Showing posts with label Jonathan Ball. Show all posts
Showing posts with label Jonathan Ball. Show all posts

Sunday, June 23, 2024

Resensie | Justin Fox – The Wolf Hunt. Jonathan Ball, 2024

Justin Fox – The Wolf HuntJonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776194025

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Oorlog en die impak daarvan,  verdwyn nooit nie. Justin Fox, digter, fotograaf, reisiger, nie-fiksie skrywer van formaat, karteer in The Wolf Hunt al die kompleksiteite van oorlogvoering ter see. 

 

‘n Roman wat belangrik is, veral in die lig van die voort-durende, slopende oorloë wat tans die nuus oorheers: Rusland en die Oekraïne versus die Midde-Oosterse konflik. All Quiet on the Western Front (2022) is ‘n meesleurende film van Edward Berger oor WO I, gebaseer op Erich Maria Remarque se klassieke roman uit 1928. Met die verskrikkinge wat die 17-jarige Paul Bäumer alles moet trotseer. Daar is ‘n verwysing na hierdie roman en Murder on the Orient Express van Agatha Christie (29). Ook die Reader’s Digest en Moby Dick is hier (228).

 

Vérder terug in die tyd is daar die Serwiese filmmaker Emir Kustirica se Life is a miracle (2004) wat op satiriese en sardoniese manier met oorlog omgaan.  En hierdie films word met opset betrek, omdat Fox filmies en beeldend vertel. 

 

Die voorblad het ‘n sub-titel: Nazi terror in South African waves. Boonop lyk die voorblad soos ‘n berig wat uitgeskeur is uit ‘n koerant. ‘n Belangrike kode wat die leser help om die spel tussen waarheid en fiksie te navigeer.

 

Dit is Julie 1941. Engeland teenoor Simonstad. Luitenant Jack Pembroke wat sy manne moet reg kry vir die oorlog en die tyd loop uit. Admiral Dönitz wat uit Frankryk U-bote stuur. Rommel. Jan Smuts. Die Geallieerdes in Egipte. ‘n Suid-Afrikaanse, Nazi-gesinde spioen en pogings om Jannie Smuts se pro-Britse regering te ondermyn.

 

Dis ‘n hoogs leesbare verhaal en die McGuffin word hier ingespan. Die outeur gee vir ons (baie slim) ‘n glossarium voorin (en agterin nie), soos lordships (sleng vir U-boat seamen) en pongo, sleng vir Bitse soldate: where the wind blows, the pong goes”). Of Snoekie (Snoektown) naam vir Simonstad. So word die leser dus vooraf gerig om begrippe en woorde reg te vertolk.

 

II

Die werklike outeur (Fox) gee eweneens interessante gender-perspektiewe op oorlog. ‘n Romantiese liefdesverbintenis tussen Jack en Clara. Clara wat mans se aandag geniet en Jack se hart laat pyn (158). Oorlog wat belangriker is as die liefde en die vrou wat moet wag.

 

In dieselfde tyd kyk ek weer Notorious die klassieke Hitchcock-film uit 1946 met die rol van die vrou (Ingrid Bergman) wat mans eweneens oorrompel met haar skoonheid. ‘n Spioenasiefilm van hoogstaande gehalte met Cary Grant as die een teenspeler.

 

‘n Jong offisier wat sifilis opdoen en veral die beskrywing van Mevrou Smuts en die SAWAS. Die “glory bags” wat vir die soldate gemaak word, wys hoe diep die oorlog almal geraak het.

 

Na Agatha Christie word verwys as “an old English duck”, maar in die gedagtegang van ‘n man in daardie tyd.

 

Die gebruik van Afrikaanse woorde (soos vaderland, moer, ouma, soasties, boerewors, ensomeer) gee ‘n outentieke blik op die interne belewenisse van karakters. Die navorsing is oortuigend: Die Burger word gelees en ons sien Isie en Jan Smuts. Die Universiteit van Kaapstad is hier en die wandelpaaie korrek.

 

Radio Zeesen, die SDF uniforms, Hitler se mag word deeglik beskryf. (Kyk na die ikoon tussen afdelings.)

 

En verwysings na die Bybel (Jona, o.a) en gebede is aanwesig. Wat geëet en hoe ‘n man se oë oopgesper is soos litchies bly mens by (109). Hande wat so rooi soos lobsters is. Die konkrete aspekte (die beskrywings van die see en aanvalle) word uitstekend weergegee. En jy kan die stank van kots en bevuiling ruik. En Wagner se musiek is ‘n interteks. En wanneer die verhaal ligter raak, is daar die musiek van Vivaldi.

