Friday, May 4, 2018

Resensie | Johannes Bertus de Villiers - Kalmte in die malle gejaag, mindfulness vir besige mense (2018)

Johannes Bertus de Villiers - Kalmte in die malle gejaag, mindfulness vir besige mense. Human & Rousseau, 2018. ISBN: 9780798175883

Resensent: Joan Hambidge

I

Hierdie sjarmante boek is 'n handleiding om stilte, ekwilibrium of geluk te vind: onder andere deur meditasiepraktyke. (Eenvoudige praktyke - soos wanneer jy bestuur of wag op iemand, kan jy deur vinnig op en af te stap, mediteer.)

Om in die oomblik te leef, eerder as om na iets op pad te wees. Iets wat die meeste mense helaas nie onder die knie het nie.

Moenie afgeskrik wees nie. Dit is 'n boek wat ek met vreugde gelees het. Die skrywer is nie swaartillend nie. Hy probeer sy loslit-sieninge met sy lesers deel. En ons het almal al die ervaring gehad dat die lewe sinneloos voel, 'n doellose gejaag na wind met 'n dead-line wat jy telkens moet haal.

Die eet van 'n rosyntjie ('n mooi oomblik van mindfulness) illustreer dit: in plaas van 'n handvol rosyne en grondboontjies wat jy in jou keel afgooi, bekyk en eet jy een rosyntjie. Net soos die speelse opmerking dat 'n mens wanneer jy eet, moet nadink hoeveel prosesse en gediertes by die bord kos betrokke was.

Het alle mense werklik 'n standaardvlak van geluk? Hoekom is party mense negatief en ander positief? Speel die amigdala in die brein 'n rol? Johannes de Villiers vertel sy lewensverhaal van hoe hy per ongeluk in Londen by 'n meditasiegroep aangesluit het en sy lewe verander het. En later besoek hy verskeie meditasie-sentra - en reis selfs na die reënwoude van Mianmar.

Daar is die verhaal van die man in Tibet met eelte op sy geplooide boude wat hy vir die wêreld gewys het. Jy moet kan sit! Om stil te wees, is dus nie altyd maklik nie.

"Loop asof jou voetsole die aarde soen", is die wenk van die Viëtnamese meditasiemeester, Thich Nhat Hahn (68).

Skrywers sal kan getuig hoe kreatiewe impulse na vore kom wanneer 'n mens stap. Die digter Robert Frost het vele van sy gedigte geskep terwyl hy in die natuur aan die wandel was. Karel Schoeman het Rob Nairn se pragboek vertaal as 'n Stil gemoed 'n Inleiding tot die Boeddhisme & Meditasie (1993) en De Villiers se boek sluit hierby aan. Daardie blou boekie is ‘n eenvoudige inleiding tot die Boedhisme en meditasie. Die Boeddhisme is gefokus op ons vermoë om innerlike vrede, erbarming en wysheid te ervaar om sodoende die potensiaal van ons gees te ontwikkel. Meditasie breek alle illusies en projeksies af, wat verwarring en pyn veroorsaak in ons bestaan.

II

Om kompassie of erbarming vir ander mense te hê, is 'n refrein in hierdie boek. Probeer jou indink waarom iemand altyd negatief is - om so 'n mens te haat, is om 'n gloeiende kool met jou kaal hand op te tel en die persoon daarmee te gooi. Jy gaan uiteindelik seerder kry as jou teiken.

Dit is 'n boek waarna 'n mens telkemale kan terugkeer. Vir mindfulness, vir alombewustheid soos die sielkundige Wilhelm Jordaan dit noem. 

Veral die metta bhavana-meditasie is handig.

Nes die afdeling oor decluttering.

Sinvol hoe ‘n mens jou kan en behoort los te maak van kuberverslawing en die valse sekuriteite wat dit skep.

Die beskrywing van die vreugdes van alleen wees, salueer ek. Die mooi begrip sondebelasting (‘n antwoord op die Oxford-filosoof William MacAskill se siening van “effektiewe altruïsme” en “offsetting” – hoe jy deur negatiewe optrede die balans kan herstel deur iets goeds te doen, 242).

Besittings hou ‘n mens terug en ons het almal hopeloos te veel dinge. Daar is die verhaal van die rabbi in Wit-Rusland wat ‘n besoeker ontvang in sy leë vertrek. Die man het van oorkant die Atlantiese oseaan na hom gereis vir wysheid.
“Waar is jou besittings?”, vra die reisiger.
“Waar is joune?”, vra die rabbi.
“Ek is net op reis.” 
“Wel, ek ook," antwoord die rabbi.

Daar is nog ander anekdotes en verhale - wat die leser binne die konteks moet ervaar. (Soos die vinger wat na die maan wys ...)

Hy definieer wabi sabi pragtig. Imperfeksie, tydelikheid.

Hy verwys ook na Anthony Osler se Zen-boeke en die standaard-studie deur Alan Watts wat The Way of Zen heet in 1975 verskyn het.

Daar is selfs plek vir notas agterin.

Gaan koop hierdie boek!

Johannes de Villiers is mede-eienaar van The Hot Yoga Studio in Stellenbosch en 'n bekende joernalis en skrywer.

Johannes Bertus de Villiers, foto: Litnet

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio