Showing posts with label UCT. Show all posts
Showing posts with label UCT. Show all posts

Saturday, October 15, 2016

Universiteite 2016: Nie voor dooiemansdeur nie

I

Te midde van die slopende stakings aan die Universiteit van Kaapstad, besef ek meteens dat die krisis met universiteite vergelyk kan word met 'n slot wat verander is in die nag en die ou, geroeste sleutel werk nie meer nie.

Hoe nou gemaak? Jy kan nie die deur oopkry nie.

Sedert #RhodesMustFall het die nuwe beweging #FeesMustFall universiteite lamgelê en deure is gesluit. Biblioteke onder andere is eweneens op slot en grendel. Behalwe dat studente en personeel nie boeke kan uitneem nie, is jong studente wat werksaam is in die biblioteek, eweneens van 'n ekstra inkomste ontneem. Werkers en sekretaresses is vreesbevange en vertrek vroeg huis toe. Ek het die afgelope tyd studente in koffiewinkels ontmoet en selfs onder 'n boom klasgegee – soos 'n Sokrates van ouds – toe die Baxter gesluit was.

Verder versend ek e-posse met leeswerk en ontvang my studente se opstelle elektronies. Per e-pos laat weet 'n jong student dat hy nie kan klas toe kom nie; sy vader het hom verbied om die trein van Mitchell's Plain te neem uit vrees vir sy veiligheid. Daar was immers petrolbomme op die kampus gegooi.

II

Die afgelope vier weke was uiters spannend vir almal. Die onsekerheid is waarskynlik die ergste. Gaan ons eksamen skryf of nie? Gaan ons die jaar eindig of nie? Is daar nuwe datums?

Internasionale studente se visas verval en hulle moet binnekort terugkeer huis toe. Mense het planne gemaak vir oorsese navorsingsbesoeke. Die gradeplegtigheid is uitgestel tot volgende jaar.

Hoe antwoord 'n mens op 'n nagraadse aansoek? Op elke kampus is daar verskillende gebeurtenisse, soos die absurde sebra-verhaal aan NMMU in Port Elizabeth of ‘n student wat speel asof hy Adam Habib is aan Wits.

‘n Senaatsvergadering aan die UK bewys opnuut hoe mense verskil.

 III

Om te dink in 'n ander sleutel of met 'n ander sleutel.

Ek dink wel die mantra (vir sekere mense 'n slagspreuk) van dekoloniseer die universiteit is 'n simbool van iets anders. Miskien het universiteite troglodiete geword wat nie voldoen aan die behoeftes van jong mense nie. Wat bied ons in die Geesteswetenskappe vir 'n jong mens? Hoe rus ons hulle toe om die uitdagings van 'n veranderde samelewing die hoof te bied?

Uiteraard moet jy as dosent steeds die klassieke tekste voorskryf en behandel, maar dalk op 'n nuwe manier. Doseer Hamlet eerder met 'n DVD waarin Ethan Hawke 'n moderne wroegende Hamlet in New York is. Of bekyk die gesprek tussen 'n klassieke gedig soos "Winternag" en al die reaksies hierop. Bekyk die kanon van agter na voor.

Danie Marais het nou onlangs in 'n debat oor kanonisering tereg verwys na Tony Hoagland se 20 poems that could save America and other essays (2014) waarin hy beweer dat 'n mens eerder moet begin by die moderne gedigte as wat jy studente vervreem met die ou vosse. Van nuut na oud.

Wat weet ons van jong mense se behoeftes? Kennelik is dit 'n WhatsApp/Facebook-generasie. Die me-generation het plek gemaak vir die now-generation. En dit is nie hulle skuld nie. Die moderne tegnologie het hulle so verander. Kyk hoe loop hulle oor die kampus met 'n selfoon al lesende aan 'n dringende boodskap. Of dalk ontvlug hulle?

En hierdie sogenaamde Born Frees het groot geword in huise waar hulle ouers se onverwerkte woedes op hulle afgesmeer het. Dit is Freudiaanse "return of the repressed". Die ouers het geen stem gehad nie en hierdie jong generasie is stemhebbend. Onthou hoe anekdotes oor die Anglo-Boereoorlog vir dekades na dit gebeur het op Sondae tot vervelens toe vertel is om die spanninge oor die Engelse lewend te hou aan't huise van Afrikanergesinne.