 

Hierdie leser moes weer oplees oor die Ossewabrandwag en hul rol in die oorlog. En die verraad ontdek in ‘n dagboek. Wat alles gedoen word om almal besig te hou, word deeglik beskryf:”With Seebohms help, he penned a weekly newsletter which was pinned up in the the control room for all to read and featured on-board gossip, poems by the crew, cartoons, a crossword with specific relevance to their boat and reports from home”(108). Dis vanuit Brand se perspektief. 

 

Danse weer beleef aan die anderkant van die gevegsfront.

 

III

Die hele kwessie van wie vertel, wie kyk, die ouktoriale verteller, die geskiedenis as ‘n makro-teks teenoor persoonlike perspektiewe, word behendig hanteer en sal vir jong navorsers in die narratologie belangrike navorsing bied. Hierdie verteller gee eweneens sleutels na die mitologie en die “Lili Marleen”.

 

Om tekste te suiwer of skoonmaak, omdat dit ‘n nuwe generasie mag aanstoot gee, is verkeerd. Die integriteit van sowel die teks as tydsgees word hierdeur aangetas.

 

Die periskoop is hier ‘n belangrike kode, omdat die outoriale verteller weet wat die uiteinde sal wees. Brand se logboek en persoonlike dagboek gee ‘n blik vanuit ‘n ek-perspektief op die ellendes wat beleef word (211).

 

IV

Die skrywer speel ‘n spel met die leser. Wat dink jy weet jy van hierdie oorlog en wat word gefabriseer, byvertel?

 

Die boek word aangeprys deur die gesiene historikus Bill Nasson (kenner van die Suid-Afrikaanse oorlog) en John Maytham wat dit ‘n yarn noem. Dus ‘n storie met oordrywing en wat die verbeedling aangryp.

 

Die roman vorm deel van die gewilde Jack Pembroke-reeks. Lees hierdie roman. Dit het my oneindige leesgenot verskaf en my kennis van die oorlog en woorde verryk. En ou Engelse gewoontes en hoflikhede weer verskerp: soos daardie preprandial glasie voor die ete.

 

Die titel is meervlakkig. Die leser word deel van die soektog. 

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies (Protea).

Monday, May 6, 2024

Resensie | Hedley Twidle – Show me the place | Jonathan Ball, 2024

Hedley Twidle - Show me the place. Jonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776193202. 228 pp. Sagteband

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie versameling essays is daar ‘n motto voorin van Damon Galgut uit In a Strange Room oor die hele kwessie van reis. Die efemere en vervlietende aard van die reiservaring word hiermee beklemtoon. Die kamer wat jy nou betrek, word binnekort deur iemand anders beset. Alleen in die herinnering word iets bestendig of verewig.

 

In Afrikaans het Elize Botha, ‘n fyn stilis, vir ons in 1975 Afrikaanse essayiste gegee. In Italiaans is daar (vertaal in Engels) Umberto Eco se besinnende essays. In Frans ‘n hele galery essayiste van Michel de Montaigne tot Roland Barthes. In die verskillende definisies is ons altyd bewus van die persoonlike indruk of mening. En soos Susan Sontag, een van die grootste beoefenaar van die essay, tereg opgemerk het: “Style is the principle of decision in a work of art, the signature of the artist’s will”. (Sontag maak ‘n buiging hier: ‘n karakter het ‘n streep deur haar hare nes Susan Sontag.)

 

Die essay kan literêre kritiek wees, maar soms word dit ook ‘n persoonlike of politieke manifes. En dit ervaar en beleef ons in Margaret Atwood se essays uit 2005 Curious Pursuits.


Hedley Twidle gee sy siening en belewenis in Show me the place van verskillende plekke, intellektuele ruimtes, tye, die otro mundo (of hiernamaals), utopias en distopias.  Dit is hibriede tekste: iewers tussen essay en kortverhaal. Selfs met politieke kommentaar.

 

Van hier te lande (Rhodes se verdwene neus) tot die monsoon raag. In “A line of light” skryf hy oor sy ouers, en meer spesifiek, sy moeder se demensie. Hierdie leser ken min tekste waarin die pyn, ontnugtering en verdriet só ingehoue en raak beskryf word. Die rooi dagboekie verklap die aftakeling en die skrywer navigeer alles met wetenskaplike feite. (Wees gewaarsku: moenie dit lees tydens die blou uur nie.)

