Jeffrey Dahmer (c) Stone Phillips
I.
Een van die opvallendste temas in De Lange se digkuns is die verwysing na die figuur van die reeksmoordenaar of patologiese persoon. Dit word dan beliggaam in die persoonlikheid van Jeffrey Dahmer, die bekendste reeksmoordenaar naas Ted Bundy en Jack the Ripper.
Boss Cupid, “Troubadour: songs for Jeffrey Dahmer” (2000) is die bekende reeks van die Brits-gebore Amerikaanse digter Thom Gunn. So skryf William Deresiewicz in sy New York Times bespreking van die boek, Among the Bad Boys:
“For Cupid, after all, is boss. The volume concludes with a series of sustained treatments of its titular theme, beginning with Gunn's most remarkable act of imaginative sympathy, a five-part dramatic monologue by that hungriest of lovers, Jeffrey Dahmer. Cannibalism becomes a multidimensional metaphor for what love makes us want to do: penetrate to the organs and secrets that lie beneath the skin, fill our empty-seeming selves with a lover's vitality, make our lovers stay forever, even if we have to kill them. There's grotesque fun here -- love must be ensnared while on the run, / For later it will spoil'' -- but it gets at the heart of what Gunn finds universal about Dahmer's predicament: love's perishability. The last poem finds the speaker before his open fridge, contemplating a face that won't answer back.”
II. Die mitologie van die reeksmoordenaar
Jeffrey Dahmer searched for his perfect fantasy lover—beautiful, submissive and eternal. As his desire increased, he experimented with drugs, alcohol, and exotic sex. His increasing need for stimulation was demonstrated by the dismemberment of victims, whose heads and genitals he preserved, and by his attempts to create a "living zombie" under his control (by pouring acid into a hole drilled into the victim's skull). Dahmer once said, "Lust played a big part of it. Control and lust. Once it happened the first time, it just seemed like it had control of my life from there on in. The killing was just a means to an end. That was the least satisfactory part. I didn't enjoy doing that. That's why I tried to create living zombies with … acid and the drill." He further elaborated on this, also saying, "I wanted to see if it was possible to make—again, it sounds really gross—uh, zombies, people that would not have a will of their own, but would follow my instructions without resistance. So after that, I started using the drilling technique."He experimented with cannibalism to "ensure his victims would always be a part of him". (Serial killer - Wikipedia, the free encyclopedia)
In Confessions of a serial killer tree Dahmer in gesprek met Stone Philips . Die donker fantasie van die reeksmoordenaar se psige word ondersoek en hy bely dat hy nooit wou sien dat sy minnaars hom verlaat nie. Hierom het hy gate in hul skedels geboor en van hul zombies probeer maak. Hy verwys ook na sy troebel jeug toe hy diere gedissekteer het en selfs vreemde koppe op op hul lywe geplaas het. Die onderhoud van 1991 verhef Dahmer tot ikoon. Hy vertel ook van sy tye in die weermag waar hy geweldig swaar begin drink het. Op ouderdom 15 droom hy dat hy ‘n ryloper sou optel, en wanneer hy op negentienjarige ouderdom wél so ‘n persoon sien, neem hy hom huis toe en vermoor hom. Hy kan die volgende oggend egter nie onthou dat hy die persoon vermoor het nie.
Sy ouers is geskei en sy vader is afwesig. Hy wys voortdurend daarop dat hy ‘n leefruimte skep waarin hy kan doen wat hy wil. Sy grensoorskydende gedrag begin in 1978 en hy wys daarop dat hy alle rasse seksueel aantreklik vind: wit, swart, Hispanics. Sy kannibalisme was gewoon ‘n wyse waarop hy die persoon permanent deel van sy lewe kon maak: “The killing was a means to an end”; en hy het geen seksuele of emosionele plesier gevind in die doding van die slagoffer nie. Hy wou ‘n wêreld skep waarin hy volledig beheer het en die “geliefdes” moes “living zombies” wees. Hierom het hy gate geboor in die hoofde en suur ingegooi om hulle willoos te maak.
In hierdie onderhoud word daar verwys na die rusies tussen die ouers en hoe die kind dit as ondraaglik ervaar het. Hy het egter as kind geleer om ‘n masker te dra om sy pyn te verskans (“mask of normalcy”) en by die skool was hy ‘n gesellige kind met vele maats. In die onderhoud is daar ‘n deelname van die ouers. Volgens Dahmer, sien en takseer sy pa hom verkeerd. Hy was geen introvert of swakkeling nie. Inteendeel. Verder blameer hy nie sy ouers se rusies of ekskeiding vir sy dade nie. Sy vader se optrede is kil, gedistansieerd; ofskoon hy telkens sý aandeel probeer begryp.
