Thursday, August 26, 2021

Onderhoud | Met Dominique Botha | 2021

Die retoer van die verlede

is nooit op die brosjures uitgewys nie


1. Hoe het dit gekom dat jy in ‘n bundel sowel in Afrikaans as Engels publiseer onder die titels Donkerberg / Bloodwood uitgegee deur Anton Kannemeyer? Het dit iets te make met jou bestaan as hibried: Afrikaanse, Vrystaatse kind wat skoolgaan in Engels? Vertel ons iets van hierdie verskuiwing. 

Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag. My ouers wou ons graag ‘n breër ervaring van die wêreld bied en ‘n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ‘n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ‘n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.

 

Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners….more like us….haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ‘n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op ‘n verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal.  Dit is natuurlik ‘n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ‘n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ‘n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra. 

 

Ek het my roman Valsrivier in Engels geskryf, maar die slot het uitgeloop in ‘n treurvers roudig wat spontaan in Afrikaans ontstaan het. Ek vermoed poësie word neergelê lank voor jy nog jou eerste woorde uiter. Die klanke, geure en kleure van jou grootwordjare is die gietvorm van die verbeelding. 

 

‘n Poolse skrywer het gesê: “Om jou moedertaal te verlaat is om haar nog inniger lief te hê.” Ek was bekoor deur die herontdekking. 

 

 

2. Jou buiteblaaie – uitstaande mooi! – aktiveer Pierneef. Wat is die betekenis hiervan? 

Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

En vir my is Pierneef die digter van landskap, van hierdie landskap wat ek nog meer en inniger liefhet soos ek ouer word. In ‘n onderhoud het die skrywer John Berger hierdie fenomeen so verwoord:

We talk about about how it is possible to love a landscape like a familiar face. For Berger, that face is the Haute-Savoie. “This landscape was part of my energy, my body, my satisfaction and discomfort. I loved it not because it was a view – but because I participated in it.”

Die leuse ‘Dig where you stand’ as rigsnoer vir skryf en lewe anker jou in ‘n plek en ‘n tydvak. Weens die dubbeldooromslag moes ek twee buiteblaaie kies. Ek het in ‘n kamer ingestap en heel terloops die twee Pierneef kunswerke langs mekaar gesien. Daar word gesê “When the student is ready the master will appear”. In hierdie geval het die buiteblaaie hulself onthul toe die bundel gereed was.

 

Donkerberg gee ‘n vroeë landskap van Pierneef weer, olie op bord, terwyl die Engelse omslag Bloodwood inteleskopeer op ‘n pasteltekening van ‘n treurwilg langs ‘n rivier, so tekenend van die Vrystaatse platteland.

 

Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen uit die gedig voorbode. Daar is in werklikheid ‘n donker berg agter my huis. Die titel is dus gesetel in die konkrete, maar metafories ontplooi in die gedig en dan visueel vergestalt in die skildery. En in die donker donker huis is ‘n donker donker kamer… Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ‘n skilpop met lae van betekenis. Op ‘n soortgelyke manier dien die treurwilg as leimotief vir die elegiese verse. 

 

Onder leiding van Anton Kannemeyer en Sean Robertson is die verskeie lae van vormgewing bymekaar gebring in ‘n esteties bevredigende objek – indien dit nie te aanmatigend klink om saam te stem dat die buiteblaaie uitstaande mooi is nie, maar darem nie deur my toedoen nie.    

 

 

3. Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ‘n roman?

 

Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ‘n Roman moet ‘n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ‘n soeke na sin, en moet ‘n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intenstiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ‘n hallusinasie afspeel.

 

Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ‘n gedig moet juis wees. En elke woord dra ‘n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal. 

 

Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ‘n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ‘n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ‘n roman, ’niks’ kan net in ‘n  gedig gebeur, en jy moet ‘n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol weer te gee. 