Hoeveel dosente besef dat 'n jong kind se moeder tot laatnag werk in 'n restaurant, 'n taxi terugneem en eers twee ure later by die huis aankom en waarskynlik net die kinders oor 'n naweek sien?

Hoeveel dosente neem kennis van hul studente se geldelike nood? Van 'n wit kind wie se ouers weens rentrenchment 'n werk verloor het en net kan studeer op die genade van beurse en 'n dosent se gewilligheid om geld saam te help soek? Die Dagbreek Trust het onder andere vir my nagraadse studente 'n stewige stipendium gegee en daar word erkenning gegee hieraan in die gepubliseerde digbundel. Sowel wit as swart studente sukkel om finansieel die mas op te kom.

By Michaelis is daar 'n eetprogram gestig vir behoeftige studente wat koepons kry om kos te kan koop. En dit is transformasie, om te besef mense se ouers kan nie bybly met die enorme fooie wat hulle moet betaal nie. Hoe kan jy studeer as jy honger is?

IV

'n Mens hoor dikwels dat om te studeer 'n voorreg is en nie 'n reg nie. Dit is so. Maar die moderne Suid-Afrikaanse universiteit kan nie meer 'n ivoortoring wees nie. Dit moet sterker kennis neem van die demografiese probleme (soos Flip Smit, voormalige rektor aan UP,  by herhaling aantoon), van armoede as 'n oorrompelende krisis, van leeragterstande en leë beloftes soos gratis onderwys wat ons universiteite getref het.

Tensy ons alle deure wil sluit, sal ons op 'n nuwe manier hierdie krisis moet aanspreek. Verby is die dae van die professor in sy of haar studeerkamer wat knorrig opkyk en skouerophalend reageer op 'n student se probleme.

Daar is dosente wat steeds studente se vrae beantwoord tydens hierdie krisis en selfs bereid is om studente te sien in ander ruimtes. En dit is transformasie.


V

Die grootste ellende van hierdie tyd is 'n spanning tussen ons en julle. Studente word oor een kam  geskeer asof almal wil plunder en afbreek. Op 14 Oktober stap ek na die AC Jordan-gebou om 'n werkswinkel vir nagraadse studente aan te bied. Die gebou is stil. Daar is ongeveer drie mense in die gebou. Die vorige nag is 'n bakkie uitgebrand voor die Geologie-gebou. Later die middag sal die rektor geslaan word nadat sy huis in die week omsingel is deur betogers.

Ek sit onder 'n boom en wag op my studente. Skielik gewaar ek ongeveer sewe studente by my motor met vlae. Rooi, blou, geel, groen ...

Wie is hulle? Is ek veilig? Gaan hulle my motor uitbrand?

Ek stap nader en begin met hulle gesels. Hulle ontwapen my. Hulle is 'n spirituele groep wat hulle vlae swaai om 'n nuwe positiewe, energie op die kampus te bewerkstellig. Ons gesels oor die simboliek van die vlae en hoe ek in Turkye op Paulus se pad gestap het. En hoe 'n mens in daardie ruimte skielik die Bybelse simbole begryp.

Later in die middag hoor ons hulle sing. 'n Positiewe energie, inderdaad.

Dit is sulke jong mense wat hier studeer wat die deure weer kan laat oopgaan.


© Joan Hambidge


Thursday, September 22, 2016

Studenteopstande en Lacan


Met verlede jaar se studenteopstande het ek verwys na Jacques Lacan. 'n Paar grimmige respondente op Facebook het gevra: wat het Lacan te make met studenteopstande?

Verder is dit ook skokkend dat een van die respondente 'n dosent in Sielkunde is.

Lacan se siening van die Paryse opstande in 1968 is op verskillende maniere tersaaklik vir wat ons nou beleef in Suid-Afrika. Dit was toe én nou 'n tyd "wat die klippe geloop het" en volgens Lacan was die afbreek van hiërargiese strukture beduidend vir die hele poststrukturalistiese beweging in die sosiale wetenskappe en literatuurteorie.

Literatuurteorie verklap altyd 'n tydsgees. Kyk onder andere na die aantal distopiese romans wat tans in Afrikaans gepubliseer word, soos Lien Botha se Wonderboom.

John Searle se seminale studie The Campus War - A sympathetic Look at the University in Agony (Penguin, 1972) verraai dieselfde simptome as wat ons tans beleef. En het Lacan nie iewers opgemerk dat 'n mens 'n simptoom net in die toekoms kan beleef nie?