 

Wat hierdie versameling hoogs leesbaar maak, is die skrywer se skerp oog (en oor). Nie net as voyeur nie, maar veral as écoteur. Is reis nie, wonder hy, nie eerder om vreemde klanke en musiek te ervaar nie? ‘n Skreeuende baba op ‘n vlug huil namens die hele mensdom se ellendes, soos opgesom op die verteller se Kindle.

 

Of die geluid wat gesoute branderplankryers maak aan die begin van hul vaart. Die deeglike her-vertelling van hoé die tsoenami ervaar is deur ‘n oorlewende, tref in die maag. Want reis konfronteer jou met tekste wat jy toevallig sien of iets opteken wat jy nie werklik begryp het nie.

 

En waarskynlik nooit ten volle sal begryp nie …

 

Van George Orwell, Gandhi, Ursula Le Guin tot ‘n biblioteek met selfhelp-boeke kom onder die loep in ‘n soort ashram. Wanneer hy skryf oor Rhodes se verdwene neus, neem hy ons terug na Gogol se klassieke verhaal, Sello Duiker en natuurlik na William Kentridge se interpretasie hiervan. En ontmoetings met werklike figure wat die verhaal nog ingewikkelder maak. 

 

In hierdie klein kompendium registreer die verteller die teenstrydige emosies rondom reis. En ek gebruik met opset die begrip verteller: want die werklike Hedley Twidle skep hier ‘n vertellende instansie én fokalisator (I am a camera, I am a sound recorder, I am a eavesdropper) om sy sieninge neer te pen. En terselfdertyd slim te bevraagteken of dekonstrueer. 

 

Die tekste speel eweneens op mekaar in. Ons besef reis onthul jou verborge fantasie van jouself en jou Umwelt. Hierom is dit ‘n verregaande proses (letterlik en figuurlik). 

 

Op die voorblad word die woord essays onderstebo geplaas om waarskynlik die hele kwessie van wat die essay nou eintlik wil wees, te problematiseer. Dis helder en eerlike tekste, wat iets van hierdie tydsgees opvang. Skerwe van hoop en verbeelde plekke. Let’s save pessimism for better times, lees ons op die agterblad. En kyk wat dink hy van die akademie se negatiewe diskoerse en werkswinkels. 


Hedley Twidle

Utopia in al sy geledinge word semanties ontleed: van eutopia tot outopia. Van Thomas More tot nou. 


“Five by three” onthul iets van die kompleksiteite van moderne verhoudings. Ons leer van iets soos “polyamory”. Daar is slim intertekste (soos Calvino) en ‘n verwysing na Werner Herzog se film in 2005 Grizzly Man oor Timothy Treadwell. ‘n Film oor beer-aktiviste Treadwell en Amie Huguenard) se dood in Alaska.

 

Daar is humor, daar is slimmighede, daar is rou emosie en ‘n vermoë om disparate elemente saam te snoer. En wyshede:”Travel means relinquishing control of what music is playing around you” (166). Hier kan ‘n mens byvoeg: kos, mense, slaapplek.

 

Daar is ‘n analise van Alberto Manguel en Gianni Gaudalupi se The Dictionary of Imaginary Places (1980) en die begeerte om ander wêrelde te skep. Met ‘n skerpsinninge ontleding van Ursula Le Guin, die koningin van SciFi.

 

Die boek word tereg aangeprys o.a. deur Jonny Steinberg en Mark O’Connell, die Ierse skrywer en joernalis.

 

Ek was werklik spyt toe ek klaar gelees het en toe sommer dadelik weer begin. Sela. Netsach. Amen.

 

Joan Hambidge is ‘n senior navorser en Fellow aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.

Monday, October 14, 2019

Resensie | Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred (2019)

Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred. Jonathan Ball, 2019. ISBN: 978 1 86842 972 1

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Fred Mouton en almal glimlag. Vir al meer as vyf dekades is hy die spotprenttekenaar van Die Burger met meer as 10 000 spotprente op sy kerfstok.

Sopas het Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, ‘n gawe versameling uit Fred Mouton se werk geoes.

