir syfers as kind dui alreeds op sy obsessionele en afwykende gedrag. (Hierdie leser wil egter nie in die strik trap om ’n sielkundige etiket om sy nek te hang nie omdat dit sy funksie as romankarakter sal verskraal. Hierdie roman is eweneens antipsigiatries.)

’n Uiters onthoubare karakter is Dokter Kranko, wat elke oggend met ’n skalpel skeer (bl. 30) en die roman beweeg voortdurend tussen die verskillende aannames oor presies wát normaal is – en wat “abnormaal” behels. Ook die naamgewing vra vir ’n aweregse lees van hierdie roman: Dokter Kranko, Lente Kolyn, dokter Appelman, verpleegster Peony Fisant, ensomeer.

Daar word ’n duidelike spel met die leser gespeel in hierdie roman. Ons sien ’n soort roman-binne-in-die-roman (onder meer op bladsye 59 en 60) en Boas konstateer ook dat die skrywer kan besluit oor leestekens – en te hel met die leser! En dit is ’n belangrike uitspraak vir die begryp van hierdie roman: Jy moet die voorwaardes van Boas se volgehoue ontwrigting aanvaar om die boek te lees (en te geniet).

Boas het ’n obsessie met skoene en skryf – teen mure en selfs op ’n toiletdeksel. En ook onderbroeke is vir hom belangrik.

En sy verlede word oopgeskroef. Talia se gunstelingwoord is “skrootwerf”. En Boas s’n is “banneling”, “bakatel” en “Bartholomeus Diaz”.

Die roman stel die oeroue vraag oor waansin: Wie is die malste? Die pasiënt of die psigiaters en dokters wat simptome identifiseer en die kompleksiteit van elke menslike ellende miskyk?

Dit is die soort boek wat jou noop om weer na R.D. Laing se alternatiewe sieninge oor waansin te kyk. Dit word antipsigiatrie genoem en in hierdie roman is die uitbeelding van psigiaters dalk ’n bedoelde truuk om hierdie debat weer aan te spoor?

In The Politics of Experience and The Bird of Paradise (1967) het Laing onder meer beweer dat skisofrenie ’n manier is om deur die krake van ons toegekorste bewussyn te breek. En dat waansin ná ’n skisofreniese episode jou op ’n nuwe manier na die werklikheid laat kyk.

Wat is normaal? Tinus Horn se roman kan ook gelees word as ’n antwoord op die sogenaamde “double bind” tussen die gemeenskap se verwagtinge (hier dan ook die psigiaters s’n) en wat die individu, Boas, wil doen en begeer. The Divided Self (1960) is hier van toepassing. Vir skeptiese lesers: Al het Horn nie hierdie boeke gelees nie, kan ’n mens hierdie kompakte teks só benader.

Daar is baie humor hier te vinde (soos bl. 138 se gedig). Kinderperspektief en die ervaring van liggaamlike veranderinge en menstruasie word eerlik beskryf.


Dit is ’n teks wat ’n mens inkatrol. Dit is vaartbelyn geskryf met duiwels wat ondergronds dans.

Joan Hambidge - ‘n Nota by Alexander Strachan se Brandwaterkom



I

Alexander Strachan se roman Brandwaterkom is ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met ‘n besoek aan Dwaalpoort.

Die kuns van ‘n geslaagde historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?

Arthur Blake se Boereverraaier is onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers? Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk. Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na vore.
Gaan lees die gedeelte oor Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.

In ‘n rubriek skryf Max du Preez insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)

II

Strachan gee ‘n komplekse beeld van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis uitgekryt is.

Hy laat die roman ook eindig sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en diens doen in ‘n gemeenskap.

En dis goed dat die roman eindig waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met verskillende kante.

'n Werklike goed geskryfde romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van 1962  - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert - oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel van 'n houtpop.

Mieke Ball se Mensen van papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics (1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of the Folktale.

In Strachan se roman is die quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan lees verder op oor hierdie komplekse figuur.

En wie, wonder 'n mens, sou Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?



© Joan Hambidge