Wednesday, November 13, 2013

Annelie Ferreira - Maar Tintin in Tibet (2013)


Annelie Ferreira. Maar Tintin in Tibet. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 06323 0
Resensent: Joan Hambidge

Wat het Tintin met Tibet te maak? ‘n Strokiesverhaal met die Boeddhisme? Nou ja, ‘n reisverhaal van ‘n dominee-pa wat sy jong studenteseun optel en na Beaufort-Wes vertrek omdat ‘n messias daar gesien is.

Op die voorblad Tintin, ‘n blou Mercedes Benz-speelding. Agterop: ‘n kruis, fopspeen, hart en padteken: gaan voort.

Die boek beslaan 143 bladsye.

Dit begin met al die kwessies waaroor ons dagblad, Die Burger, sig besig hou: van George Claassen, die wetenskapjoernalis tot die weerhaan. Afrikaans, vroue as predikers en gays in die kerk, aborsie, buite-egtelike verhoudings, alternatiewe godsdiens, ensomeer.

Ons het ‘n dominee-pa en sy jong seun (derdejaar Bedryfsielkundestudent) in gesprek oor al die kwessies waaroor almal praat.

Die vertelling aktiveer Hergé se bekendste Tintin verhaal (Tintin in Tibet) wat die outeur as sy belangrikste beskou het.

In hierdie verhaal handel dit oor die jong verslaggewer wat op soek is na sy vriend, Chang Chong-Chen in die Himalajas. Sy vriend het gesterf, meen hulle, in ‘n vliegtuigongeluk in hierdie gebergtes. Tintin glo egter sy vriend het oorleef en bly onvermoeid soek na hom – met die hulp van sy hondjie, Snowy en kaptein Haddock (oftewel Kaptein Sardijn)  – en natuurlik loop hulle hul vas in die aapman, die Yeti.

Wat hierdie interteks veral tersaaklik maak, is dat Ferreira die omstandighede rondom die skryf van die boek aktiveer: dit is geskryf in ‘n tyd toe die skrywer ‘n persoonlike konflik beleef het róndom ‘n stryd met sy vrou en ‘n minnares. Op bladsye 128 & 132 word hierdie gegewe direk aangespreek (Tintin in Tibet - Wikipedia, the free encyclopedia).

*

Hierdie innerlike stryd word oorgedra na Annelie Ferreira se teks. Die dominee beleef eweneens konflik met sy vrou met wie hy nie meer genoegsame kontak het nie. Hy is ook in konflik met die moderne, veranderde wêreld. Daar is toespelings dat sy vrou lesbies is. Die jong seun beleef eweneens konflik met sy meisie.

Verhoudings in krisis dus.

Ferreira gebruik die peregrinasieverhaal, met ander woorde, die uiterlike, werklike reis wat gesinkopeer word met die innerlike reis of transformasie. Reeds die titel met sy aarselende “maar” en Tibet neem dus standpunt in teen die debatte wat tans (nog) in die NG Kerk woed: saamblyery, gays en ander kwessies.

Sy gebruik Lukas en die dominee Kruger, NG-predikant, as haar vehicles om haar boodskap oor te dra. Die messias is ‘n gestremde swart jongeling en die verskillende pole van ons gemeenskap word in hierdie vertelling ondersoek.

Gert Vlok Nel, die digter van Beaufort-Wes se  “my hart is nog te kouewater, Omo-skoon, vir die Here en Tintin om in te woon...” praat ook saam. Daar is ook verwysings na moderne songs wat die storie dra.

Hoe moet ons hierdie teks tipeer? Is dit vertelling? Is dit roman? Of is dit teologie-in-verhaalvorm?

Dit word wel as fiksie bemark, maar dit is uiteindelik sowel fiksionele teks as dinkstuk.

*

Die teks is vlot geskryf, maar sou kon baat by meer tekstuur. In die sub-genre van spirituele tekste wat as roman aangebied word, roep dit vergelykings op met Philip Roth se Everyman (2006) of hier te lande Anna M. Louw se Vos (2000).

Of Barry Unsworth se Morality Play wat in 1995 verskyn het en op die kortlys van die Booker-prys was.

Die verteller oftewel fokalisator is ‘n jong persoon en van die vrae oor lewenskwessies (soos aborsie of geboorte, die troebel verhouding met die moeder) word naïef weergegee.

Maar kyk net hoe het J.D. Salinger in The catcher in the rye (1951)hierdie probleme opgelos wat te make het met die verhouding tussen die implisiete outeur en die fokalisator/verteller. Laasgenoemde mag naïef wees, eersgenoemde nie. En dis waarskynlik hierdie balans wat steur in Ferreira se teks: ‘n mens genoegsame ironie en afstand tussen verteller en (implisiete) outeur soos Wayne C. Booth dit beskryf in The rhetoric of fiction (1961).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]