Showing posts sorted by date for query I L de Villiers. Sort by relevance Show all posts
Showing posts sorted by date for query I L de Villiers. Sort by relevance Show all posts

Monday, August 15, 2022

Onderhoud | Marlise Taljard gesels met Joan Hambidge oor haar nuwe bundel “Sanctum” | 2022


Marlies Taljard (MT)

Joan, veels geluk met jou nuwe bundel, Sanctum, wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. Dit is jou derde bundel die afgelope twee jaar. Jy is ʼn akademikus wat navorsingstake het en klasgee by die Universiteit van Kaapstad. Hoe kry jy dit reg om soveel kreatiewe uitsette in so ʼn kort tyd te lewer? Wanneer het hierdie bundel ontstaan? Die titel dui aan dat gedigte met ʼn bepaalde tema in die bundel opgeneem is. Lê hierdie gedigte al ʼn ruk lank in die metaforiese “laai”, of is dit nuwe gedigte? Kan jy iets sê oor die ontstaansgeskiedenis van die gedigte en oor die skryfproses van die bundel.

 

Joan Hambidge (JH)

Die gedigte het ontstaan tydens die inperking in daardie tyd van onsekerheid. Ek sou reis Rusland toe vir my sabbatsverlof wat toe ‘n andersoortige reis geword het. ‘n Binnewaartse reis. Dus nie ‘n kort tyd nie, want ek het my hele lewe in oënskou geneem.

My klasse inspireer my altyd om nuwe temas te ontdek. Tegnieke. Ek dink hierdie bundel doen dit deur minder bekende vorme te ontgin soos byvoorbeeld:

 

Inuïet-gedig
Die Eskimo-woord wat beteken om ’n gedig te skep word gelykgestel aan asemhaling. Dit verwys na amerca of die siel. Die soort gedig werk ook met herhaling.


Kautata
’n Kautata is ’n nie-rymende Japannese gedig wat bestaan uit drie reëls in die vorm van ’n vraag en antwoord.


Redondilla

’n Spaanse gedig gewoonlik met  8 sillabes met ’n kwatryn-rymskema (aa / bb).

 

MT

In die openingsgedig, “Sanctum”, skryf jy:


In die huis van Onse Vader is daar glo

vele wonings nes in die huis-van-die-digkuns

met sy vertrekke en stansas en rondele.

En in “Kamer van spieëls”:

Die gedig is ’n sanctum,

’n tempel, ’n aktiewer woord,

’n plusquamperfektum

om Van Wyk Louw

by te haal.

 

“Sanctum” is die Latyn vir “heilige plek”. Dit kan ook verwys na ʼn eie, private plek waarvan ander mense uitgesluit is. As motto van jou bundel neem jy Van Wyk Louw se woorde uit Tristia: “Die groot Tempel, die aktiewe Woord”. In hoeverre is jou gedigte (vir jou) ʼn tempel of sanctum? Ook wat betref die skryf van gedigte oor die algemeen – nie net die gedigte wat in hierdie bundel opgeneem is nie.

 

JH

Hierdie tyd van inperking het my diep getref. My laaste werklike reis na Tunis en die beplande een na Rusland was skielik ver weg. Soos die een voor dit na Colombië.


Toe begin ek skryf. Ek bewaar altyd reiskaarte, biljette en ‘n plattegrond van ‘n stad. Ek het vele reisboeke. En dit bring herinneringe terug. Munte en note uit vreemde lande. In Nagasaki het ‘n restauranteienaar vir my ‘n pragtige afdruk gegee in ruil vir ‘n noot uit Suid-Afrika. Op my lessenaar is daar ‘n Dez Kwanzas en nommer 25836 vir die shuttle na Shiba Park in Tokio. Soveel reis wat in hierdie bundel beslag kry: Suid-Amerika (veral Peru), Amerika, Europa …


Ek het tot driekeer per jaar gereis. Een van die voordele van die akademie is lang vakansies en sabbatsverlof.

 

MT

Die bundel het ten minste gedeeltelik in die Covid19-tyd ontstaan. Hoe het Covid19 jou beïnvloed? Sou mens kon beweer dat die pandemie (in die kunste) ʼn nuwe koers aan die voor-Covid-lewe gegee het?

 

JH

Absoluut. Ons kyk nou anders na die lewe, na mense, na ervarings. Vir my was dit ‘n belangrike reinigingsproses. Om die lewe vanuit ‘n ander hoek te beskou. Dit het my opnuut bewus gemaak van die kortstondigheid van alles. Ons leef nou. Carpe diem. Ek leef elke dag asof dit my laaste dag is. Hierom het ek ook alles wat oortollig is uit my lewe gesny. Tyd van verhuising en besinning.

