Saturday, August 9, 2014

Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twins (2014)


Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twinsJonathan Cape / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 0 224 08789 6
Resensent: Joan Hambidge

Daar is twee skrywers wat morele grense uitdaag, te wete Irvine Welsh en Michel Houellebecq. Beide laat jou ril en maak jou dikwels uiters onrustig, maar is terselfdertyd meesleurende storievertellers en uitdagende stiliste. Die een Skots, die ander Frans. Toe Welsh gedebuteer het met Trainspotting (1993) kon niemand voorsien dat hy die pas sou volhou nie en met Filth (1998) - wat nes sy debuut verfilm is - het hy hom as die meester van die transgressiewe gevestig, dit wat ons waarskynlik kon beskryf as "hiper-realisme" of selfs "dirty realism".

Met sy jongste roman klim hy kaalvuis in onder die Amerikaanse obsessie met die lyf en voorkoms. Die verhaal begin - en hier is die satiriese Welsh natuurlik aan die werk - wanneer Lucy Brennan, 'n "personal trainer", vir Lena Sorensen, 'n "small fat chick" ontmoet. In Miami. Toevallig. In 'n geweldstoneel wat Lena afneem. Reeds in hierdie kort gegewe maak Welsh 'n skerp analise van die moderne Amerikaanse samelewing: lyfobsessie, geweld, die oralaanwesige, priemende, kliekende moderne media ...

En dan besluit Lena om gewig te verloor en Lucy word haar "trainer". En presies die teenoorgestelde gebeur, tipies Irvine Welsh, wanneer Lucy meer besete raak met Lena as wat die leser sou verwag. Welsh laat hom nooit deur "lesersverwagtinge" voorskryf nie. Hy fnuik dit van ammelee se dae. En presies dít maak hom so 'n goeie skrywer. Jy onthou die dooie babatjie in die kot na 'n nag van dwelmroesemoes en hoe hy uitstel oor die gevolge hiervan in Trainspotting?

In sy jongste roman is Lena van Boston en Lucy van Minnesota en hulle ontmoet in Miami. Sadomasochisme is onderliggend aan hierdie verhouding, wat teen die meeste lesers se morele grein sal ingaan. Gemorskos en "fast food sex" word in jou keel afgedruk. Reeds die titel aktiveer die fantasie van die ongerymde: hoe sou 'n siamese tweeling se sekslewe daar uitsien? Dis 'n roman so reg in die Jerry Springer-kraal: 'n verheerliking van die afwykende en grillige. Trouens, as jy oorgewig is in die sonvelde van Miami word jy hanteer as 'n melaatse, vertel hierdie roman. En ja, die vetste mense het ek in die VSA gesien.

Welsh is tans woonagtig in Chicago en hy verstaan dus die verpletterde Amerikaanse droom ten volle. Hierom dat terme soos Amerika, demokrasie, Vryheid en God vandag alleen spottend en ironies gebruik word, mymer ‘n verteller. Die slot is skokkend en sinies oor die rol van kuns en letterkunde in ons samelewing. Uiteraard sou die kritiese leser ook die uitsprake op Welsh se skryfwerk van toepassing kon maak; of dalk dink hy die uitsprake oor “crappy novels” en “fake asses”  is nie op hóm van toepassing nie?

Die boek is veelstemmig: notaboeke, oggendmeditasies, e-posse, vertellings in kursief aangebied. Hierdie tegnieke is eweneens aanwesig in Sarah Lotz se onlangs verskene roman The three en hierom lyk dit bykans na ‘n nuwe modegier binne die moderne  romankuns. Dalk kommentaar dat daar soveel stemme is dat geen styl meer baas speel oor ‘n ander nie? Dat selfs skyfsels op Facebook deesdae paradeer as skryfwerk?

Op 'n keer het Houellebecq opgemerk: "I admit that invective is one of my pleasures. This only brings me problems in life, but that's it. I attack, I insult. I have a gift for that, for insults, for provocation. So I am tempted to use it."  'n Mens kan hierdie opmerking eweneens van toepassing maak op Irvine Welsh.

Welsh, soos sy Franse skryfvennoot, hou jou aandag; bykans soos by 'n motorongeluk waar jy teen wil en dank kyk na die lyke. Beide weet watter knoppies om te druk sodat jy verder lees aan 'n mistroostige, opgefoeste bestaan

Maar skryf kan hy skryf. Dis nou maar wors. Ek moet bely ek is reeds besig met Porno (2002), terwyl Lars von Trier se Antichrist knor in die dvd-speler. Moreel staan dit my egter nie aan; ek bewonder wel hierdie uitinge as siniese kunswerke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)

Saturday, August 2, 2014

Francois Smith – Kamphoer (2014)



Francois Smith – Kamphoer. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06551 7
Resensent: Joan Hambidge

I
Kamphoer is die romandebuut van die redakteur, Francois Smith. Dit vertel die verhaal van Susan Nell, 'n vrou wat wreedaardig verkrag is tydens die Anglo-Boereoorlog en jare later gekonfronteer word met haar boosdoeners. Die eerste ontmoeting vind plaas tydens die Eerste Wêreldoorlog in 'n Britse militêre hospitaal waar sy trauma-begeleiding doen. Die tweede ontmoeting vind plaas ná 'n verhoor van die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is bepaald 'n pakkende roman op verskillende vlakke. Dit is egter jammer dat die buiteflap met die volgende taal die boek bemark: "En in die proses word sy teruggestamp in 'n bomkrater wat sy geglo het lank reeds toegegroei het en veilig bedek was". Ons sien verder op dat 'n "warrelwind" deur haar ruk. En die roman hou jou in 'n "yskoue greep".

