Monday, July 14, 2014

Sarah Lotz - The Three (2014)


Sarah Lotz - The Three. Hodder & Stoughton / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 1 444 77037 7.
Resensent: Joan Hambidge

Dit gebeur nie sommer aldag dat Stephen King ‘n mens se boek aanprys nie. Van The Three, deur Sarah Lotz, skryf hy dat hy die boek “entertaining” gevind het en dat ‘n mens sal sukkel om dit neer te sit. Hierdie leser is ‘n Stephen King-bewonderaar. Dink maar ook net hoe sy romans al verfilm is – Misery (1990) en The shining (1980), om twee uit te sonder. Met The shining was hy natuurlik in die hande van die briljante Stanley Kubrick.

Sarah Lotz se The three werk met die gegewe van die “unheimliche”. Ons het onlangs beleef hoe ‘n Maleisiese vliegtuig verdwyn het. 9/11 is steeds vars in die geheue. In hierdie roman word vier vliegtuigongelukke,  wat terselfdertyd plaasvind, ondersoek. Is dit ‘n teken van die apokalips?  ‘n Religieuse fanatikus meen dit is die geval en juis omdat daar driekeer ‘n kind gevind word as die oorlewende, word die vermoede bevestig dat dit dalk die geval mag wees. Kyk maar net televisie en daar is steeds programme wat nuwe teorieë aanbied oor die noodlottige dag van 9/11. JFK en Lady Di word  steeds onder samesweringsvergrootglase geplaas deur die media.

Ondertussen slaan die pers toe op die drie oorlewende kinders wat gedwing word om skuiling te soek in hierdie roman.

Die roman begin met die beskrywing van 'n vlug wat gaan neerstort. Ons beleef alles vanuit Pam se perspektief. Hierna begin Black Thursday: - From Crash to Conspiracy (Inside the phenomenon of The Three) saamgestel deur Elspeth Martins, uitgegee deur James & White Publishers waarin verskillende ooggetuie verslae vir die leser weergegee word. Die eerste gedeelte heet Crash met onder andere 'n vertelling van Yomijuri Miyajima, 'n geoloog en selfdood-begeleier,  en die berugte selfmoordwoud Aokigahara. In hierdie afdeling word die bo-natuurlike element van die roman gevestig met die verwysing na jaloerse geeste wat die lewendes (en oorlewendes) hul lewens beny.

Mense vertrek na hierdie woud - met selfdood-handleidings - om aan alles 'n einde te maak. Hierteenoor word 'n vertelling in Khayelitsha weer vanuit ‘n ander perspektief weergegee. Die leser beleef rasse-ongelykheid en kan die spanninge van 'n gemeenskap sien. En hoe die pers gewetenloos toeslaan.

Die Boek Openbaring is 'n belangrike leidraad vir die begryp van die roman, nes mense se obsessies met samesweringsteorieë. Die impak van internet-gesprekke word deel van die verhaallyn.

Ons word binne die ervaringswêreld van Pam geplaas en haar angs rondom ‘n naderende vliegramp.  Sy gaan haar dogter in Japan besoek. Op dieselfde dag, 12 Januarie 2012, stort vier verskillende vliegtuie neer: in Suid-Afrika, Japan, Florida en in die see. Drie kinders oorleef en hulle word dan getipeer as “The three” – hierdie gegewe herinner aan Bernardo Bertolucci se film, The little Buddha (1993) en verskillende kinders wat inkarnasies is van die Boeddha-figuur. Rondom die boodskap wat Pamela gelaat het op haar selfoon, word daar interpretasies gemaak  van die ramp “Black Thursday”. Is hierdie kinders inderdaad dalk vooruitwysings van die apokalips? Sou ‘n mens die rol van die verskillende perde uit Openbaring aan hulle kan toedig?

