Saturday, February 1, 2020

Rubriek | Die Boom

Vir bykans drie dekades lank staan daar 'n palmboom reg voor my studeerkamer. Drie verdiepings hoog en stil getuie van al my werksaamhede.

Elke jaar word die toppie van die boom gesnoei om die blare wat teen die dak waai in beheer te hou.

Maar hierdie somer ruk die wind hande uit. Die boom slaan 'n geut teen my sitkamervenster stukkend en die faktotum waarsku: hierdie boom gaan die dak nog afslaan ...

Snags hoor ek die kapgeluide van die boom. Tik. Tik. Tik.

Ek dink aan Elisabeth Eybers se wonderbaarlike gedig “Orkaan”, ja daardie boom wat 'n verwronge Don Quijot is waar die orent-bly gewoonte geword het.

Die hyskrane in haar gedig is soos blomstingels geknak ...

“En selfs die las van saploosheid lyk ligter hierdie jaar”, sluit sy af.

Háár smal dakkamer het soos 'n ark geknak; vir my het dit gevoel asof my woonstel sweef tussen die planete. Twee skepe kon glo nie die hawe in Kaapstad verlaat nie weens hierdie wind. Foto's van geknakte bome en huise sonder vensters word gedeel. Dakke waai weg. 'n Plastiekstoel het iewers van 'n balkon oorgewaai tot in ons tuin.
'n Briefskrywer merk tereg op in Die Burger hoe sterk die palmbome is. Hulle bly staan.

Hora est. 

My simbool van krag moet afgekap word en omdat die wortels so diep is, geen ander opsie nie.

Deur die jare het hierdie boom deel van my lewe geword en in 'n gedig skryf ek soos volg oor 'n ander boom:

Boom

Daar staan die boom.
‘n Bloekom met takke 
windsels bas afgeruk 
deur wind en weer só verweer. 
Droë blare teen vingerpunte 
herroep die skemerwêreld 
van herinnering.

‘n Kind speel boom-boom; 
sag onhoorbaar raas die wind daar-
deur. Bloekomtakke ruik na wind: 
wind word bloekomolie.
Skielik hoor die wind 
ons nie meer.

Die boom is afgekap.
Toe uitgekap. Kompos. Dor-droog.
Vrot. Deel van die aarde 
waaruit dit 
spruit.

(Uit: Palinodes. 1987)

Nog later in 'n vers oor “Delmore Schwartz”:

Om ‘n boom 
te teken 
helder afgeëts
teen die winterlug

verraai niks
van die grys dendriete
gevurkte bome
in die brein se weefsel.

(uit: Die anatomie van melancholie. 1987).

Die boomkapper word opgebel. Vanoggend staan ek en toekyk uit my studeerkamervenster hoe die boom opgekerf word soos 'n sjef wat 'n aspersie op 'n houtblok opkap.

Twee mans staan op 'n stellasie. Hulle plaas 'n tou óm die boom en begin dan saag. 
Eers die takke, dan lit vir lit.

Boomweefsel waai oor die dak. 

Ek maak die blindings toe.

Nostalgie en harde werklikheid bots nou.

Ek staan met my kamera in my hand – maar dis nie reg om so 'n lykskouing te fotografeer nie.

Troos myself aan die praktiese kwessies: die gevaar van 'n dak wat sal ineenstort; 'n boom wat kan omwaai; 'n duur versekeringseis.

Immers in Mosambiek by die Polana-hotel rakelings 'n stortende, groot palmtak gefnuik. 

Dae later wens ek dat ek maar tog dié proses afgeneem het. Net 'n stomp bly agter wat lyk soos 'n olifantpoot. 

Gaan die boom vuurmaakhout word of dalk 'n boek help maak?

Gelukkig is daar 'n foto wat my buurman geneem het van die boom in volle glorie.

Ek wonder of die duiwe my sal vergewe vir hierdie daad. 

© Joan Hambidge