Wednesday, November 16, 2016

Duane Aslett - Goudduiwel (2016)


Duane Aslett - Goudduiwel. Queillerie, 2016.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman Goudduiwel vertel twee verhale oor en rondom die Krugermiljoene. Die een in die tyd van Paul Kruger; die ander verhaal is modern en betrek ’n forensiese ondersoek. Agent Rex Reynecke van die Valke is verlief op die beeldskone Alicia. Haar broer Niel Campher verdwyn.

Alles in hierdie roman werk met ’n dubbelvertelling en -moord. Verlede teenoor hede. Waarheid teenoor legende.

Enige leser wat tans moderne TV-reekse volg, sal weet hoe hierdie dubbelloop-sake tans aan die orde van die dag is.

Duane Aslett het gedebuteer met Skoppensboer, en was ’n polisiebeampte, staatsaanklaer en forensiese ondersoeker. Sy navorsing is dus behoorlik gedoen.

En die roman lees vlot. Die skrywer ken bepaald die kodes van die misdaad/speurverhaal. Daar word vele leidrade gegee en slimmighede ingebed (waarskynlik sal sommige lesers voel dis dalk te veel) wat die storie laat voortbeweeg.

Die vrouekarakter vind die manskarakter onpeilbaar weens sy werk. Hierdie soort verhaal werk altyd met ’n spanning tussen die man met ’n missie versus die vrou wat oënskynlik oningelig is, maar tog meer weet as wat hý besef. In hierdie verband is die seksistiese wyse waarop vroue uitgebeeld word binne die subgenre bekend. Vroue maak hier die mans se ritssluiters los as gewillige seksobjekte. Maar net vir ’n kort wyle, dan het hulle agentskap. Soos in James Bond-flieks soos From Russia with love.

As liefhebber van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en Paul Kruger het die roman my geboei. En as leser van speurverhale (en regte speurverhale, nie die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer nie), word die klassieke Edgar Allan Poe se The Purloined Letter vermeld, boeke oor die Krugerwildtuin en selfs die indertydse Prins van Pretoria, ’n hartseer grap. Daar is hofsake, verwysings na die Ponzi-skema, ’n studie oor Gerard Moerdijk wat ’n rol speel, and wait for it, R. I. Venter se M-verhandeling: “Die relevansie van forensies-linguistiese getuienis vir doeleindes van outeursidentifikasie by witboordjiemisdade” (NWU, 2014). Alexandre Dumas is ook hier ingebed.

The Purloined Letter is ’n belangrike kode: jy kan dikwels nie dít sien wat reg voor jou gebeur nie. Geen wonder Lacan en Derrida het sulke lange kontemplasies oor hierdie teks geskryf nie! Die roman was vir hierdie leser ’n leeservaring wat my buite die teks na ander belangrike kwessies geneem het.

Die roman werk met die kodes van oëverblindery, geblinddoekte seks, forensiese bedrog, vals bodems, voorgee, fasades – die sogenaamde mise en abyme.

Landskappe word uitstekend verbeeld: Kaap Vidal, Skukuza, ensomeer. Die impak van posttraumatiese stres en die speurder se ontkenning by die besoek aan ’n sielkundige oortuig bepaald.

Goeie fonds die dowe Diana en haar moeder met die troefkaart. En Diana is nie wie of wat sy blyk te wees nie.

Die legendes rondom die Krugerponde is van uiterse belang. So wees gewaarsku: Goudduiwel is ’n boek waar die duiwels onder aan die draai is!

Hierdie leser is werklik spyt dat sy indertyd nie Skoppensboer (2014) gelees het nie. Dit is bepaald ’n skrywer om dop te hou!


Die voorblad bemark die boek egter nie heeltemal reg nie.

Duane Aslett