Showing posts with label Karel Schoeman. Show all posts
Showing posts with label Karel Schoeman. Show all posts

Sunday, November 5, 2017

Resensie | Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman (2017)

Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman. Human & Rousseau, 2017. ISBN 0-7981-7610-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie inskrywing is net ‘n paar kanttekeninge by Schoeman se jongste teks, nadoods gepubliseer as Skepelinge – aanloop tot ‘n roman.

Vir Schoeman-liefhebbers is daar die plesier van lees, navors, nadink, terugkeer. ‘n Boek met endnote. In die koda bely die outeur dat die gedagte vir hierdie boek by hom uitgekom het tydens twee afsonderlike besigtigings van Sokoerof se film Russiese ark (2002), ‘n film wat ek waarskynlik al ses keer besigtig het, met al die onderhoude en nabetragtings rondom hierdie verruklike film.

Oor hierdie magistrale film het ek op 5 Julie 2017 geskryf en die verbintenis tussen Dan Sleigh se roman 1795 en hierdie film uitgewys wat die geskiedenis problematiseer en her-interpreteer (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795. Besoek 25 Oktober 2017). Dit is ‘n 87 minute eenskoot-film. In die post-produksie is die film wel ge-“reframe": en gedeeltes is vertraag of vinniger gestel. (‘n Belangrike stuk inligting vir die leser van ‘n historiese roman; elke navorser interpreteer en raam sy roman vanuit ‘n bepaalde hoek. Dan Sleigh benader sake anders as Schoeman).

Hierdie dikke roman dek (in beginsel) die tydperk 1652 – 1795 en konsentreer op die uitseilende skepe van die VOC tussen Nederland en die Kaap.

Die outeur self beskou hierdie boek as ‘n hibriede skepping, iewers tussen feit en nie-fiksie; selfs as ‘n “historiese improvisasie”.

Hy gebruik die /Xam-gedigte in die Engels, want hy voel nie “gemaklik” met Antjie Krog se Bleek & Lloyd-rendisies nie, ofskoon hy dit wel “verblydend” vind dat dit bestaan. (In sy laaste outobiografiese tekste is daar ook stekies na Afrikaanse kritici te vinde.)

In die koda skryf Schoeman: “Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.” Vir Johan Rossouw, ‘n besondere leser van Schoeman, is hierdie enkele sin die laaste woord oor die temas waaraan hy sy hele lewe gewei het. (Schoeman se laaste sin oor sy lewenswerk | Netwerk24. Besoek 25 Oktober 2017).

Die leser word ook verras met verwysings na T.S. Eliot se "Little Gidding" - kyk na voetnoot 551.


II

Hierdie teks moet benader word as 'n werkboek of 'n aanloop tot 'n roman. Dit vergelyk met postume tekste van bekende skrywers. 'n Mens dink hier aan Vladimir Nabokov se roman wat nadoods deur sy seun Dmitri saamgeflans is. Dit heet The Original of Laura (2009) en is gepubliseer ten spyte van die skrywer se versoek dat sy tekste vernietig moes word.

Wat wel tersaaklik is van sulke romans-in-wording, is dat dit die leser 'n kykie gee in die skrywer se manier van doen en dink.  By die skryf van hierdie bespreking luister ek na Dan Sleigh op RSG (28 Oktober omstreeks 1 nm) wat uiters kundig gesels oor presies wat 'n chronometer is en oor die betekenis van skeepsvaart. (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795. Besoek 25 Oktober 2017).

Wat sou van hierdie boek geword het as die skrywer Schoeman verder hieraan sou werk? Of is die sjarme juis geleë in die onvoltooidheid?


III

Aanloop soos in program: aankondiging. 'n Roman met endnote en bronne. Asof jy hier in die werkkamer van die groot romansier staan wat vertel hoe hy skryf en uit sy groot omvangryke historiese boekery nog 'n boek maak. (Daar is glo veertien ongepubliseerde Schoeman-boeke op pad.)

Van Jung se beroemde droom tot Eliot en Fellini.

Van skeepsdokumente terug tot Shakespeare se Hamlet en The Tempest (hier is 'n woord aangepas, nota 453).

Van John Campbell se Journal of travels in South Africa terug tot by Bontekoe!

"Met vriend die God geleyde" (311) kyk na die betekenis van persoonlike briewe. Individue uit die Kompanjiestyd sou immers iets verklap van daardie tyd ...

Meeste werknemers van die VOC kon nie skryf nie; verder is dit geskryf in standaarde wat toe gegeld het en meeste van hierdie briewe het verlore geraak.

40 000 onafgelewerde briewe is wel gevind op Nederlandse skepe. Hierdie oorlogsbuit - deur Brittanje - het in die Public Record Office in Kew beland en is gedeeltelik getranskribeer as Corpus Brieven als Buit.

Tog bied hierdie briewe min insae vir die navorser, maar analiseer hy wel 'n tersaaklike woordewisseling.

"Woorde. Stemme. Mense wat eens geleef en in kroeë gedrink en baklei het, of mekaar doodgesteek het met messe of met bierkanne, stoele of banke geslaan het sodat die bloed vloei" (318).

En dit is wat Schoeman uitsonderlik maak. Om stemme van die gewone mens aan die vergetelheid te ontruk. Om namens hulle te buikspreek.

As reisiger het hierdie leser die afdeling "Passasiers" insigryk gevind.