 

MT

Jy is ʼn wêreldreisiger. Vertel asseblief van die indrukwekkende plekke wat jy al besoek het – veral ook dié wat in hierdie bundel neerslag gevind het.

 

JH

Dit is alles op my blog en in my gedigte opgeteken. Machu Picchu wat ek driekeer besoek het. Tokio. Buenos Aires. Chili. Hong Kong. New York. Die Andes-gebergte. Suid-Amerika praat met my. Verdraaide raaisels verklap dit reeds.

 

El Condor Pasa

“Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte”. Pablo Neruda

 

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,

hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:

“die nagwind draai in die lug en sing”.

In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis

ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.

Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees

teen die onstuimige rivier en kil berglug

– sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.

Al die aangebode raaisels hier aanwesig

in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.

Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood

lê ‘n nuwe begin ópgesluit.

Met die aflegging van die self soos ons opbeur

na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,

pynlik bewus van ons argeloosheid

oor die krag van die lewegewende natuur.

Klim op, hoër na self-

loosheid – na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis in die self: ‘n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

 

Uit: Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.

 

MT

In sy gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” skryf I.L. de Villiers:


as niks meer heilig is nie

word alles heilig


De Villiers verwys hier na Bonhoeffer se verklaring in die gevangenis, dae voordat hy deur die Nazi’s tereggestel is. Sy sel en die plant van tamaties tuis en in die binnehof van die gevangenis het vir hom heilig geword:


“Wenn die Bibel auch Orte “heilig” nennt, dann tut sie es deswegen, weil Menschen an diesen Orten die Gegenwart Gottes erlebt haben. Ein Ort ist heilig, weil dort der Heilige, der ganz Andere, weil Gott dort einem Menschen spürbar nahe gekommen ist.”

(As die Bybel plekke “heilig” noem, is dit omdat mense die teenwoordigheid van God in daardie plekke ervaar het. ‘n Plek is heilig omdat die Heilige daar is, die Gans Ander, omdat God daar merkbaar naby aan ‘n mens gekom het.)


In Afdeling I skryf jy oor die heilige stad Nagasaki, “Gandhi se ashram in Ahmedabad”, oor die Tao, oor Freud se huis in Wene in die Berggasse, oor lyke op die Ganges … Die leser lei af dat hierdie plekke ook sanctums is. Die reis en die besoek aan vreemde plekke is in die Jungiaanse psigoanalise besonder sterk motiewe. Wat is dit wat jou fassineer aan reise?


Ek kry die gevoel dat hierdie bundel ʼn soort bedevaart is …?

 

JH

Ja ‘n bedevaart. ‘n In-kering. ‘n Mens verstaan dikwels eers by nabaat wat jy beleef het. Soos met verhoudings en vriendskappe wat jy eers volledig verstaan wanneer dit verby is …


Ek het altyd notaboeke by my en skryf indrukke neer.


Freud se huis het ek besoek in Wene tydens ‘n ICLA-kongres. En Wene het besonder mooi katedrale. Freud is ‘n verstommende intellektueel en The Third Man is ook in Sanctum.


En I.L. de Villiers is ‘n besondere digter wat sowel vorm as inhoud betref.

 

MT

Hoewel die woord “sanctum” ʼn mens aan stilte laat dink, word daar egter in hierdie bundel heelwat gekuier. Jy dra die bundel op aan Johann de Lange, jy dra gedigte op aan (onder andere) Johann Lodewyk Marais, Wilhelm Jordaan, Bernard Odendaal, C.F. Rudolph; jy leen by N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, D.J. Opperman, Velázques, Escher; jy skryf herinneringsverse aan gestorwe vriende – Danie van Niekerk, Thomas Deacon, Gisela Ullyatt, Biskop Tutu en Johan van Wyk. Verwysing na vriende, kollegas, teoretici en ander kunstenaars is ʼn kenmerk van jou poësie. In hoeverre is gedigte gesprekke/selfgesprekke? Hoe beïnvloed mense wat jy ken of geken het, teoretici wat jy lees en kunstenaars wie se werk jy bewonder jou eie kunsskepping? Kan kuns vandag überhaupt nog iets anders as ekfrase en hersirkulasie wees?


Ek dink byvoorbeeld aan dié vers:

 

Brevet

na Eybers


Stip soos ’n belastingkontroleur

sal ek allengs idees bly navigeer:

oor ervarings by tempels en katedrale,

nou net in fantasie hierdie opgawe.