In die eerste instansie word die gegewe van die ABO-oorlog op 'n nuwe wyse bekyk, en meer spesifiek, deur die oë van 'n vrou as slagoffer aan die hande van die Britse mag. Die hoogs emosionele onderwerp van verkragting word besonder goed hanteer.

In die tweede instansie het ons 'n manlike skrywer wat hom índink in die ervaringe van 'n vroulike subjek en die verhaal goed vertel. Vir genderteoretici is dit dan 'n belangrike blikhoek en veral Hélène Cixous se bekende essay Sorties (Exits) opgeneem in The newly born woman (1975) is hier relevant oor die konkaaf/konveks-spanninge in skryfwerk. Die feministiese leser sou dus bedag wees op 'n manlike blik of dalk 'n onvermoë om oor intiem-vroulike emosies en liggaamlikheid te skryf. Smith verbeeld die emosionaliteit van die vroulike spreker en háár ervaring van liggaamlikheid op 'n oortuigende wyse. Veral die gevoel dat sy verminder is deur die verkragting, word uiters simpatiek beskryf (64):

"Die swartes sing, maar dit maak niks nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom 'n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht".

In die derde instansie erken die skrywer in 'n nawoord dat die gegewe gebaseer is op die werklikheid. Nico Moolman se The Boer Whore is die interteks wat die outeur Smith herskryf het in 'n fantasieryke verhaal. Die verhaal van Susan Nell, 'n bywonersdogter, wat op 1 Januarie 1902 in die Winburgse konsentrasiekamp deur twee Britse offisiere en 'n joiner verkrag is, kom in hierdie roman aan bod. Sy word gered deur 'n Sotho-man toe sy van die kamp se lykswa afval. In Kaapstad word sy versorg deur mevrou Marie Koopmans-De Wet en gaan uiteindelik na Nederland waar sy in die psigiatrie opgelei word. Francois Smith vertel nie haar volle lewensverhaal nie. Pynlik om te verneem dat haar naam nie vermeld word in die Winburgse konsentrasiekamp nie. Ons weet almal dat vele mense wat gesterf het in hierdie oorlog onbekend gebly het. Die ongemerkte graf in Winburg, langs
haar vriendin Alice Draper, behoort aan haar. En hierdie boek ontruk haar aan die vergetelheid, gee aan daardie graf 'n naam. Die graf dra ook die naam van Ntauleng ...

In die vierde instansie is hierdie teks vir die psigoanalitiese leser 'n belangrike teks. Die spanning tussen ego/alterego (Jung), die verhouding met Tiisetso (en die voorvadergeeste) en die verhouding tussen dood en lewe word vernuftig hier uitgebou. Op bladsy 95 is daar eweneens 'n subtiele toespeling op DJ Opperman se "Sprokie van die spikkelkoei", 'n gedig wat handel (o.a.) oor die spanning tussen fabel en die bo-natuurlike:

"Die spikkelkoei, die een met kolletjies soos 'n tarentaal, die bont ene, dít is die koei".

Die hele teks sit vol kodes vir die leser wat die chora (fuik) van hierdie teks wil opvolg (88), net soos die gebruik van die begrip "deurwurm" (70) waar die indrukke van beelde en herinneringe en die impak op die hoofkarakter se binnespraak beskryf word, dikwels in poëtiese taal. ('n Hoogtepunt is hoofstuk tien.) Sy is immers opgelei as verpleegster in die psigiatrie (69) en in hierdie tyd het Freud al van sy belangrikste werk gelewer oor die onbewuste. Daar is verwysings na Reymaker Psichiatrie. En die semantiese verskille tussen "bomskok" en oorlogskok word eweneens verduidelik. Freud is in die teks. Op bladsy 232 word daar verwys na die belangrike teks: Oor die psigopatologie van die alledaagse lewe.

In die vierde instansie word die verwysings- en beleweniswêreld van Sotho-mense oortuigend verhaal. Die vertelperspektief word afwisselend van buite én binne vertel. Die roman val ook met die deur in die huis met die konfrontasie met 'n boosdoener wanneer sy die merk op sy oor sien (8). 