The three kan tipeer word as wetenskapfiksie, spanningsverhaal, apokaliptiese verhaal - en 'n slim roman-binne-'n-roman. Die “outeur” is Elspeth Martins wat uiteindelik kommentaar lewer in die slot in ‘n wêreld waarin verskillende denkrigtings tegelykertyd bestaan en niemand meer kan aanspraak maak op die Waarheid nie. Juis die gekose vertelstrategie, naamlik ‘n non-fiksionele teks getiteld Black Thursday: Crash en dan afwisselend Conspiracy en Survivors. Ten slotte: Endgames.  Hierdie hoofstukafdelings dui op wisselende perspektiewe wat die soeke na waarheid deurentyd ondermyn en bevraagteken.

Navorsers in vertelstrategieë  sal ook oplet hoe sy die spel tussen fiksie en werklikheid volhou. Ons kry ‘n nawoord tot die eerste edisie te lese (413) en ‘n ontknoping van die gegewe. Is dit toevallig dat die selfdood-mentor ook vir Hiro gered het tydens die vliegramp?

Die invloed van avatare op menslike identiteit word eweneens in hierdie roman ondersoek. Daar is blyke van deeglike kennis van o.a. die Joodse - en Xhosa-kulture.

Vir my is die sterkte gedeelte die ervaring van Pam en haar spanning rondom haar naderende dood, die indrukke van Yomijuri Miyajima, die sogenaamde selfdood-mentor in Japan se Aokigahara-woud en die gesprekke tussen Ryo en Chiyoko. Uit die nawoord is dit duidelik dat hier geweldig baie navorsing gedoen is en sy bedank ook (o.a.) vir Lauren Beukes as leser en haar “porn elf”, Paige Nick, redakteur Helen Moffett. Met laasgenoemde twee skryf sy A girl walks into a bar, wat opslae maak oor die uitdagende gender-kwessies wat dit aanspreek.

Liefhebbers van scifi sal die kil afstandelikheid, selfs sinisme van die vertellende instansie raaklees. En scifi geskryf deur vroue, soos Ursula K. le Guin, bring altyd genderperspektiewe te berde.

Die roman is vlot geskryf en veral jong lesers sal hierdie populêre, dog goedgeskrewe roman baie geniet. En ‘n mens sou beslis ‘n film kon maak van hierdie boeiende gegewe!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)

Saturday, July 5, 2014

Joan Hambidge - ‘n Klein nota by 'n ongepubliseerde vers van Johann de Lange



Die digter as ronkedoor

Borde, bekers & eetgerei stapel op
in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.

Vervaldatums kom en gaan in die yskas,
die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.

Dra van klere opsioneel, onoopgemaak
hoop briewe & vensterkoeverte op. Gestaak

kontak met medemens, selfs die natuur,
vervang met hoë definisie uur na uur.

Elke boekrak is tjok & blok & ongelese vol
& onpaar kouse teel aan in 'n bol.

Wasdag breek aan met die laaste skoon
hemp & onderbroek, ongestopte kouse vertoon

kleiner & groter gate. Met die ys- & koskas leeg
word hy uitgedryf om tussen rakke te beweeg,

maar die inkoop loop sonder plan of lys
& die trollie vul met kitskos & kouevleis.

Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.
Met webcam & Grindr wat alles opdis,

voel hy selde die gemis wat omgestook
moet word, of die stank van offerrook.

Maar behoed die siel wat ontydig bel
as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel

sy jongste vers intik na middernag.
’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.

© Johann de Lange

I

In 1988 verskyn daar 'n digbundel van Betsie van Niekerk wat Ronkedoor het. Dit is indertyd deur Tafelberg uitgewers gepubliseer. So is die bundel indertyd bemark:

’n Besonderse digdebuut geïnspireer deur Afrika. Die ronkedoor is die groot olifant - ’n stem uit die hart van Afrika waar die digteres se pa, ’n dierkundige, jare lank navorsing oor die tsetsevlieg gedoen het voor hy in 1982 aan malaria dood is.

In ‘n bloginskrywing op Mooie woorden word “ronkedoor” as volg gedefinieer:

Ronkedoor
Een ronkedoor is een op zichzelf levende, uit de kudde verstoten olifant.