 

Die bekende kortverhaal “For sale. Baby shoes. Never worn.” word toegedig aan Hemingway. Dis ‘n gedig, ‘n kortstorie en ‘n roman. Enige stuk skryfwerk is onvoldoende ingekleur. Mens moet nooit vergeet dat die leser die skrywer voltooi nie. 

 

 

4. Vertel iets van die elegiese gedigte. By jou is dit treurverse – wat die Engelse voorblad so aangrypend vergestalt. Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

Ek veronderstel dat die aanvangsreël die heersende toonaard van die bundel bepaal.  Ek reis met die witduif van my oë terug na die mooiweer en warm koninkryk. Met die intrapslag dus ‘n elegiese reis, die mooiweer en warm koninkryk ‘n verwysing na die verlore jeug, die witduif van die oë wat vredig terugkyk.

 

Daar is treurgesange oor die dood van familie, van ‘n vermoorde buurvrou; ’n lyksang vir  ‘n jong meisie in die fleur van haar jeug. Klaagliedere oor die gevreesde vooruitsig van die dood van die ouers. Die verlies aan ‘n droom vir ‘n beter toekoms vir almal. En uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word baie jare later in die afdeling van ‘die kind wat geen perke geken het nie’. Hier weereens, word die skrywe gerig aan die oorlede persoon,  soos die slotgedig uit Valsrivier wat ook in die bundel opgeneem is. 

 

Jy is nou ‘n rooigrasvlakte

In die sterfland

Waar laatmiddae aan jou wei

 

 

5. Ou Boerewoorde kom in jou gedigte voor – wat is die betekenis hiervan:

 

hartjiesgras  

douwurm 

skroefbors 

Nooienshaar 

Dis amper asof jy hierdie woorde in ‘n museum wil bewaar.

 

Dis eerder ‘steel’ uit die museum as ‘n impuls tot bewaring. Baie ou boerewoorde bestaan nog as kontreitaal, ‘n skatkis van woorde wat veral opgesluit lê in sekere ambagte en maniere van doen.

 

Hartjiesgras is byvoorbeeld die Afrikaanse naam vir eragrostis capensis wat algemeen voorkom op die hoëveld. As kinders het ons deur die veld geloop en die saadhuisies oftewel hartjies met die hand gestroop. 

 

Ek dink kinders is baie ingestel op die ligaamlike. Omlope, veldsere, koorsblare, luise, skurwe elmboë, al die gruwels waarmee oor en weer geterg is. Douwurm is ‘n omloop, of roosagtige kruipseer op die vel soos beskryf in die woordeboek. 

 

FA Venter se Kambro-kind is een van my gunsteling boeke. Ek het daar gelees van iemand wat sterf weens skroefbors. ‘n Baie treffende beskrywing van ‘n doodsangs of roggel of beklemming, al is die eintlike betekenis duister en nie elders te vinde nie.

 

En laastens verwys nooienshaar na ‘n endemiese plant wat in die Kaap voorkom en soos ‘n wilde bos hare verstrengeld oor ander plante groei. 

 

 

6. “Voorbode” vertel iets van die verhouding met die vaderfiguur. Hoe sien jy die ouers wat telkens in jou gedigte na vore kom. Of is hulle blote argetipes?

 

‘n Ouer vriendin het my vertel dat mens ‘n blywende behoefte het om nader aan jou ouers te kom, selfs baie jare na hul dood, en tegelykertyd so ver moontlik te probeer wegkom. 

Ouers is tog die oorspronklike mitologiese figure met voete van klei, en wanneer jy self later ‘n ouer word begin jy kleitrap met al jou eie onopgeloste verwyte en selfverontskuldigings. Jy is nie net in gesprek met jouself en jou ouers nie, maar ook met die generasies wat voorafgegaan het. Of is jy eintlik maar net in gesprek met jouself en die projeksie van jou skadu op ander?

Ek skryf baie oor die Pa, my pa. Ek sou hom nie as ‘n muse beskryf nie, maar eerder as ‘n karakter. Ek misbruik hom gereeld as ‘n stylfiguur. Die spesifieke kort gedig “Voorbode”  is eintlik ‘n vooruitskaduing van die vader se naderede dood.  

