Friday, October 11, 2013

Mia Farrow en die familieromanse

Mia Farrow © Anwar Amro, AFP/Getty Images


In 1992 het die filmmaker Woody Allen en Mia Farrow se verhouding ontplof toe dit aan die lig gekom het dat hy ‘n verhouding het met haar aangenome dogter, Soon-Yi Previn. Ons onthou dit soos gister. Allen wat probeer om toesig oor die drie jong kinders te kry en Farrow se verbete aanvalle in die pers.

Woody Allen en Soon-Yi Previn © Scott Gries/Getty Images Entertainment)

Sy het Allen onder meer ook aangekla van seksuele molestering en dat hy die jongste dogter sou betas het. Dit het die regter verwerp – daar was volgens hom nie genoegsame bewyse vir hierdie klag nie. Tog het hy toesig aan Allen geweier. En: dit was bepaald simboliese bloedskande wat hy gepleeg het met Soon-Yi, omdat sy in die oë van die ander kinders hul suster of sibbe bly.

 
Woody Allen, Mia Farrow en Soon-Yi Previn © DMI/Time Life Pictures/Getty

*

Sopas het Mia Farrow gesorg vir ‘n joernalistieke Nagasaki toe sy in die jongste Vanity Fair beweer het dat Frank Sinatra haar voormalige eggenoot dálk die vader van Ronan Farrow kan wees. Sinatra se weduwee verwerp dit as ongetoetste snert en Farrow beweer dat sy ten tyde van haar verhouding met Woody Allen steeds ‘n seksuele verhouding met Sinatra gehad het. Die jonge Ronan tweet lustig voort en maak grappies van sy moeder se optrede met uitlatings soos dat al die kinders dalk Sintra se kinders mag wees.


In die pers verskyn daar foto’s van Ronan wat sterk op Sinatra trek (sien artikel van Aly Weisman). Wanneer ‘n mens die verskillende verhale lees wat nou verskyn, hoor jy hoe Allen uit familiefoto’s verwyder is en dat selfs video-opnames gesuiwer is. Asof Allen nooit daar was nie.

*

Met haar jongste aantyging gebeur daar iets vérregaande in die sogenaamde Freudiaanse familieromanse. ‘n Seun se identiteit word aangetas. Hy mag dalk nóú dink dis grappig, terwyl hy afgeneem word langs Hilary Clinton en ander groot celebs. Maar wat gaan hy doen wanneer hy sélf ‘n pa word?

Wie gaan die kind se oupa wees? Woody Allen of Frank Sinatra?

Woody Allen, Soon-Yi Previn en Scarlett Johansson tydens 'n spesiale vertoning van "Match Point", December 14, 2005. © Dimitrios Kambouris/WireImage.com

En waarmee is Mia Farrow besig? Waarom vind sy dit nodig om in 2013 opnuut hierdie vuil wasgoed uit te hang? Dalk weens Allen se suskes as filmmaker? Hy het immers na haar aantygings voortgegaan en waarskynlik van sy beste werk gelewer soos Matchpoint (2005), ‘n donker analise van liefdesverraad en moord. ‘n Film gekomponeer bykans soos ‘n opera met musiekverwysings na en toespelings op liefdesmoorde.

*

Hierdie geveg tussen Farrow en Woody Allen is inderdaad ‘n opera. In “Woody Allen Agonistes” analiseer Camille Paglia hul verhouding in Vamps & tramps (Vintage Books, 1994). Sy sien die kunstenaar se kreatiwiteit as voorbeeld van Dionisiese irrasionaliteit en kom in opstand teen die morele polisie wat histeries reageer op hom. Picasso, Elvis Presley, John Lennon, Madonna, Robert Maplethorpe, voer sy aan, oortree die mores van die samelewing.

Camille Paglia © Michael Lionstar

Ja, voer Paglia aan Woody Alleen se liefde vir Italiaanse teatraliteit was die “cue” vir Farrow wat sowel Madama Butterfly as die jaloerse diva, Tosca vertolk.

En vir my as filmliefhebber kan ek nooit Farrow losdink van haar briljante vertolking in Polanski se Rosemary’s baby (1968) nie. Bepaald ‘n flirtasie met die bose.

Mia Farrow in Rosemary’s baby (1968)

*

‘n Mens sou saam met Paglia kon vra: wat is hallusinasie, wat is waar? Is Dylan ooit werklik gemolesteer of het die besete Mia Medea Farrow dit in haar kop geplant? En wat se soort moeder – as Farrow dan so hoog opgee oor haar rol as matriarg – tas haar seun se identiteit tot in sy kern aan deur te beweer jou vader is dalk ‘n ander man? Dit maak nie saak dat Allen en sy seun, eers Satchel, nou Ronan, van meet af aan ‘n problematiese verhouding gehad het nie.

Met hierdie onvergeeflike optrede het sy nie opnuut weer vir Allen tot judasbok verklaar nie, maar sy het uiteindelik háárself gesnoeker as ‘n wraaksugtige, kleinlike persoon wat nie sal skroom om selfs ‘n kind te misbruik in haar onvermoeide sug tot vergelding nie. En – vra ‘n mens jouself af – is Ronan saam met Mia Farrow ook besig om saam wraak te neem met sy moeder weens sy moeilike verhouding met hom?

Wie sit agter dit alles?

Mia of Ronan?

Miskien moet Woody Allen hiervan ‘n film maak en sommer Farrow se faux-selfmoordpoging as openingstoneel gebruik met Frank Sinatra wat in die agtergrond sing “I did it my way…”

Noem die film Mama Mia Medea.

Bronne:

Maureen Orth. "Mia's Story", Vanity Fair. (Geraadpleeg 11 Oktober 2013).
Camille Paglia: Vamps & tramps. Vintage books, New York. 1994. 
Aly Weisman. "Frank Sinatra May Be Father Of Mia Farrow And Woody Allen's Son Ronan", Business Insider, 2 Oktober 2013

© Joan Hambidge