Beduidend is dit om te vermeld dat Lacan tydens die 1968-opstande, wat sowel studente as werkers opgesweep het, vier diskoerse geanaliseer het, te wete die diskoers van die meester; die diskoers van histerie; die Universiteit en die analis.

Lacan het ook ontmoetings gehad met Daniel Cohn-Bendit, net soos ons owerhede in gesprek tree met studente. Werklike rewolusies begin met idees, maar spoel altyd oor na die werklikheid. In Frankryk het die étudiants en travailleurs saamgesnoer. Net soos tans waar die werkers bondgenote van die studente word, en andersom.

Lacan se ondersteuning van die studenteopstande het gelei tot skerp reaksie. Sy beroemde seminare is gekanselleer en hy moes dit na ander ruimtes verskuif om sy studente en gespreksgenote (soos Julia Kristeva en Phillipe Sollers) te akkommodeer. Dit is verskuif van die Geesteswetenskappe na die Regsfakulteit by die Place de Panthéon.

Tans word klasse opgeskort. Sommige dosente sien studente in ander ruimtes en probeer met die werklading voortgaan. Die meeste dosente is egter despondent en onseker oor waarheen alles sal lei. #Fees must fall is meer as 'n universiteitsprobleem, ofskoon dit alles afspeel op kampusse waar lesings verlede week onderbreek is in die A.C. Jordan-gebou (Arts Block) met loeiende brandsirenes.

Ironies genoeg het my lesing die oggend gehandel oor Louw se "Klipwerk" en die soeke na 'n leesstrategie vir hierdie volksverse.

Die belofte dat daar geen verhoging van klasgelde sou wees nie, is ook deur die meeste studente gesien as 'n belofte daar geen klasgelde betaal gaan word nie.

Politici maak onverantwoordelike stellings soos sluit die universiteite vir ses maande, vergetend dat universiteite alleen subsidies ontvang op die getalle wat in 'n jaar voltooi is. Die minister van onderwys het die warm patat teruggegooi na universiteite wat alreeds sukkel om die boeke te laat klop met die sogenaamde "austerity measures" en die aanbod van pakkette aan diegene wat bereid is om vroeg af te tree.

Volgens die jongste ranglyste van universiteite staan die UK (UCT) op 148 (wat beteken ons het met 28 plekke gesak) en die US is in die groep 401-500 teenoor die 301-350. Wits het wel gestyg na 182. Ons weet hierdie ranglyste is nie in klip gebeitel nie, maar dit is wel só dat die persepsie van buite nie goed lyk vir ons universiteite nie.

Kollegas is ook genoop om 'n of/of-posisie in te neem en kollegiale verhoudings is tans stroef. Die owerhede sit vasgevang tussen duiwel en die diep blou see. As hulle enigsins verwys na die polisie of sekuriteitsbeamptes van buite die universiteit, voel sekere dosente dat dit die struggle-jare en traumas van daardie tyd "trigger".

Wat gemaak met 'n dreigement dat daar alleen geluister sal word as UCT brand? Of 'n biblioteek in vlamme opgaan?

Kunswerke is reeds verlede jaar "toegemaak", omdat sekere mense dit as aanstootlik en kolonisties ervaar het. Diane Victor en Breyten Breytenbach se kunswerke is hierby ingesleep, ofskoon dit meesterdiskoerse dekonstrueer en bevraagteken.

Be realistic, demand the impossible, was in 1968 met spuitverf op brûe aangebring. En tans is die eise van geen klasgelde eweneens 'n onrealistiese eis. De Gaulle is net met Zuma vervang.

Watter name vervang Rudi Dutschke, Alain Krivine, Jacques Sauvageot en Daniel Cohn-Bendit?

Wanneer word 'n studenteopstand onaanvaarbaar in die plundering van eiendom en die ontkenning van mede-studente se reg om wel klas te loop en biblioteke te besoek?

Miskien is dit gewens om terug te keer na 'n meesterdiskoers en om diegene wat hulself bevind in histerie daarop attent te maak dat ons soos die toekoms van hierdie land onberekenbare skade berokken met hierdie optrede.

Laat ons eerder buite blokkies van ras en bevoorregting (of gewaande bevoorregting) dink aan 'n manier om saam 'n oplossing te vind en opofferings te maak.

Slagspreuke gaan ons nêrens bring nie. Rhodes is verwyder. Die universiteit moet gedekoloniseer word.

Laat ons eerder nadink oor die vier diskoerse en hoe dit saamhang.

 © Joan Hambidge