‘n Goeie spotprent gee die essensie weer van ‘n situasie of vergroot ‘n persoon se hebbelikhede. ‘n Stylgreep word, nou ja, ‘n wurg-gréép. ‘n Goeie spotprenttekenaar is waarskynlik soos ‘n digter wat met ‘n eerste lees ‘n boodskap oordra en met ‘n tweede kyk, iets meer verklap. Daar is ‘n paar klassiekes wat ‘n mens altyd sal bybly: die grappies met Deon Meyer (Bennie Griesel) se sukses. Of die gekorswel met openbare figure wat hulself aanstel. Oor rugby veral en die potsierlikhede róndom die spel, het Fred Mouton sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

Fred is nie bitsig nie. Hy is meestal speels. Vergelyk sy werk met die grensoorskrydende tekste van Charlie Hebdo of Zapiro se satires waar daar altyd ‘n edge is. Irony’s edge (1994) is immers Linda Hutcheon se belangrike studie oor hoe ironie werk en dat dit gevaarlik kan wees as die leser of kyker jou verkeerd verstaan. Kortom, in ons gekwelde wêreld hét sekere kwessies taboe-onderwerpe geword.

Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bittercomix kry deesdae die wind van voor. Die agtergrond ("back drop") van die samelewing het verander en reaksies van studente op hul werk aan die UK lei tot polemiek. Moet hul werk “verwyder” word uit galerye en sillabusse omdat dit aanstoot gee? Of moet dit eerder behou word, omdat dit ‘n bepaalde tydvak se mores registreer?

Hutcheon se studie se onderskrif lui veelseggend: The theory and politics of irony. Ja, daar is teorie en politiek in die spel. Dis meer as antifrase of ‘skuus, ek bedoel die teenoorgestelde van wat jy uiter. Nee, dis eerder ‘n kombinasie van die gesegde en subtekste wat nuwe lêplekke kry in ‘n teks (hier: spotprent) kry.

Fred is ‘n goedige spottekenaar as hy van jou hou. Sy lanset word skerper wanneer dit by Zuma en kie kom.

Sy tekste het ‘n skets met kommentaar deur klein diertjies (muisies) onderaan wat die konteks help skep. 
Sy humor word tereg as kurkdroog beskou.

Op 27 Julie 1998 is daar ‘n strip van die St Jamesslagting waar die koeëlmerke in die kanselkleed (Vrede op Aarde) die irony’s egde van Hutcheon illustreer. Die skerpskutter word afgebeeld met die kruis links in die skets. Hier is hy egter wrang in sy kommentaar. Dieselfde geld die tekening van Diana.

Sy skets oor Bill Clinton en Monica Lewinsky is puik. Die ballon (met Clinton se gesig daarop) verloor lug wanneer dit Monica se hand verlaat en die kommentaar onderaan is: “As dit by vrouens kom, was Bill maar nog altyd windmakerig.” ‘n Broeklose Bill systap sy kritici (voorgestel as haaie) en op ‘n ander een hys hy ‘n vlag met vroueklere …

Bun Booyens wys daarop dat Fred Mouton se sketse met datums begelei word. Sy twee voorgangers, D.C. Boonzaier (1915 – 1940) en T.O. Honniball (1941 – 1974) het nie.

Die vergrype en versuime van Zuma, soos Booyens dit klinkend stel, het van Zuma die groot treffer gemaak vir sowel Fred as Zapiro.

Hoe teken Fred omstanders? Hy vertel dat hy eers sulke ovalerige vorms trek. Dan sit hy oë in en ‘n neus. Soms vet wange; ander kere benerige wange. En ja dis skynbaar moeilik om mooi mense te teken! 

Booyens het gelyk wanneer hy hom tipeer as ‘n voortreflike portretkunstenaar wanneer hy die Sestigers in 1973 skets.

Die boek karteer sy ontwikkeling van sy werk onder mentor T.O. Honniball tot die vestiging van sy eie styl.

Ons word herinner aan vele blapse en blopse in die geskiedenis. Soms snaaks. Soms pynlik.

Dit moet saamgelees word met Charlie Brown & Charlie Schulz, die studie oor Charles M. Schulz deur Lee Mendelsohn wat in 1970 verskyn het. Snoopy is o.a. in 1968 vereer as die humoristiese simbool vir uitstaande werk by NASA. 

Booyens se studie is ‘n wonderlike boek het ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees- speurwerk.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, May 20, 2019

Resensie | Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefde (2019)

Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefdeJonathan Ball, 2019. ISBN 9781868427949

Resensent: Joan Hambidge

Nommer Asseblief!

Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.

Brink was en bly 'n belangrike teoretikus, 'n uitnemende kritikus, behalwe oor Karel Schoeman se werk of 'n paar opponente soos Pieter van der Lugt wie se digkuns hy verminder het. As hy gedink het Eleanor Baker skryf goed, moes Rita Gilfillan en Jorda Louw uit die pad gevee word.

As 'n romanskrywer het hy etlike bakens geskep: Lobola vir die leweDie ambassadeurKennis van die aandInteendeel, om 'n handvol te noem.

Sy dwarsklap na Nadine Gordimer wys op 'n breuk tussen die openbare beeld en persoonlike siening: applous vir Gordimer in die openbaar; venynig agter die hand. Hy noem haar 'n "colonial Tory" (166).

Die skrywer Wilhelm Liebenberg, wat die voortreflike parodie As die nood hoog is (1993) gepubliseer het, kry wel die kans om sý kant van die saak te stel as voormalige kollega van Brink op Rhodes. 

Brink se werkvermoë en -drif is bekend: kyk gerus na sy bydrae ook as vertaler en mentor vir ander skrywers. Sy politieke profiel en optredes kan eweneens vermeld word, nes sy kritiek op apartheid en sensuur. 'n Ware Don Kiesjot. (En dit is 'n roman wat hy vertaal het en waaroor hy insigryk geskryf het.)

Sy verhouding met Ingrid Jonker is opgeteken in Vlam in die sneeu (2015). In hierdie briefwisseling sien 'n mens Brink in aksie: venynige opmerkings o.a. oor wyle Chris Barnard. Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as 'n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie/Wallace-beurs. Ek bly egter steeds wonder: hy was tog 'n gevestigde skrywer met 'n internasionale aansien. Met twee huise, nie waar nie? Nou blyk die geldnood in die biografie...

'n Vurk in die pad word dan ook bittergou 'n Vark in die pad (soos 'n woedende literator homself weerspreek het). 

Leon de Kock had toegang tot die handgeskrewe joernale geskryf in die “teenwoordige tyd onvoltooid". Die laaste eggenoot, Mevrou Brink die 5e, het dit aan hom oorhandig en subiet was daar in die kusdorpie waar ek woon, bespiegel oor of die ander vroue hiermee gediend sou wees? 

Skuilname word gebruik om mense te "beskerm", maar 'n literêre speurder weet onmiddellik wié Angela is, en in Hoofstuk 8 ("Verootmoediging") word 'n minnares wat met Brink ʼn verbintenis had as ene Yvonne beskryf. Ook hier wis ek van wie gepraat word en 'n mens kan maar net dink wat Yvonne en Xavier hiervan gaan dink. Dieselfde geld die vierde mevrou Brink waaroor ander mense, lewend en dood, negatiewe kommentaar lewer.

Of hierdie boek 'n mens help om die skrywer se liefdesobsessies en ambivalensies beter te verstaan, is wel so. 'n Mens kry bepaald insig in 'n komplekse en gedrewe persoonlikheid. Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor 'n eggenoot van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen.

Na die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: "Dit staan tog in die gedigte opgeteken."

Helaas nie. 'n Gedig is nie op 'n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012). (Daar word na Sexton verwys in 'n voetnoot.)

Dieselfde geld die joernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid, en 'n "naked I", op 'n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in 'n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale (86). Die beheptheid met seks is reeds in die jeug gewortel en die sublimasie van ervarings en teleurstellings word behendig ondersoek. 'n Mens word as leser ontstel oor 'n jeugervaring met die vader, 'n landdros, se optrede teenoor 'n verskoppeling. Hier word Brink se sin vir geregtigheid gebore wat hy in vele politieke romans sal uitspeel. Die verhouding met die ouers (en die invloed op die skrywer se psige) word helder geteken.  Die soeke na die moeder se goedkeuring loop deur sy lewe.

Die kyksug (skopofilie) van die outeur Brink word behandel (178). Buitelandse resensente se negatiewe kommentaar word geanaliseer; nes die Bad Sex in Fiction-toekenning. Ook die skrywer se onsekerheid oor sy eie vermoëns as skrywer.

As jy lus is vir inluister op die plaastelefoon, is dit die boek vir jou. Nommer Asseblief! Drie lang luie en dis jy. De Kock is inderdaad 'n behendige biograaf: gedistansieerd en analities. En pakkend geskryf.  Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van 'n vriendin (241).

