Riana Scheepers. Katvoet. Human &
Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981
5107 8.
Resensent: Joan
Hambidge
Riana Scheepers
se Katvoet versoen haar twee benaderings tot die kortverhaal te wete, die
ernstige, langer verhaal (soos Die ding in die vuur) en die meer populêre,
anekdotiese verhaal (soos verteenwoordig onder andere in die Katriena-verhale).
Eersgenoemde soort verhaal het haar gevestig as ‘n bestendige, belangrike
vroueskrywer; laasgenoemde soort verhaal, met die werk wat sy gedoen het om
geletterdheid te bevorder, het haar by gewone lesers uitgebring. Die melkweg
het ‘n ster laat val is ‘n bundel plaasverhale het by vele lesers aanklank
gevind wat o.a. ‘n spesiale toekenning gekry het van die Departement van
Landbou.
Scheepers se
verhale aktiveer eweneens die orale tradisie en vanuit ‘n meer feministiese
perspektief aktiveer haar verhale fassinerende perspektiewe: die Dulle
Griet-figuur, die wit vrou wat die Afrika-wêreld betree, die oopskryf van die
vroulike liggaam (erotiek en seksualiteit) en dan vir my een van haar
belangrikste temas is die ervaring van die primordiale, die psigiese of
verbeeldingwêreld. Daar is dikwels ‘n belydenis dat die verteller glo in spoke
en heldersiende is: hierdie magiese aanvoeling voed dan verhale waarin die
uitkoms van die vertelling verby die gewone of reële strek soos in die sterk
verhaal “Amulet teen die koue”.
In “Verskoning
(2)” is Scheepers op haar beste: die beskrywing van twee, oënskynlik
nie-verbandhoudende ervarings, naamlik die verskoning van ‘n dief en ‘n
geliefde wat gesinkopeer word met die wrang, ironiese slot dat die rampokker se
verskoning vir haar meer beduidend is as die liegende geliefde. Of die bekende
“angel in die einde” wanneer die leser besef dat die man sy verkragte vrou
beskerm teen die aanslae van haar psige en die gevoel van vasgekeerdheid in die
aangrypende “Ry, en ry, ry”. Dikwels lewer die verhale politieke kommentaar op
die samelewing van ongelykheid. Veral die werkersbestaan kom aan bod in vele
verhale en daar is vertellinge oor die rol van die vrou as beskermer en
raadgewer. Die anekdotiese kom ook aan bod soos in “Die skoolhoof luister” of
“Riano”.
Vanselfsprekend
aktiveer die kat-tematiek ook die wolf en meer spesifiek Clarissa Pinkola Estés
se Women who run with the wolves, daardie Jungiaanse cantadora wat die genesing
in die argetipiese verhaal vind. Scheepers sluit hierby aan:
“Voor haar staan
‘n teef, ‘n wolvin, ‘n glimmende roofdier wat groen na haar gluur” (156 uit
“Katvoet”).
Die kat-tematiek
word dikwels verbind aan die bo-natuurlike of die Onsienlike en in ‘n verhaal
soos “Man in die tuin” word die slot dalk ‘n té geforseerde verbintenis met die
Christus-figuur. Scheepers se vermoë om in die klein besonderheid in te beweeg,
kom dikwels goed te pas: die klein vinjet waaier dan uit om simboliese
betekenisse oor te dra. Ongelukkig is noemers soos Maria Callas of Mozart, o.a.
te maklike kortpaaie om ‘n sekere ambience
oor te dra.
Hierdie bundel
versoen die twee pole in Scheepers se vertelkuns. Vir my is die twee uitstaande
verhale: “Amulet teen die koue” en “Verskoning (2)” verhale wat hul vrou sal
kan staan in bloemlesings.
Dit is die
eerste kortverhaalbundel in tien jaar en my persoonlike gunstelinge bly die
debuut en haar opvolger: Dulle Griet.
Die voorblad
aktiveer die vrou-kat-tematiek in die bundel. Vir my gevoel is dit te fraai,
maar die bundel gaan waarskynlik – soos die kort biografiese opsomming agter in
getuig – by haar gevestigde lesers aanklank vind.
“Ons wat so
gewoon leef” is ‘n slotteks waarin die versugting na die magiese verhaal, na
dit wat on suit die alledaagse red. Onvergeetbaar is die vertelling van die ma
wat in die boom sit en lees het vir ure aaneen.
In hierdie
belydenis staan daar:
“Ons tree
vreeslik beskaafd en ordentlik op.
Ons het sommer
niks geword.
Ek dink wat my
kleinkinders eendag sal kan vertel; van my, van ons wat so dood en gewoon leef.
Daar is nie een
storie wat hulle met skrik en verwondering kan oorvertel nie.
Ek skaam my
dood, 203).
Talle van die
verhale het ‘n Isabel Allende-dimensie in die aansluiting van die bo-natuurlike
en die besinging van die mag van die storie.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]