Wednesday, January 7, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VI


DEEL VI

Rueda

Op pad na Buenos Aires

Nou is dit terugkeer na die stad van aankoms, Buenos Aires. Die nagte in die Andes-dorp is koelerig met 'n byt in die lug.

In elke hotel is daar klein kinders. Op 'n lughawe aanskou ek hoe 'n moeder sommer so in die loop haar bors uithaal en die baba sonder skroom voed. Op die lughawe in Cordoba is daar 'n driejarige seuntjie met 'n wieletjiesak in die vorm van 'n beertjie. Hy kan nie wag om te vertrek nie. Sy ma vertel vir my sy gaan vakansie hou in Mendoza en die pa, 'n Amerikaner, bel so dan en wan. Sy maak die kind alleen groot. Hy is - klein soos hy is - 'n mannetjie van durf en daad. Sit regoor my in die vliegtuig, steek vir my tong uit op 'n grappige manier. Tog nog weerloos, 'n baba, want toe die vliegtuig land, begin hy huil. Ek wonder wat gaan van hom word, die kleine Benjamin? Gaan hy eendag sy Amerikaanse pa haat oor die versaking? Dit is dan vriend De Lange wat vir my Gaston Bachelard aanstuur oor 'n mens se jeug wat soos 'n vuur in jou bly brand.

In die swembad in Mendoza is daar 'n alleenpa wat die hele middag met sy seuntjie speel. Geduldig. Ek wens ek had die moed om te vra waar die ma is.

Reis meld sulke stories, oomblikke, vinjette aan. Iemand wat iets doen, sê, wat 'n herinnering lostorring. Juis omdat alles so intens is en onder druk geplaas word, sien jy dit helderder, duideliker. En kaats jy jouself af teen hierdie mens se pyn of vreugde.

Jy onthou hoe die gawe hotelklerk vir jou 'n adaptor leen. Of die kelnerin wat lank nadat brekfis verby is, vir jou 'n vars koffie bring sonder om te steur. Of die taximan wat toe jy vir hom sê sy horlosie is mooi dit sommer vir jou as geskenk wil gee ...

Vroegoggend is ek reg vir die vlug na BA.

Die son begin skyn op die Andes en ek besef dat winters hier ondraaglik moet wees, omdat die dorpie reg onder die sneeubedekte berg skuilhou. Ek is reeds om drie wakker, want ek word vroegoggend afgehaal vir my vlug terug na Buenos Aires.

Hier beleef ek weer Argentynse diens. Almal kyk weg en jy moet fluit en waai vir 'n koppie koffie. Die mannetjie wat die tas moet verseel in plastiek, is soek. Uiteindelik kry ons hom in die hokkie besig met 'n oproep op sy sel. Nou vir die lang inboekerasie. 'n Stadige luislangtou. Net om uit te vind: die vlug is vertraag.

More is nog 'n dag. As jy 'n vlug verpas, boek hulle jou op 'n ander een in.

In enige ander stad of lughawe sou ek knorrig gewees het. Maar nie hier nie. Ek het 'n laaste paar ure om die aanskoulike, asemrowende, asemsnakkende, imposante Andes-gebergtes te aanskou. Die son skyn alreeds skerp (dis kwart voor nege) en daar is 'n balans tussen skadu en son.

En nou besluit ek om op te lees oor Borges en die wikipedia en vele ander internet-bronne is handig vir die reisiger.

In Buenos Aires wil ek die plekke besoek waar Borges orals was ...

*
Jorge Luis Borges by Sturt Krygsman

Buenos Aires is nie alleen die stad van die tango nie, maar ook die stad van Borges.

Jorge Francisco Isidoro Luis Borges (1899 - 1986) was een van de grootste eksponente van magiese realisme in Suid-Amerika. Hy was 'n Argentynse kortverhaalskrywer, essayis en digter. Weens sy blindheid het hy waarskynlik die ruimtes van sy fantasie ingrypend ondersoek.

Sy Ficciones (Fictions) demonstreer sy kuns ten beste waarin drome, labirinte en 'n teks wat telkens op sigself inbuig word 'n teks waarin die leser gedwing word om die teks se reëls - bykans soos skaak - nougeset te volg. In Afrikaans is vansy verhale behendig vertaal deur die digter Sheila Cussons onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale (1981).

Twee aspekte van sy skryfwerk kom telkens na vore, naamlik die Borgesiaanse conundrum, met ander woorde, skryf die skrywer die storie of word die skrywer deur die storie geskryf? Iets wat duidelik - as ek reg onthou - in Die boek van sand onder die loep geneem word.

En ook die konsep van pseudo-epigrapha word met hom geassosieer. Die oorname van relatief onbekende tekste wat binne 'n nuwe ruimte 'n ander betekenis kry en die resensering van fiksionele tekste.

Borges was ook 'n uitsonderlike digter. Waarskynlik een van sy bekendste verse heet "Limits" waarin hy homself tot gespreksgenoot verklaar: 

Limits
Jorge Luis Borges

Of all the streets that blur in to the sunset,
There must be one (which, I am not sure)
That I by now have walked for the last time
Without guessing it, the pawn of that Someone

Who fixes in advance omnipotent laws,
Sets up a secret and unwavering scale
for all the shadows, dreams, and forms
Woven into the texture of this life.