Dit is jammer van die flapteks - wat die roman te populisties laat klink - en die deurslaan van die implisiete outeur se stem op bladsy 58 waar Susan dink die vrou is 'n parodie van die tipiese streng matrone. Ek is van mening dit sou nie pas in die tyd nie. Hierdie roman is inderdaad 'n tweesnydende swaard. Dit vertel meer as 'n verhaal van konfrontasie met diegene wat jou skade berokken het.  Hurst, ook, word goed geteken. Dit is eweneens 'n analise van die geskiedenis, maar veral 'n komplekse teks waar die duiwels onder draai. Dit neem sy plek in langs tekste oor die boereoorlog en trauma-letterkunde in die algemeen.

Dit is geskryf met 'n onuitwisbare pen. Vir my aangrypend, veral oor die slim hantering van Freud, et al.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Clinton V. du Plessis – Rangeer (2014)


Clinton V. du Plessis – Rangeer. Ama-Coloured Slowguns, 2014. ISBN 978 062055604 0
Resensent: Joan Hambidge

Clinton V. du Plessis hou hom buite die kanon. Hy het onder meer pertinent geweier om deel te wees van Groot verseboek en hiermee ’n literêr-politieke stelling gemaak. Een wat ’n mens kan begryp, maar tog is dit jammer dat die digter homself buite die bloemlesing hou. En die mag van bloemlesings is nou onlangs bewys met Die gewildste Afrikaanse gedigte: Afrikaanse lesers hou by bekende verse – dit wat reeds in die ou verseboeke staan.

Nou onlangs het Luc Renders, ’n gesiene Vlaamse kritikus, by die ALV-kongres gewys op die unieke posisie van Du Plessis binne die Afrikaanse letterkunde. Rangeer is ’n selfpublikasie, met ander woorde, dit is nie deel van die bemarkingsproses van hoofstroomuitgewers nie. Sulke digters kan dikwels buite in die koue bly. Of tog relevante kontrastemme wees. Bykans soos sommige filmmakers – ek dink hier aan Jim Jarmusch, wat waarskynlik sy beste werk as selfvervaardiger gelewer het.

Die voorblad is van twee treine (tussen stasies?) met ’n verweerde geboutjie in die agtergrond. Dit blyk die Hilton-spoorwegstasie in KwaZulu-Natal te wees. Op die agterblad word die bundel aangeprys deur Fanie Olivier, self ’n digter wat hom verkeerdelik buite die kanon bevind, weens ’n lang verblyf in Pole. Olivier word onderskat.

Du Plessis se sewende bundel word opgedra aan sy vader. In die tyd van stoom, steenkool, stasies en stories. Met ander woorde, daardie tyd vóór die internet, Facebook, sms’e – toe mense nog in lewende lywe kontak met mekaar gehad het.

Dit is gedigte van onvervuldheid en nostalgie, na ’n verlange om soos ’n losskakel “knap vir die kantlyn (te) kon skop” (21).

Die verse is grinterig en rou. Dikwels handel die gedigte oor ’n persoon wat terugkyk na die onregte van apartheid en die daarmee gepaardgaande ellendes. In “Surplus” (77) word die lotgevalle van die swart migrasiewerker ondersoek, met die leuens van vakbonde en mynbase wat net die helfte van ’n salaris inbetaal:

’n man sonder ’n werk
is ’n arend sonder ’n vlerk

hierdie keer is hy
deur die skerpkant van die lewe besny. (78)

Hierteenoor gaan “Heelal in my tuin” (79) oor die misterie in die eenvoud van die natuur:

Die tuinslak gaan, sonder verset, sy gang.

Die verse werk in die algemeen met ’n beeld-en-toepassing-konstruksie.

Sommige verse sou waarskynlik met ’n tweede en derde snoeiingsproses meer vaartbelyn kon wees. Maar ’n handvol verse, soos “Smeul” (wat volledig aangehaal word), vergoed hiervoor:

Smeul

Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed
niks minder, niks meer,
met elke spoorweghuis
kom die stoof, ’n Welcome Dover
swart, op vier pote, kom katstaan hy met
rug geboggel
die kaggel vol,
wyd was hy, met plek vir vier potte,
’n ketel vir koffie- en waswater,
’n oond vir bakbrood,
gemaak vir gesinne,
winters kon ons maklik vier-vyf
voor hom inskuif
op die lang bank,
dit was voor televisie
ek kon fabels in die vlamme lees
sien hoe die kole rooi gloei
om later tot as dood te bloei
soms het ek só gebrand om
weg en uit te kom,
baie kere was daar net brood
en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood
met uitgebraaide skaapvet
maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,
eendag het ma die grammofoon verkoop
met die hele hoop
plate waarna ek so graag geluister het,
dit het my hart gebreek,
fyn, soos antrasiet,
ek het maande lank daaroor getreur
eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:
hulle móés net oorleef,
soos daardie vasberade vuur, in die kaggel
elke uitputtende dag,
aanhou brand,
aanhou smeul,
vir ons.

Die digter ondervang waarskynlik baie van die struktuur-besware van ’n kritikus soos die uwe. Hy noem homself “die minor poet met geen major literary ambitions” (“Aan die gatkant van die maan”, 44).