Die moeder daarenteen, is meer emosioneel. Sy neem heftig standpunt in teen die vader se siening dat medikasie tydens swangerskap die kind se gedrag kon affekteer het en dat sy konvulsies ervaar het tydens swangerskap. Dahmer self verwerp die siening dat genetika die rede is vir sy “afwyking”, hoewel die vader tydens hierdie onderhoud bely hoe hy sélf moordfantasieë ervaar het. Die vader het ook allerlei obsessies oor vuur gehad.
Dahmer wys op sy hergeboorte as Christen wat lynreg ingaan teen sy eerste opvatting dat die mens gebore is uit slym. Die moeder wys daarop hoe ingewikkeld haar posisie is; niemand gun haar die reg om te treur nie: sy is immers die moeder van ‘n reeksmoordenaar. Opvallend is dat die vader ‘n Freudiaanse interpretasie in die onderhoud gee wanneer hy verwys na die jong kind se hernia-operasie en dat die jong Dahmer kastrasie-angs beleef het. Die moeder se biografie, An assault on motherhood, is nooit gepubliseer nie, terwyl die vader se studie oor die kind wél gepubliseer is. Die vader het dus die geleentheid gehad om sy siening te gee, terwyl die moeder alleen in die onderhoud, saam met haar voornemende agent, dit kon doen. In die onderhoud bely Dahmer se vader hoe hy afkom op ‘n metaalboksie in sy seun se kamer en hom dwing om dit oop te maak, maar Dahmer weier. Later blyk dit dat die kissie die kop van ‘n slagoffer bevat het.
III. Kannibalisme, nekrofilie, afhakking (“dismemberment”)
Veral die ongelooflike mediadekking van die figuur Dahmer, het hom verhef tot "popster van die patologie". Dahmer is ‘n kultusfiguur van die donkerste grense van die menslike psige. Dahmer se vader het ‘n biogafie, A father’s story, oor sy seun geskryf in ‘n poging om tot helderheid te kom oor waar hy sy kind gefaal het. In die biografie is daar foto’s van die jong Dahmer, ‘n eens onskuldige kind wat in sandput speel en later ‘n gevaarlike dog aanskoulike persoonlikheid word. Op DSTV se kriminele kanaal is daar vele programme oor Dahmer: en die belangrikste punt wat hierdie program maak via die polisiehoof, is dat Dahmer sy objekte moes doodmaak en verorber ten einde versaking (“abandonment”) te oorkom. Op ‘n letterlike (vleeslike) vlak het Dahmer dus uitgeleef / beleef wat die meeste mense in liefdesverhoudings verplaas of sublimeer.
Jeffrey Dahmer – ook genoem die "Milwaukee Cannibal" – word beskou as een van die wreedste reeksmoordenaars nog. Gebore in 1960 en in die tronk vermoor in 1994, is die besondere media-aandag opvallend van hierdie figuur. Nie alleen het hy onderhoude toegestaan nie (onder andere op Dateline NBC met Stone Philips waarna ons reeds verwys het), maar hy kan ook beskou word as ‘n soort gay-ikoon. Die hofsaak teen hom begin in 1992 en duur twee weke lank. Hy word skuldig bevind aan 15 aanklagte van moord en gevonnis tot 15 keer lewenslange tronkstraf. Dahmer was voor sy aanklagte van moord ook ‘n seksuele oortreder; onder meer skuldig bevind aan ontbloting, pedofilie en verkragting. Hy het sy eerste moord op ouderdom 18 gepleeg in 1978 op ene Stephen Hicks. Dahmer het bely dat hy Hicks doodgeslaan het met ‘n staafgewig, omdat hy nie wou gehad het hy moes hom verlaat nie.