If there is a limit to all things and a measure
And a last time and nothing more and forgetfulness,
Who will tell us to whom in this house
We without knowing it have said farewell?

Through the dawning window night withdraws
And among the stacked books which throw
Irregular shadows on the dim table
There must be one which I will never read.

There is in the South more than one worn gate,
With its cement urns and planted cactus,
Which is already forbidden to my entry,
Inaccessible, as in a lithograph.

There is a door you have closed forever
And some mirror is expecting you in vain;
To you the crossroads seem wide open,
Yet watching you, four-faced, is a Janus.

There is among all your memories one
Which has now been lost beyond recall.
You will not be seen going down to that fountain
Neither by white sun nor by yellow moon.

You will never recapture what the Persian
Said in his language woven with birds and roses,
When, in the sunset, before the light disperses,
You wish to give words to unforgettable things.

And the steadily flowing Rhone and the lake,
All that vast yesterday over which today I bend?
They will be as lost as Carthage,
Scourged by the Romans with fire and salt.

At dawn I seem to hear the turbulent
Murmur of crowds milling and fading away
They are all I have been loved by, forgotten by;
Space, time, and Borges now are leaving me.


Hy het groot geword in Switserland, gewerk as bibliotekaris, word blind in sy laat vyftigerjare. Hy was ongewild by die Perón oor sy politieke uitsprake en het Evita by geleentheid beledig in die openbaar.


So begin "The art of poetry":

The Art of Poetry

To gaze at a river made of time and water 
and remember Time is another river. 
To know we stray like a river 
and our faces vanish like water. 

To feel that waking is another dream 
that dreams of not dreaming and that the death 
we fear in our bones is the death 
that every night we call a dream. 
 [...]

Uiteraard het sy blindheid sy tekste beïnvloed. Hy moes glo sy gedigte onthou en dit voordra aan sy moeder of sekretaresse wat dit neergeskryf het.

Joan Hambidge

Tuesday, January 6, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel V


DEEL V

Apilado

Nou is dit maar eenmaal so dat reis te make het met tyd. Betyds wees. Tyd van vertrek en aankoms. Uitgelewer wees aan tyd. Tydverskille. Hier en daar. Horlosies. Jy kan 'n vlug verpas as jy laat is.

Maar reis het ook veel te make met wágtyd. Wag op lughawens, wag om afgehaal te word vir die volgende ekskursie. Dit is wat reis so vermoeiend maak, hierdie lang stukke tyd waarin jy niks kan doen as om net te wag nie. Wag om te land, wag om te vertrek.

Wag op lughawens; wag in die hotel se voorportaal. Wag, wag.

In die voorportaal van die hotel in Mendoza kook my bloed. Ek wag nou al langer as 'n uur om twee beroemde wynlandgoedere te besoek. Nou probeer ek kalm bly en die koel verbeelde glas skink. Ek lees 'n grammatika-boek sodat ek nie moet dink aan die tyd wat verlore gegaan het. Ek kon in hierdie tyd die stad bewandel het, of geswem het, of aan iets gepeusel het.

Uiteindelik kom die gids. Skouerophalend. Ek was ongelukkig die laaste hotel en daarom moes ek wag en basta.

Wag soos Humphrey Bogart in Casablanca vir sy geliefde wat nie opdaag nie toe hulle saam op die trein moes vertrek.

Gelukkig is die wynbesoeke uit die boonste rakke. Malbec en by 'n klein boetiekhotel beleef ek 'n Reserva uit die boonste rakke. Dit heet:

2011 Bodegas Vistandes Cabernet Sauvignon Reserve


Ons stap by beide wynplekke deur die kelders, modern en gemeganiseer. Sewe dae by die Silbersteins kom sterk in die herinnering na vore.

Vistandes, 'n klein boetieklandgoed, het die wonderlikste wit en rooi wyne. Torrentos heet 'n vrugtige wit wyn.

Hierna gaan ons na 'n olyfplaas. Die hele proses van olyfolie maak word verduidelik. Stap-vir-stap.  Op die gras buidel 'n jong kolliehond ten spyte van die hitte. Die gids en ek sit onder die afdak en gesels oor die blou dollar in Argentinië.

Die aand eet ek 'n steak in die La Lucia restaurant langs die hotel. Argentynse steaks is oorgewig en sappig. En ingesmeer met sout sodat die vetlagie heerlik knetter in jou mond in die naproe se vuur.

Ek dink drink aan my reis tot hier. Die opwinding, die spanning, die nuwe ervarings, die vreemde oomblikke (soos 'n kroeg wat Jackie O. heet in Mendoza) en verspeelde kanse ...

Waarom het ek nie die vy opgetel langs die vyeboom by die Iguasso-valle nie?

                                                     *

Ek volg steeds die Dakar-tydren. Onse Giniel is in die tweede plek en Nasser Al-Attiyah het weer die voortou geneem ná die tweede skof in die Dakar-tydren van Villa Carlos Paz na San Juan, weliswaar in 'n MINI.

