Monday, November 25, 2024

Resensie | Eunice Basson – ’n Ander wêreld | Protea Boekhuis, 2024

Eunice Basson – ’n Ander wêreld, Protea Boekhuis 2024. ISBN: 978-1-4853-1580-3

Resensent: Joan Hambidge

 

Die digter as argivaris

 

I

Die digkuns, soos die skilderkuns skep, ‘n ander of verbeelde wêreld. Die kunstenaar in ’n gedig of skildery probeer iets vasvang van die wêreld van die jeug of dit wat eens was. ‘n Skildery en gedig laat jou anders kyk na die wêreld. Oscar Wilde het opgemerk in 1891 in The Decay of Lying:

 

“Sunsets are quite old-fashioned. They belong to the time when Turner was the last note in art. To admire them is a distinct sign of provincialism of temperament. Upon the other hand they go on.”

 

Eunice Basson, ook kunskenner, verwys in haar bundel na die “gearseerde vistas van ’n geleefde lewe”, oftewel die aanbring van min of meer parallelle lyne. 'n Tekentegniek wat gebruik word om sowel skakering as tekstuur te skep. Dit staan opgeteken in “Einder” vir John Clarke (1946–2021) op bladsy 28. Donker en skadu’s loop reg deur die bundel waar sy kyk na familie- en ander verbintenisse tussen mense en landskappe.

 

Die sirkelgang is opvallend in hierdie bundel se afdelings: landskap, stillewe, homo homini lupus est en botsels. Met bome wat mense altyd oorleef. (‘n Digbundel gee wel iets terug aan die boom, by wyse van skrywe.)

 

Die slotvers “Op slot” gee soveel sleutels vir die ontsluiting van hierdie bundel:

Hier leef sy al vir baie jare: 

 

’n sakwurm toegespin aan haar eie tak. (68)

 

Die binnewerking van klikkende slotte (en sleutels) en die verweer teenoor die bedreigings van buite. 

Hierdie bundel ondersoek die kruisings tussen mense: swerwers en dié wat boemel.

 

Motte, uile, geitjies, rotte is eweneens van die besoekers wat sy beskou. Motte lyk soos vlaggies wat aan die gordyne hang.

 

Preller se catalogue raisonné oor die Mapoggervroue gee haar besondere werkswyse weer. Van boek en herinnering tot gedig:

 

Menige skilder uit die stad is deur dié kantige

skouspel bekoor voor die natrek 

van ’n ander soort raam oor die ganse land 


(“Anderkant Wonderboompoort”, 25)

 

Dit word eweneens ‘n kunsbesinning.

 

II

Vir hierdie leser is die sterkste gedigte waar die familie in oënskou geneem word soos in die klein geskiedenis opgeteken in “Legkaart” (35) met verbleikte lanferlinte wat die dood van kinders na vore bring. Helaas eers wanneer sy gereed is om daaroor te praat op haar eie sterfbed. Die fokalisator in hierdie gedig maak die stemlose moeder dus stemhebbend. Ook die vader word lewe gegee wanneer sy plante natgooi en onthou dan die pa wat lood oor die roes soldeer in die gedig “Waterdraer” (36).

 

Dit word egter meer as ‘n gedig oor potplante natgooi. Die digter-as-spreker erken haar skatpligtigheid aan die vader vir die lewenswyshede uit sy hand ontvang.

 

Wie kyk? Wie praat? Verskillende stemme word saamgesnoer in die digterblik.

 

Die bundel werk dikwels met rituele en alchemistiese prosesse. “’n Ander wêreld” is ‘n sentrale vers: die moeder se vaas is nou die spreker s’n; nes die doepa-resepte wat die moeder gebruik het om die krismisrose te laat gedy. En die krismisrose blom veral in haar gedig waar toeka se tyd teen nou geplaas word. Só gelees is die verse nostalgies, maar nie sentimenteel nie. Die emosies is verwerk, maar dwingend. “Niemand meer om te vra nie” (38) wys op die verdriet van só ‘n terugkeer in die tyd: dit is vir altyd afgehandel en “lê al jare lank onder beton gekompakteer”; buite bereik van, met ook die digter as die argeoloog …

 

Die dood van ‘n broer word met intense deernis beskryf in “’n Ander soort dood” (43). Die swart enkelma en almal wat buite die orde van die aanvaarbare leef, kry in hierdie bundel ‘n stem.

 

In “Pentekening” word die Griekse digter George Seferis opgeroep danksy ‘n vertaling van Dian Joubert. ‘n Stuk ironie hier: hy was werksaam in Pretoria as diplomaat.