In ‘n bisarre insident het ‘n slagoffer later daarin geslaag om weg te vlug van Dahmer, ene Konerak Sinthasomphone, en met ‘n bloeiende rektum deur vroue aangetref is. Die twee vroue het 911 gebel , maar die polisie het egter nadat Dahmer hulle oortuig het dat dit gewoon ‘n liefdesuitval was, die jong man in Dahmer se sorg gelaat, waarna hy hom kastreer en sy skedel as ‘n memento bewaar het. Die polisie het eweneens ook nie ag geslaan op die slegte reuke van die ontbindende lyk van ‘n vorige slagoffer in die woonstel nie. Hulle het ook nie Sinthasomphone se ouderdom probeer vasstel, of die feit dat Dahmer ‘n seksuele oortreder op probasie was, in ag geneem nie. Een van die wreedhede wat Dahmer op sommige van sy nog lewende slagoffers uitgevoer het, was om hulle skedels te trepaneer ('n gat daarin te boor) en suur by die opening in te spuit. Hy het ook as jong kind diere met suur bewerk in ‘n eiesoortige anatomieles. Met sy inhegtenisname – toe sy laaste slagoffer daarin geslaag het om te ontsnap en die polisie te ontbied – is daar ‘n mensekop in sy yskas gevind. Ander menslike uitskot is eweneens in die stinkende woonstel gevind, onder meer ‘n hart in die vrieskas. Insinuasies van nekrofilie en kannibalisme het deel uitgemaak van die klagstaat teen Dahmer.
IV.
Bloubaard se kamer
vir Jeffrey Dahmer
I
Lankuit op die laken
gestrek lê hy lenig en perfek,
arms agter sy nek, sy vel warm,
met ‘n ligte dons bedek.
My vinger trek sy vorm na,
van sy voorkop, reguit neus
tot by sy voete oorkruis
getrek. Sy helftes voeg
naatloos inmekaar. Halfmas
en na links slink die onbesnede
skag, ontspring uit die donker vag
wat opstreep na sy naeltjie.
Die eiers in hul sak voel
rond en koel, sluimerend potent.
II
In Bloubaard se kamer lê
die lywe onteer, geskend;
byna ‘n Rembrandt-toneel.
Torso's oopgekloof, die hart
kwesbaar sidder skaars,
– die roos van die hart –
die pastel-binnegoed warm
onder sy vingers,
die vel val weg oor derms,
longe, in flappe; alles binne
is vogtig-warm en intiem.
In “Bloubaard se kamer” aktiveer De Lange die Bloubaard-verhaal wat begrensing en grensoorskryding aktiveer. Hiermee inbegrepe word die bekende skildery van Rembrandt “Die anatomieles van dr Tulp” eweneens betrek.
In hierdie teks, opgeneem in Vleiswond (1993), word die spreker een met Dahmer. In die eerste afdeling word hy Dahmer. In die tweede afdeling word daar verwys na Dahmer se jeugobsessies om diere te dissekteer ten einde hul binnewerkinge te begryp en dus so gelees, inbeweeg in ‘n donker fantasiewêreld wat as volwassene herhaal wanneer hy mense doodmaak. Hierdie gedig aktiveer dus Dahmer se jeug, maar De Lange maak hiervan ‘n metaforiese konstruksie vir die digter wat die obsessionaliteit van die liefde beskryf: deur oor iemand te skryf, maak jy die persoon dood. Die “roos van die liefde”, ‘n simbool van die romantiese liefde, word binne die konteks van die gedig iets grieseligs.
Deur Rembrandt se beroemde Dr Tulp-skildery te betrek, word die liefde binne die gedig as disseksie beskryf. Die twee strofes word ‘n soort beeld en toepassing, bykans ‘n mislukte sonnet; asof hierdie soort liefde nie in ‘n konvensionele sonnet beskryf kan word nie. Die leser vul egter al die grusame besonderhede in tussen die eerste en die tweede strofes. In die eerste strofe is die geliefde lewend, “sluimerend potent”; in die tweede strofe is die lywe onteer. Dus nie een lyf nie, maar verskillende lywe, wat ‘n verdere dekonstruksie van die liefdesgedig oproep. Die een geliefde word nou verskillende lywe of persone. Boonop is dit klinies-gedistansieerd weergegee: onteer, geskend, oopgekloof, kwesbaar, binnegoed, derms, longe. Dit is in ‘n “Bloubaard se kamer”, die domein van die gerepresseerde of dit wat nie betree mag word nie. Indien dit besoek word, is daar straf of dood opgesluit.