 

my pa word al hoe kleiner 

wanneer hy uitstap om my die maanlig

 op die werf te wys 

 

soos ’n grys ster bo donkerberg 

krimp hy tot
’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf 

 

My oorlede broer het ‘n tuindwerg gesteel iewers op ‘n reis na nêrens, en dit vir my ma teruggebring plaas toe as ‘n geskenk. Die verlore seun is met ‘n gemeste kalf van gemengde gevoelens ontvang. Sy was ontroer deur die gebaar, maar ook afkeurend oor sy gedrag. In my persoonlike diereriem van simbole is die belaglike tuindwerg verbind met ambivalente gevoelens teenoor die broer. In teenstelling met Percy Bysshe Shelley se Ozymandias met sy “two vast and trunkless legs of stone” en die inskripsie “Look on me ye mighty and despair”, is die tuindwerg ‘n ietwat komieklike gedenksteen, maar met dieselfde gevolgtrekking: Alles gaan tot niet. Alles is hubris.

 

 

7. Jy skryf soel, ruige verse – wie beïnvloed jou? Watter digters het jy (ge)lees?

jou grafsteen het geswel /

soos ‘n brood uit die sooie …

==

metafoor is die plofstof van skrywe /

en die lendene die lont

 

Ek lees The Big Five in Afrikaans, asook the little five en baie van die ander. Ted Hughes, Miroslav Holub, The Encyclopedia of World Poetry, Pablo Neruda natuurlik, Gabriel García Márquez se memoir is een lang gedig. Pasolini. Ferenc Juhazh. Afrikaanse name vir blomme en voëls. 

 

Ek hou van verse wat ek kan ruik, soos om in ‘n vertrek in te stap vol geurige tuberose (soetemaling?). Elke keer as ek ‘n nuwe boek lees wil ek soos daardie skrywer skryf. Woorde is aansteeklik. Musiek inspireer my, van Bach tot Bob Marley. Ek is egter lui.

 

 

8. Vertel iets van die politieke gedigte in jou digkuns. Jy laat jou uit oor Afrikaans en die politiek wat tans rondom alles insypel. (Bladsy 61) Daar is ook verwysings na die boereoorlog. Werkers wat aanwesiges / toeskouers is soos in ‘n Griekse tragedie …

Kommentaar.

 

Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ‘n Taal is ‘n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ‘n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ‘n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ‘n genuanseerde wyse benader kan word.  Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal. 

 

Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn, sal ‘n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, koerante, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ‘n nasionale bate.

 

My pa se oupa het die Groot Trek meegemaak; hy was ‘n jong seun in die 1850’s. My pa onthou nog hoe sy oupa vertel het van hoe lekker die trek was. Daar is gejag, uitgespan, musiek gemaak, en om die vuur gesit. Die Boereoorlog is ook nog deel van my generasie se verwysingswêreld. My oumagrootjie was in die kampe en ek het haar geken. Ouma Miemie. Bittereinders en hênsoppers is (meestal goedgesind) in ‘n tergende luim onder mekaar uitgewys. Hierdie vertellings is aangegee deur ‘n mondelingse tradisie wat besig is om uit te sterf. Daar is soveel nuwe dinge om van te vergeet. 

 

Ek sou sê die plaaswerkers en ons lewens was heeltemal vervleg alhoewel ons lewenservarings en vooruitsigte so uiteenlopend was. En ons kom deur generasies, gebind tot en deur ‘n stuk aarde en ‘n stuk gedeelde tyd.  Dis mense vir wie ek lief is.  

 

 

9. Hoekom is Eugène Marais so belangrik vir jou?

 

Omdat hy so mooi was? Geweet het hy is van hier? Hy was adel, hy was aards. ‘n Genie en ‘n mislukking. ‘n Prins en ‘n bywoner. ‘n Dwelmslaaf en die vader van sosiobiologie. Hy het Afrikaans staangemaak. Ek is maar een van vele wat geswig het voor sy onweerstaanbare teenstrydighede.