Soms is daar 'n voetnoot waar die biograaf sy eie lewe betrek, byvoorbeeld die verwysing na die predikant wat Salomi Louw en Brink in die eg verbind het of in die erkennings.

Die "Brink-tuisargief", soos De Kock dit noem, is deur onderhoude en gesprekke verder geredigeer. Jammer vir onooglike setfoute: finansieël (351, 352, 353), paralelle (176), Andre (177), Eugene (194), potensieël (198), implikase (303) Epos (405), heroïse (426).

As jy glo dat mense die reg tot privaatheid het en daar is iets soos dekorum, lees maar liewers die skrywer se boeke. Want jy gaan 'n hele paar keer stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.

Lewende mense word nou in hierdie kou vasgevang saam met die veelkantige skrywer, Brink. 'n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader (o.a. Bad Sex gepubliseer in 2011). 'n Mens sou dan 'n psigoanalitiese studie, via Janet Malcolm, kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.

Openhartig, onverbloemd en ongehoord. 'n Fuik in die pad? 

Tuesday, May 14, 2019

Resensie | Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood (2019)

Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood. Jonathan Ball 2019. ISBN 9781868429431
Resensent: Joan Hambidge

I
Ons is nie hier vir die verblyfste nie; ons is hier vir die vergaanste - so troos Ant Trooitjie, 'n jong Antoinette Pienaar, toe haar liefling worshond dood is. En van die oomblik wat ons gebore word, begin ons sterwe. Vele skrywers en digters het al oor die dood geskryf, en die impak hiervan op die gemoed.

Die dood van 'n geliefde snoer mense saam; tydelik word verskille en rusies ópgehef en word ons herinner aan die broosheid van ons bestaan. Mense het uiteenlopende sieninge oor die dood en boonop gaan mense verskillend dood. So het 'n narkotiseur-vriend, die digter Hendrik J. Botha, wat die digbundel Atropos geskryf het, my geleer; iets wat die sterwensbegeleier, Peter Fox beaam. 

Dikwels kan 'n mens juis ná die dood van 'n persoon hulle beter begryp en is dit asof die fokus verskuif van die negatiewe na die positiewe aspekte van hul lewens. Op ander kere is die verlies ondraaglik soos wanneer iemand ontydig of wreedaardig sterf.

Die Tibettaanse boek van lewe en dood het my al gehelp om hierdie prosesse te verwerk en beter te verstaan. Die lewendood, soos Breytenbach dit noem. Wilhelm Jordaan, sielkunde professor en rubriekskrywer, wys via Van Wyk Louw op die paradoksale verbintenis tussen lewe en dood: die dood as die finale afwesigheid van teenwoordigheid, soos hy dit klinkend stel.

II 
Hierdie boek bevat essays, indrukke, herinneringstukke en besinnings oor die dood uit die perspektief van verskillende mense. Skrywers, teoloë, joernaliste, filosowe, 'n paramedikus, 'n sterwensbegeleider kom onder meer aan die woord.

Afhangende van jou persoonlike siening van die dood en die ervaring van 'n geliefde se afsterwe of onverwagse vertrek, sal 'n spesifieke bydrae met jou práát. Karin Brynard ontroer met "My lief", oor die dood van haar eggenoot; Willem Landman is onderhoudend en insigryk oor Karel Schoeman se selfdood met die titel, "Sy laaste dae en wense". Merwe Wiese se "Die dood is 'n palindroom" gee 'n jonger mens se perspektief op die dood. Marita van der Vyver se "Die begin van 'n storie" saam met Ingrid Winterbach se "Sofie neem kennis", 'n uittreksel uit haar roman Die aanspraak van lewende wesens (uit 2012), het my opnuut diep getref.

Elkeen van hierdie bydraers se aanbod is anders en uniek, en verklap sy of haar siening van die dood. Brynard s'n is rou en pynlik. Landman, as teoloog-filosoof en lid van die Uitvoerende komitee van DignitySA, skryf besinnend oor jou regte om hierdie aarde te verlaat wanneer jy nie meer kan of wil nie. Merwe Wiese skryf as paramedikus ontroerend oor wat gebeur wanneer jy iemand moet red, en veral, wat gebeur met jóú as paramedikus, as dit te laat is. Marita van der Vyver se inskrywing is een van intense melancholie én treur oor 'n kind wat voortydig oorlede is en die durende verlange in die private ruimte van haar ellende. Winterbach se karakter besoek 'n lykshuis en in die kliniese (of oënskynlik afstandelike) blik word die verlatenheid van 'n lyk beskryf. 