In die verhaal van Koning Bloubaard besoek die vrou wederregtelik die donker kamer waarin sy ander vermoordes aantref. In die geval Jeffrey Dahmer is daar meer as een lyk aanwesig. Hy is immers ‘n reeksmoordenaar wat meer as een persoon vermoor het. Hiermee impliseer die gedig verder dat die digter ‘n gedig baseer op meer as liefdesverhouding: die “binnegoed” van hierdie gedig aktiveer nie een verhouding nie, maar verwys eerder na die psige van die spreker, die ek-in-die-gedig as ‘n persoon wat eerder ingestel is op die beskrywing van die liefde as die ervaring daarvan. Dahmer, so gelees, word ‘n besondere simbool van die digterlike onbewuste: een van donker drifte; ook een wat sig binne ‘n heteronormatiewe wêreld as afwykend ervaar word. In hierdie makabere fantasie is die metafore gekoppel aan donker drifte en die dood. Dit is paradoksaal ook ‘n kwesbare domein. Dahmer betree – soos Bloubaard – donker wêreld, net soos die digter wat hieroor dig poësie maak uit die abjeksie. Die gedig handhaaf ‘n spanning tussen beeld en toepassing.
Bloubaard se verhaal is gebaseer op Perrault se beroemde sprokie van La Barbe bleue (1697). Een van die beroemde teorieë is dat hierdie oorbekende sprokie gebaseer is op die verhaal van ‘n werklike reeksmoordenaar, ene Gilles de Rais, wat in die 15e eeu geleef het. Hierdie inligting maak die gedig van De Lange nog wranger, omdat dit nie alleen na Dahmer verwys nie, maar na die fenomeen van die reeksmoordenaar. Bloubaard se voorkoms, naamlik ‘n bloubaard, het hom onaansienlik en afstootlik gemaak en hierom kon hy nie geliefdes vind nie. Hy trou wel met ‘n jong meisie, gaan op ‘n lang reis en gee aan haar sleutels met die opdrag dat sy nie die klein vertrek in die huis mag besoek nie.
Sy word deur haar suster Anna gewaarsku om dit nie te besoek nie. Sy doen dit wel en ontdek lyke van vorige vroue in hierdie vertrek wat aan hake hang. Sy deel die geheim met haar suster.
Bloubaard keer onverwags terug en dreig om sy vrou te onthoof, omdat sy nie na hom geluister het nie. Sy smeek egter om eers haar gebede te doen en hy staan dit toe. Sy vlug saam met haar suster in ‘n toring van die kasteel en hulle sluit hulself toe. Uiteindelik word hulle bevry deur hul broers wat Bloubaard doodmaak.
Die verwysing na Rembrandt se “Anatamolies van dr Tulp” is eweneens ‘n komplekse interteks. Die gedissekteerde lyk was ‘n dief, ene Aris Kindt, wie se lyk deur Rembrandt opgekoop is vir die skep van die skildery. In hierdie tydvak het skilders lyke gebruik ten einde die menslike anatomie te kon bestudeer. Rembrandt kon juis sy besondere skilderye skep, omdat hy nougeset lyke kon opkoop en dissekteer.
V.
Jeffrey Dahmer
So gruwelik
het ek jou lief,
ek steel jou
soos ‘n dief:
uit liefde wou ek jou
opvreet: ‘n reet
uit jou boarm sout
met jou doodsweet.
Ek wou iets van jou
bly behou, verhoed
dat jy my ook verlaat;
deel maak van my bloed.
Maar jou vrees was
walglik soet.
Bloubaard
Toe jy weggaan, het ek
in my kop ingevlug,
slagplaas waar karkas
op karkas druipend
aan vleishake hang
soos bloederige afsêbriewe.
Jou ribbekas: vel & been
kerker van jou hart,
wil ek vir oulaas oopbreek.
My tong is ’n blokman
wat jou soetvleis uitsny,
sweserik & peertjies.
Sedert jou vertrek
is my maan ’n slagtersblok.
Dié twee gedigte, onderskeidelik uit Wat sag is vergaan en Die algebra van nood, gebruik ook die figuur Jeffrey Dahmer as verwysingspunt. Die herhaling van die taboe-onderwerp is opvallend en Julia Kristeva se Powers of Horror: An Essay on Abjection wat in 1982 verskyn het, aksentueer die abjekte – in navolging van Lacan – in die ruimte van die pre-simboliese orde. In “Bloubaard” word die liefde in terme van ‘n slagting ervaar: slagplaas, karkas, vleishake, bloederig, kerker, blokman, slagtersblok. Boonop word die maan as die simbool van romantiese liefde gesien as ‘n slagtersblok. Die gedig staan in die teken van verlies en verlating (“abandonment”), wat dit koppel aan die geskiedenis van Dahmer se vrees dat die geliefde hom sou verlaat. Die “vertrek” in die gedig dui egter op die finale vertrek: die dood.
