Tuesday, July 2, 2019

Resensie | Pieter Hugo – Alchemie van my muse (2019)

Pieter Hugo – Alchemie van my muse. Naledi, 2019. ISBN 978-1-928426-73-8

Resensent: Joan Hambidge

Pieter Hugo het gedebuteer in Nuwe Stemme 4, en van sy gedigte is sedertdien in 'n paar bloemlesings opgeneem.

In hierdie vaardige solodebuut word die spel met die tradisie van die digkuns ontgin in vorm én in die gesprek met ander digters soos Louw, Kirsch, Boerneef, gert vlok nel, Pieter Fourie, e.a.

Daar is behendige kwatryne (67):

Die liefde is n eendagblom,
ja, die liefde is n eendagblom,
Diéoomblik in die son
se skone vreugde laat ons stom.

*

Die lakens en komberse, 
ja, die lakens en komberse.
Dit raak soms lekker warm 
in hierdie volkse verse.

Die posisie van Afrikaans word heerlik satiries opgestuur op bladsy 10:

Afrikaans in die hiernamaals

Vanwyklouw sê nou onlangs vir Boerneef
in die ewige donker dors daar anderkant:
Jy kan nou ophou nalekokers vang, want
Afrikaans gaan binnekort hiér kom leef.

Boerneef antwoord: Moenie laat ek lag nie!
Jy sit jare net beiteltjie en kap,
mompel nenie nenie weetnie weetnie
en nou staan verstom jy my met n grap.

Nee neef, Lucas skeur toe die lug hierheen. Dis naar, 
sê hy, hoe proffies oor Kampuskaans kan kyf.
En Karel kom sê in daardie lewe het hy al klaar
die laaste Afrikaanse boek geskryf.

Maar die beste nuus wat hy gebring het,
is dat Breyten sê, as hý hierheen kom, 
op n ysterkoei se rug, met n lotusblom,
bring hy Die Taal, want dié lê al op sy sterfbed.”

Totius en Neelsie en Krige dans saam:
Afrikaans se dood maak ons plesierig,
ons almal sal van voor af weer kan dig
en so maak ons die taal weer dóódvernaam!

Adam Small stap in mette smileMy bru, 
djulles mos nou n wille kaart aant skiet.
Van Afrikaaps tot Pretôriôns issit 
dytlik. Aikona, hy kônoggie hystoe.

Taaleksperimente is daar, soos klankontginnings (Blik op dorp, 21) en ikoniese gedigte (Nine eleven eggo voort, 23). Die spel met die tipografie en topografie van 'n gedig, eenvoudig, maar treffend, soos bv. die slotvers wat reg onderaan die bladspieëlgeplaas word:

Stil

die stilste stil is
onder in die kis (76)

'n Uitdaging om 'n sonnet te skryf, word uitstekend gedoen wanneer die digterlike broer, Daniel Hugo hom in Woordstof(8) uitdaag:

Woordstof

Ek kuier lekker by my oudste broer
oor n droomdis van vis en baie wyn.
Ons gesels oor gedigte, boeke, pyn:
enkeldiep lê die woorde oor die vloer.

Skryf n sonnet. Dan is jy n digter!
daag hy my uit. Ek skryf die hele nag,
maar kry net kwatryne. So breek die dag:
kniediep lê die woorde, dronk, ontnugter.

Ons luister radionuus, ons lees koerant,
ons sink weg, verdrink in die alfabet!
Ek stofsuig alles op, van A tot Z,
die ganse woordgemors, van hoek tot kant,

maar die suier verstop letterlik. Met
die pyp se skud verskyn daar dié sonnet.

Die leser word bewus van 'n nostalgiese spreker wat 'n pynlike liefdesgeskiedenis onder die loep neem en boeiend skryf oor sy ontslape ouers.

Die besinning oor die digterskap is onthoubaar:

Die lewe is n kort gedig,
ja, die lewe is n kort gedig
en as dit nie meer rym nie
is dit bloot n doodsberig. (74)

Soms word die liefde doodgetrek gedekonstrueer en ander kere weet die digter dat wanneer 'n mens nóú oor die liefde skryf, dit helaas 'n intertekstuele proses word. Kenmerke van die postmodernisme om 'n gedig sous rature (under erasure) te plaas in Derrida se terme.

'n Mens vind hier 'n melancholiese spreker wat nadink oor sy posisie van manwees. 'n Snor word afgeskeer en die spreker is weerloos sónder sy snor en die tradisie van manwees waartoe hy behoort.

Die onvermoë om iets nuuts by te dra, word besonder sterk verwoord, veral in die gesprek met Louw en gert vlok nel;  'n besondere sterk afdeling waarin hy sy skatpligtigheid erken, maar die gesprek voortsit:

My Beaufort-Wes: 1 & 2

1: Vir NPvWL 

ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word
maar treine wat ver fluit
ongehoord in ou gedigte hoort

ek bly daar waar
die nasionale pad dag en nag dreun
en Gert Vlok Nel se ou fiets
soms verbyknerp, moeg, voor my oog

ek bly daar waar 
prossies sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe
die lorriedrywers vir hul toet

Ook Olga Kirsch word betrekop bladsy 32:

So gou

Hoe het dit so gou so laat geword?
Daar is so baie wat ons nog wil,
maar ons word skielik geKirsch en kil.
Hoe het dit so gou so laat geword? 

Die already said, bekend aan die postmodernisme word telkens nuut gelaai.

Soms tong-in-die-kies, ander kere is hy oop-en-bloot ontredderd. En Klipwerkkry nuwe lewe:

Die droëdam se wal, 
o, die droëdam se wal.
Met die oog op die kluite 
bly hoop ons maar pal.  (73)

Een van die besondere kwaliteite in hierdie bundel is om die aweregse te verwoord of die teendeel te besê. Die nie nie

'n Lykdig is eerder vir die skoonpa, as vir die biologiese vader omdat die pyn te diep gesny het:

Nie pa se gedig nie 

Nee, pa, dis nie pa se gedig nie.
Nege jaar gelede, toe pa dood is,
was die skielike gat net te groot.
Om toe vir pa te moes dig
sou net nie rym nie.

Nee, pa, dis my skoonpa se gedig hierdie.
Hy is ook skielik dood, tussen sy skape.
Regte skape, nie soos pa se kudde
wat pa met kanselwoorde
probeer lei het nie.

Nee, pa, hy't geen laaste woorde gehad nie.
Net soos pa is hy stomgeslaan deur die dood.
Al het hy vanoggend noukeurig skaap geslag,
al het pa pragtig oor die hemel gepreek,
wou julle nog nie sterf nie.

Ja, pa, 'n goeie gedig rym nie op nie nie.
Ek weet, pa, maar dood rym nie met lewe nie
en nou se hartseer gaan nie hou nie,
maar 'n pa se niemeerdaar nie
verdwyn net nooit weer nie.

7 Maart 2006

Die bundel se opdrag lui: Vir my merkwaardige muse.

Wie is die muse hier? Waarskynlik digters wat deur hierdie digter nuut aangespreek word in sy verse. Hy skryf op bladsy 66:

Mik tik-tik

Mik tik-tik die spyker met die hamer,
ja, mik tik-tik die spyker met die hamer.
Haal dan agterskoueroor
en laat dit Opperman deur die kamer.

En lesers van Groot Verseboek sal baie verwysings in hierdie bundel raaklees. So weet ons dan is Afrikaans nóg nie dood nie.

'n Sterk debuut met taaleksperimente, gesprekke, besinnings en ontginnings waar die gesprek oor Afrikaans voortduur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)