 

JH

Alles is reeds geskryf en gesprekke met die Ander is ‘n voorreg.


Alles is waarskynlik hersirkulasie. Ek keer altyd terug na dieselfde temas en kwessies.


‘n Mens is ‘n mens deur ander mense. Jy is ook ‘n digter gevorm deur ander digters en mentors. Opperman het my aan Wallace Stevens voorgestel. My gesprekke met Johann de Lange, wat reeds vanaf die begin van my digterskap daar is, moet altyd gesien word as van onskatbare waarde. (Hierdie bundel word aan hom opgedra en my bure wat my ondersteun het tydens die inperking. En vir al die aangesprokenes.)


Eybers se Verbruikersverse en Winter-surplus wat my inspireer om die besondere tegniek, lees ek daagliks.


Ek lees ook elke dag Henning Snyman se Mirakel en muse oor die implikasie van die digkuns en Cuddon se studie oor literêre terme. Veral Snyman se siening van literêre semantiek en Ina Gräbe se uitmuntende interpretasies van gedigte is handleidings.


By my word die digterskap gevoed deur teorie en psigoanalise. Tom Chetwynd se Dictionary of symbols is ‘n ander Bybel. Jung is altyd neffens my soos die versamelde Opperman wat op my bed rus.


Afrikaans het uitstekende digters. En soos die sublieme Cussons en Neruda glo ek: daar is nie digters nie; net ‘n digkuns …


As dosent in kreatiewe skryfwerk het ek deur die jare uitstaande digters begelei en elkeen by sy of haar eiesoortige styl of lewensreis probeer uitbring. En eweneens studente begelei akademies oor digters soos Olga Kirsch (Thomas Minnaar) en Johann de Lange (Dawn Fritz).


Umberto Eco, Roland Barthes, Harold Bloom, Jacques Derrida, Hélène Cixous, o.a. inspireer ook. Volgende jaar verskyn my kampusroman Stasies by Protea waarin ek die problematiek van die moderne kampus en kreatiewe skryfwerk ondersoek.


Lewensreise. Geboekstaaf in gedigte. En die mentors hoef jy nie in lewende lywe te ontmoet nie. Hulle praat deur gedigte en tekste.


Wyle Danie van Niekerk, die uitgewer, het my aangemoedig as digter. Ons het later groot vriende geword en sy dood was vir my ‘n groot verlies.


Deborah Steinmair en Joan-Mari Barendse het stip gelees en vrae gevra en die proefleser, Anzette Williams, moet vermeld word soos die kunstenaar Hanli Deysel. Protea het ook Nomadiese sterre uitgegee.

 

MT

Soos in jou vorige werk figureer jou kindertyd en herinnering aan jou ouers ook in hierdie bundel. In die openingsgedig reeds:

 

As kind in huurhuise, hotelle, tydelike vestings

vertoef; selfs in ’n woning langs ’n begraafplaas:

ligene, geroep klipblomme, groeiend op die stene

tot ons laaste huis langs die walle van die Vaal

met kannas en malvas en sipresbome.

My moeder, die tuinier-met-groen-vingers

en my vader, die man-van-versekering, leer my

jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie

Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.

 

Jy is ʼn kenner van die Jungiaanse psigoanalise. Kom ʼn mens ooit los van jou ouers en van jou kindertyd – die werklike of die gedroomde? Hoe het jou ouers en jou kindertyd jou en jou lewe en jou kuns gevorm? Is die verlede met die bekendes, jou ouers en susters uiteindelik argetipes wat jou rig?

 

JH

My ouers is eweneens in my gedigte nes my susters. Argetipes, maar ook werklik. Toe ek onlangs my kantoor moes opruim, kom ek af op briewe van my ouers. Ondersteunende ouers. Ook kompleks toe ek jonger was. Hierdie gedig, ‘n lament geskryf voor hulle dood.

 

My ouers 

 

i

Van haar, my kromgetrekte moederlief

erf ek my ontevrede, wrewelige, onvergenoegde aard:

Gister was ‘n beter dag.

Van hom, my forsgeboude vaderlief

kry ek my droomverlore, romantiese, onverskrokke aard.

Die een kan woorde soos blokkies pas.

Die ander het bykans die lewe in drome verpas.

En ek?

Hul erfstuk?

Die een sy van die Januskop

kyk terug na wat was;

die ander sy vooruit

na dit wat woorde kon vermag.

ii

 

Vroeër was dit maklik om my weg

te draai van julle, my ouers

ewige aangesprokenes

in my gedigte en gebede.

Kyk, hierdie is ‘n klaagsang

eer julle vertrek na die ander oord

omdat ‘n lykdig onvanpas mag opklink

by ‘n geleentheid van onherroeplike stilte.

Vir haar, my kromgetrekte moederlief

vir hom, my forsgeboude vaderlief

iets korter as ‘n brief

iets meer as ‘n erflating

durender as ‘n grafsteen

betroubaarder as ‘n polis

kosbaarder as ‘n familiering:

Elke vers wat uit my spruit

met toegeneentheid 

aan hul te dank.

 

Haar stem die metrum van my verse

Sy hand die vorm vir my verse.

Uit: Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000

 

MT

Die oop hand verskyn op die voorblad van die bundel en aan die begin van elke afdeling. Dit is ʼn belangrike kode in die bundel. Wat is die belang van die hand vir die bundel as geheel? In aansluiting by my vorige vraag: is daar argetipiese betekenis in die hand?

 

JH

Ja, die hand is simbolies belangrik. Ek kyk altyd na mense se hande. In die VSA het ek by ‘n tweedehandse boekwinkel ‘n boek gekoop oor palms en die betekenis van jou hande.

 

Pyn het glo geen vervaldatum

La bonne aventure dans de la main,

as u wil, ’n Idealistiese hand,

vol intuïsie en melancholie.

Beide gidse aangekoop

in die verre vreemde

op Harvard Square voor 9/11

en al die ander vuishoue

van ’n hand se avonture.

 

MT

Die laaste afdeling van die bundel bevat vertalings van Plath en Kavafy. Wat is die nut daarvan om gedigte te vertaal? Wat was jou vertaalstrategie?

 

JH

Om ‘n gedig te vertaal is ‘n uitdaging. Veral Plath was moeilik om te transporteer na Afrikaans. Sy gebruik ‘n beeld binne-in ‘n beeld …


Ek het hierdie gedig “Morning Song” ongeveer 6 keer oorgedig. Dan lees ek dit hardop voor om die klankpatrone in Afrikaans reg te laat klink en terselfdertyd getrou te bly aan haar gedig. Ek het ‘n opname van haar gedigte waarna ek geluister het om iets te probeer verstaan van haar skryfstrategie. (HarperCollins 1977). Sy lees so gedistansieerd voor. Pynlik om na haar te luister.


Sy is ‘n baken in my lewe. As jong skolier Ariel gelees en was meegevoer deur haar gedigte …


Om ‘n digter te vertaal leer jou altyd iets van tegniek.


Jy moet presies elke woord verstaan en dit dan korrek vertaal in jou taal. Vertaling is ‘n soort reis.

 

MT

ʼn Voorlaaste vraag: Hoe belangrik is vormgewing vir jou as digter? Kan ons nie nou maar van allerhande voorskriftelikhede en vaste vorme in die poësie ontslae raak en skryf soos ons wil nie?

 

JH

Nee. Vorm is belangrik. Ons kan nie net skryf soos ons wil nie. Poësie, ook die vrye vers, het reëls. En as jy snap watter spel die digter met jou speel, is dit ‘n ontdekkingsreis. Soos jy verander, verander die gedig ook. Jy sien meer raak. Komas uit ‘n bamboesstok is byvoorbeeld soos Tristia bundels wat uitdaag.

En om te dig, moet jy jou tradisie ken. Wat het vóór jou gebeur.

 

MT

Watter gedig som die bundel vir jou die beste op?

 

JH

Vir nou:

 

Totem

 

Ek is my tempels

my katedrale ruïnes

versugtinge

verbeelde reise –

Ek is my onthoue

verliese verdriete

verraad (soos)

versmade verse –

Ek is my vrese

verlatings om en by

die wortel van dié kwaad:

opgehoopte kwellings –

Ek is my aandagstrepe

tersydes en aanhalings

konfessies en vermanings

in gedoemde ellipse –

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei – leser, jy of u.


(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Monday, September 6, 2021

Resensie | Ena Jansen - Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers | H&R, 2021

Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8203 4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Meester van die prosodie en posodinie

 

Die enorme posisie wat Elisabeth Eybers (1915 – 2007) inneem binne die Afrikaanse én Nederlandse kanon kan nie verminder of ontken word nie. As ons eerste gepubliseerde vrouedigter het sy alreeds ikoniese status verwerf sowel hier te lande as in die buiteland. Sy verlaat Johannesburg in 1961 op ouderdom 46.

 

Geen kursus oor vrouedigters kan sonder haar nie en Hélène Cixous en Julia Kristeva laat haar oopwaaier vir jong studente wat haar gedigte besielend en slim vind.

 

Die pragversameling gedigte is deur ‘n kundige leser Ena Jansen gemaak wat ons op die belangrikste aspekte van Eybers se digkuns attent gemaak het soos die sogenaamde “tussentaal” waarin sy dig. Die verhouding tussen moederland en aangenome land word deur hierdie skerp intellek ondersoek. Jansen noem haar tereg die literêre dubbelganger met ‘n dubbele poëtisiteit. Inderdaad skryf sy in Amsterdam haar beste verse en sy takel die tabelleland sodat (en totdat) dit haar nuwe tuiste word.

 

Afstand en verbintenis (1996) heet Jansen se studie oor ‘n digter wat die “voelhorings van ironie” ken en die paradoks by uitnemendheid bedryf. Lina Spies het al op die merkwaardige ooreenkoms tussen haar en Emily Dickinson gewys in Die enkel taak (1995).

 

Die volledige vrouwees word in haar digkuns opgeteken. Ons verneem van siektes (griep, ‘n besoek aan die arts), beserings na ‘n val, sonde met die bure en ‘n gesprek met ‘n kleinkind. Sy lewer egter ook kommentaar op die digproses – soms ironies met 'n gedig wat "Rymdwang" heet. Sy is beheer van die prosodie en weet wat posodinie behels (die vermoë om pyn te kan hanteer). Gedigte word selfs gedroom; sy skryf oor haar ouers met heimwee terug na haar tuisland wat altyd binne-in haar bly.

 

Sy is ook ‘n uitstekende vertaler (o.a. uit Frans) en haar selfvertalings gee baie om oor na te dink. Jy sien hoe sy assosiatief ‘n gedig transporteer van een taal na ‘n ander sonder om ooit vorm in die slag te laat bly.

 

Eybers is al deur verskeie digters geparodieer en aangespreek: Antjie Krog, Lina Spies, Johann de Lange, Daniel Hugo, Dolf van Niekerk, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers, o.a. Haar verbluffende vormbeheer het min gelyke. Die distigon, sonnet, ballade en kwatryn, beheer sy behendig. Sy is ironies; ander kere satiries soos in “Wespark”; dan weer nostalgies en in latere jare selfs (self)verminderend. 

 

En selfs ‘n bietjie stuitig in “Die ouderdom is nie noodwendig saai” met die dubbelsinnige slot.

 

Daar is gedigte wat elke digkuns-liefhebber met sig saamdra soos “Orkaan”, wat selfs ‘n pendant vind in ‘n gedig van die Suid-Afrikaans gebore Jonty Driver in Still further (2021). Ander klassiekes vir my is "Taalles" en "Navrae":

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur

twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

 

'n Sentrale vers in hierdie versameling is die "Voetjie vir voetjie", omdat gedigte róndom migrasie en aanskoms nuwe betekenisse en implikasies genereer.

 

Voetjie vir voetjie

 

Voetjie vir voetjie word mens immigrant ...

Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand

op hierdie teennatuurlike terras

sonder om ooit onloënbaar aan te land.

 

Die latere Eybers spreek veral tot hierdie leser waar sy ironies kyk na die "hardvogtige selfbejag" van die digproses ("Voortplantingsrym" uit Winter-surplus, 1999).  Die “beproefde patologie van poësie”, soos sy hierdie proses in "Verklaring" uit Verbruikersverse (1997) tipeer, neem ons na haar vreeslose laatwerk. Sy het getransformeer van die “vroulike aanvulling tot Dertig” tot ‘n skildery deur die internasionaal-bekroonde Marlene Dumas.

 

Daar is 'n handige indeks met eerste reëls van gedigte en verwysings waar gedigte staan. Om die tema van immigrasie / migrasie vind ons 'n sinryke versameling oor teenstellings en die soeke na balans. ‘n Groot versoek: plaas asseblief die samesteller se essay [1] in die boek. Skutblaaie raak allengs verlore.

 

Daardie grensgebied tussen liggaam en gees verwoord sy, soos Jansen uitwys. Eybers se idiolek is noteer, agteloos, tintel, allengs, sintels, respyt, gewrogte, bedolwe, om ‘n paar uit te sonder.

 

Hierdie is 'n keuse vir elke poësieliefhebber en met die boeiende tematiese keuses kry gedigte  langs mekaar geplaas nuwe betekenisse. Hierdie leser was opnuut so onder die indruk van ‘n digkuns wat stadig geheime prysgee; dikwels weifelend tussen implikasie en ‘n hartwankelingsdroom. As ‘n Röntgen-foto. Sy kyk deur die “tralies van tyd” met die wete:

 

Afbeelding oortref weer die werklike ding (“Weerkaatsing”).