Vandag betree ek die Andes-gebergtes van naderby. Ek kon 'n reis om seweuur vanoggend meemaak en eers laatnag tuiskom. Ek besluit om eie ding te doen en self 'n trip te organiseer. Die behulpsame hotelbestuurder reël vir my 'n bestuurder. Ons besluit op 'n prys. Ek wissel 'n stelletjie dollars by die Casino vir die reis. Die bestuurder lyk nes my vriend Mervin en dadelik is ek gerus. Hy gaan goed na my omsien.

Sy Engels is skraps, maar ek volg sy Spaans wat meestal uit blote uitroepe bestaan oor die wonderskone Andes-gebergtes: beeldskoon, die beste, die grootste ...

En ek gaan akkoord. Die dorpie rus veilig teen hierdie magtige gebergte waaragter Chile lê, die land van Pablo Neruda.

My vele reiservarings het my geleer om geen geld te ontsien om iets te beleef nie. Agterna is 'n mens altyd spyt indien jy nie iets meegemaak het nie. Al is dit hoe uitputtend en opdraande vir die oomblik - agterna bly dit 'n wonderlike herinnering.

Vir my is hierdie besoek aan die Andes só 'n ervaring. So het ek indertyd oor hierdie berg gedig:

Jouissance

Suid-Amerika is ‘n wispelturige vrou:
vol teëspraak, hartstog én ontrou.
Sy nooi jou uit met haar Brasiliaanse borste
 - net om jou af te weer met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese, ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal vergeet
en ons liefde lyk na die ruïnes by Macchu Picchu.

Manaus

Hoe sal ek nou hieroor dig?

Drie maniere om die Andes te beleef

In voorstellings en kaarte en gedigte
was hierdie gebergte bekend aan my;
in my verbeelding voor ek die Andes betree
die skeidslyn tussen Chile en Argentinië
op grinterige, uitskotpapier nagetrek.
En nou uiteindelik, neem 'n gids, Enrique,
my die gebergte op: oop en bloot
toeristies uitgestal, 'n besienswaardigheid,
dog kil, afsydig teenoor vreemdelinge.
Die Andes-gebergte nou die skeidslyn
vir dit wat heers in my gemoed:
eens die najaag van liefde se belewing;
nou die sobere, soeke na heling.
En eendag ja eendag sal ons dit só sien:
dit was alles 'n kwessie van neerskryf.
Die lewe nou niks meer as boetedoening.

Na die uitputtende dag is dit eers swem om af te koel. En vanaand die kos in die Peruviaanse restaurant beproef.

Joan Hambidge

Monday, January 5, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel IV

DEEL IV

Abrazo abierto

Vroegoggend begin my volgende skof. Eers is dit ontbyt met vars vrugte; dan uittjekkereer en die rekening betaal vir die ekstras in die hotel. Nou vlieg ons van Iguasso na Cordoba (waar ons twee ure moet wag) vir die vlug na Mendoza, die wynlandstreek in die Andes wat ek nog altyd wou besoek.

By my aankoms in Buenos Aires was daar vele mans op die lughawe op pad na die Dakar in BA. Dakar in Buenos Aires? Die internet verduidelik waarom dit geskuif het uit die gevaarlike Senegal na Suid-Amerika. Mense het glo weggeraak in die woestyn. En die politieke onrus was 'n bykomende gevaar, verduidelik 'n klong uit Springs vir my.


Op die lughawe in Cordoba kyk ek na die Dakar op televisie en hoop om Giniel te sien. Ek drink 'n Quilmes-bier, eet 'n hamburger om die tyd om te kry. Op die lang vlug bestudeer ek 'n Spaanse en Franse grammatikaboek. Om die verveling te stuit en omdat 'n mens wanneer jy 'n nuwe taal se dieptestruktuur bestudeer altyd afkom op iets wat in jou taal op 'n ander manier gesê word. Om te dig is soos om 'n grammatikaboek te bestudeer. Jy moet die reëls ken om dit te breek. Maar daar is altyd reëls ...

Lief,
om jou dieptestruktuur te begryp
leer ek die grammatika van opsê aan.
'n Liefdesgedig oor die reëls van liefhê
soos waak teen die versending van 'n sms
na 'n ander tydsone waar jy in 'n tangkonstruksie
wag op my boodskap, wyl jou minnaar
(onbewus van my en jou) naderstap
met 'n liefielief wil jy vanaand langue of parole?
Of wil jy dalk fiekiefok?
En ek,  die groot cambrioleur breek die wette
van hul saamwees; maak die le 'n la,
die lul 'n les. Ek verbeel my in dié ruimte in,
stel my voor hoe dit moet wees met hulle
soos wanneer jy 'n nuwe taal aanleer
en al die trieks onder die knie moet kry.
Hierom draai die gedig dan weg
en word meer afstandelik
soos ek die grammatika van afsê verwerk.
Il faut changer.

Ek gaan in Mendoza tuis in die Esplendor-hotel. Hier is 'n casino. Die Argentyne is lief vir dobbel. In Brasilië word dit glo verbied.



Die hotel is hipermodern, glo net driejaar oud, en alles is besonder modern.

'n Ligte somergriep weer ek af met medikasie. Dit is al die ervarings wat nou begin inwerk op die psige en op die lyf wys. En reis is gelyk aan spanning, omdat 'n mens die hele tyd op jou hoede moet wees. Ook die transportasie van een ruimte na 'n ander laat sy merk.