Het woord komt van het Portugese woord roncador wat druktemaker betekent.

Een man of vrouw ronkedoor noemen lijkt me een mooi alternatief voor het woord eenzaat en/of verstoteling.

In ieder geval een mooi ronkend woord.

Uit hierdie gegewe van die "verstote olifant" maak Johann de Lange 'n gedig oor eensaamheid en isolasie, maar terselfdertyd word dit 'n ars poetica. 'n Mens hoor ook Elisabeth Eybers se beroemde gedig hier saampraat en Antjie Krog se antwoord op "Digteres as huisvrou" wat heet "weer eens".


Die Eybers-vers is as volg vertaal, wat eweneens 'n interessante gesprek open:

Poet as housewife
Elisabeth Eybers

Always a broom leaned against a wall,
meals never on time, if they come at all.

Days without dates through which she moves
empty and stubborn, slightly confused.

Ironing hung dejectedly over a chair,
gestures that come from who-knows-where.

Old letters unanswered, piled together,
papers and pills stuffed deep in a drawer.

Thankful to be part of your heart’s great whole
yet devoted to the limits of her own small skull.

O orderly biped, take heed,
leave her alone—let her read.

(Vertaal in Engels deur Jacquelyn Pope)

(Elisabeth Eybers, "Poet as housewife". Poetry Foundation, Poetry MagazineBesoek 5 Junie 2014)

Die ordende teëvoeter word nou "orderly biped"...

'n Tweevoetige dier in 'n distigon met sy koeplette!


Op Eybers reageer ek as volg:

Digteres as huisvrou
Joan Hambidge

vir Elisabeth Eybers

Altyd 'n Mr Delivery-boks teen die muur, 
nooit 'n optelslet op die onvanpaste uur. 

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol, 
moerig van vergadering na vergadering tol. 

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai, 
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai. 

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar 
('n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar. 

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk, 
haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk. 

O muses, wees haar genadig: 
laat haar maar parodies dig! 

(Joan Hambidge, “Digteres as huisvrou”. Litnet. Besoek 5 Junie 2014)

II

Die gedig van De Lange gee ars poëties lewe aan die vergete Van Niekerk wat na haar debuut "verdwyn" het en aktiveer met hierdie distigon ook Eybers, Krog en al die ander nakomelinge. Dit is 'n besonder slim gedig waarin die digter sy leefruimte-as-verstoteling tot gedig verhef. Jacques Lacan se "aleteia" of "unveiling" vind hier plaas met die spel tussen orde en chaos. Die chaotiese bestaan word deeglik beskryf in die eerste en tweede strofes:

Borde, bekers & eetgerei stapel op
in die wasbak, wasgoedmandjie volgestop.

Vervaldatums kom en gaan in die yskas,
die sitkamer sien nooit ’n kuiergas.

En hierdie chaotiese bestaan het dalk te make met die feit daar nie 'n Ander is nie. Daar is geen kuiergas nie en die "ordende teëvoeter" van die Eybers-gedig is inderdaad die digkuns:

O ordende teëvoeter, wees
gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees.

Eybers se vers het in Einder verskyn in 1977, en die leser in 2014, ervaar met De Lange se gedig dieselfde spanninge, behalwe die moderne bestaan is een van kitskos, selfone, iPads en die internet. By Eybers is daar “ou briewe onbeantwoord”.

Macbook, iPad & iPhone versadig elke lus.
Met webcam & Grindr wat alles opdis,

voel hy selde die gemis wat omgestook
moet word, of die stank van offerrook.


Lees ons ook J.C. Bloem se uitspraak oor poësie en jenever? En soekend na die korrekte aanhaling kom ek af op 'n lesing van Jacques van der Elst oor N.P. van Wyk Louw wat hierdie twee gedigte aanhaal:

Twee gediggies in die manuskripboek van Klipwerk (Die Burger, 7 Junie 1986) spreek van hierdie verlange in Nederland. Die een is getitel "Stillewe" en lui so:

 Hy lê daar op die kasrak die geel lemoen
 maar in die fles skyn die jenever groen.
 Verlateberg en Tuinplaas, Boesmanshoek.
 Wat, wat moes ek in hierdie land kom doen?

