Sunday, March 29, 2015

Joan Hambidge - Jou storie is nooit weer dieselfde ná so iets nie


"Almal dra die seer soos 'n swart baadjie", merk een vrou op. Presies dertig jaar gelede het die ramp gebeur toe 'n bus met 42 kinders in die Westdene-dam gery het na 'n watergraf.

Ek onthou die ramp. Die voorblad van Beeld het die lyke op die voorblad uitgestal met 'n polisieman in sy onderbroek wat sy hande in die lug gooi. Nou, vanuit 'n agterna-perspektief, besef ek dat die man nie geweet het wát die ramp sou behels nie. Niemand was gereed vir die reddingspoging nie. Hierom het hulle hul klere uitgetrek en net in onderklere die kinders probeer red.

Die foto het ek bewaar.

'n Joernalis vertel hoe hulle in 'n naburige restaurant geëet het en die ramp telefonies oorgedra is. En na die kantoor moes terugkeer om die nuus te dek. Een joernalis vertel hoe hy ouers by die lykshuis sien aankom het, soekend na 'n kind. Dan weer na die hospitaal; later weer terug na die lykshuis.

Heen en weer.

Wagtend op nuus.

Terwyl die swemmers lyke uitvis en die kinders soos sardientjies op die brug plaas. Daar het glo studente van die indertydse RAU op 'n hoë gebou gestaan en toekyk hoe die reddingspoging afloop. En die geel bus uit die dam uitgekatrol word. 'n Nuusleser bely hoe hy begin huil het toe hy die impak van die ramp oor die lug moes oordra.

'n Oorlewende vertel na dertig jaar hoe sy uitgeswem het in die donker en telkens teen die vensters van die bus vasgekeer is.

Dit het alles so vinnig gebeur. Daar was nog kougom en toebroodjies in die kinders se monde gevind.

'n Ander berig hoe die name in die klasse uitgeroep is om te bepaal wie nié oorleef het nie.

Die predikant, toe 28 jaar oud, vertel dat hy na die lykshuis moes gaan om sy gemeentelede by te staan. Daar was nie genoeg plek vir al die lyke nie. Hy moes die emosionele bevelvoerder van die lykshuis ondersteun.

Dit was 'n massabegrafnis. Met die wit kissies uitgepak in 'n ry. Dertig kiste het gelyk in die grond gesak toe die predikant die formulier lees. 43 duiwe is tydens die begrafnis losgelaat...

Ek onthou die pers linte in Westdene se winkelvensters met aanhalings uit Totius. "O die pyngedagte, my kind is dood! ...".  En wit kranse was op die dam geplaas.

Dit het soos 'n pyl deur almal gebrand, om Totius verder aan te haal, hierdie ramp.

'n Oorlewende onthou hoe 'n kind "Leader of the pack" onder in die dubbeldekker-bus gesing het voordat die bus die water getref het. Hoe ironies klink die woorde nie nou op nie:

"Mm--Is she really going out with him?"
"Well, there she is, Let's ask her"
"Betty, is that Jimmy's ring you're wearing?"
"Mm-hm"
"Gee, it must be great riding with him"
"Is he picking you up after school today?"
"Mm-mm"
"By the way, where did you meet him?"

En die predikant Nelus Niemandt, nou 58, moderator van die NG-Kerk, word aangehaal in die pers: "Die ramp was van toe af die bepalende verhaal van die gemeente. Dit was die plek waar ’n busramp die kinders uit die gemeente geruk het.”

Geen mens – die kinders, die ouers, polisiemanne, duikers, reddingswerkers en die skare op die toneel – sal volgens hom dieselfde kon wees ná die ramp nie, word berig.

“Jou storie is nooit weer dieselfde ná so iets nie.”

Die iteratief-duratief van pyn. Met die skool se naam wat ironies heet: Hoërskool Vorentoe.

Die buurt Triomf. Met die bus se flikkerligte wat aan en af flits toe dit uitgehaal is en die afklimklokkie, het nog gelui ...

Pieter Koen, 'n matriekseun, het vyf ander kinders se lewens gered. Die sesde keer toe hy afgeduik het, het hy nie weer opgekom nie. Danie Theron, wat maats uit die water gehaal het, het later selfdood gepleeg. Hy is vereer met die Woltemade-medalje.

*

Vandag is daar 'n webruimte vir mense wat hierdie ramp beleef het. In daardie tyd skryf ek die volgende gedig:

Westdene

Gelukkig is julle
wat slaap
hermeties verseël
‘n toe vuis.

Nooit sal pyn
se perforasie
(stigmata op
die polse) wys.

‘n Bus verpas,
‘n sinnelose
reis, nie weer.

Nimmermeer
die wagwoord
tussen mense
verleer. Nee.

Die ontoereikendheid
van ouers vergeef.
Slaap rustig,
slaap soet. Kinders

moet gehoor, nie
gevoel word.

Bronne:

Joan Hambidge. Palinodes. Haum-Literêr, Pretoria. 1987.

Westdene-busramp/ ’n Mens kan nooit weer dieselfde wees nie, sê prof. Nelus Niemandt. Besoek 28 Maart 2015

The Shangri-Las - Leader Of The Pack Lyrics | MetroLyrics. Besoek 28 Maart 2015

© Joan Hambidge