By die brekfistafel waag ek my hand aan 'n kort-kortverhaal:

Andes  
Op pad na die Andes ontvang ek onverwags 'n sms van jou. Diep in die nag. Ek lees jou boodskap in die donker en wonder hoe het ons gemaak voor tegnologie ons so onmiddellik bymekaar kon uitbring? 
Jou sms verklap nie veel nie. Miskien wis jy nie dat ek vyf ure agter jou lê nie. Miskien was jy al besig met oggendkoffie, 'n vinnige sessie met hom, die oggendkoerant gelees, beplan waar en hoe jy die Sondag sou deurbring? 
Jy sou nie weet dat ek op pad is na die Andes nie. Dat dit na gister se humiditeit nou koeler gaan wees nie. En dat ek om elke hoek en draai my vorige reis in hierdie landskap onthou. 
Wat sou jy tog weet van haar? Die een voor jou?  
Puerto Montt  
Ek dink vanoggend aan jou eens lieflike mond:
‘n diep grot met jou tong ‘n vuurspuwende berg.
‘n openbare saal wat té veel vreemde besoekers toelaat.
‘n Middeleeuse kasteel met jou tong die valhek.
‘n lughawe in ‘n onbekende stad waaruit ek moet vertrek.
‘n vol bespreekte hotel met geen slaapplek.
‘n eiland soos Chiloé waarheen ek weens die weer nie kon gaan.
‘n land soos Venezuela wat geen visas toestaan.
Waarom dink ek tog vanoggend aan jou mond
in ‘n ver afgeleë plek soos Puerto Montt?

Puerto Montt
En sy? 
As ons in daardie tyd kon kontak maak, sou sy dalk 'n ongevraagde sms wou ontvang het van my uit die verre landskap? Daardie geliefde verewig in Verdraaide raaisels. Of sou sy, soos jy, oggendkoffie skink, besig wees met haar, die oggendkoerant lees en beplan oor hoe en waar hulle die Sondag sou beleef? 
Tegnologie soos e-pos en sms het miskien kommunikasie vinniger gemaak, maar la condition humaine bly presies dieselfde. Hoe meen die Franse nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde ...
*



Nou is dit lafenistyd in die swembad voor die wynproe vanmiddag in Mendoza.

Here's looking at you kid!

Joan Hambidge

Sunday, January 4, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel III


DEEL III

Sistema crusado

Cataratas del Iguazú beteken letterlik groot rivier en lyk soos 'n omgekeerde letter J.

Dit begrens Argentinië en Brasilië.

Vroegoggend vertrek ons na hierdie natuurwonder en onmiddellik ontstaan daar 'n debat: van watter kant af is dit die mooiste, die grootste, die wonderlikste?

"Groot waters" het ek al op verskillende kontinente meegemaak. Die Niagara-valle vanuit die Kanadese grens; die Victoria-valle in Zimbabwe en die Iguasso, nou en tydens die tagtigerjare besoek aan die Brasiliaanse kant. Volgens keiharde feite is die Victoria-valle die hoogste, maar die Iguasso-valle die wydste.


Eleanor Roosevelt het glo by 'n besoek aan hierdie valle opgemerk: "Poor Niagara!"

Hiermee wil ek wel aanteken: niks, maar niks kan die Victoria-valle se grootsheid troef nie. In die nag wanneer 'n mens by die hotel tuisgaan, hoor jy die valle rommel. Magies, groots - lieflik en ook anders vanuit die Zambiese perspektief. Met 'n visum kan jy oor die brug wandel en die verskille sien ...

*

Ongeveer agtuur begin ons stap en die eerste lafenis is halftien. Dit is bedompig. Daar snuffel 'n klompie miervreters met hul kleintjies in die bosse. 'n Ent weg staan 'n advertensie-foto met Robert de Niro en Jeremy Irons uit die onvergeetlike film uit 1986, The mission.  Ons groep is hoofsaaklik middeljarig, behalwe vir twee Spaanse jongelinge. En so 'n paar fortysomethings. Die pas is styf, maar ek hou by. Steek selfs twee Duitse Tantes verby. Al voel ek dan en wan na 'n omgekeerde J!

Orals is daar waarskuwings om nie kinders te abba oor die bruggies nie. Ons stop telkens om die verskillende aanskoulike watervalle te sien. Hoe die water stort oor die afgrond is aanskoulik. Van ver is dit wit skuim, van nader bruin, grommende water. Tot 82 meter diep.

Eers in 1541 is hierdie valle ontdek en natuurlik is daar 'n legende oor waarom hierdie valle so verdeeld is. 'n God wou trou met 'n sterfling, ene Naipí wat met haar geliefde Tarobá in 'n kanoe weggevlug het en toe neem die jaloerse god wraak. In 'n woedebui het hy die rivier in twee gesny en die geliefdes verdoem tot 'n ewige val, aldus ons gids, Carlos.

Daar is ook 'n Duiwel se keel hier te besigtig.

Van die Brasiliaanse kant kan 'n mens die valle per helikopter meemaak. Ook iets wat toegelaat word in Zimbawe en die vrees in 'n mens inbliksem. In Zimbabwe is die paadjies beslis natter weens die mis wat oor alles hang. 'n Mens gly ook makliker. Hier is dit weliswaar veiliger met genoegsame rusposes.