En in "Ná ek die koerant gelees het" skryf hy:

 Die glas is deurskyn in my hand
 6000 myl lê Sutterland
 ‘n silwer herberg in die sneeu
 en niemand weet hoe beef dié hand
 die Here weet.

Van der Elst se lesing (200- NP van Wyk Louw-lesing) sien ek toevallig op die internet en heet "N.P. van Wyk Louw en sy Nederlandse bande". Hierdie lesing handel oor invloede in die letterkunde! 

(Jacques van der Elst. 2000. "N.P.van Wyk Louw en sy Nederlandse Bande", N.P. van Wyk Louw-gedenklesing.  Universiteit van Johannesburg. Besoek 5 Junie 2014)

Die offerrook dui op die braaivleisvure, maar dalk ook op ander offers of opofferinge wat gemaak moet word wanneer 'n mens nie alleen is nie, maar jou lewe met ander deel?

Die wending van die vers lui soos volg:

Maar behoed die siel wat ontydig bel
as hy verdiep is in sy sepies, of op sy sel

sy jongste vers intik na middernag.
’n Slaaf van sy aptyte beteken: Níks kan wag.

Die skryfproses mag nie onderbreek word nie, maar dit word ironies genoeg gelykgestel aan die kyk van sepies wat eweneens 'n belangrike tydverdryf is. Die gedig word ingetik – na middernag – op 'n sel en die navrante slot bely die spreker hoe hy ‘n die onmiddellikheid najaag; hy is immers ‘n slaaf van sy aptyte soos kitskos en vinnige kommunikasie reeds aandui. Hiermee lewer die digter dan ars poëties slim kommentaar: hy aktiveer vele verwysings en verswygings oor die aard van die digkuns en hy vertel ons dat die moderne digter vinniger skryf as sy voorgangers weens die invloed van tegnologie.

Sy gedig staan egter nie in die skaduwee van die behendige beoefenaar van die distigon, Eybers nie. Inteendeel. Hy heraktiveer vergete gedigte en 'n mens wonder wat het van die digter van die bundel Ronkedoor geword?

Friday, July 4, 2014

Danie Marais - Solank verlange die sweep swaai (2014)


Danie Marais: Solank verlange die sweep swaai. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06842 6 
Resensent: Joan Hambidge

I

Danie Marais debuteer in 2006 met die bundel In die buitenste ruimte. Hierna volg Al is die maan 'n misverstand (2009). Sopas verskyn sy derde bundel: Solank verlange die sweep swaai.  Die bandontwerp van Anton Kannemeyer is treffend en dit dui reeds 'n krities-satiriese aanslag aan. Transgressie en die oopmaak van taboe-onderwerpe is bekend aan Kannemeyer se strippe-kuns.

Hierdie digter se verse kan aan drie belangrike eienskappe herken word: die sogenaamde praatvers (parlando), die sterk outobiografiese element en 'n besinning oor die digkuns se aard en plek in 'n moderne samelewing.

Die sterk praatelement of voordragverse spreek veral jong lesers aan. Die digter is ook rubriekskrywer, onder andere oor moderne musiek, en vele van sy verse tree in gesprek met figure soos Bruce Springsteen, by implikasie met Leonard Cohen – wat sy loopbaan as digter begin het – en Johnny Cash, om enkele name uit te sonder. Daar is 'n gedig vir Emmylou Harris ("Fok jou, Emmylou Harris", 87) en woede (en depressie) is onderliggend aan vele van die verse. In 'n gedig aan sy kind is Bruce Springsteen die gespreksgenoot: "Bloedneus praat met Bruce Springsteen praat met my dogter" (83).

Soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar se verse, daag hierdie gedigte die grense uit van die konvensionele gedig en liriek. Die invloed van Charles Bukowski is aanwesig nes die gesprek met 'n ander verlore romantikus, Raymond Carver.  'n Mens sou ook die invloed van Tony Hoagland kon naspeur.

