Patrick Cullinan & Stephen Watson
(Reds.). Dante in South Africa. Centre for Creative Writing, UCT, 2005. ISBN 0
620 35549 2.
Resensent: Joan Hambidge
Jare gelede had ek die voorreg om Judith
Mason se Dante Bestiary te sien by wyle Casper Schmidt wat dit vir my en Johann de
Lange gewys het in Pretoria. Asemsnakkend.
In daardie tyd was daar ook ‘n boek wat sy rondom ‘n Stockenström-gedig gedoen het en na Schmidt se dood, was vele van die sketse glo soek. Inmiddels onder die bekwame leiding van Patrick Cullinan en Stephen Watson het ‘n boek verskyn met die titel Dante in South Africa. En hierin is daar dan van Mason se sketse opgeneem. So uiteindelik gaan niks werklik verlore nie.
In daardie tyd was daar ook ‘n boek wat sy rondom ‘n Stockenström-gedig gedoen het en na Schmidt se dood, was vele van die sketse glo soek. Inmiddels onder die bekwame leiding van Patrick Cullinan en Stephen Watson het ‘n boek verskyn met die titel Dante in South Africa. En hierin is daar dan van Mason se sketse opgeneem. So uiteindelik gaan niks werklik verlore nie.
Patrick Cullinan skryf uiters
onderhoudend oor hoe dit gekom het dat hierdie projek sy beslag gekry het en
die behoefte vanuit Ravenna (waar die digter in 1321 begrawe is) om Dante
wêreldwyd te promoveer. In The Western
Canon argumenteer Harold Bloom tereg dat Dante een van die hoogtepunte is
en bly in die Westerse letterkunde en die veelheid artikels, onder andere deur
Italiaanse kenners soos Lawrence Kabat en Wilhelm Snyman, word die digter se
enorme bydrae tot die letterkunde ondersoek en bekyk. Stephen Watson lees Eliot
se The Waste land saam en as digter
reageer hy primordiaal op Dante via Eliot. Hy sluit af met ‘n gedig at die
invloed van die Florentyn karteer op sy lewe en digterskap: ‘n oomblik van die
epifanie word só vergestalt.
Delamaine du Toit is hier die
verteenwoordigende Afrikaanse stem met sy prosaiese vertalings.
Daar is natuurlik Opperman se “Ballade
van die grysland” (uit Negester oor
Ninevé van 1947) waarin Dante ‘n interteks is. Onlangs het ‘n literator
verkeerdelik gemeen ‘n mens moet terugkeer na die manuskripte om te sien in
welke mate Opperman die Dante-verwysings verander en uitgehaal het. Die gedig
aktiveer dit alreeds.
Die aller-hoogtepunt van hierdie boek is
wat my betref Judith Mason se sketse met haar begeleidende konfessie oor die
ontdekking van Dante op die Richtersveld en hoe ver die twee wêrelde uit mekaar
lê. Haar intelligente verduideliking van hoe die simboliek werk, is vir enige
leser ‘n openbaring van hoe die beeldende kunstenaar ‘vertaal’ wat die
woordkunstenaar skryf. Veral waar sy skryf oor hoe ‘n mens met die bose moet
omgaan en die presisie waarmee dit geregistreer moet word: "This apprehension of
evil imprints itself on the reader’s sensibility, so that, like Dante’s
she-wolf , it becomes central to one’s own mythology – an example of how the
worst of images need to be conveyed by the most precise of means”.
Dan is daar Pippa Skotnes, self ‘n
uitmuntende kunstenaar se vertolkings wat alreeds die besit van hierdie boek ‘n
moet maak vir die kunsliefhebber.
Die belangrikste bydrae van hierdie mooi
uitgawe is dat dit sowel kunstenaars as digters en akademici insluit met hul spesifieke
interaksie met die werk van Dante. Don Maclennan se “Two poems & a note”
illustreer ‘n gesprek vanuit ‘n agnostiese posisie. Soos by Watson is dit altyd
openbarend om digters te hoor in die onbewaakte oomblik. Maclennan verwys na
die eerste ervaring van Dante en hoe dit uiteindelik neerslag vind in sy werk.
Dit is dan die skakels wat die digter maak, die verwysings na ander tekste en
ervarings wat eweneens nuwe lig werp op ‘n digterskap van die grote Dante en in
hierdie geval dan Maclennan.
Intellektuele beskouings soos Cullinan
se “Ironies: Notes on three poems from the Divine
Comedy” getuig van belesenheid, vakmanskap en ‘n besonderse respek vir die
tradisie van die letterkunde. Trouens,
dit is met ‘n welbehae wat die leser hierdie essay lees en bewus word van ‘n
respek vir letterkunde en welke verwysings in die oer-teks skuilhou. Die digter se reaksie op Dante se invloed op
sy lewe en digkuns word met ironie verwoord. P.R. Anderson in “A murmuration of
starlings: On an image in Dante & others” ondersoek die eenmalige
aanwesigheid van die “sturnus vulgaris” in die Heilige Komedie.
Anderson, self digter, neem die leser op
‘n uitgebreide en fassinerende reis deur Dante en ander tekste en die
aanwesigheid en betekenis van voëls en hul simboliek word uitmuntend beskryf.
Guy Butler se lang gedig “On first
seeing Florence” word aangebied as ‘n uittreksel. Geleerdheid en wysheid straal
uit die gedig. Die volgende wonderlike beeld bly eweneens in my kop draai:
“Nun’s fingers tell habitual beads to
still
the heart for timeless prayer...”
Dan Wylie oortuig met sy redes vir
hoekom ons steeds Dante bestudeer (ek deel sy ekstase oor Robert Pinsky se
vertaling van Dante). Chris Mann & Julia Skeen se refelksies oor Dante is
insigryk.
700 jaar na Dante se dood, is ons steeds
besig om hom te doseer en oor hom te skryf. En dit is die grootste bydrae van
hierdie boek wat die nalatenskap van ‘n groot figuur beskryf. Daar is ‘n
grappige Gus Ferguson-cartoon agterin (hoe dan anders).
‘n Digter soos T.T. Cloete het Italiaans
geleer om Dante te kon lees in die oorspronklike en ‘n mens sou ook in sy werk
vele Dante-tekste kon raaklees wat sy gedigte vergesel; soos onder andere in
die voortreflike Monroe-verse, ‘n eietydse ‘donna angelicata’.
Hoe spyt is ek nie dat ek weens werkdrukte
nie kon deelneem aan hierdie pragboek nie!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]