Tuesday, August 11, 2020

Resensie | Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar | Tafelberg, 2020

Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar. Tafelberg, 2020. 

Resensent: Joan Hambidge

 

Francois Smith het bekendheid verwerf met die ongekende sukses van Kamphoer (2014wat oortuigend deur Sandra Prinsloo vertolk is in 'n solo-vertoning. Nou het sy tweede roman Die kleinste ramp denkbaar verskyn by Tafelberg.

 

Hierdie roman het 'n vreemde bekoring. 'n Dokter, ene Gustav van Aardt, bevind hom op 'n vervalle plattelandse dorpie. Hy moet 'n polisieman, Frans Schuin behandel met 'n bosluisbyt.

 

Daar is 'n eskar (oftewel die bytplek van die bosluis). Soos wat die dokter soek na merke op die lyf van die polisieman, sien ons die letsels in sý psige raak deur dit wat hy raaksien.

 

In én om die spreekkamer word ons voorgestel aan mense en ontvangsdames. Die wyse waarop hulle beskryf word – in ongelooflike détail – is opmerklik.Die ligroos-bogie van afkeur, die talkpoeier-grimas van minagting, is hoe 'n vrou se reaksie beskryf word (41).

 

By 'n besoek aan 'n township fokus die verteller op die seksorgaan van die baba. Skoene word bekyk. Tekkies en drafskoene en hoe iemand die hoofkarakter uitgelag het as kind. Die roman lewer eweneens kommentaar op onverwerkte jeugpyn en hoe dit oorgedra word op volwasse verhoudings. Die asblik van die onbewuste, verneem ons (39).

 

Ons sien hoe 'n man reageer op sy jeug en waarom hy besluit het om medikus te word. Die menslike liggaam word klinies en in mediese terme beskryf. 

 

Alles is nie pluis met Schuin se doen en late nie. Is hy net hier omdat hy deur 'n bosluis gebyt is? Die dokter stel ondersoek in en die leser word op 'n reis geneem asof dit 'n speurverhaal is met 'n oplossing. Dit is helaas egter 'n soeke na presies waar hy homself bevind na die verlating deur sy vrou en 'n seun wat hy nie begryp nie. Die musiek van Mahler is 'n belangrike kode nes die begeleier, Thys Teise wat hom van raad bedien.

 

Waarom is sersant Portia se naam en nommer in Frans se Schuin se hand?

 

Wat maak die Kubaanse dokter, Ojeda presies hier? Hoekom word dit ingebed in die vertelling? Wil die skrywer hiermee die oorlog in die ou-Suid-Afrika aktiveer? Of dat Kubaanse dokters nou weer in ons midde is? Kyk hoe word 'n dominee op sy oefenfiets beskryf.

 

Smith speel met vele kodes: die konvensionele liefdesroman met die dokter op die dorp wat deur die vroue begeer word, word hier nek omgedraai; die speurverhaal wat afstuur op sluiting of closure: hier is 'n verdagte of 'n probleem wat van jou die leser 'n speurder maak. Hier implodeer die roman telkens en blyk elke leidraad of kode 'n vals een te wees.

 

Dis geskryf met sjirurgiese presisie en ou Afrikaanse woorde word lewend(ig) gemaak. Is dit 'n analise van hoé ons eens idilliese platteland daar uitgesien het en dat 'n besoek van 'n wit man aan die township onmiddellik gesien word as 'n soeke na die transgressiewe?

 

Dit is 'n boek van displacement. Van abandonment. 'n Reis ín die psige ín, geskryf in keurige en soms outydse Afrikaans. 'n Mens blaai telkens terug om Mahler-verwysings weer te ontleed. Visconti gebruik die musiek van Mahler in sy film Death in Venice (1971). Daardie pragfilm oor onbeantwoorde liefde, nee, eerder 'n fantasie in die ouer persoon, gebaseer op Thomas Mann se novelle Der Tod in Venedig (1912). Mahler se naam was immers Gustav; die hoofkarakter is Gustav van Aardt; van die aarde dus.

 

En Mahler het as komponis ook 'n brug geslaan tussen die 19e-eeuse Austro-Duitse musiek en die modernisme aan die begin 20e-eeu. Hierdie roman wil dalk eweneens 'n soort oorgang wees van hoe Afrikaanse prosaïste oor die platteland gaan skryf.

 

Francois Smith vang in hierdie ondergestemde roman die "irony's edge" (Linda Hutcheon) vas van wat ons weet vir ewig verby is.  

 

Dit is 'n roman vir stadiglees, vir terugkyk en terugblaai. Soos wat Mahler se musiek tot gevolg het. Of soos 'n mediese handleiding waar jy die verskillende plastieklae geplak oor organe moet afhaal om by die essensie uit te kom.

 

Die belewenis van die indertydse bykans idilliese bestaan teenoor die tyd van onrus en onsekerheid word helder verbeeld.

 

Die voorblad suggereer iets van die essensiële. Geraamtes dalk van ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

No comments:

Post a Comment