Die skryfproses word deur die digter gesien as ’n dobbel met 26 letters (34) en die liefde word dikwels vanuit ’n siniese posisie besigtig.

Die digter het ook ’n sterk satiriese blik op die “nuwe tye” waarbinne ons leef, soos beskryf in “Durban” (36):

ons land is ’n bomgeskokte troepie
met post-traumatic stress disorder.

In “Spare parts”, ’n ars poëtiese vers, voel ’n mens dat die digter waarskynlik self die beperkinge van sy digterskap insien?

maar die digter bly die ewige appy
en die volmaakte vers luier onhoorbaar ver
bly buite bereik, soos die verruklike vy-ryp Miss November
teen die muur, op Pirelli-tyres se kaalbaskalender. (87)

’n Mens moet die spore in die bundel noukeurig volg. Treinspoor en die spore van herinnering word teenoor mekaar geplaas.

’n Hoogs vermaaklike vers is die satiriese gedig oor Antjie Krog se voorlesing op Stellenbosch en hoe haar gebruik van kragwoorde die toehoorders ontstig het. Krog die dramatiese performer word hier vanuit ’n buiteblik beskou en raak opgesom:

jy vergeet dat jy nog geraak en geroer kan word,
sy het unlady anne like, voortgefok
soos ’n (k)aktivis van formaat
voortgevers, die moer
op daardie kampus tot in sy fondamente geroer
met woorde, soos met kak,
die taalbulle ontstig, verloopte dogmas oopgebeitel:
kuns & kultuur
(…) (111)

“Nuwe alfabet” (128) praat terug met Antjie Krog en Dan Roodt se aftelverse, en die praatvers “Korporatiewe Joernaal(Inskrywings)” (134) gee ’n blik op die impak van kapitalisme op die psige – en eindig:

die hemel is ’n maatskappy sonder winsbejag.

En in “E-pos aan Ulrike Meinhof & Andreas Baader” (139) word hierdie twee figure ’n ikoon vir die spreker:

kapitaal is ’n belegger sonder ’n gewete
kom laat die bomme blom! (139)

Daar is ’n aweregse gesprek met Koos Kombuis wat heet: “(Nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)” (132) en op romantiese versugting dui:

& elke serious digter wil tussen alles net nog ’n laaste stunning
gedig skryf
wat sal bly voortbestaan lank na die onafwendbare aftakeling
van hierdie lyf.

Romantiek bruis onder nihilisties-siniese verse. Ingrid Jonker se “Die kind” word herdig in “Die taal” (119) en “’n Nag in die winter” (112) is ’n pastiche van “Winternag”.

Daar is eweneens ’n speelse aanslag:

Klein kwatryn

daddy is op cat
mammie dink sy is hopeloos te vet

sussie is op die pil
& boetie wys braaf op mxit sy tril. (122)

In “Oor gedigte” (120) word die invloed van die digkuns debunk en bevestig. Koos Kombuis en Bukowski is kennelik twee ghoeroes vir die digter (“Digter incorporated”, 105). Nes Bruce Springsteen. In die nawoord, “Gedigte, talk show hosts & reality shows”, karteer hy die digkuns vanuit die postmodernisme.

Soos dit ongelukkig dikwels gebeur in selfpublikasies, is daar ’n paar hinderlike foute wat uitgestryk kon gewees het:

Hempde in plaas van hemde (17)
’n spasie voor die komma (81)
Kulturatti in plaas van kulturati (115)
Brummer in plaas van Brümmer (131).

Wanneer die digter wél “windgat sy sê met ’n spin en dice (te) kan sê” (87), soos in ’n handvol verse hier bo uitgesonder, raak hy ’n mens. Party verse kon gebaat het by nog ’n afwerking of herdigting.


Eindnota


Kort biografie afgetrek van Versindaba

Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee.

Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland.

Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock, waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet.)

Thursday, July 17, 2014

Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort (2014)


Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort. Protea, 2014. ISBN:978-1-4853- (gedrukte boek)   978-1-4853- (e-boek)
Resensent: Joan Hambidge

Dit is die derde digbundel van die akademikus Heilna du Plooy, 'n kenner van die digkuns van TT Cloete en 'n vooraanstaande narratoloog. Wanneer 'n akademikus dig, word die akademiese en kritiese werk onvermydelik deel van die leser se leestrategie, al is dit dan onbewustelik. Du Plooy gee immers blyke van hoe fyn sy lees en in haar lesings van die invloed van Dante en die ikonisiteit van gedigte in Cloete se oeuvre, word die leser deurgaans bewus gemaak van haar fyn sintuig vir die ewewig, die balans tussen vorm en inhoud, of die sogenaamde tegelykertydsaspek van die digkuns.

Daar is dan ook 'n ars poëtiese vers wat heet "Ewewig":

Ewewig

Die vlakte drink die afstromende lig
en kaats dit in die glinsterende grassaad terug.
Die rivier stoot sy loop waar die landskap vou
oop sodat bedding en oewers die water vashou.