 

Op ‘n koue wintersoggend lees ek gedigte uit hierdie bloemlesing voor vir my buurman en hy knik instemmend sy kop oor hoe goed “Taalles” is en hoe sy selfs in ‘n klein kwatryn jou ontroer:

 

Vir Bert

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die digkuns as noodluik én onderdak. As kruis of munt. Met elke herbesoek van hierdie bloemlesing vind die leser nuwe aspekte van hierdie meester(es) van implikasie. Immigrant én Emigrant. Hier en daar. En al die genderopposisies waaroor Cixous skryf in Sorties (Uitgange) kan jy aflees in haar gedigte …

 

‘n Groot dank aan Ena Jansen se goeie oes.

 

Vir Eybers dan:

 

Elisabeth Eybers: Pegasus

Joan Hambidge

 

Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,

boetseer die ritme van jou vaart ...

Elisabeth Eybers: Amasone

 

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer; 

dit wis jy met afstand én ironie in selfbevestiging. 

In die verte tot woordimmigrant gepromoveer, 

ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding. 

Uitermate of uitgedien word hierdie digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?



















Elisabeth Eybers op Prins. In ‘Rit voor die storm’ en ‘Tuiskoms in Junie’ 

skryf sy oor haar perd.


[1] Ena Jansen, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam · dbnl


 

Monday, May 10, 2021

Resensie | Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel | Tafelberg, 2021

Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 092278

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Om Nootvat.Kwashaal.Stapel. kort en kragtig op te som: slim én ontroerend. Bernard Odendaal se tweede bundel verskyn 14 jaar ná sy debuut Onbedoelde land.

 

Emosionaliteit word in ons samelewing veral gekoppel aan vrou(like) en vrouedigters. Die liriese uitstulpings word dus so gekodeer, maar gaan kyk maar na hoeveel manlike digters - in navolging van Opperman se tipologie - eg emosioneel dig: C.M. van den Heever, W.E. G. Louw, onder andere.

 

Odendaal boor 'n sterk emosionele aar raak in sy nostalgiese herinneringe aan 'n Vrystaatse jeug waarin daar vele ontnugterings en afleggings in die hede opgesluit lê. In die pynlike lykdig word 'n skoolmaat se lewe opgesom tot die onafwendbare einde van die mens wat sowel polities as emosioneel 'n buitestaander was. Dit heet ironies "Reünie" met die naam van die oorlede onderaan die titel: Daniël Craven Krause (09/01/1954 – 12/01/2017). So word die persoonlike aard van hierdie treurvers beklemtoon met die digter wat dit koppel aan 'n bepaalde mens. Die vers word terselfdertyd 'n stuk geskiedenis van die digter se lewensloop.

 

In "Apostroof" – met 'n kopknik aan Fanie Olivier – word die gestorwe ouers aangespreek:

 

Ou stylgreep, Pa, Ma:

dié aanspreek van afwesiges,

spookgesprek met dooies.

 

Die lykdig vir die bekende taalkundige Christo van Rensburg eindig met 'n treffende slot:

 

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos van insekte, teen die voorruit.

 

Want hierdie man se taalkennis laat die digter sy vers so begin:

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

Die vers oor Olga Kirsch word méér as literatuurgeskiedenis. Die digter vereenselwig hom met haar lot as buitestaander verlangend na die vaderland. Dit is opvallend hoe hierdie digter telkens deur vele digters tans vereer word; waarskynlik omdat sy iets simboliseer van onbegrip, van verydeling en verlange na 'n vervloë wêreld in hierdie dae van onsekerheid.

 

Die emosionele aspek word met 'n intellektuele aanslag gesinkopeer. Die digter is aanbieder van kreatiewe skryfwerk, en vele gedigte analiseer die komplekse prosesse van hoé die digter sy jong leerders van raad moet bedien. In hierdie opsig sluit sy digkuns aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê, daardie briljante digbundel uit 1975, waarin grammatika en taalkonstruksies die onderwerp van die digkuns word.

 

Daar is vertalings en ómdigtings van bekende verse. Eweneens vind ons swermgedigte en gedigte geskryf vir installasies by 'n kunstefees. Daar is selfs blokverse, met ander woorde, gedigte in blokke geplaas. Daar is pragtige sms-haikoes, met daardie skettertaal so bekend aan ons:

 

stormwatrpypvonds:

jweelstukke & vrminkte

jnkvroulyk

*

“lyk” na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been v kind

*

boer mt ystr doodgslaan,

2de mt ’n graaf

toe vee werkr stoep

 

Telkens word die grense tussen gedigte geproblematiseer en die vers self word 'n reisiger in 'n diasporiese wêreld pynlik geïllustreer in die her-besoek van "Chicago", daardie ikoniese vers van Carl Sandburg, seun van Sweedse immigrante, eerste VSA-digter vir wie Engels ’n tweede taal was, lui die onderskrif.

 

Taal word nuut besoek: die probleme rondom die dubbele nie in Afrikaans (met erkenning aan Hester Waher, die taalkundige onlangs oorlede)  en ons vind selfs 'n gedig wat heet "kleitrap met die verlede tyd". Hierom is sowel Steyn as Wallace Stevens (die groot Amerikaanse modernis) rigtingwysers vir die speurende leser. Van Wyk Louw word herbesoek en gehuldig in "Valsbaai". Geliefde en ontslape digtervriende soos TT Cloete en IL de Villiers word aangespreek en daar is gesprekke met digters uit die Lae Lande.

 

"Let's get real" is 'n aweregse ars poetica waar die begeleier van die digkuns homself aanpraat oor waar 'n geslaagde gedig nou eintlik vandaan kom. Die langer prosaverse word soos die praatverse met konkrete beelde verbind. Die grafika van verse word goed benut soos die digter ons waarsku in die motto's en illustreer in "Swemgala-toeskouer" waar 'n  Wallace Stevens-bundel amper uit die digter se hande val.

 

Jacques Brel word ingeweef en die spel met die rondeau-vorm bewys die digter se liriese aard. Andersyds debunk hierdie bundel die idee dat 'n gedig net spontaan gebeur:

 

Alle poësie en melodie

was mooitjies mááksel  ("5. Uit die bloute")

 

Die digter skep 'n multiversum en die gedigte word 'n palimpses van tekste wat verwys na ander tekste.

 

Die Sehnsucht en nostalgie loop soos 'n swart draad deur hierdie bundel oor alles wat weggefletter het en word puik verwoord in "Die wanhopiges" na Jacques Brel se “Les désespérés”.

 

Hierdie bundel werk soos Terence Malick se film Tree of life (2011) met Sean Penn en Brad Pitt waar 'n pynlike familiegeskiedenis saamgesnoer word in herinnering en fantasie. Harold Bloom se studie oor die Kabbalisme is eweneens hier tersaaklik, Kabbalah and Criticism (1975), waarin die mistieke dimensie in ouer tekste behandel word. Die sogenaamde ‘revisionary ratios’ beteken immers 'n terugkeer na die bekende, ouer tekste. 

 

Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is kwashale (konkrete beelde) wat hier van stapel gestuur word. En in die lang bronlys verduidelik hy die begrip stapel soos volg: die intertekste wat naas eie skeppings in die gedig gestapel sit. Stapel soos in opstapel: verskillende gedigte uit verskeie publikasies en mediums is nou in een boek te vinde.

 

Hierdie bundel kan as metamodernisties tipeer word, 'n samesnoering van die modernisme en postmodernisme. Dalk uiter hierdie bundel 'n soeke terug vóór die ooglopende spel met tekste? Hierom dalk die verlange terug na oorspronklikheid met die wete dat die finale vers uit soveel ander tekste "gevorm" is? Teensange en palinodes kenmerk die aanslag.

 

Die intellektuele leser word gedwing om weer na te dink en vir die liefhebber van die digkuns is hier gewoon hartgrypend-mooi gedigte.

 

Dit is 'n pragboek.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Sunday, July 19, 2020

Resensie | Jakobus van der Riet - Die heimlike heiligdom | Protea, 2020

Jakobus van der Riet: Die heimlike heiligdom. Protea, 2020. ISBN 978 1 4 853 1022 8

Resensent: Joan Hambidge

Jakobus van der Riet se Die heimlike heiligdom is sy tweede bundel na Die onsienlike son (2012). Hierdie tweede bundel bestaan uit aangrypende sonnette oor heiliges. Die heimlike heiligdom soos in die kenbare, die sigbare, die aanvaarbare teenoor die “unheimliche”. Freud se bekend term Das Unheimliche roer dus in die ondergrond. 

Die bundel bevat 'n vyftigtal bepeinsings of meditasies oor heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. Die digter verskaf ook endnote vir die leser. Die digter is ’n geordende priester in die Griekse Ortodokse kerk. Ons verneem ook dat hy die grade behaal het in die Teologie en Klassieke Tale, en ’n doktorsgraad by Wits verwerf het oor die digkuns van Horatius, Catallus en Tibullus. Hy kombineer tans die Ortodokse priesterskap in die bisdom van Johannesburg en Pretoria. Verder verneem ons dat hy ook bibliotekaris is.

