Tuesday, February 26, 2013

Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.) - Nuwe stemme 3 (2005)



Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.). Nuwe stemme 3Tafelberg Uitgewers, 2005.  ISBN: 0 624 04288 X.

Resensent: Joan Hambidge

Onder die bekwame leiding van Antjie Krog en Alfred Schaffer verskyn Nuwe stemme 3. Nou kom: ‘n redakteur/samesteller se eie voorkeure of implisiete siening oor die digkuns gaan iewers verdiskonteer word. En dis reg so. Ons lees dus hierdie jong digters se bydraes teen die agtergrond van Krog se nou onlangse belangrike N.P. van Wyk Louw-gedenklesing waarin sy meen dat ons jongelinge eerder in ‘n band wil speel as om pooizie te skryf soos Groot verseboek en die kanon eis.

‘n Heel ongewone manier van sê, of, om iets te sê wat nog nie voorheen gesê is nie, was die uitgangspunt. En goed so. Jong skrywers, al is dit nog hoe onbehendig, moet die aannames van wat poësie is of behoort te wees, afbreek. Krog het immers gedebuteer met die sogenaamde kaalvoet-vers sonder fênsie leestekens en het as die dogter van Jefta van toe en nou, in bundel na bundel die kodes en verwagtinge van die (Afrikaanse) leser afgebreek.

Schaffer is bekend uit sy skitterende, soms omstrede rubrieke. Ook as digter van anti-poësie weet hy (instinkmatig) dat jy juis die kanon moet ken sodat jy iets nuuts kan presteer of bydra.

Dit is duidelik dat hierdie digters wil wegbreek van die tradisie. Hierom die gebruik van EngAfrikaans, die aanwending van die internet(taal), massamedia, pop-indrukke, praattaal, Kaaps, ensomeer. Nuwe stemme was nog altyd ‘n arena waar ‘n nuwe digter uitgestal word. Sommige digters beweeg aan en word digters in eie reg (Ilse van Staden) en ander word prosaskrywers (Tom Dreyer). Vir die meeste gaan dit helaas die eerste èn laaste publikasiegeleentheid wees. En dalk sal ‘n leser hulle jare later herontdek in hierdie versamelbundel, want papier is mos geduldig nie waar nie?

Hier is pragtige verse opgeneem. Inderdaad die delikate gedigte van Thérèse Bartman wat in ‘n pragtige mini-vers soveel oor pyn en eensaamheid oordra:

Inkopielys Kamer 21
Huis Avondrus

voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde perskes (klein)
Stopain

Ook is hier al die vermoë om emosies te transponeer in ander se ellendes en waarnemings wat die gedigte buite die ek-gerigtheid van die jong digter verhef. ‘n Aangename verrassing is die verse van Eckhard Cloete wat intertekstueel speel met Breytenbach en Ingrid Jonker. Sy “Riglyne vir die voorbereiding van ‘n kreatiewe werkstuk” is werklik ‘n briljante vers wat die gevare van die pastiche speels ontmasker. 

Van Illona Edwards is daar die skitterende vers “Ek noem hom” wat die taboe van bloedskande rondom die naam van die pa beskryf. Dit is ‘n vers wat ‘n mens tussen die oë tref. Soos ook die vers “Ek is klaar vervloek” waar aborsie die uiteinde is.

Dit is opvallend dat geweld in ons samelewing in hierdie verse geregistreer word: “Blommekyk”en “Ek is klaar vervloek” word moord en emosionele geweld vanuit ‘n vroulike perspektief aangespreek. En die ontnugtering met die ‘nuwe’ Suid-Afrika in die gedigte van Kiwidore Fillis verdien eweneens vermelding. Charlton Lee George skryf in sogenaamde “slawetaal” oor die lewe van verloorders. 

