Elisabeth
Eybers. Valreep / Stirrup-cup. Human
& Rousseau, 2005. ISBN 07981 44866.
Resensent: Joan Hambidge
“My
vader was die dominee, my moeder vlees en bloed.” So het Eybers die
spanning tussen die vader en moeder, ook tussen die twee tale, Afrikaans en
Engels opgesom. In haar jongste bundel, Valreep/Stirrup-cup,
kry die leser weer ‘n dubbelblik wanneer die digter vir ons die vers in twee
tale weergee. Sy het reeds in Verbruikersverse/Consumer’s
verse (1997) en Winter-surplus
(1999) die leser verruk met haar dubbel-blik.
Hier het ons vintage Eybers: ironie, keurige
woordgebruik, vormbeheer en lewenswysheid. Sy bly ‘n grande dame van ons
digkuns en om op negentig wat nog so te kan dig, is met een woord verstommend.
Sy skryf ‘n vers wat gepuur, dus suiwer is. Dit is gedigte wat met bykanse
distansie aangebied word, maar juis hierom tref die pyn of ‘n gevoel die leser
met groter skerpheid. Die afgestorwe seun, Bert, word soos volg waargeneem:
Vir Bert
Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag bereik.
In die Engelse weergawe klink dit so:
Now that you’re mute there’s nothing more
that I could still be hankering for
except the freedom to abstain,
like you, from uttering words again.
Aan ‘n anonieme vriend
Ag, jy wat my plotseling so saligmakend verdoem,
Neem my nie kwalik nie dat ek jou naam nie eens noem.
To an anonymous friend
You, who suddenly heaps on me such beatific blame
do not take it amiss that I don’t even mention your name.
Die gebruik van twee tale illustreer ‘n behendigheid. Die
twee gedigte, wat naas mekaar geplaas word, kry so gelees nuwe betekenisse,
word herlaai met implikasies. Dus ‘n soort intratekstualiteit waarin die leser
bewus bly van die feit dat ‘n geslaagde gedig uiteindelik te make het die
digterlike vermoë om deur woorde iets raak te vat. Nie in enige woorde nie,
maar in woorde wat daardie onderwerp skerp en finaal kan beskryf. Eybers het ‘n
reeks gedigte geskryf waarin sy bewys gelewer het van hierdie uitsonderlike
talent om ‘n netjies afgewerkte gedig te skryf waarin geen woord of beeld uit
plek is nie en die leser as’t ware verbyster staan voor die balans tussen
waarneming en beskrywing.
Ook is dit duidelik dat dit nie presies dieselfde vers is
nie. Dit is as’t ware ‘n ander digter aan die woord. ‘n Engelse Eybers. ‘n Mens
kry dieselfde spel onder meer by Brink wanneer hy sy eie tekste vertaal. Dit
word herskrywings.
Herdigtings dus by Eybers.
Dit sien ‘n mens onder meer by die vers “Pyn”:
Pyn, met grimasse, met dierlike klanke,
Kan sterker dan wat ook jou wese versteur
En tog is jou egtheid juis daaraan te danke
En word pyn byna nooit uitermate betreur.
Die Eybers-ironie word opgevang in iets anders. Iets
wrangers dalk, maar beslis nie so skerp-ironies as wat ons gewoond is nie:
Pain
Although pain with wry faces, with animal sounds,
Is irrefutable apt to reveal
Some derangement, regret for it stays within bounds:
There is nothing like pain to confirm that you’re real.
Uiteindelik is die grootste obsessie in hierdie digterskap
dan uiteindelik die digkuns waarin sy die binariteite van haar ganske bestaan
saamvat: die opposisie tussen hier en daar, Amsterdam en SA, jeug en ouderdom,
lewe en dood. In bykans elke Eybers vers is die leser bewus van hierdie
spanning waarom die verse sentreer, draai.
Human & Rousseau moet gelukgewens word met hierdie
keurige uitgawe. Ofskoon dit nie ‘n hoogtepunt in haar oeuvre is nie (dit was Balans waarskynlik!), is dit steeds ‘n
bundel wat vir elke leser van die Afrikaanse poësie bewys dat die Afrikaans
digkuns nog lank nie uitgestorwe is nie. Een van ons belangrikste digters neem
nog deel aan die ‘gesprek’ en tereg is haar Versamelde gedigte ook nou onlangs heruitgegee.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad
geplaas.]