Saturday, November 30, 2019

Resensie | Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019)

Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624089216.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ons leef in die Republiek van taboe. So staan dit in hierdie roman opgeskryf. Inderdaad so. In 'n tyd van ongelooflike sensitiwiteite en aandagekonomie. 'n Tyd van onmiddellikheid. Van die globale het die hier-en-nou geword. Van onsekerheid. Van linguicide. Littekenliteratuur. En wat nog. So word die roman opgesom:

Prokureur Ian Brand stuur 'n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van 'n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan 'n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe...

Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk 'n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik 'n onhaalbare ideaal.

En dit is inderdaad waaroor hierdie roman handel. Oor verglyding op alle vlakke: gender, leuens wat as waarheid paradeer, intellektuele bakens wat nie meer staan nie ...

Een emmer oor Rhodes se standbeeld het hoër onderwys verander in ‘n ommesientjie.

Die lywige roman karteer die #Rhodesmustfall- en #feesmustfall-bewegings en die impak op die moderne mens se lewe. 

Verskillende landskappe word ondersoek: Kaapstad, die Karoo, Matjiesfontein, Boedapest, Shanghai, Beijing ... Ook landsgrense het fluïed geword.

Die titel verwys na die vader se ervaring van die biblioteek en die moeder wat dit dan sien as 'n biblioteek aan die einde van die wêreld.

II

Rondom die dramatis personae, te wete Ian Brand en sy medestudent, Thuli Khumalo wat 'n kursus in vertaalkunde aan die Universiteit van Kaapstad volg, word die politieke omwentelinge van die afgelope tyd aan universiteite op 'n ryk, geskakeerde wyse onder die loep geneem.

Ian se seksuele verhouding met Elizabeth, 'n fiksie-uitgewer, gee ruimte vir kommentaar op wat uitgewershuise tans behoef. Dat nie-fiksie sterker as fiksie geword het. En vra die wêreld nie al hoe sterker verhale - in Philip Roth se woorde - as wat enige fiksieskrywer kan bedink nie?

Witheid, meertaligheid en die rol van jou eie taal, word aan bod gebring. Thuli verteenwoordig die swart teenpool: mense wat in die struggle geveg het en nou deur korrupsie uitgerangeer word. Haar reaksie op haar vader (wat ek nie vir die leser wil verklap nie) is 'n siniese kommentaar op wat skrywers doen. Sy vertrek na Sjina om navorsing te doen oor grond en die betekenis daarvan.

Daar word eweneens kommentaar gelewer op die huidige stand van sake in ons uitgewersbedryf. Die vrae wat hulle behoort te gevra het, word 'n kritiek op die digkuns wat 'n bedryf van gedigte oor die digkuns geword het met jonger digters en hul narcisme op sosiale media. Ook die juigende resensies word aangevat en die "kultuur onder beleg lek sy eie wonde" (254).

Hierdie roman is, soos Casspirs en Campari's uit 1981, 'n tydsdokument.  Die onnadenkende twiet van die hoofkarakter veroorsaak ernstige probleme. Die roman het 'n dubbele bodem (208): elke stelling of kritiek openbaar 'n ánder kant van die saak.

Rassisme, triggering, kunswerke wat verwyder word omdat dit mag aanstoot gee, word deel van die aanbod. Die twiet eggo Helen Zille se kolonistiese twiet.

'n Plastiese sjirurg se "verrukking" is die popliteale fossa (Popliteal fossa/ Anatomy and contents | Kenhub. Besoek 29 November 2019).

Kniefossas as treurige oë word 'n kommentaar op ons tyd waar alles reggestel kan word deur sjirurgie. Volgens hierdie kommentator is vel ook manipuleerbaar. Hy verander die gender van Snaar(tjie), 'n karakter uit In stede van die liefde (2005).

In 'n pynlike afdeling ("Trigger warning") lees 'n klasgenoot Jerome Maarman 'n verhaal uit sy lewe as bruin mens voor. In hierdie afdeling word rasvooroordele en hoe mense in die ou-Suid-Afrika verminder is (en selfs van diefstal beskuldig is) 'n pynlike onthulling. Ook wanneer Ian in sy "fuck buddy" se kas huil oor sy wete dat hy in wese alleen is.

Die beskrywing van ‘n ete aan ‘n ouerhuis in Welgemoed is in die kol. Boerboel en al met die soetpampoen en gestolde lamsboud …

III

Die roman ondersoek wat alles gebeur wanneer jy clickbait word. Dit is – soos reeds uitgewys – ‘n tydsdokument.

Soms word kwessies herhaal (uiteraard omdat dit vanuit verskillende perspektiewe beskou word) en die sondes van inlees, word soms netjies gepypkan (327).

Hoe die impak van dekolonisasie werk, word gesatiriseer in ‘n Monopoly-speletjie van Jack Lemkus, ‘n speelgoedsmous. (In die tekening van hierdie karakter is daar aardse dialoog soos “vanaand spring ons die poppe plat”, 337). Daar is ritte in ‘n Alfa en hierdie roman sou ook ‘n teks van paranoia genoem kon word. Die vrees vir afluistering en openbaarmaking loer om elke draai.

Die kwessie van gesigsherkenning (en verandering) kom ook aan bod. Hier trap ek fyn om nie die plot weg te gee nie, ofskoon hier ‘n skeut suspension of disbelief aan bod kom.

Piekenier? ‘n Uiters tersaaklike naam (Piekenier betekenis en definitie. Besoek 29 November 2019).

En is voolkop met opset so gespelle op bladsy 418?

Die verwysing na Boccacio se Decamerone (1313 – 1375) is relevant en die werklike restaurant in Stellenbosch word ‘n voertuig om die Stellenbosse mafia – wat hier vergader – te ontmasker. In Boccacio se raamvertelling word daar vertél om die swart pes af te weer. (Hier het ons sewe afdelings: Brandmuur, Tsotsikapitaal, Kwarantyn, Die Instituut vir Aanmoediging, Swart Suidooster, Hashtag Shanghai, Die blioteek aan die einde van die wêreld wat die storie raam.) Selfs die Spur se mitologie kom aan bod nes spuugbakkies en die Hoerikwaggo.

Vir sommige lesers mag die gevoel wees dat ons nog nie heeltemal presies weet waarhéén hierdie nuwe orde op pad is nie. Wat sou Flaubert met sy langdurige geduld hiervan gemaak het? Of moet ons eerder luister na Deleuze se Postscript on the Societies of Control? Susan Sontag se “Project for a Trip to China” praat ook saam (179) nes Paul French se Midnight in Peking (1937). Grensverhale versus littekenliteratuur. Niks kan meer weggesteek word nie.

Uiteindelik lewer die roman veral kommentaar op die posisie van Afrikaans, op die taal as etniese merker en hoe Ian Brand weet sy taal het getransformeer van kombuistaal tot hof- en wetenskapstaal (414). En hoe hy gesig verloor het oor sy twiet en kommentaar lewer op die nuwe kennissisteme wat ons lewens radikaal verander het. Hierom lyk die biblioteek van die toekoms anders vir sowel hóm as vir Thuli.

Vandaar die siniese opmerking: Die Biblioteek Wat Nooit ‘n Besoeker Sien Nie

Ander lesers mag dit loof vir die uitsonderlike blik op die hier-en-nou in ‘n tydvak waartydens loerbroer ‘n werklikheid geword het met kunsmatige intelligensie, die lewe as ‘n virtuele droom, kuberutopie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)