Vanselfsprekend sal Krog dan ook digters insluit wat deur wit lesers ge-Ander word. By die letterkundige Karen de Wet vind ons weer die spel veral met aanwesigheid/afwesigheid en verse geskryf rondom die “onthou”-struktuur. Erns Grundlingh se bydrae bevat parodieë op die Onse Vader. Veral die vers oor George Bush is kragtig en die een oor die webruimte slim! En “Kuberkulose” speel nie alleen klaar met Jan F. Celliers nie, maar ook met die wye en droewe land. Die digter maak ook van die internet ‘n seksuele spel.

Pappa, waar is die wakis, is die osse nog honger?
nee, boetie, die osse wei by www.graan/godsverlate.co.za
gaan soek eerder by www.waardefokisons.com
vir ‘n kaart om eendag iewers uit te .kom

Cornel Judels  imponeer met vars seggings oor die liefde en Ronelda S. Kamfer djol lekker met die taal. Angie Kleijn mymer oor die skryfdaad oor Siener van Rensburg in sterk, oortuigende verse. Liesel Kruger speel oortuigend met taalkonvensies. In Danie Marais se bydrae vind ons die praatvers: hy ontgin die wêreld van die vreemdeling in ‘n buite-bestaan wat pragtige nostalgiese verse oplewer. Verse oor die ‘olifantbegraafplaas vir drome’! Ook die gebruik van Duitse woorde word goed aangewend in sy gedigte wat die liefde en sy geskiedenis goed uitbeeld. 

Loftus Marais ondersoek die ‘slang in die gras’ van die l-woord deur Engelse woorde oortuigend in te span in sy aweregse blik op die liefde en die skryfproses, terwyl Vernie Plaatjies se imposante “’n wind waai deur die Vlakte” beloof myns insiens iets groots van hierdie digter wat die bestaan van bruin mense oortuigend uitbeeld in outentieke beelde en taal. Om teen Adam Smal in te dig, vra moed. Maar hy kry dit reg, omdat hy die huidige stand van sake beeldend aan die kaak stel. En Gerard Rasch meen “want die liefde is ‘n perske sonder perke” in sy aweregse verse met ryk beelde. Ook die gesprek met Leipoldt in “Mamparra loop los, hy soek kos…” verdien vermelding.

Ronel Scheffer skryf oor lesbiese liefde en ongebore kinders; oor die liefde wat ‘n lady is. En allerlieflik is haar vers met sy Arabiese name (“Yushra verjaar”) en die speelse vers oor soene waar die geliefde wegloop van alles wat ‘n soen kan vermag!  Tilla Schoeman dig oor die windboef (hmm, ja) en die “Bitterbek Dating Games” – en hier is humor, baie daarvan. 

By W.L. van der Merwe is daar ‘n intelligente spel met die mitologie (“Aphrodite vandag”) en ‘n vars blik op die religie. Hier is heelwat intelligensie en spel met digterlike konvensie soos veral “Beeldspraak” en “Droogte” dan bewys. ‘n Uitstaande vers is die ironiese “En toe was daar God” wat aansit vir ‘n maaltyd waar die spyskaart uitwys hoe sleg dit met die mensdom gegaan het toe God afwesig was op kernoomblikke in die geskiedenis.

Hierteenoor is Karen van der Vyver en Jasper van Zyl jongelinge: eersgenoemde presteer die uitstekende “’n Moeder” en “Kruietaal”, terwyl laasgenoemde ‘n vers soos “Atticus Finch” vir ons gee, beeldend-trefseker.

Van die digters het al lank terug verse begin skryf soos Bartman, Willie van der Merwe en Karen de Wet, maar ‘n digter se ouderdom word geregistreer vanaf die debuut. Hierdie is ‘n pragtige versameling met digters wat hopelik met nog verse sal kom!  Dit is net jammer van ‘n handvol liederlike en onaanvaarbare setfoute in hierdie pragpublikasie met ‘n beeld van Claudette Schreuders as ontwerp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]