Is ek iets verskuldig of is iets verskuldig aan my
as die vloed beddings oopkerf en oewers oorskry,
met die gras aan die brand en die rooi en die rook
wat uitsig en insig verwoed teen mekaar opstook?

Die punt van die pen
lê swaar op die blad
om in die opstuwende lyn

die las te versprei
tussen my
en die grein.

(7)

In hierdie bundel word daar 'n vrou of "sy" aangetref. Die digter distansieer haarself van die belydende ek en hiermee aktiveer sy ook Eybers se gedagte van "die vrou wat stil geword het". Tog word die stilte op verskillende maniere opgehef of opgeskort. Gedigte aktiveer magswanbalanse in ons samelewing en die beeld- of ekfrastiese gedig "Die jag" wat in gesprek tree met Maureen Quin se beeldreeks. Die afdrukke van die beelde maak van hierdie gedigte 'n opwindende gesprek.

Die digter neem ook reis in oënskou, maar duidelik het die reis hier 'n sterk metafsiese inslag:

Om lig te reis

Van ’n reis het sy telkens ’n klip saamgebring,
van die kus van Amerika of van Vesuvius: In ’n klip
sit onthou van gans alles vooraf, maar ook
die gang van haar voete gister en nou oor die aarde.

Tussendeur die bitter klippe, mensgemaak, stapels
rampe, galverhale, te veel om te onthou, aanhoudend
opgedis. En sy begryp sy moenie meer gewig
versamel nie. Sy gooi die klippe uit en kies vir lug.

Dan word haar oë wind, en sy word lig.
Haar nek rank op, haar hande word slap blare.
Sy drink van die son en sluk aan die gloed:
al haar nuwe leegtes word warm en vol.

Soos vergete bloekoms langs ’n vergeleë pad
bondels sonlig stiekem in hulle arms rondrol.

(24)

In die gedig "Die pornografie van oordaad" (54) word skerp kommentaar gelewer op die politieke en sosiale geweld in ons land, die verloedering van standaarde en die soeke na dít wat steeds waarde het:

Uiteindelik wens ek vir my en my huis
dat ons spoelklippe sal pak
langs mekaar tot ’n kring, uit die aarde self, hier
en vir hier, tot ’n gebedestring (...)

Daar word eweneens gekyk na die verhouding met taal - soos in "Leidse dagboek", 16 - met sy toespelings op Eybers en Van Wyk Louw:

II
Nog in die vreemde winter vasgevang
kon hulle in die vroeë lente nie
soos die knoppe swel en pols nie.

Daar was al bloeisels, maar die nagelate
koue het nog diep gevloei soos somber
gragte in ’n Nederlandse stad.

Daar sou nog swart ryp kom
en wind, wit stof en rooi
in storms uit die weste.

Die ou bekende koestering,
die saamsmelt in deurgloeide somers,
sou nog tyd verg. En smeking. En wag.

Daar is eweneens gedigte oor die landskap wat sowel 'n binne- as buitereis aktiveer.

IV
Ou geboue

Vandag se weemoed gaan oor ou geboue
wat van geweld getuig en kon weerstaan.
Oor die luglyn van ’n stad soos Budapest
wat van ’n té lang herkoms bly vertel.
Oor skilderye en klein beeldjies
in galerye en kasteeltjies
wat wonderbaarlik! – wonderbaarlik
ongeskonde deur die eeue kom.

Ontroer oor klip en stene
wat kon uithou onder menslike gewig,
hang ek vandag – een dag
‘n duisend jaar, ’n duisend jaar een dag –
in die breukdeel van die oomblik
vóór die steengelaat van tyd
weer óópkraak en breek
in nog 'n gilgesig.

Hierdie afdeling staan in "Stadgesigte" (23) word die betekenis van stede beskryf: stede in verskillende vorme wat deur geweld en hongersnood bedreig word, maar dan 'n stad soos Budapest wat nietemin "ongeskonde deur die eeue kom". Hierdie vers - geskryf in weemoed - aktiveer iets van die digterlike aanslag: die leser bespeur 'n melancholiese aanslag van mens wat bewus bly van die geweld in verskillende vorme wat die menslike bestaan bedreig.

"In die streke van die wind" (74) word Elize Botha, die literator, se invloed op die digter se lewe gekarteer. 'n Vriendskap oor boeke en 'n wedersydse begrip word helder verwoord:

In die streke van die wind
Vir Elize

Ons sewentig of tagtig is bloot ’n fragment,
’n partikeltjie tyd en ’n spikkeltjie plek
in ’n omvang wat ons nooit kan ken nie.

“Ek dink so baie oor die wind,”
sê jy dikwels in die laaste gesprekke,
soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke.

Oor die uiteindelike hiërargieë en die groot
patrone. Nogtans het ons net vermoedens;
die oorkoepelende ordeninge bly onbegryplik.

“Dit is belangrik om wind te verstaan,
te probeer verstaan. Waar lug is, is wind.
Waar lug roer, roer wind.”