In "Wit mens se sad" , 70 - begelei met 'n motto uit Ronelda Kamfer - kom hy in opstand teen sy wit, bevoorregte jeug en die geweld wat daarin opgesluit is. Die sterk outobiografiese element - wat reeds van sy debuut af aanwesig is - word weer aan bod gebring met verse oor 'n pynlike egskeiding, die belewenis van vaderskap, liefdesverrraad, die siekte van 'n ouer, die selfdood van 'n neef en ander familiesages. Daar is verse wat 'n mens as ars poëties kan tipeer, soos "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91), "Nie 'n vrye vers nie" (47), "1 2 3 blok  myself!" (34), "Digter, basterwit" (24), "Wat swak gedigte weet" (16) met 'n aanhaling uit Auden wat moet lees:

For poetry makes nothing happen: it survives
In the valley of its making where executives
Would never want to tamper, flows on south
From ranches of isolation and the busy griefs,
Raw towns that we believe and die in; it survives,
A way of happening, a mouth.


II

Die sjarme van hierdie bundel is geleë in die gemaklike, loslit-aanslag. Alles word letterlik gedig. Maar dit is dan ook die gevaar van die praatvers as sub-genre: die gedig is dikwels (vir my smaak) te lank en kan op enige plek afgesluit word. Maar dis nie hoe hierdie verse beoordeel wil word nie: dit wil as ongebreidelde vers aangebied word. Vele gedigte neem sterk standpunt in téén die konvensionele digkuns en die digkuns as 'n elitistiese bedryf. In "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91) tree hy sy tydgenote aan, maar draai die mes ook ten slotte in op homself:

Ek sukkel deesdae om gedigte te lees –
al die woordspel, naskeermiddel en ego terwyl
'n versukkelde weergawe van Rome vol franchises
in vlamme staan wat nie heeltemal eg lyk nie.

Daar word verwys na 'n "on-gedig" (86) en Neruda se liefdesgedigte bring kennelik nie meer vreugde nie: "Vergeet Neruda" (80). In "Nie 'n vrye vers nie" (47) word die woede verwoord wat afloop in sy ontnugterde slot:

'n laeklas soort van sonnet met
'n voorspelbaar verpletterende slotkoeplet.

Die sterk outobiografiese aanslag maak van die leser voyeur in die intieme arena van die liefde, afgelope verhouding, familiedramas en 'n nuwe liefde. Die gebruik van boksmetafore dui op 'n spreker wat hom oorrompel voel in die "ondermaanse ellende" (90).


III  

Uiteindelik sal die leser ook hierdie bundel aan die volgende digterlike uitspraak meet:

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis 'n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché. (17)

'n Handvol verse is werklik uitstekend: daar waar die (outydse) vorm en inhoud een word ...

In die "literêre bestaansboerderytjie" is die korter verse onthoubaar in hul "less is more"-aanslag, soos byvoorbeeld "Zombie" (68) en "Nuwe oë" (15).

Hierdie bundel verwoord ook die gevoel van 'n jonger generasie: hul sinisme, uitsigloosheid, gevoelens oor politieke onregverdigheid. Gelukkig is die digkuns 'n plek waar die digter hom kan uitwoed oor al die ongeregtighede en persoonlike ellendes wat hom getref het:

kop in een mus met die digkuns die hart
se rooi gemors
"Ek"


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Tuesday, June 24, 2014

Charl J.F. Cilliers - Behind the view (2014)


Charl J.F. Cilliers, Behind the view. Malgas Publishers, 2014. ISBN 978 0 620 60894 7
Resensent: Joan Hambidge

I

Kort op die hakke van Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof en Hennie Aucamp se Skulp verskyn Charl J.F. Cilliers se bundel Behind the view, 'n selfpublikasie. Ondertussen is daar ook die vertalings en herdigtings van Daniel Hugo van Omar Khayyam se Rubaiyat. Aldrie Afrikaanse bundels het by Protea verskyn.