Dit is 'n bundel wat sterk tot hierdie leser gespreek het om 'n verskeie redes. Die beskrywing van die meditatiewe en religieuse dimensie – soos in die verse van Sheila Cussons – is boeiend. En terselfdertyd kom 'n mens onder die indruk van die digter se óngelooflike tegniese beheer.

Die religieuse lewe bring hy hier onder woorde byvoorbeeld in die “Die Heilige Evangelis Lukas” (14) waar hy hom so tipeer:

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

met 'n die pragslot:

Lukas, kyk hoe tref die litotes en onderbeklemtoning,
sodat die gegewens des te meer uit die boekrolle spring.

Boonop is Van der Riet se verse in oortuigende sonnette verpak. En wanneer hierdie vorm oortuig, beweeg die gedig moeiteloos. 'n Swak sonnet staan uit soos 'n pap wiel.

Die klinkdig is 'n strikte vorm hetsy die Petrarcaanse (Italiaanse) of Shakesperiaanse (Engelse) vorm. In Engels is daar ook die Spenseriaanse-vorm. En vele afwykings bestaan; o.a. die gebreekte sonnet so meesterlik uitgevoer deur Johann de Lange. Hennie Aucamp het puik sonnette geskryf en dikwels is beoefenaars van die sonnet ook liefhebbers van die kwatryn. Opperman en Eybers byvoorbeeld, en die reeds genoemde Aucamp en De Lange.

Die beoefenaar gee sy of haar interpretasie van die vorm.

Die Italiaanse sonnet (met die oktaaf en tersine) het 'n keerpunt (volta). Die Engelse sonnet volg die abab cdcd efef gg-patroon met 'n verdeling tussen drie kwatryne en 'n sluitende koeplet. In Break blow burn, daardie verruklike studie wat in 2005 verskyn het, sonder Camille Paglia tereg die sonnetvorm uit as 'n gunsteling. Met twee van Shakespeare. 

Emosie word in so 'n vorm gekristalliseer, verduidelik sy. En dis die essensie van Van der Riet se gedigte – die emosie word in beheer gehou deur die vorm waarin hy dit giet.

Van der Riet dig oor vele heiliges in Griekeland, Kappadosië, Kiëf, Konstantinopel en ander plekke. “Die heilige Kassiani die gesangdigter” het geleef tussen 834 en 867 N.C. Van haar gesange word steeds vandag nog gebruik. Sy het die ikonoklasme teengestaan met die bekende woorde: “Ek haat swye wanneer dit tyd is om uitgesproke te wees.”

Hier lees ons:

vir jou wat jou veer so diep kon doop in die psige se ravyn,
om ons die maanlose nag van selfverwyt en berou te toon? (38)

Hierdie bundel het my geneem na Helen Gardner se se antologie A Book of Religious Verse (1972) en hoé religieuse gedigte 'n bepaalde leser opeis, en ook haar eweneens beroemde studie oor John Donne: The Divine Poems of John Donne (1952).. Gardner was immers 'n Anglikaan en haar studies oor T.S. Eliot is uitstaande.

Hier is 'n gedig:

Die Heilige Paisios van die Heilige Berg

Jy vlieg verder, swerfvalk van God,
op jag na die tergende, lokkende prooi
wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot
aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.

Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,
in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;
by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.

Jy sweef hoog, malmok van die Gees,
omsirkel die pole van ons gefolterde eeu
tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees
die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.

Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;
naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –
tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.

Dit is 'n pragtige, aangrypende bundel. En uiters leersaam.

Hierdie bundel neem sy plek in langs groot religieuse digters in Afrikaans, onder meer W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw (“Vier gebede by jaargetye in die Boland”), Sheila Cussons, I.L. de Villiers, T. T. Cloete. 'n Goeie balans tussen die konkrete en die abstrakte dimensies, opgevang in die die 14 reëls van die sonnet met sy metriese eise.

Dit word bemark as bepeinsinge of meditasies, maar dit sluit aan by die lang tradisie van die sonnet in alle tale. En hier is 'n moderne sonnet van een van my gunsteling-digters:

Sonnet

Afternoon sun on her back,
calm irregular slap
of water against a dock.
Thin pines clamber
over the hill’s top –
nothing to remember,
only the same lake
that keeps making the same
sounds under her cheek
and flashing the same color.
No one to say her name,
no need, no one to praise her,
only the lake’s voice — over
and over, to keep it before her.

Robert Pinsky


Jacobus van der Riet



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)