Wednesday, December 28, 2016

Boetiek-intellektuele en regstellende aksie in 2016

I

Die jaar 2016 is amper verby!

Hierdie volgende uiting staan op Litnet in 'n brief van Deon Knobel aan sy broer Wilhelm:

"En soortgelyk aan die vermiste oorskot van Gideon Scheepers (soos roerend verwoord in die gedig van N.P. van Wyk Louw, "Gebed om die gebeente") ontvang ek enkele jare gelede, ná een van die vorige artikels oor Wopko, die ewe roerende gedig van Thijs Nel, waaroor hy die volgende skryf: “Dink jy my 'Grafskrif vir Wopko' sal in diepte verstaan word? Ek het dit aanvanklik geskryf as ʼn trooswoord vir Leti Kleyn, wat op een of ander manier gehoor het dat ek Wopko geken het.” (’n Brief aan Wilhelm Knobel oor Wopko Jensma | LitNet. Besoek 22 Desember 2016)

"Gebed om die gebeente" is 'n primordiale Opperman-vers. 'n Mens wonder hoe het hierdie "fout" deurgeglip?

Nou onlangs word daar verwys op die internet na Elizabeth in plaas van Elisabeth Eybers - gelukkig is dit later reggestel.

In onderhoude op 'n poësie-webblog wemel van setfoute en 'n gedig van 'n digter word met 'n auto-correct net so gepubliseer. 'n Jongeling blog ook hier en plaas deeltekens op verkeerde plekke.

Op twee e's, kennelik ónbewus van wat die funksie van die deelteken behels.

II

Gewoonlik verskyn daar 'n lys van hoogtepunte in ons dagblaaie en die vakansieleesstof van bekendes.

Ons het die dood van die groot semiotikus en romanskrywer, Umberto Eco beleef.

Vanjaar was die meeste oorsigte, aldus die uwe, maar ylerig. Opvallend hoe die digkuns alweer op lyste afgeskeep word! Daniel Hugo het wel Johann de Lange vermeld en hier teen die einde van die jaar onthou die meeste mense net die (mees) onlangse boeke.

Die volgende boeke is op hierdie blog behandel:

Fanie Olivier (Samest) - Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 'n bloemlesing wat ten alle tye 'n kers- en verjaarsdaggeskenk bly.

Hammie van Ronelda S. Kamfer uigegee deur Kwela.

Dark Hole of the Moon van Charl JF Cilliers, 'n belangrike Suid-Afrikaanse Engelse digter, is uitgegee deur Malgas Publishers. 'n Ander belangrike pragtige digbundel is Bearings  van Isobel Dixon, deur Modjaji Books.

Hilda Smits se die bome reusagtig soos ons was  het by Protea verskyn. Martjie Bosman se  Vloeibare middelpunt en Ilse van Staden se Waar die oog van stil word  is eweneens uitstekende Protea publikasies. Anna Enquist se Arsenaal van klank (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) is eweneens 'n relevante publikasie van Protea. Nes Die aarde is 'n eierblou ark van Susan Smith met eko-verse en vrou-wees.

Breyten Breytenbach se indrukwekkende Die singende hand: Versamelde gedigte  (1984 - 2014) het by Human & Rousseau verskyn, nes die Na-dood. Ingrid Jonker se Versamelde gedigte is deur Human & Rousseau heruitgegee. Bibi Slippers se eksperimentele Fotostaatmasjien is deur Tafelberg uitgegee.   

Daar was Johann de Lange se uitstekende 'n Hunkering se grein (Human & Rousseau) en Juanita Louw se debuut In die grot van die sibille (Quellerie). (Oor laasgenoemde het ek nie geskryf nie, omdat die bundel onder my leiding begin is.) Postuum het die digter TT Cloete se brieweboek verskyn by Pooka: Die groot misterie van twee vroue, 'n fassinerende blik op die digter se werkswyse en denke oor die lewe en literatuur.

Verskillende temas en verskillende stemme: gay, bruin, wit, vrou, manlik; eko-politiek, die dood, die liefde, ars poeticas word bestryk ...

Gevestig en nuut; outyds en eksperimenteel.

Romans wat my begeester het is: Huilboek van  Ryk Hattingh (Human & Rousseau), Die skaalmodel van Anneli Groenewald (Tafelberg), David Cornwell se Like it matters (Umuzi), Dan Sleigh se roman: 1795 (Tafelberg) en Maestro deur Marié Heese (Human & Rousseau). Tom Dreyer se Dorado (Penguin) is eweneens 'n belangrike teks. Beide Heese en Sleigh se romans is historiese werke wat implisiete kommentaar lewer op ons huidige bestel.

Diegene wat bewus is van die realiteite van plaasmoorde en die spel tussen fiksie en werklikheid, kan bepaald nie Een nag en 'n bietjie van Hester Kruger (Human & Rousseau) ignoreer nie. En meesleurend in sy dinkwerk is Op 'n dag, 'n hond  van John Miles (Human & Rousseau), 'n groot verrassing waarmee 2016 afgesluit word.

Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature het by SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint verskyn. Dis 'n belangrike stuk navorsing nes Ouma Geelmeid Ke kx’u||xa||xa N\uu (Oftewel Ouma Geelmeid gee N|uu) deur Sheena Shah en Matthias Brenzinger (met die hulp van Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary-Ann Prins) wat by Caldi Press verskyn het. Hierdie werke is van belang in ons debatte róndom taalpolitiek en -identiteit.

III

Die meeste resensies op hierdie blog is vir Beeld en Rapport geskryf en uitgesaai op FMR.  Daar was ook polemiek: oor die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk aan 'n nie-kreatiewe skrywer.  Daar was debatte rondom die funksie van die (self)bemarking van 'n roman, en 'n studente-opstande wat vrae laat ontstaan het oor hoe ons moet doseer om te oorleef. In hierdie opsig is Jacomien van Niekerk se 'Baie Worde' - Identiteit en transformasie by Antjie Krog relevant. (Van Schaik: Talatala-reeks).

En dan die Nobelprys vir Bob Dylan?



© Joan Hambidge