 

 

10. Jou broer loop reg deur jou digkuns. Is daar heling in die skryfproses? Of is dit ‘n illusie?

Jung het uitgewys dat ‘n mens by herhaling terugkeer na iets totdat jy dit ten volle begryp. Gaan jy akkoord?

 

Valsrivier het beslis heling gebring. Die skep van iets om te vergoed vir ‘n leemte – om te skep waar daar afwesigheid is – ek glo dit is die katarsis van skryf– en wanneer die persoonlike omvorm word in iets wat universeel aanklank vind, dan word dit literatuur. 

My broer is altyd naby. Sedert sy dood het hy geweldig baie vir my beteken. Ek het ‘n ‘siener’ geraadpleeg net na sy dood toe ek amper verswelg was deur smart, en sy woorde aan my, so aangegee deur die siener, was: Ek gaan nou baie beter kan omsien na jou as wat ek gedoen het terwyl ek gelewe het. 

 

Ek het vasgegryp aan daardie illusie en dit het my deur diep waters gedra. Natuurlik is daar altyd nuwe geleenthede vir verwonding.  Kuns is ‘nimmereindige katarsis’. Nietzsche het mos gesê: We possess art lest we perish of the truth.


 

11. Jy skryf ook reisverse, liefdesgedigte en ‘n selfs ‘n kaalbas-ars poetica. Kommentaar.

 

Om op reis te gaan is om van jouself ontslae te raak, al is dit net tydelik, want ‘jouself’ daag altyd weer op…’n Nuwe omgewing verskerp jou sintuie, jy sien en hoor soos ‘n kind, in verwondering of afgryse. Jy verstaan nie noodwendig die nuwe milieu nie. Om ‘n vreemdeling te wees is ‘n ondervinding verwant aan die vervreemding en vernuwing wat deel is van die skryf en die aard van poësie.

 

Mens reis ook natuurlik na binne, en na die verlede. En die liefde, soos die dood, is ‘n diep bron van inspirasie, waaruit baie slegte en soms goeie gedigte geskep word.  Daar word gesê dat die enigste werklike onderwerp in literatuur die liefde en die dood is. My kaalbas-ars poetica is maar net ‘n speelse variasie op ‘n oeroue tema:

 

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

En in daardie slotreël lê die uitdaging van vertaling opgesluit, want die sinspeling, geimpliseer deur die versluierde rymwoord, is die sleutel tot die betekenis.( In hierdie geval vlak eerder as diep, kru eerder as verfynd.) 

 

 

12. Gee ‘n gunsteling in Afrikaans en Engels, asb.

 

die kind wat geen perke geken het nie 

 

jou broertjies en susters was so hartseer 

soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal 

pa het in sy bakkie gesit en rook 

ma het die goedkoopste kis gekies 

om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie 

 

jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïe
se vreugdes 

onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil 

op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm 

het ons gelag vir die porra 

 

die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oe
̈
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword 

die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het 

met ’n mandje vol eiers en vere en skyt 

om meel deur die sif te mors 

 

niemand woon meer daar nie 

die vlei fluister deur die gange 

uile staan wag op niks 

 

jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste 

was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer 

 

ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus

en dronk op jou graf gedans 

 

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte 

wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil 

 

ons strydros wat stotterend 

weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep 

 


 

northern orange free state 

paul botha, july 1987 

 

come with me
to the bareback veld 

 

along numb horizons the wind has 

blown for days blown
blackening the trees between 

emptying mielie fields geese are 

breaking white beating 

a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing 

of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing 

erode the landscape into obscurity numbing 

horizons as it combs the sand
across my huddled landscape: 

 

come
come with me
to the bareback veld 

where the wind will distilling, blow 

 

you into me 

me into you 

 

 

Geluk met ‘n besonderse bundel.

 


© Joan Hambidge