'n Mens mag uiteraard nie die wilde diere kosgee nie en orals is daar waarskuwingsborde om te wys wat kan gebeur as 'n wilde apie jou byt. Liederlike bytmerke en siektes. Laatmiddag steel 'n apie kos uit 'n toeris se bord en 'n miervreter eet lustig saam.

Ook mag 'n mens nie blomme pluk of aan die vlinders raak nie. Miskien skuil daar iewers 'n jaguar?  

Orals is daar groen dromme, organies en nie-organies, in hierdie Unesco-bewaringsmonument wat selfs aandag gee aan hoeveel mense per dag mag besoek aflê. En die geraasvlakke mag nie te hoog wees nie ten einde die wilde diere in ag te neem.

Die laaste skof is 'n treinreis om die beroemde Duiwel se keel te besigtig. Die beroemde Graganta del Diablo. In hierdie bedompige arena staan daar meer as 500 mense wat die treintjie moet neem na hierdie besienswaardigheid. En dit begin knor in die hitte. Ek sit onder 'n sambreel en wag. Die vriendelike gids het beloof hy sal my kom haal wanneer die treintjie kom. Die mense in die groep raak knorrig. Kulturele stereotipes spring na vore. Die Duitsers bly beleefd. 'n Britse vrou verloor haar humeur. Waarom het ons nie vroegoggend met die treintjie gegaan nie? Dan het ons nie gewag nie?

Die gids besef hy moet intree. Hy lei ons na die koel restaurant waar 'n koue bier die gemoedere kalmeer. Uiteindelik keer hy terug. Jammer ons sal nog twee ure moet wag vir die treintjie ... En ja, jammer: hulle kry as gidse opdrag oor watter roetes hulle moet volg.

Miskien eerder terugkeer hotel toe? Almal dink dit is goed. Ons het immers die Iguasso uit verskillende perspektiewe beleef. 'n Paar mense het selfs 'n boottrip ervaar en sopnat teruggekeer. Goddank ek het dit misgeloop. Laas dit meegemaak by die Niagara waar jy so reg onder die valle indreun asof jy stort en jou heiland leer ken. Genoeg is genoeg! Ons het vir bykans vyf ure tone geklap. In my geestesoog roep die hotel se swembad.

*

Op die Wikipedia word die volgende films oor hierdie besienswaardigheid aangeteken:

Moonraker (1979)
The Mission (1986)
The Country Bears Down Under (1990)
Baraka (1992)
Extermineitors IV: Como hermanos gemelos (1992)
O Trem Caipira (1994)
Tummy (1995)
Happy Together (1997)
Mr. Magoo (1997)
Miami Vice (2006)
In the Hands of the Gods (2007)
Indiana Jones and the Kingdom of the Crystal Skull (2008)
OSS 117: Rio ne répond plus (2009)
Salve Geral (2009)
Operação X (2011)

Friday, January 2, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel II


DEEL II

Pie Activo

Op Oujaarsaand is daar 'n tango-vertoning in die stad. Hier word verskillende vorme van die tango gedemonstreer en die hele gehoor kyk verwonderd toe oor die flink danspassies.
Een van die sangers poseer as Evita en sing natuurlik "Don't cry for me Argentina".

Die kos is uitstekend en die wyn nog beter. 'n Voorgereg van parma-ham en 'n egte Argentynse bottersag-steak met 'n Malbec. 'n Brits-Indiese vrou sit oorkant my en ons gesels land en sand.

Toe kondig hulle aan dis twaalfuur. En wilde disko-musiek weerklink en ek dans my longe uit. 'n Vrou uit LA gee die pas aan. Ek en die jongvrou uit Londen dans dat die biesies bewe.
Elke gas kry 'n flikkerende geskenk. Een 'n bril, 'n ander 'n pen. Ek kry 'n rooi neus wat ek op my voorkop sit sodat dit soos 'n flikkerende derdeoog lyk. I will survive,  gil Gloria Gaynor.
Ons YMCA en Go West!

Toe is dit hotel toe vir die reis na die Iguasso-valle op Nuwejaarsdag.


As deurwinterde reisiger beleef ek op Nuwejaarsdag 'n skrikwekkende reiservaring.

Eerstens is die toue ellendig lank. 'n Agent help my om deur te beur tot by die toonbank waar die fronsende beampte kopskuddend na my kaartjie kyk. Hy wys my daarop die kaartjie vir 1 Januarie 2014 uitgemaak is en dus ongeldig is.

Hy bel hiernatoe en daarnatoe. Uiteindelik kom die verdoemende uitspraak: jy-sal-'n-nuwe-kaartjie-moet-koop.

Nou is dit kophou. Ek hou my lyf Diego Maradona en staan voor die kaartjiekantoor. Hulle kyk ook. Vra die vorige instapkaart.

Uiteindelik gee ek boedel oor en betaal $303 vir 'n nuwe kaart.

Ek haal die vliegtuig net betyds.

Ek voel soos 'n sokkerspeler wat 'n doel inskop op die laaste minuut. Miskien was dit 'n simboliese foto daardie een van my langs die standbeeld van Diego Maradona in die sokkermuseum.

Die vlug is 'n nagmerrie. Ons wip-wip deur 'n storm. Ek bid woordeloos. Ek lees 'n grammatika-handboek om my Spaans op datum te kry.

Ons land tuimelend. Die hele vliegtuig apploudiseer die vlugkaptein - ek inkluis. Ons was amper bokveld toe.

Nou staan ek in die klein lughawegebou. Ek wag op my pre-betaalde reisdiens.

Maar niemand kom nie.

Ek kyk na die koepon. Daar staan die vertrektyd in Buenos Aires aangeteken as die aankomstyd.

Ek wag.

Uiteindelik betaal ek 'n taxibestuurder $22 vir my reis na die hotel.

En hier is die sisteem af sodat hulle niemand kan kontak nie.

Inmiddels skryf ek 'n e-pos aan my reisagent.

1 Januarie is 'n vakansiedag en moreoggend moet ek die Valle besoek. Hoe laat? Wie gaan my afhaal?

Ubi? Quis? Quid?

Ek lees die gedig wat ek gister geskryf het oor die "anatomie van reis".

Die anatomie van reis

Footfalls echo in the memory
Down the passage which we did not take.

T. S. Eliot

Elke digter het 'n indeks
'n plattegrond of kaart.
In elke stad is daar 'n katedraal,
'n kerkhof, bushaltes, soms 'n hawe,
hotelle - en ander merkers
vir die besoeker voor 'n monument
van 'n vryheidsvegter, insurgent
of ter-dood-veroordeelde, bekend.
Elke bundel het 'n inhoudsopgawe
met verse oor die liefde of die dood.
Selfs ongeskryfde verse, 'n stilpunt,
word die subte of die ondergrond
wat die reisiger nog mag neem;
vereers wagtend by 'n bushalte
of 'n taxi-halte op pad na 'n baken,
immer op pad tussen hier én daar.
Partykeer is die reis vooruit beplan
met koepons oorhandig aan 'n gids;
telkemale is dit die onverwagse koers
van Frost se the road less travelled
of 'n indraai na 'n holte vir die voet,
'n klein boetiekhotel of 'n kroeg
wat iets oopmaak, openbaar:
Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder
Dank God ek is ook hier?

Die nag breek daar 'n storm oor Iguasso uit. Ek skryf 'n kort-kort verhaal, 'n klein weerlig-verhaal om dit op te som.




Buenos Aires - Iguasso-valle 

In Buenos Aires laai die gids my af vir die vlug na die Iguasso-valle.
Daar is 'n lang slangtou. Ek vra 'n man om my na die toonbank te neem. Ek haat lang toue. 
Die kontroleur kyk fronsend na my kaartjie. 
Dit het verval. 1 Januarie 2014 in plaas van 1 Januarie 2015. Ongeldige reiskaart.
Hoe nou gemaak? 
'n Nuwe kaartjie is al uitweg. Teen $303 haal ek die vlug net betyds. Die vlug is 'n hellevaart. Ons gaan deur 'n lugstorm. Almal klou vas aan hul sitplekke. 
By die aankoms is daar niemand om my af te haal nie.
Ek sien die reisagent het die tyd verkeerd aangedui: die vertrektyd van die vlug in plaas van die uur van aankoms.
'n Taxibestuurder neem my na die Panoramiese hotel.
Die nag woed daar 'n storm. Die water slaan teen die vensters.
Die krag gaan af. Dit kletter woede teen die ruite.
Ek staan op en trek die rekenaar se batterylaaier uit die muur. Vrees dat die storm die rekenaar mag beskadig met die natuurkragte wat so woed. 
Aan en af. Die lugverkoeling gaan eerste dood. Net die lig op die horlosie langs die bed flikker die tyd: 23.49.
Die volgende oggend wag ek vir die rekenaar om te herlaai. Van 2% tot uiteindelik, die finale konfigurasie. 'n Uur later is die Dell laptop weer reg.
In kamer 402 sit ek vasgekeer. Dit reën. Ek skuif my besoek aan die Valle uit vir 'n dag. 
How to use your satellital tv, lees ek die aanwysings op die Panoramic Hotel Iquazo se pamflet. Ek hou die afstandbeheer in my hand. My selfoon is aan: Claro AR. PHI_Net maak 'n konneksie met my rekenaar. Ek kry 'n nuwejaarsboodskap van die digter Fanie Olivier. Om alleen te reis, is gevaarlik het hy immers gewaarsku.
Daar het gister met my aankoms 'n likkewaan oor die pad geloop. Iets uit die orde van Squamata Lacertilia verduidelik die internet.
Ek reis oor die internet. Probeer begryp wat hierdie tekens te vertelle het.
Vandag behoort ek tot die orde van weekdiere. Ek het geen skubbe wat my teen hierdie blootstelling kan beskerm nie.
*

 Ek besluit om die dorpie te gaan verken toe dit ophou reën. Ten spyte van die laasnagse storm is dit bedompig. Maar ek stap. Tot in die dorpie by die kafee Naé eet ek 'n klein pizza en drink 'n Quilmes-bier.

In die hoek staan 'n kersboompie. Agter hom 'n Johnnie Walker. Voor my 'n pienk orgidee (van plastiek). Die dorpie aktiveer die spanning tussen rykdom en armoede. Hier kos 'n bier presies die helfte van die swierige hotel waar ek tuisgaan. Nou het iemand die Kersboom op die 2e Januarie aangeskakel in hierdie verflenterde voertsek-gehuggie wat sterk herinner aan die verloopte areas van Maputo. Buite ruis die valle - wat ek more gaan besoek.

Joan Hambidge

Thursday, January 1, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel I


DEEL I


I

Reis is om onsekerhede te trotseer. In Olga Kirsch se gevleuelde woorde:

Die koesterende skanse was weg. Weer is jy ontbloot
aan die yl, kil lug van ‘n onverskillige wêreld.

Vir my is om te reis gekoppel aan die "unheimliche", in die ínbeweeg van dit wat jy reeds weet en ook vergeet het. Soms is dit 'n onthutsende ervaring, want om aan te kom in 'n vreemde landskap beteken dat jy uitgelewer is aan swendelaars, diewe, 'n hotel wat dalk nie heeltemal aan jou verwagtinge voldoen nie. Gelukkig is dit net die reismoegheid wat jou oorkrities maak en die volgende oggend voel jy aansienlik beter.

'n Hittegolf in Buenos Aires. Om wakker te word in 'n vreemde bed met die dreunsang van die lugverkoeling ...

Jy ontdek dat geeneen van jou vele adapters in die muur pas nie. Ontvangs van die klein Rochester-hotel beloof moreoggend sal hulle kan help. Helaas nie. Maar 'n besoek die stad in neem jou na 'n klein nutswinkel waar jy blitsvinnig teen 'n skamele $2 kan konnekteer met die vreemde muurprop.


So lyk die hotel:
















II

Eers is daar 'n treinreis op die Premier De Luxe na Johannesburg. Op Beaufort-Wes gee die lugverkoeling in en die treinrit word enigsins onplesierig. Dalk 'n waarskuwing vir die hittegolf wat op my sou wag in Buenos Aires?

Die reis na Buenos Aires is lank, maar uiters plesierig. Ek vlieg via Dubai. Met Emirates en die diens is uitstekend. Ons land net voor middernag in Dubai. Nou sit ek maar en skryf in die besigheidsklas-lounge om  die wag te trotseer.

Met sonsopkoms stort ek en trek vars aan vir die lang vlug van Dubai via Rio tot Buenos Aires. Ongeveer 15 ure. Met wonderlike films wat ek herbesoek. Truffaut se Jules et Jim; Dead poets society van Peter Weir en Barbra Streisand in Hello, Dolly, 'n hoogtepunt in kamp. 


'n Onbekende Nederlandse film word 'n verbysterende analise van patologie. Die vrou vertrou die man wat haar en die kinders oorhaal vir sy saak ...

Dit heet Borgman (2013) van die filmmaker Alex van Warmerdam.

Hierna spook ek met 'n Deense outobiografiese rolprent. 'n Vrou vermoor haar  babadogtertjie van nege maande in 'n depressiewe uitbarsting. Die filmmaker, Nils Malmros,  lewer kommentaar op hoe hy hieroor 'n film sal maak met ons die kykers wat reeds aanduidings sien van hoé hy dit gaan verfilm ...

Sorrow and joy ...

So herbeleef ek klassieke rolprente en sien splinternuwes.

Emirates is waarskynlik nie om dowe neute gekies as die top-lugredery nie. Die diens is flink. My brekfis by die opklimslag is geskrambeerde eiers met tuinuie. Na my nag van slapeloosheid slaan ek onmiddellik die bed af en slaap vir drie ure.

Hierna is dit weer smul aan lieflike kos. Frans en Italiaanse wyn. En eye candy. Emirates se koffiemoffies en bedien(s)letties is van regoor die wêreld en beslis iets vir die oog. Hulle hou 'n goeie afstand tussen vriendelik en professioneel wees.

Ons land op Rio en moet vir 'n uur op die lughawe wag vir die laaste skof na Buenos Aires.

Vars hemp, vars bedienpersoneel en voilà, Buenos Aires, is gouer daar as wat ek gedink het.

Waarom Buenos Aires? In die laat-tagtigerjare het ek 'n sirkelreis deur Suid-Amerika onderneem: Brasilië - Uruguay - Chile -  Equador - Bolivië en uiteindelik tot stilstand gekom in die Amasonas. Hoogtepunte was 'n besoek aan Buenos Aires en Machu Picchu.


El Condor Pasa

“Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte”. Pablo Neruda

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,
hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:
“die nagwind draai in die lug en sing”.
In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis
ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.
Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees
teen die onstuimige rivier en kil berglug
- sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.
Al die aangebode raaisels hier aanwesig
in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.
Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood
lê ‘n nuwe begin ópgesluit.
Met die aflegging van die self soos ons opbeur
na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,
pynlik bewus van ons argeloosheid
oor die krag van die lewegewende natuur.
Klim op, hoër na self-
loosheid – na stilte volledig.
Die kosmiese plan hier aanwesig,
argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan
van nuttelose oordaad of menslike verdelging.
So ook die reis in die self: ‘n smagting
na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.
Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

'n Paar jaar terug het ek weer Macchu Picchu besoek en in my bundel Vuurwiel (2009) weer oor die stad gedig.