A.P. Grové se Woord en wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm. Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg hiervan kry ons 'n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met 'n spaarse gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming en kommentaar.

Vir my is daar 'n handvol – sowat 28 kwatryne – wat werklik uitstekend is. Die wat my persoonlik geval het, is veral gedigte wat handel oor die skryfproses.

Die vraag is – en ek het dit al vantevore gevra – waarom moet so 'n uitstekende digter sy eie gedigte publiseer?

Dis 'n pragtige bundel en dit is 'n skande dat die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde hom nie na waarde skat nie.

II

Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke aard. In The anatomy of poetry wat in 1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos volg na hierdie digvorm:

"any metre with lines rhyming in sets of four. The possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba." (144)

Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:

(a)  common measure": hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of abcb. Coleridge se "The Ancient Mariner" is hiervan 'n voorbeeld;
(b)  long measure": hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se "In Memoriam" is bekende voorbeelde;
(c)   short measure": kwatryne met 6.6.8 en ses sillabes met die rymskema abab of abcb;
(d)  the 'Omar Khayyam'-quatrain": hier vind ons die jambiese pentameter met die rymskema aaba;
(e)   the 'Gondibert'" oftewel 'Elegiese' stansa waarvan Gray se "Elegy" 'n voorbeeld is.

Ottone M. Riccio in The Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het, sien dit so: die verskil tussen die "hymnal stanza" en "envelope stanza" (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter.

So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

III

Dikwels lewer die gedigte in Behind the view kommentaar op die skryfproses en is dit meditatief in aanbod. Dit is 'n moeilike vorm om te beheer, omdat elke woord op sy plek moet wees.

Die digter werk met ryme en halfryme. Hy gee ook aandag aan metrum en ritme. Die gedigte is selfrefleksief, selfs meditatief, oor die aard van die kwatryn.

Poetry

Poetry, as we all know,
can only change the status quo
inasmuch as words can hope to show
more deeply what our hearts already know. (79)


Where do longings go?

Where do longings go
when what was longed for grows
too faint: image without sound,
ache without a wound? (81)


Quatrain

I started writing this quatrain
and now only three lines remain -
the damn thing's going down the drain
because I know the last rhyme is inane. (80)

Dit is net 'n behendige digter wat so selfrefleksief kan speel met die vorm van die kwatryn. Opperman het eweneens in sy gedigte gespeel met die konvensies van vorm. Hoe dit jou inperk, maar terselfdertyd nuwe moontlikhede laat ontdek.

Wild fig

Is the quatrian too small
for the wild fig tree?
Will it grow so broad and tall
more words would be necessary? (45)

Uiteraard is dit dan wat dikwels in die gemoed van die leser gebeur. Die gedig mag klein in omvang wees, maar die interpretasie-moontlikhede is oneindig. Is hier ook 'n toespeling op die wilde vy van die Bybel? Is daar 'n verwysing na die onmoontlikheid om iets groots in 'n klein gedig te verpak? Sou 'n mens al die interpretasies wou aktiveer, sou die gedig nie meer 'n kwatryn wil wees nie!

Die digter het kennis geneem van die moderne wêreld en sy bedreigings soos in hierdie gedig:

Modern sounds

Everything now is a sound-bite.
Rhythms have disappeared.
There's little sense in a flash of light,
no symphony in a single chord.  (23)

Die digter is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat:

Words

Words in which we live
in so many guises
trying so often unsuccessfully to give
tongue to something that surprises.  (22)

Behind the view is pragtig uitgegee - met 'n blom op die voorblad.  Charl J.F. Cilliers is nie alleen 'n uitstekende vertaler nie, maar ook 'n digter om van kennis te neem. Oor die digter se Collected poems het Henning Snyman indertyd geskryf. Dit staan opgeteken op die agterblad: “Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde”. Hierdie wyse woorde is ook op die jongste bundel van toepassing.

Bestel van die digter: franban@mweb.co.za


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)