Die gekose bydraes wys op die verskillende emosionele ladings van die tekste. Amper soos 'n roman in die derdepersoon geskryf teenoor 'n belydende ek-vertelling.

III
Alles is darem nie net loodswaar van die erns nie. Daar is die allerheerlike stuk van Annelie Botes wat vermaaklik en vol selfspot sit.  "By my afsterwe, met komplimente" gee sy aanwysings vir haar "inspitting". Onder ander moet daar 'n banksakkie wees met 'n paar vyfrandmunte ingeval sy die poortwag moet tipEn die naaldekoker-oorkrawwels moet in tissue toegedraai word vir as sy aan die Oorkant 'n toespraak moet lewer.

Maretta Bellingan oor 'n korrelkop-ma ontlok 'n glimlag. (En op 'n ernstige noot: moet in vadersnaam nie begin met daardie sin 'ek het slegte nuus vir jou nie', vra sy.)

Ander skrywers kyk meer gedistansieerd en klinies soos oor die dood róndom rituele (Cas Wepener) of hoe 'n lyk en 'n outopsie veel verklap (Gert Saayman). Partykeer besef 'n mens die skrywer is nog te na aan die geliefde se dood om werklik volledig daarna te kan kyk. Die gebruik van die woord selfdood eerder as selfmoord is eweneens beduidend.

Die gerf verskillende perspektiewe op 'n moeilike onderwerp is 'n belangrike baken vir alle lesers.

Die dood as 'n skemersone (Saayman) en die nadink oor die idiome oor die dood (Jordaan) bewys hier is baie navorsing gedoen. Of dat daar nooit 'n logiese padkaart kan wees vir en uit die landskap van droefheid nie (Jordaan). Peter Fox se raad is uiters handig vir enigiemand wat 'n geliefde in 'n outehuis of hospies moet bystaan, soos Kobus Anthonissen se handleiding. Is daar rechem of troos? Cas Wepener help met die soeke na nuwe rituele.

Farid Esack se bydrae "Elke lewende wese sal dit smaak" help Christene om die Moslem-bestaan beter te begryp, terwyl Danie van Zyl die Afrika-begrip verduidelik soos die aanroep van voorouers en die belangrikheid van grond. "Lewe is die begin van die dood", lui die Afrika-spreekwoord immers.

George Claassen kyk wetenskaplik na die dood as 'n natuurwet. Hy is, soos ons weet, teen die idee van 'n hemelse verwelkomingskomitee.

Elkeen van hierdie stukke is intelligente "troosstukke". Met nog vele ander bydraers wat werklik uitstekend is: Willa Boezak, Christina Landman ...

Lees en koop die boek en sit dit op jou bedkassie vir lees en herlees. En terugblaai.

IV
Vele digters het wonderbaarlike lykdigte geskryf. En hierdie een van die Ierse digter Paula Meehan bly immer ontroer:

Child Burial 
Paula Meehan

Your coffin looked unreal, 
fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care, 
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. 
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is 
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you 
the paths of wild birds,

the names of the flowers 
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain 
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,
my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin 
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair, 
and further spin you back

through nine waxing months 
to the split seeding moment

you chose to be made flesh, 
word within me.

I'd cancel the love feast 
the hot night of your making.

I would travel alone 
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth 
drop by bright red drop.

(‘Child Burial’ by Paula Meehan. Besoek 14 Mei 2019)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, August 15, 2017

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink (2017)

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038

Resensent: Joan Hambidge

Daar was mos eers die Weduwee Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.

Die manuskrip het 'n draai gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n katterige obiter dictum nie. Jong skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan lees maar Vlam in die sneeu en kyk wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)

Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien. Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor 'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.

Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak, haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander, die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.

Sy erken haar weerloosheid in die teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60). Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole, Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer, haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige tuin ...

Vriende wat sy gemaak het en die ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.

Daar word geskryf oor liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.

Niemand is meer bedrewe om agter woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van Brink op 'n KLM-vlug.

Dit is 'n teks wat saampraat met Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About that Which Can Never Die, 1996).  Sy skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs wild with snow leopards."

'n Boek van oorgang en liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan die opposisie tussen lewe en dood.

Dit is 'n teks wat 'n mens lees om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme, aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)