 

III

“Dulce et decorum est pro patria mori” speel in op Horatius en natuurlik Wilfred Owen se klassieke EWO 1 vers “Dulce et Decorum Est”, postuum gepubliseer in 1920. “It is sweet and fitting to die for one’s country.” Dit is ‘n anti-oorlog gedig en uiteraard verpak met ironie. 

 

So praat Basson met die klassieke vers:

 

“Dulce et decorum est pro patria mori”

Gedagtig aan die gedig van Wilfred Owen (1893–1918) 

Vir Piet Liebenberg (1961–1982)

 

Tuis het ’n generaal op ’n ou tafeltennisblad

’n slagveld in die kleine met kontoere en koppies 

van gips gebou en vir struikgewas droë seewier 

groen gekleur.

(…)  op bladsy 57

 

Daar is ook verwysings na Gazala in ‘n ander oorlog en al die oorloë wat ons tans beleef.

 

Plaasmoorde, verbranding en doodmaak vir moetie en die ellendes van ons tyd word ondersoek. Die wreedhede van oorlog word beskryf o.a. in “Die Anatomieles van dr Al-Tubaigy Gedagtig aan Jamal Khashoggi (1958–2018)” (60) met ironiese toespelings op Rembrandt se skildery uit 1632 wat heet The Anatomy Lesson of Dr. Nicolaes Tulp.

 

IV

Irvin D. Yalom, die Amerikaanse psigiater (indertyd verbonde aan Stanford) merk in Love’s Executioner and Other Tales Of Psychotherapy (1989) tereg op: “One of the great paradoxes of life is that self-awareness breeds anxiety”.

 

Lykdigte, portretverse, memorie verse, kunsbesinnings, politieke gedigte en feministiese perspektiewe vind ons hier. Homo homini lupus aktiveer die spreuk: Homo homini lupus est:

 

Die wreedheid van mens tot mens.

 

Hier word die angs, verdriet én melancholie netjies versteek in ‘n goed afgewerkte bundel wat die speurende leser sal bekoor.


Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot aan die UK. Haar bundel Asindeton verskyn in November by Protea.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, November 18, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - O die Stellenbosse boys kom weer … | 2024

I

Daar is uiteenlopende reaksies op die Wilgenhof-sage wat nou al geruime tyd in die pers afspeel. Vir sommige lesers is dit vervelig. Vir ander ‘n belangrike polemiek, omdat dit lig werp op die verskillende sieninge oor tradisie en vernuwing. Vir sommige (opnuut) ‘n bewys van wit bevoorregting. Daar is ook die Wilgenhof Bond met hul sieninge.

 

Hierdie skrywer is ‘n oud-student van die US, ‘n voormalige Raadslid aan die US en ken die meeste van die rolspelers persoonlik.

 

Die aangrypende inhuldiging van die Kanselier, Edwin Cameron is meegemaak met ‘n masker op die gesig. In ‘n voorste bank gesit om beter te kan sien en hoor.

 

Twee kollegas se seuns is eerstejaars in die koshuis. En vele beriggewing beklemtoon die rasseharmonie en die vreugdevolle saamwees. Voormalige swart inwoners het dit eweneens bevestig. Die ouervereniging bewys dit ook.

 

Dat hierdie jongelinge se geluk getemper word deur verskuiwings én renovasie is nie in orde nie. Wilgenhof het gesiene persone opgelewer: van regters tot boekeredakteurs; van intellektuele tot regsgeleerdes; van sakemanne tot dosente …

 

Om die hele kwessie van ad hominem-aanvalle te systap, gaan daar eerder gefokus word op die saak. 

 

 

II  A penny for your thoughts

 

Die kanselier se onthulling dat die verslag voor die Raad gedien het sonder dat hierdie redigering (aanpassing) met hulle gedeel is, was die rede vir sy skrywe. Met gesprekke tussen hom en die rektor en raadvoorsitter (Wilgenhof/ Edwin Cameron vs Wim de Villiers - DOCUMENTS | PoliticswebBesoek 7 November 2024). 


Op Sondag 27 Oktober word dit in Rapport aan die groot klok gehang.

 

Weer eens is daar wye reaksie, onder andere, van die voormalige kanselier Johann Rupert, wat bekend maak dat hy ook met die rektor hieroor gepraat het. En ‘n brief wou skryf. Koos Bekker maak eweneens sy stem dik oor dubbelpratery.

 

Die raadsvoorsitter antwoord op die aantygings in die Daily Maverick en slaan al die aanvalle weg asof die kritiek net ad hominem en teen transformasie gekant is (Why the Wilgenhof debate mattersBesoek 7 November 2024).


Een van die paneellede kan nie onthou wie in die kantoor was toe alles bespreek is nie, en die voorsitter van die paneel, ‘n advokaat, lewer snydende kommentaar. Hier is sy narratief: (Wilgenhof/ How and why we changed our report - Nicky de Jager - DOCUMENTS | PoliticswebBesoek 7 November 2024).

 

 

III Stellenbosch Universiteit se nuwe naam is glo Komiteefontein

 

Die kwessie van ‘n onafhanklike verslag – wat duidelik nie onafhanklik en objektief kan wees  nie – want rolspelers kon vooraf lees en kommentaar lewer, lei tot ‘n spesiale Raadvergadering op Vrydag 1 November.

 

Met die uitslag: ‘n komitee sal aangestel word om die hele kwessie te ondersoek.

 

‘n Onafhanklike verslag is dus aangepas asof ‘n professor die uitslag van ‘n nagraadse tesis verander het van revise and resubmit na small editorial changes.

 

 

IV Recti Cultus Roborant

 

Die Kanselier aan ‘n universiteit is die oppergesag. Die rektoraat en raad se besluite mag deur hierdie hoof gekritiseer word. Of aanvaar word. Wyle Elize Botha het onder andere die verandering in die taalbeleid ondersteun toe Chris Brink die rektor was.

 

Die kanselier is in Jacques Lacan se terme buite die Simboliese Orde: uitgesluit van die vergaderings of enige ander verbintenisse met die Kulturele Orde. Maar kry wél insae.

En hierdie kanselier druk nie net hande by gradeplegtighede of lewer ‘n toespraak nie. Hy lewer tersaaklike en belangrike kritiek op ‘n verkeerde of verdagte besluit.

Onafhanklik (aldus die sinoniemwoordeboek): selfstandig, independent, outonoom.

Ons beleef nou eerder ‘n verslag wat onbekook is.  Oftewel: ondeurdag, onoorwoë, onberade, ondeurdink, voortvarend, onbesonne.

 

Hier is die kanselier se verslag is nie nydig of gemeen nie. Inteendeel. Dit werk met feite.

 

 

V Divagasie

 

Nog ‘n komitee wat moet ondersoek? Dit word bykans soos Italo Calvino se If on a winter’s night a traveller waar die storie telkemale onderbreek word om opnuut te begin.

 

Metafiksie, ‘n storie-binne-in-‘n-storie. 

 

Wie gaan daardie komitee wees? En bekend gemaak dat Regter Kriegler dit lei …

Bloot om weer tyd te wen? Of ‘n blote Maskerbal? Daar was immers ook ‘n ondersoekspan ná Nefiegate, nie waar nie?

 

In ‘n roman is hierdie dobbel- én dubbelspel uitdagend soos in André Gide se klassieke roman Les Faux-Monnayeurs (Die vervalsers).

 

Aan universiteite word die beeld én die simboliese kapitaal ónherroeplik geskaad.

 

Al het die rektor die universiteit se internasionale aansien verander en etlike biljoene ingesamel, bly hierdie kwessie problematies. Die wat rein-van-hart is en voel die rektor word alweer aangeval, moet die sogenaamde “aanvalle” binne konteks sien. Ons leef in die tyd van openbaarmaking.

 

Hy wat leef met die swaard, sal val in die swaard. Hy wat verdoesel, sal ontbloot word.

 

Só dus weg van die rolspelers of persoonlike aanvalle: sit al die kaarte op die tafel.

 

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en senior navorser aan die UK. Sy was ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch van 1975 – 1979.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Sunday, November 3, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Oorlog | 2024

I

Vyftig jaar gelede was daar ‘n unieke regsgeding in Frankryk. Dit handel oor ‘n lastersaak tussen Jacques Isorni, ‘n Franse regsgeleerde en ‘n Rooms-Katolieke priester, ene Georges de Nantes. Isorni het ‘n boek geskryf The True Trial of Jesus Christ (1967). Die Romeinse goewerneur word hierin blameer vir die kruisiging van Jesus.

 

‘n Rusie het uitgebreek met die priester wat Isorni beskuldig het van ‘n eensydige interpretasie van die Nuwe Testament in ‘n poging om die kollektiewe skuld van die Jode óp te hef. 

 

Isorni het gevra vir een frank kompensasie in die skuldigbevinding van Vader De Nantes “as otherwise you will be justifying him for preaching the massacre of the Jews.” (French Court Asked to Absolve Jews from Responsibility for the Crucifixion of Jesus - Jewish Telegraphic Agency | Besoek 20 Oktober 2024).



II


Hierdie omstrede saak is opgeteken en ek het hiervan verneem in Die Burger se 50 jaar gelede-rubriek.

 

Ons leef in ‘n tyd met ‘n slopende oorlog in Israel en Gaza. Met pro-Palestina en anti-Israel standpunte. Ons beleef ook  die tyd van ‘n of/of en nie meer en/en nie. Die lyding van mense woonagtig in Israel, met jong mense wat gedwing word om te veg in ‘n sinnelose oorlog, stel Benjamin Netanyahu se veglustigheid gelyk aan alle inwoners in Israel. Vriende van my met kinders in Israel is net so uitgelewer aan die stommiteite van sy besluite. (Amper soos die struggle-jare in die Ou-Suid-Afrika met ‘n Vingerswaaier.)

 

Die menseslagting in Gaza is inderdaad op geen vlak aanvaarbaar nie.

 

Dit is helaas ‘n uiters ingewikkelde oorlog. Vyftig jaar gelede het Mevrou Golda Meir raad gaan vra in die VSA. Hierna was daar verskillende pogings om vrede en versoening te vind.


Universiteite regoor die wêreld eis vir boikotte teen Israel. As ons egter Israel universiteite sou afsny, wat van tuberkulose navorsing vir Afrika? Of wat van Arabiese dokumente wat in Israel bewaar word?

 

Gaan gelees gerus hoe goed vertaal Luan Staphorst Olga Kirsch se gedig “Nevertheless” as “Nietemin”. ‘n Gedig wat resoneer met die tyd nou: migrante. 

(Olga Kirsch. Vertaling van Engels in Afrikaans ("Nevertheless" / "Nietemin") / Versindaba | Besoek 20 Oktober 2024).

 

III

Gaza, die Wesbank versus Israel.

 

Palestina volgens die Koran is ook beloof aan die dienaars van Allah. Met profete soos Hazrat Ibrahim, Ishaq, Dawud, Yaqub, Sulayman, Zakariya, Yahya, Isa …

 

En Israel is ook ‘n  Beloofde land …

 

Die digter Magmoed Darwiesj en Olga Kirsch.

 

oorblyfsels/voice over van Breytenbach tree in gesprek met Darwiesj. In 2011.

 

Die digkuns is genadiglik wég van propoganda en eensydigheid.



IV

Hofsaak Pontius Pilatus

 

I

Op 8 Oktober 1974, 

in ‘n Franse distrikshof,

‘n hofsaak uniek

in die regsgeskiedenis.

Presies vyftig jaar gelede

in ‘n katkisasieklas 

luisterend aandagtig 

na die verhaal van Pilatus,

die praefectus civitatis 

van Judea: sy hande glo

in reine onskuld gewas.

Owerpriesters kry toe

die oorhand oor hom,

ofskoon geen skuld

gevind kon word nie.

Stuur Christus na Herodes

in daardie dae tydelik

werksaam in Jerusalem. Terug

weer na ‘n weifelende Pontius.

Barábbas, die moordenaar vry.

Die res van hierdie verhaal oor-

bekend en al uit vele hoeke bekyk.

Die katikisant, nou die digter teenoor 

Lukas se verhaal oor Keiser Tiberius.

Met al die klippe gepak op die pad.

 

II

Dáárdie hofsaak oor die lot 

van ‘n man: verbod om belasting 

aan die keiser te betaal, toe aangehoor. 

Dat hy verkondig:“Ek í

die Seun van God”,

het veral teen hom getel.

Pilatus se naam elders

net in kalksteen uitgekerf

by Caesarea Maritima,

pas in 1961 ontdek.

 

III

Jacques Isorni, ‘n regsgeleerde,

se lastersaak teen ene Georges de Nantes,

‘n Rooms-Katolieke priester, 5 dekades

terug, pleit om die kwytskelding 

van die Jodedom vir die kollektiewe skuld

van Jesus Christus se kruisiging.

Was Hy anti-Romeins, 

dalk ‘n vryheidsvegter? 

Of is dit gewoon ‘n stryd

soos Judea teenoor Galilea, 

Katoliek versus Jood,

kerk of sinagoge,

geld soos grond?

Hoe nou gemaak in hierdie tyd

met ‘n oorlog slopend, bloedig 

in daardie ruimtes?

 

IV

Uitspraak voorbehou.

 

Joan Hambidge


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)