Sunday, August 11, 2024

Rubriek | Samuel Beckett – En attendant Godot

I

Samuel Beckett se Waiting on Godot (En attendant Godot) word tereg geloof as een van die belangrikste dramas van die twintigste eeu. Dit is geskep deur hierdie skrywer tussen 9 Oktober 1948 en 29 Januarie 1949. Op 5 Januarie 1953 word dit opgevoer in die Théàtre de Babylone onder regie van Roger Blin in Parys.

 

Die karakters Vladimir en Estragon sit onder ‘n boom sonder blare : wagtend. En waarop daar gewag word, is al in die literatuurkritiek snuif getrap. Op God dalk ? Is daar hoop?

 

Niks gebeur nie, tot gebeur alles. Freudiaans, Jungiaans en polities geanaliseer. Selfs al gesien as vaudeville en ook as Laurel en Hardy. En die Bybelse verwysings het ‘n religieuse lesing selfs geaktiveer. In 1950 selfs beswaar gemaak deur Lord Chamberlain oor sekere woorde …

 

Dalk Kain en Abel ? Die Bybelse verwysings aktiveer ‘n apokalips.

 

 

II

 

Op ‘n Maandagoggend vind ek in my posbus eksemplaar nommer 251 uit 300. Die Franse uitgewer, Les Editions de Minuit,  het toestemming gegee vir die Afrikaanse vertaling mits daar nie meer as 300 gepubliseer word nie. (Toemaar, wil ‘n mens wrang uitroep : 300 tekste van só ‘n boek wat sou verkoop, is alreeds ‘n bestseller.)

 

‘n Afrikaanse vertaling, sopas uitgegee deur Naledi. Die vertaler is die gerekende Naòmi Morgan, professor in Frans, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. ‘n Kollega van Johann Rossouw wat Vernietig (Anéantir) van Houellebecq puik vertaal het. Ook die afgetrede klassikus Louise Cilliers wat vir ons Konstantinos P. Kavafis se Van Alexandrië na Ithaka en Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas in Afrikaans omgesit het.

 

Reinaard die vos is ‘n vrye vertaling van die klassieke teks Van den vos Reynaerde deur die digter H.J. Pieterse. Daar is ook Robert Schall se vertaling van die klassieke drama Faust.

 

Om ‘n paar belangrike tekste te vermeld.

 

Beckett het sý drama eers in Frans geskryf en toe self vertaal. Die hele kwessie van selfvertaling is iets wat Eben Venter ook aanraak. Decima was eers in Engels geskryf en toe vertaal in Afrikaans.

 

Skrywers wat sélf vertaal, kan dus met ‘n tweede teks verander en bysit of uitlaat. Venter se roman het ongelooflike taalvondse in die Afrikaans opgelewer.

 

Veral op ‘n taalvlak is dit ‘n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ‘n soort bewaringsaksie word soos die benaming van bossies: bababoudjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap en dawidjiewortel, skryf hy op bladsy 85.

 

Name in die Groot-Karoo en die taal van sy moeder kan nooit uitgeban word nie, net soos die benaming van daardie bossies nie vernietig kan word nie. Want die name is verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe. ‘n Besonder belangrike kwessie, juis in hierdie dae waar Standaard-Afrikaans opnuut gekritiseer word en variëteite beskou word as tale met ‘n gelyke status as die standaard. Politieke kwessies, inderdaad.

 

(http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=decima |  Besoek 11 Augustus 2024)

 

 

III

 

‘n Geskenk is hierdie boek, aan my versend deur die uitgewer, vir die honderdste verjaarsdag van hierdie drama in 2025. 

 

In die voorwoord wys Morgan daarop dat Suseth Brits dit uit die Engels vertaal het in 1970. En verder meen Morgan dat die vertaler behoort albei brontekste te bekyk. Dan in jukstaposisie word die vertaalmoontlikhede van die kulturele verwysings duideliker gedemonstreer (7).

 

Plek- en persoonsname word gedomestiseer of verafrikaans in navolging van Beckett se werkswyse. Sy gee belangrike endnotas om haar werkswyse te verduidelik. En daar is lieflike foto’s in van die repetisies in die Scaena teater in Bloemfontein. Wens ek was daar. (Soos in Kaapstad in 1980 toe dit opgevoer is in die Baxter met John Kani, Winston Ntshona, Pieter-Dirk Uys, Peter Piccolo en Silamour Philander onder regie van Donald Howarth.)

 

Wat hierdie Afrikaanse vertaling presteer, is dat ou (vir die meeste lesers vergete) tekste weer lewend gemaak word soos o.a. Marais se “Mabalêl, “Vet” van A.G. Visser en Totius se “O, die pyngedagte”. Leipoldt en Langenhoven is ook hier en Karel Schoeman met ‘n toespeling op ‘n Ander land.

 

Selfs die ou volksliedjie “Hier’s ek weer …” wat al soveel weergawes en selfs skunnige parodieë beleef het. Met Emily Hobhouse en die ABO.

 

Die samespraak tussen tale en kulture vind ons hier. 

 

Alles wat al gebeur het sedert Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar.

 

1861 tot verskillende stemme en teenstemme in Afrikaans.

 

Die Van Stadensbrug, volkspele, Bethulie, Ventersburg, Fouriesburg, Trompsburg, Petrusburg plaas die teks binne ons landskap.

 

IV

 

Hierdie vertaling bewys. dat ten spyte van al die burokratiese aanvalle op Afrikaans, vertalings en digbundels steeds ‘n sterk lewe aandui. Kyk hoe word Shakespeare en Tsjekof huis toe gebring in die Baxter-teater in Kaapstad. Kyk ook na die rol van Lucky en Ponzo.

 

Vet 

A.G. Visser

 

As ou tant Siena straat-op loop

Om antipon of spek te koop,

Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!

En sit hul sware stampers neer.

Verlede Sondag in die kerk

Merk ek nog weer die wonderwerk,

Die eienaardigste geval:

Sy wou gaan sit, toe sit sy al! (…)

 

Lawrence Venuti se demostikering van die vertaling en die belangrike rol van die vertaling as gerekende teks word goed beskryf in The translator’s Invisibility (1995).

 

Pozzo se pyp van Kapp en Peterson word aangepas met die pypmaker, Ebenhart Botha uit Calitzdorp.

 

Ons dank die Heer, saam met ou tant Siena, vir al ons gerekende vertalers en Naledi uitgewer, wat boeke huis toe bring.

 

Cueiller to gather, to pick en kyk hoe doen Madama Morgan dit.

 

En Godot? God op Frans is Dieu. Dalk eerder stewel (clodhopper) … godillot?

 

© Joan Hambidge

 

Bronne:

Martin Esslin. 1960.The Theatre of the Absurd.

https://www.theguardian.com/news/2002/feb/27/guardianobituaries.booksobituaries  | Besoek 11 Augustus 2024

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)