Thursday, July 27, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel I & II)

Deel I

Jy moet jou oë diep ingooi

So reis ons van Windhoek na die Etosha. Die vrygewige gids deel baie mee. Ek sien groot miershope, swaelneste en dooie bome. Hy verduidelik hoe die voëltjies (wewers) nessies maak.

“Dis soos ‘n groot hotel. Maar die ontvangs is onder, sodat ‘n slang wat probeer inseil, sal afgly.”

Tarentale stap doodluiters oor die pad. Ek dink aan Totius se tarentaal wat soos ‘n kruiwawiel skreeu.


Die tarentaal

Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek - en dit is ook al laat -
vir hom ‘n kameraad,
om in ‘n boom die eensaamheid
en nag te slyt.

Sáám sal hul in ‘n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.
*
Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!

(Afrikaanse gedigte deur Totius. Besoek 25 Julie 2017)

Ek was aan die begin van die jaar in hierdie wonderbaarlike land en wou terugkeer om ‘n digbundel (Astrak) te voltooi oor die dood van geliefdes. Dit is immers Carl Jung wat beweer het ‘n mens keer terug na iets totdat jy dit volledig begryp.

En so is dit dan. Die Bosveld-landskap roep ‘n vervloë tyd in Pietersburg (Polokwane) op en ‘n troebel verhouding aldaar. Ook dit word finaal begrawe. Dis net die herinneringe wat bly. Van Windhoek tot Etosha is ongeveer vier-en-’n-half-uur se ry. Ons stop in Windhoek by die KFC en ons eet hier ons Sondag-lunch. Die Kolonel se hoenders is stunning. Na die peuselpakkie op SAL (so ‘n hoenderdingetjie) is hierdie kiep uit die boonste rakke.

My gids, Ger, gesels lekker oor sy naderende huwelik. Ek drink die landskap in.
Laatmiddag is ons by die Etali lodge. (Etosha Lodge NamibiaBesoek 25 Julie 2017). 

Daar word ingetjekkereer. Die kamer is lieflik-luuks. Die personeel ongelooflik vriendelik.

Die aand is dit wildsvleis wat na jou smaak gebraai word. Koedoe, eland, wildebees en wat nog.

‘n Jong Sjinese kind is luidkeels aan die praat. Môre is hy, sy moeder en tante saam met my op ‘n trip.

Ek vra vir stilte. “My kind is soet,” kap sy terug. Die bestuurder bevestig dat die wildgids geen ongehoorsame kind sal verduur nie. Dus ontspan ek maar.

Om ses-vyftien vertrek ons na die Etosha met die gawe gids, Charles. Hy probeer die kind by herhaling tot orde roep. Geen geluk. Deur die skop 4x4’s stofwolke op. By die eerste kampeerterrein is daar mense wat ontbyt maak vanuit hul luukse bus met kombuis.

Ek drink net water. Later dreig Charles vriendelik, maar ferm: “As jy nou stilbly nie, gaan ‘n olifant op ons afstorm en jou steel.” En daar bly ChingChong tjoepstil.

Ons sien ‘n cheetah (met drie jongelinge), impalas, springbokke, zebras en natuurlik ‘n olifant wat net-net lyf wys. Daar is soveel pragtige voëls en ek dink aan wyle professor Snyman wat ‘n ywerige voëlkyker was. Ek weet egter bittermin van hierdie spesies en Charles is ‘n lopende ensiklopedie. Hy vertel van die verskille tussen manlike en vroulike diere; van hoe lank hulle dragtig is; hoe jy hulle kan uitken: die hoekige olifantkoei se aanskyn teenoor die meer ronde olifantbul; die lot van die ronkedoor; hoe hulle horings lyk; die oryx se horings. (Oryx - WikipediaBesoek 25 Julie 2017). 

‘n Hoogtepunt van die dag is ‘n leeumannetjie wat sy wyfie dek. Wat ‘n gedoente en geraas.

Charles is baie humoristies. Hy noem mopaniewurms Damara-tjips en die M-teken op ‘n impala ‘n leeu se McDonalds.

By ‘n watergat wei daar koedoes, impalas en hartbeeste in volledige harmonie saam. Dis een van die mooiste wildsprentjies op aarde. Vredig.

Ons stop gereeld en Charles kyk met sy verkyker en sien ‘n leeu. ‘n Geoefende oog het hierdie man gewis. “Jy moet jou oë diep ingooi,” leer hy my.

En net voor ons die Etosha verlaat en die droë pan aanskou het, sien ons dertig olifante wat by ‘n watergat staan. Twee jongelinge stap kordaat saam en een drink aan sy logge ou moeder. By die watergat baai hulle in stof - glo om al die spreekwoordelike plae van Egipte te verwyder.

Die aand is dit weer wildsvleis en vir die eerste keer proe ek zebra: sag en sappig. Vroegaand is ek bed toe - die semester was lank en taai en ‘n mens besef dikwels eers wanneer jy ‘n vreemde omgewing betree, hoe uitgeput jy is.

Ek slaap ‘n bietjie in, soos die oumense sê, en begin skryf aan ‘n landskapsvers.

