Sunday, December 7, 2014

Joan Hambidge - Ars poetica



Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.
Percy Bysshe Shelley

Daar was 'n tyd
wat ek sonder slag of stoot
'n versreël of inval
netjies kon ómtower in 'n aanklag
of 'n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog.
En digterlike vriendskappe:
laatnag gesprekke oor Neruda
en Sheila Cussons en Opperman
as leermeesters en vir die drif
en óndaad van die digkuns.
Die anatomie van melancholie
met sjirurgiese presisie,
dié kon ek ontleed en ja,
vreesloos daardie donker labirint betree.
Vér en lank gereis in verdraaide raaisels
en telkens voor dooiemansdeur gestaan.
Die mossteppe of toendras
soos 'n skeeloog mulatto betree.
En kriptonemies op 'n hondegaloppie
gedraf in die skoene van die Groot Vyf.
One-two cha-cha-cha
kritikasters se parabole gesystap
op pad wég, haha Houdini.
Oor haar, 'n sy, nes Petrarca,
daardie obsessionele woordvraat,
veelversig gecanzonier.
Nou is dit helaas beurtkrag
met die digterlike proses.
'n Gedig word onderbreek:
bly broeiend ónafgerond,
nes reptieleiers in 'n rivierbedding
waar mummelende mulvisse
eens vertoef het néffens muisvalke.
Dié gedwonge beelde stip alreeds
die onmag en woordelose frustrasie aan.
Miskien, miskien sal my beelde
weer eendag helder skyn.
Soos 'n wolk van gevlerkte slange?

Joan Hambidge