Die verheerliking van die grieselige – ‘n tema wat ook by Marius Crous aanwesig is – word eweneens aangetref in die fotografie van die New Yorkse kunstenaar, JoelPeter Witkin, wat lyke afneem. In Love and Redemption word hierdie komplekse en teenstrydige toestand behandel wat dui op ‘n posisie van liminaliteit. In Oedipus and Jocasta (2007) staan Jokaste met die penis van Oedipus in haar hand asof hy ‘n voël is wat uit ‘n hok ontsnap het.
In die gedig “Bloubaard” is daar sprake van ‘n tussentoestand: ‘n verheerliking van die geliefde se liggaam met die “tong as ‘n blokman”.
VI.
"To each ego its object, to each superego its abject".
Julia Kristeva (1982: 2)
Kristeva, in navolging van Lacan, sien die posisie van die abjekte as een van liminaliteit en alteriteit (“un être altéré”) wat gekoppel is aan jeugtrauma. Die abjekte behoort tot die “edge of non-existence and hallucination, of a reality that, if I acknowledge it, annihilates me. There, abject and abjection are my safeguards. The primers of my culture” (1982: 2). Hierdie uitspraak beklemtoon die posisie van die abjekte as buitenissig en gekoppel aan die “unheimliche”. In die middelruimte van iets wat aantrek én afstoot. Die skaamte van kompromie, om sig in die middel van verraad te bevind. Die en/en-posisie dus. Die lyk, sonder God en buite die wetenskap, is vir Kristeva die ultieme posisie van abjeksie (1982: 4). Abjeksie is sinistêr, agterbaks; dit behoort tot die skaduwêreld.
Abjeksie is gekoppel aan verwerping, en meer spesifiek vir Kristeva (soos vir Freud en Lacan), ‘n verwerping van die Naam van die Vader. In die boeiende (en ontstellende) onderhoud met Dahmer word die kyker bewus van die posisie van die nom-du-père en die afwysing van die vader; al is dit net gewoon om die vader van alle skuld en aandadigheid vry te skeld. Juis vanweë hierdie afwysing, sublimeer die grenspersoon taal. Binne hierdie orde – soos by Dahmer – word die geliefde vermoor om hom te behou. Die onderskeid tussen die bewuste en onbewuste bestaan nie meer nie. Die fantasie word en is werklikheid. Dahmer fantaseer oor die ryloper en die fantasie word uitgeleef wanneer hy die persoon sien, wat aan hierdie beskrywings voldoen.
VII.
“The abject is the violence of mourning for an ‘object’ that has already been lost”.
Julia Kristeva (1982: 15)
Abjeksie, aldus Kristeva, is ‘n resurreksie wat deur die dood van die ego beweeg het. Dit is ‘n alchemistiese proses wat die doodsdrang transformeer na ‘n nuwe begin of lewe. Dit is egter ook die posisie van die dierlike (1982: 12). Abjeksie is vir Kristeva voordurend ‘n proses of posisie van paradoks of teenstrydigheid, gekoppel aan die perverse. Dit maak dood in die naam van lewe; dit vernietig vir eie gewin (1982: 12).
Kristeva wys ook op die verskillende strukture van abjeksie in religieuse ordes. In die letterkundige tekste is dit veral moord en selfmoord (selfdoding) wat tot hierdie orde behoort.
Tog moet letterkundige tekste as ‘n sublimasie van die abjekte gesien word. Die skrywer kom tot lewe in tekens vanweë sy fobies wat hy deur metafore oorwin (Kristeva, 1982). Hy metaforiseer, skep ‘n proto-taal net soos die reeksmoordenaar ‘n unieke taal skep op die wyse waarop hy sy slagoffers dood.
Bibliografie:
Dahmer, Jeffrey. Jeffrey Dahmer - Wikipedia, the free encyclopedia. Afgetrek 17 Mei 2012.
Dahmer, Lionel. 1994. A father’s story. New York: William Morrow & Company.
De Lange, Johann. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Deresiewicz, William. “Among the Bad Boys”. New York Times. (Afgetrek op 29 Desember 2012)
Gunn, Thom. 2000. Boss Cupid. New York: Farrar, Straus & Giroux.
Kristeva, Julia. 1982. Powers of Horror: An Essay on Abjection. New York: Columbia University Press.
Philips, Stone. Jeffrey Dahmer Stone Phillips interview. YouTube. (Afgetrek 30 Desember 2012)
Serial killer - Wikipedia, the free encyclopedia. (Afgetrek 2 Januarie 2013).
Joel-Peter Witkin. Edelman Gallery. (Afgetrek 3 Januarie 2013).
(c) Joan Hambidge