Teen sonsaktyd gaan ek saam met Charles en beleef ‘n sonsondergang. Die son sak in die Weste en ‘n pienk en oranje kleur hang oor die lug.

Ons ry na die uitkyktoring (saam met raasbekke) en ek onthou hoe my moeder altyd gesê het:”Ahoepie!” wanneer ons oor ‘n padversperring in die Krugerpark gery het toe ons kinders was.

‘n Leeftyd gelede - toe jy net ‘n paar rand betaal het en ‘n groen stieker op jou kar se ruit gesit het en in ‘n rondawel wat na gras geruik het, vertoef het.

Al daardie herinneringe waaier nou oop. Wors en tjops wat in die aand gebraai word en muskiete wat buite zoem. My ma wat die proviand in die kombuis uitpak. Kerse vir in geval die ligte ingee. Die kinders in een rondawel; die ouers in ‘n ander een.

By ons tuiskoms nou by die lodge, wag daar ‘n boek vir bestudering: Trees & Shrubs of Namibia (Piet le Roux & Mike Müller - opgedateer deur Coleen Manheimer en Barbara Curtis. Macmillan, 2009).

Maar hierdie taksonomiese plesier sal vir nou eers moet wag!

Dis nou etenstyd. Ek bestel Springbok en Zebra. S/Z - Roland Barthes, eat your heart out! Die Springbok na links op die bord, die Zebra na regs.


Deel II

Van die Etosha is dit na die middel-landskap en weer na Gocheganas, ‘n oord sowat 9 km buite Windhoek. Maar dis ‘n ver pad van Etosha tot in Windhoek. My gids is 26 jaar oud en van Rhehoboth. Hy praat die mooiste Afrikaans en is ‘n wonderlike kenner van die natuur.

“Daardie bome is kameeldorings. En hulle rus ‘n bietjie uit in die winter. Hulle lyk swart, maar hulle is nie dood nie.” Ons ry verby dorpers wat wei langs die pad en vele vlakvarkies. Mopaniebome. En ja, pragtige vinkneste.

Die rooi waaigras is pragtig. Hy verduidelik ook dat die gras gesny moet word sodat die bestuurders die wilde diere kan sien aankom.

So ‘n gids is vir ‘n mens goud werd. Deur sy geoefende oë sien jy baie goed raak. Vanoggend toe ons vertrek het, was daar ‘n klein bokkie voor my deur.

Daar is vele vlakvarkies langs die pad en hier en daar sien ons ‘n klein jakkalsie hardloop.

Wanneer ons stop vir petrol, is dit sharp-sharp.

Otjiwarongo kom nader. Ek koop vir ons koeldranke en sien ‘n ATM. En net hier word ‘n dag in die natuur met Sangiro se Oerwoed en vlakte opeens ‘n onaangename ervaring. Ek druk my kaart in die ATM. Trek geld. N$ 500. Die masjien skop ‘n boodskap uit: U transaksie was onsuksesvol. Kontak u naaste bank.

Ons gaan na die FNB, oorkant die pad, waar dit my ongeveer een uur neem om vorms in te vul, paspoort uit te haal en ‘n liewe man, ene Tyson, is uiters hulpvaardig.

Want ja, die geld is deur op my rekening!

Weer eens word ‘n mens deur hierdie mense beïndruk en hulle praat die mooiste Afrikaans. In die klein bank is sowel wit as swart in harmonie. Elke keer vra ek uit vanwaar die persoon kom en dit help my geweldig om iets te verstaan van uitspraak en idiome.

Nou is ons presies een uur agter skedule, maar ek glo Tyson sal help. Ons stop by die Spur want ek wil my gids, Boris vergoed vir sy geduld.

Ons eet elkeen ‘n burger en druk deur tot in Windhoek. Inmiddels word hy elke tien minute gebel deur ‘n kollega want hulle moet motors ruil. Sesuur die aand is ons by Gocheganas. Te lekker. Die kelners herken my en na ‘n vinnige stort, smul ek aan ‘n eland - voorafgegaan deur bord warm tamatiesop.

Dis ysig.

‘n Glas Saxenhof Cabernet verdring net-net die koue.

Die landskapvers gis in my. Die internet-konneksie is stadig. Ek probeer vir Johnny Panic e-pos, maar sonder sukses.

Die volgende oggend is ek grieperig weens die lang afstande, die stof en stres. Ek maak my klein huisapteek oop en vind ‘n bruistablet wat die naderende griep afweer.
Ek maak die gordyne dig. Bedrus. Dis al wat sal help.

Landskapvers

JdL

Landskap, so weet jy te vertel,
verraai immer iets van die binne-
landskap, die innerlike stoornisse.

Dan is ek die kameeldoring,
wat wag op die lente en jy,
die mopanie wat steeds oranje blom.

Die winters hier is ysig en sonder genade.
In elke vinknes hou daar ‘n weerlose skuil.
Die wewers bou ‘n vyfster-hotel in die natuur.

In elke droom hoor ek die wind fluister:
“skaars-beblaard, skaars beblaard ...”,
vergeefs soekend na al my vertrekkendes.

Landskap, só sal ek uiteindelik leer,
vergestalt, nee verbeeld ‘n oordeel.


© Joan Hambidge