Monday, January 16, 2017

Etienne Terblanche - By die nag se wit kant (2016)

Etienne Terblanche - By die nag se wit kant. Protea Boekhuis, 2017. ISBN 9781485306016

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel maak die indruk van ’n digter wat buite die kodes van Afrikaans dig. ’n Sterk nuwe stem kan uiteraard die bestaande orde ­omverwerp met #KonvensiesMoetVal. En ’n handvol het dit in Afrikaans reggekry: ­Opper­man, Blum, Breytenbach, om ’n paar te noem.

Hoewel dié digter anders dig as sy tydgenote, maak hierdie bundel die indruk van ’n digterlike Rip van Winkel.

Hierdie leser was verlei deur die digter se onderhoud op Versindaba. Die gedigte (oor die 102 bladsye, wat ver te veel vir ’n debuut is), raak kant nog wal. Die beelde is geyk en die toon van die gedigte is outyds. Die verwysings na Blake, Yeats, Eliot, Cummings en andere is nie verwerk nie.

Die gedigte word begelei met die volgende motto, onder meer:

“Een word twee, twee word drie, en uit die derde kom die een as die vierde.” – Die aksioma van Maria die leraar van Demokritus.

So klink ’n gedig:

Die eilande

Waarom voel ’n mens so beweeg?
Die kajuit druis botstil. Ons vlieg
oor Mikonos en Iraklion
– die See van Kreta –
die oop oseaan.
Doer onder plak ’n sirruswolkie styf
teen een. Die landskappie is beenderig
soos ’n foto van die maan.
Tripoli skuif nader,
die Sahara skuif nader,
die huis kom nader.
In jou gemoed, iewers vandaan,
swel iets. Is dit geskiedkundig,
onvervals – of nog ’n kitsch moderne traan?
(Of dalk die sout herinnering
aan jou eerste oseaan?)

En so klink ’n reël elders:

En dat die staccato skote uit die snikhete bosse
vir my geen sin maak nie en nooit sal kan nie.

Die bundel klink soos iemand wat te veel ­Wilma Stockenström se Monsterverse probeer ­naboots.

Die herhaling van die “O!” is eweneens ’n kenteken van ’n outydse aanslag.

’n Mooi gegewe soos “Chrissie” ontaard in ’n óórskrywery, amper asof die digter vrees dat die leser nie die simboliek sal raaksien nie.

Die prosaverse (asseblief, gaan lees Bukowski) is gewoon net vertellings en dikwels word ’n mens blootgestel aan ’n studentikose gedig soos die een oor “Gielie Barnard en die matrone”.

Die gedigte word telkens deur idees oor die digkuns ondermyn (“’n Bladsy uit die boek van die New Age Blues”).

Daar is groot gewag gemaak van hierdie ­debuutbundel op die Versindaba in ’n onderhoud met René Bohnen. Dit is duidelik dat die digter geweldig baie gelees het oor die digkuns en geweldig kundig is. Maar helaas, in sy eie bundel moet ek met spyt bely, kon ek nie een gedig vind wat werklik as gedig oortuig nie.

Van die wyshede is onder meer die ­volgende:

Die wurm is my suster. Die termiet is my broer. Die hoëveldbloutjie en die akkedis is my medelandsburgers. My siel spieël in die metaalblou en grys van die hoëveldbloutjie, daardie dartelende klein psige, want ons is (gemaak van) dieselfde sterrestof en ek verstom my oor hoe perfek pragtig hy daarin vorm gekry het of daaraan vorm gee! Ek dink aan Emily Dickinson en wil saam met haar sê: Amen! En ook: ek ­salueer u, pragtige versvrou van Amherst.

Trouens, bitter min van wat oor die bundel gesê word, staan in die gedigte.

Die digter het skynbaar die volgende titels oorweeg: kronkelmandala, dartelmandala, fladdermandala, die swewende mandala, die drywende mandala . . .

Dit al reeds spreek boekdele.

Van die sjamanisme en Jungiaanse aspekte vind ’n mens nie veel in die bundel nie. Daar is in die woorde van die digter te veel agter fantasmiese beelde in die geestesoog aan geskryf. En dis jammer, want hier sou iets kon gebeur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)