Ons praat oor dit wat agter woorde lê,
oor die belang van vaagheid, oor die ryklike
dink wat glip en gly, syig soos asem.

In ’n vriendskap sonder eise, onafhanklik
én verbonde kón ons praat selfs oor onsienlike wind:
ons was mekaar hartgrondig goed gesind.

As ons ’n sentrum of ’n enkelheid
nie kan bedink, omvat of voorstel nie,
is daar onteenseglik nog die oral en die alles:

Deurentyd in voel en weet is daar invulling
en aanwesigheid, soos lug, soos wind
vly iets voortdurend teen ons aan.

Die metgesel, konkreet en wit en asemloos
– “human kind cannot bear very much reality” −
hou jy weg, van hom weerhou jy die bewussyn.

Lewe en begeerte is beweging en net dit wat leef,
kan sterf − “the bitter apple, and the bite in the apple” −
en waar jy was, sal lug en wind en oopte wees.

Nogtans, nogtans, nogtans:

Die groot duif tref die motor voluit, slaan gat
oor kop, sy vlerke uitgesprei en spat dan op,
sy vere verstrooi in die vlugstroom agter die kar.

Op die voorruit lê sy vorm, onderstebo
in fyn poeier geëts, ’n geboë hoof
en vlerke wat afwaarts bly duik.

Wat asem was, kan ook lug wees.
As jy lug is, kan jy ook wind wees:
stormwind, dwarrelwind, aandwind.

Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie,
nee, vier wat ek met ontroering onthou,
jou stem, jou oë, jou stem en jy,

met wie ek steeds in gesprek wil tree.

Hierdie gesprek word tans na 'n ander dimensie verplaas: die digter is besig met 'n biografie oor die mens se "lewe in woorde". Ook Elize Botha se altstem word deur hierdie gedig opgeroep en so word die stilte nogmaals opgeskort ...

In 'n aangrypende lykdig oor die vader ("Vierluik") wat indertyd baie kommentare op  Versindaba ontlok het, word die ewewig-dimensie aan bod gebring. Om die vader se doodsworsteling te begryp, word die verhouding met die brose moeder ook aangespreek:

Vierluik

I
In ’n stewige ou gebou
- die kamer liggroen
onder ’n hoë plafon
en almal om sy bed –
het hy gesterf.
Dit was ’n grootse worsteling
asof die dood iets was
wat hy moes verwerf.

II
Aanvanklik net ’n kleinerige aar:
nogtans genoeg om haar
half agter te laat.
Sonder een arm en een been
het sy bladsye halfvol geskryf:      
’n lewe net      
van die middel       
af éénkant toe.
Eers toe die groot aar bars
was sy weer volledig
in haarself verenig.

III
Op die oomblik van sy val
was hy  alleen:
sy brein onmiddellik
’n donker sampioen.
Drie dae lank gelê
met ’n al hoe gladder gesig
soos foto’s uit sy jeug.
Toe was dit of die wind
’n deur sag toegestoot het;
ferm en finaal,
en ons allenig daar.

IV
Sy is nou al wat ons nog ma kan noem.
Tussen geliefdes sit sy al hoe stiller
asof sy reeds weet van vertrek.
Die dae raak toenemend ligloos
oor die borduurwerk en die porselein;
en sy wat al hoe meer deurskyn.

(75)

Wat 'n mens veral bybly van hierdie derde bundel is die delikate aanslag van die beste verse, gedigte wat in hul ewewig tref.

By 'n verdere lees van hierdie bundel, tref die verskillende wyses waarop stilte na vore kom. Is stilte, wonder hierdie leser, 'n eg-vroulike tema? 'n Mens dink hier onder andere aan Sylvia Plath se beroemde reël uit the "Munich Mannequins":

Voicelessness. The snow has no voice.

Hierdie kwessie van stilte vind ons by Elisabeth Eybers, Petra Müller en Miriam van hee, om drie vrouedigters uit te sonder.

Die digkuns gee aan die vrou 'n stem en verlos haar van die fallokratiese orde waar haar tong dikwels uitgesny word of waar sy gewoon nie 'n stem het nie.

"In die leegtes setel verweer" (9) konstateer Du Plooy en hierdie bundel gee stem aan die dwingende stiltes van vrouwees. Hier is dan dikwels 'n misterie rondom die ervaring van die gedig se ontstaan. Die hele bundel lewer verslag van hierdie balans.

Dog daar is soms ook woede, 'n skreeu teen die ontkenning die negering van die vrou se posisie, soos verbeeld in "Vervreemding" (12).

Die verwysings na die Koragiete uit die Bybel gee 'n besonder komplekse toespeling op die rol van die vrou. Vrouwees word geassosieer met stilte in hierdie bundel en die manlike orde met oorlog (en dus skreeu) soos uitgewerk in "Die jag" (35).

In die digter se woorde:

Ons is die tyd,
die wonde van die ewigheid.