III

Vir my is reis intiem verbonde aan die skryfproses. 'n Bekende digter het op 'n keer my daarop gewys dat ek my gedigte vér gaan haal.

Verdraaide raaisels was 'n reisverslag oor die einde van liefdesverhouding, 'n bestekopname van die ontsluiting van psigiese raaisels. Dit is dan uiteindelik ook 'n bundel waarin ek reeds sekere primordiale kwessies aanspreek.

Buenos Aires wou ek weer besoek, nie alleen omdat dit die stad van die tango is nie, maar dit is ook 'n stad waarin psigoanalise steeds met erns bestudeer word.


So het ek al oor hierdie dansvorm gedig:

Lyftaal

Hulle dans die tango,
Die dans van begeerte,
asem ophou – asem snak.
Speel met kopulasie
(bene in mekaar, uit,
inmekaar)
voorspel tot die regte ding.

Twee minnaars dans die tango,
hier in Buenos Aires,
seks met klere aan – snak.
‘n Wilde dans van wellus en frustrasie.
Nader, nader aan, naderhand,
nader aan die hand se paai,
amper-amper ‘n regte naai.

Buenos Aires

Uit: Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.


La Jalousie

Die hárt-
stogtelike ritmes van die tango

markeer hiernatoe, daar-
natoe, presies

(vrou teenoor vrou)
roos tussen haar tande

presies presies
so swóél soos ‘n

nag in die Amasone,
‘n hittegolf in Buenos Aires

inmekaargepas soos
‘n pit in ‘n tropiese vrug

volmaak tot hier –
beheerde hartstog, jalóésie.

Uit: Ewebeeld. Perskor, Johannesburg, 1997.

Andres Raskovsky is hoof van die Argentynse vereniging van psigoanalise en hy meen dat hierdie belangstelling te make het mense se soeke na identiteit (Psychoanalysis in Argentina: Something to Talk About? Besoek 30 Desember 2014)


Foto: Thomas Locke Hobbs

Hy skryf oor die belangrikheid van Freud in die Pampas:

He points out that psychoanalysis originally developed within the immigrant community. It allowed the many Argentines who felt disconnected to their roots and confused about their identity to concentrate on “the search for origin and family history”. He joked: “They say that the Mexicans are descended from the Aztecs, the Peruvians from the Incas and the Argentines from the boats!’”

Waarskynlik het ek in die laat-tagtigerjare Suid-Amerika besoek in herwinning van identiteit na 'n slopende en verdrietige einde. 'n Verhouding wat ek deur die jare besef het weinig te make had met die trouelose persoon wat al die verse aangestig het; die persoon was net die katalis vir die teenstrydige tekens in my gemoed.

Hierna sou ek die vreugde van alleenheid ontdek, die "baptism of solitude", soos Paul Bowles dit klinkend noem. (En my volgende bestemming sal dan op sy aansporing na die Sahara wees.)

IV

Descend lower, descend only
Into the world of perpetual solitude.

T.S. Eliot



Paseo Trocadero

Jdl

Oppas vir kansvatters en skelms
en grypdiewe, waarsku jy; ons leef
in moeilike tye. Hoi hoi, roep ek,
hoe vreemd
dat dít wat moet beskerm
jou uitlewer? Nog 'n jaar
het ons oorleef en as ons die jaar
sou personifieer, was sy 'n genoot,
wispelturig en bemoeisiek.
In 'n kafeetjie sit 'n man
met 'n Batman-t-shirt
diep in 'n selfgesprek gewikkel.
My stil binnepraat rig ek tot jou
op 'n ander kontinent, in 'n ander tydsone.
In 'n sloom namiddag, Buenos Aires
spoeg 'n man op straat, wyl 'n ambulans
straataf neuk. Papiere dwarrel
vrugteloos grond toe
nes hierdie praatsiek gedig.
In 'n digstring sou ek vlot reageer
op vrae soos wat-het-die-gedig-aangestig?
'n Reis na die Pampas om weer die tango
as simbool van die digkuns te beloer
daar doer in die Buenos Aires in
sodat ek my brose psige kan beskerm
teen te veel afwesigheid en die groot-groot Niks
in die land van spekskieters en verspeelde kanse.
Hoe het jy gevoel toe jy die vers geskryf het?
Warm en aan't spook om al die ritmes
raak te dans nes die twee dansers
op die uithangbord van die Trocadero Paseo
gestol in 'n volmaakte rymdwang pose:

So oppas vir digters
wat kierangslaai eet
en gedigte afruk
van advertensieborde
niksverrymend.


V  Tango

My gunstelingfilms waarin tango 'n rol speel:

Last Tango in Paris (1972) met  Marlon Brando en Maria Schneider. Bernardo Bertolucci.
Scent of a Woman (1992), Al Pacino as die blind Kolonel.
Strictly Ballroom (1992). Baz Luhrmann
Evita (1996), Madonna en Antonio Banderas dance.
Moulin Rouge! (2001) Baz Luhrman
Chicago (2002) met Renée Zellweger, Catherine Zeta-Jones en Richard Gere. Rob Marshall

Vir 'n uitgebreide lys sien Tango (Besoek 30 Desember 2014).

Joan Hambidge