Ten slotte op bladsy 69:

Identiteit

Tussen elke vier mure
is haar rol vooraf bepaal.
Selfs tussen allernaastes
is die sitkamer – beskaafde
jas – ’n hoflike vertrek.
In die eetkamer is sy
by die tafel gasvrou en ma
wat – met die nodige weerstand –
opskep en aanbied, opreg
na elkeen se welstand vra.
Die woonkamer en kombuis
is elkeen ’n gesellige plek,
van – gewraakte voorskoot –
vrolik bak en brou, die nes
van omkrap, koerantlees
en les bes, van tee en beskuit.
Gangaf die kinders se kamers
vir help en gesels, raas – kners –
en preek. Hier maak sy ook elke
aand elke rug liefdevol toe.
Dan is daar die kamer van boeke,
diggepak, opgestapel; veelhanteerde
en altyd nuwe vergesigte uit rakke
vol poorte na nuwe domeine.
Maar in die groot slaapkamer stroop
sy af, al die maskers, vertolkings,
lae en lae klere en gewade.
Daar bly sý oor, in haar eie vel
voor haar geliefde bloot en broos
voor haar – absolute – self.
Sy staan voor die venster. Binne die ruit
bly worstel ’n klein vaal mot wanhopig
gevang in die kantgordyn. Sy duik
deur die glas na ’n streek sonder lyne.
Saam met bont vlinders wil sy
roekeloos stoei tussen rose:
op ’n teug wind, in ’n flits son
uiteindelik lustig omkom.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Wednesday, July 16, 2014

Karina M. Szczurek - Invisible others (2014)


Karina M. Szczurek - Invisible othersProtea, 2014. ISBN 978 1 4853 0017 5.
Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad word hierdie roman begelei met die woorde: "Don't we all carry scars which remain invisible to others?" Hierdie roman ondersoek die impak van die Ander in die gedaante van die liefde en skryfwerk op die menslike bestaan. Die storie speel af in Parys, die primordiale stad van Lig, maar ook die stad van romantiese liefde, begoëling - besonder goed opgesom in die rolprent Paris, je t'aime, waarin verskillende filmmakers in klein vinjette die stad interpreteer vir die kyker. Op die binneflap word die roman onder meer aangeprys deur Emma van der Vliet, wat self 'n roman oor hierdie stad geskryf het.
Die roman sit vol netwerke: die skrywer is immers die eggenote van die skrywer André P. Brink, wat self hierdie stad in sowel fiksie ('n mens dink aan Die ambassadeur) as reisverhale onder die loep geneem het.

Die vrou aan die woord is intelligent, 'n skrywer op vlug, en die roman is self-bewus. Daar is verwysings na die gewete van skrywers - soos verwoord deur J.M. Coetzee en Nadine Gordimer - en die ingeboude eensaamheid of isolasie, wat die skryproses inhou.

In dié roman word Triangle, 'n roman deur die skrywende karakter, Cara, 'n vooruitwysing na haar liefdesverhouding wat in 'n werklike tragedie eindig. Cara se roman het tot gevolg dat haar minnaar, die kunstenaar Lucas Stutterheim, se vrou selfdood pleeg.

Ongenuanseerde reaksies het tot gevolg dat sy die skuld dra vir die vrou se dood en dit lei dan tot haar ballingskap in Parys, waar sy 'n Poolse navorser, Konrad ontmoet en weer herontmoet met Lucas, die kunstenaar.

Driehoeksverhoudings (triangles) is 'n belangrike kode in hierdie roman: die rol van die skrywer, teks, leser word geproblematiseer: ons kom immers as lesers ook met ons verwondings na 'n teks wat deur 'n teks oopgemaak word. Hierdie roman lewer kommentaar op liefdesverhoudings as 'n tekstuele ervaring: Žižek wat aan die begin van The pervert's guide to the cinema beweer dat begeerte iets is wat ons uit films leer ...

Konrad is 'n rustige geliefde, terwyl Lucas 'n meer aggressiewe kunstenaar is - en sy dra immers die letsels van die verhouding met hom. In hoofstuk sewentien masturbeer Cara ook voor 'n skildery van die kunstenaar, 'n portret van háár. Sy bely dit dan ook aan die kunstenaar wat dit as 'n enorme kompliment ervaar (125).

Hierdie kunswerk het sy egter verwoes toe sy gehoor het van Dagmar se selfdood, tot stomme verbasing van die kunstenaar. Hierdie is 'n belangrike vinjet vir die begryp van Cara se ervaring van intimiteit én kuns. Sy het ook swanger geraak, maar Lucas was onbewus hiervan. Sy het net 'n sonarfoto om dit te bewys.

Die roman beweeg tussen hede en verlede en die verhouding met die twee mans word afwisselend vertel. Die outeur gebruik onder andere Louis Malle se skitterende rolprent Damage (1992) as 'n interteks om die destruksie van die liefde weer te gee. Verwonde of beskadigde mense is gevaarlik - is die refrein van die film - want hulle oorleef ten spyte van die destruksie wat hulle saai. Jeremy Irons (die kabinetminister, Stephen Fleming) se lewe word verwoes deur die verleidster, Juliette Binoche (Anna) en die tragiese gevolge van hul verhouding is sy seun se dood. Soos in die roman is daar eweneens 'n media-reaksie wat striem en oordeel.


Soms lewer die implisiete outeur te veel kommentaar soos o.a. oor die tyd wat slawe in Suid-Afrika vrygelaat is of oor die figuur Mickiewicz

Ons lees ook oor wat die begrip Franschhoek beteken, usw. Dit het waarskynlik te make met die teikenleser, te wete 'n internasionale leser wat nie so bekend is met die verwysings. 'n Addendum of voetnoot sou waarskynlik 'n beter oplossing gewees het vir die soms steurende tersydes wat die verhaalgang belemmer het vir hierdie leser.

Die roman is sowel moderne liefdesverhaal as 'n analise van die impak van kuns en letterkunde op ons lewens. Beslis onthoubaar is die man wat 'n boekwinkel besoek en telkens wil kyk of vertalings korrek is en dan beweer dit is nie. Wat is sy funksie? Wat probeer hy oordra? Probeer hy sy vrou as vertaler eer? Binne die roman signifieer dit iets van die onvertaalbaarheid van ons binnespraak.

Op 'n besondere wyse word vroulike intimiteit en seksualiteit beskryf teen die fallokratiese gesag soos Hélène Cixous dit noem. Die vroue gee die leiding in die tango-toneel.

Jammer genoeg is daar sekere geykte uitdrukkings (soos "hungry lips") of te soet beskrywings van sekstonele. Maar soos Konrad dink op bladsy 203 oor Freud, wil hierdie roman ook diep insink.

Die roman is 'n metateks en die leser besef teen die slot hoe beleefde en vertelde passasies inmekaar speel: die teks eindig in Berlyn.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Tuesday, July 15, 2014

Nadine Gordimer (1923 - 2014)

Nadine Gordimer © Dedica Festival

In 2003 het ek Nadine Gordimer se bundel kortverhale Loot (2003) geresenseer. Vir my is daar 'n paar belangrike punte oor hierdie skrywer se werk te make.

Sy gebruik die politieke "backdrop" van Suid-Afrika - soos in The conservationist en July's people - om die impak van die politieke onregverdigheid op mense se lewenskeuses te maak. Gordimer is in die verlede gestriem oor haar steoretipiese uitbeelding van byvoorbeeld Afrikaanse mense - vergetend dat sy hierdie sieninge in die mond van 'n karakter lê om 'n sekere boodskap oor te dra. Sy het immers by geleentheid vertel van die invloed wat Uys Krige op haar gehad het.

Sy is ook die verwyt gemaak dat sy té "lokaal" skryf, maar die bundel Loot bewys die teendeel. In 'n verhaal "Karma" word die impak van dade ondersoek en die betekenis van karma diepgrondig ondersoek.

Sy was ook 'n uigesproke ateïs, maar soos Julia Kristeva, wat die vorige pous van raad bedien het, het dit nie haar sosiale betrokkenheid verminder nie. Inteendeel. Sy het haar dikwels uitgespreek teen sensuur, teen die apartheidsbeleid, teen geweld en teen die Israel-Palestynse konflik.

Sy was ook in 'n onverkwiklike relletjie betrokke met die biograaf Ronald Suresh Roberts oor sy biografie No cold kitchen (2006) oor sekere interpretasies van haar lewe waarmee sy nie vrede had nie. Onder andere het hy haar as wit en bevoorreg voorgestel en intimiteite uitgelap. Hy het onder meer beweer dat 'n artikel oor haar lewe wat in 1954 in die New Yorker verskyn het nie volledig waar was nie. Kennelik het hy die gefiksionaliseerde aspek van die herinneringstog misgekyk.

In 2006 is sy in haar huis aangeval en haar trouring is gesteel deur die inbrekers.

Ek het haar eenkeer ontmoet en besonder elegant en literêr ingelig gevind. Sy was intiem bevriend met die New Yorkse intellektueel en skrywer, Susan Sontag en het haar roman The volcano lover (1992) geloof as briljant.

Sy het indertyd die korrespondensie tussen haar en Sontag oor skryfwerk en die verlies van ‘n geliefde gepubliseer in ‘n Sondagkoerant.

Sy was 'n Nobelpryswenner (1991). Die gehoor het by die geleentheid - twee jaar terug - haar kritiek op JM Coetzee se Disgrace as ongehoord beskou.

Sy het egter belangrike punte gemaak oor hoé ons hier te lande kritiek behoort te lewer en die rol van die verantwoordelike skrywer het sy met erns bejeën.

Joan Hambidge

Nelson Mandela ontvang die Amnesty International Ambassador of Conscience toekenning van Nobelpryswenner Nadine Gordimer in 2006. © Jon Hrusa



Nadine Gordimer ontvang die Golden Plate toekenning van Aartsbiskop Desmond Tutu