'n Diensmeisie kon net een kis met klerasie saamneem (vier voet lank, 2 voet hoog en breed). En sommige van hulle het op die vloer geslaap of op 'n skeepskis naas die kooi van hul werkgewer in die konstabelskamer.

Indien hulle wel 'n huwelik aangegaan het, het hulle 'n identiteit gekry.

Indien nie, identiteitsloos, blote "passasiers"; blote passante of deurreisendes. Dus ook misbruiktes. En hier lewer Schoeman sterk sosiale kommentaar wat feministiese skrywers lank sal besig hou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Friday, August 25, 2017

Resensie | Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017)

Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. SUN Media, 2017. ISBN 9781928355144

Resensent: Joan Hambidge

I
Karel Schoeman is een van Afrikaans se bakens.

Sy selfdood vroeër vanjaar het wye reaksie in die media ontlok en opnuut bevestig hoe belangrik hy geag word deur sowel gewone lesers as letterkundiges. Selfs diegene wat hom nooit ontmoet het nie, was deur sy dood geraak. En die outeur van hierdie studie het die skrywer vroegtydig in kennis gestel van die studie en haal uit sy e-pos aan van 29 April. Op 1 Mei 2017 is hy oorlede.

As historiese navorser en romanskrywer het hy geen gelyke wat produktiwiteit, diepte en stilistiese beheer betref nie. Min skrywers het so ‘n groot oeuvre nagelaat en die navorser Cas Wepener se studie is van waarde vir alle Schoeman-lesers. H.P. van Coller wys tereg op die rol van die noodlot, historiese kragte en verganklikheid in die mens se lewe wat Schoeman ondersoek.

Wepener se studie – as teoloog en gedragswetenskaplike – gee ‘n teoretiese perspektief op die betekenis van dood in Schoeman se romans. Die studie beslaan 233 bladsye, is teoreties gefundeer en soos Willie Burger opmerk in die Voorwoord, vermy Wepener ‘n instrumentalistiese benadering tot Schoeman se komplekse tekste, juis omdat hy die onbekende en onvaspenbare erken. Burger beklemtoon tereg hoe Schoeman jou in sy tekste intrek; dit maak ‘n inwaartse reis moontlik. Inderdaad dwing dit jou tot selfkonfrontasie met ‘n ritme wat ‘n mandala word (vii).

Met instrumentalisties verwys Burger na Derek Attridge se studie The Singularity of Literature van 2004 waar hierdie term beteken dat ‘n mens ‘n teks benader met ‘n voorafbepaalde doel.

Daar is passasies in ‘n Schoeman-roman wat hierdie leser van buite ken. ‘n Mens lees hierdie romans – wat nie plot-gedrewe is nie – agter die tekstuur aan. Jy kan dikwels nie ‘n finale, vaspenbare betekenis gee nie; maar passasies bly altyd in jou draal en nawerk.

II
Die boek beslaan 7 hoofstukke. In die eerste hoofstuk word die kuns van sterwe in die oeuvre ondersoek. In die tweede hoofstuk word daar gekyk na oorgangsrituele, “dominees” en die dood, terwyl die derde hoofstuk kyk na die twee dominees en Meester in ‘n Lug vol helder wolke. In die vierde hoofstuk word Pastoor August Scheffler in ‘n Ander land ondersoek. In die voortreflike Die uur van die engel (my gunsteling Schoeman-roman naas Op ‘n eiland), word Dominee Theophilus Heyns en Danie Steenkamp beskou. In die sesde hoofstuk is daar nog vier stemme en die sewende hoofstuk bespreek  die kern van die kriterium.

III
Van ons grootste literatore het oor hierdie romanskrywer boeiende en uitgebreide studies geskryf en daar word in gesprek getree met die reeds genoemde Willie Burger, Van Coller, Gert Jooste, J.C. Kannemeyer, Henriette Roos, Gerrit Olivier, Helize van Vuuren, Chris van der Merwe en Louise Viljoen. Vir hierdie leser was die outeur se analise van die viatikum boeiend. Die Romeine het ‘n muntstuk geplaas in die persoon se mond wanneer hy sterf sodat hy die bootsman Charon kon betaal. Christene, egter, het geglo dat gestorwe gelowiges na God gaan en hierom is die muntstuk vervang met die toediening van die Nagmaal net voordat die persoon sterf. Hierdie vermenging van kultus en kultuur word in die Liturgiewetenskap “liturgiese inkulturasies” genoem (voetnoot bladsy 3).

Baie belangrike inligting word vir verdere navorsing weergegee, soos die voetnoot op bladsy 160 wat handel oor die opgehefde hand wat telkens op verskeie wyses terugkeer in Die uur van die engel.

Hierdie studie kan breedweg beskou word as ‘n teks wat sowel tot die teologie as die letterkundige studie behoort. Enersyds die ars moriendi dan met verwysings na die rituele kritiek (o.a. van Ronald Grimes, Catherine Bell, Elizabeth Kübler-Ross, o.a.); andersyds tree dit in gesprek met bekende letterkundige tekste oor die werk van Schoeman. Daar is ook teologiese insette en die sosiale wetenskappe (Kulturele Antropologie en Rituele Studies). So beskou is dit ‘n multi-dissiplinêre studie.

Grimes se inventarisasie van dodesrites (42 – 43) is van groot waarde vir die ontsluiting van enige teks wat oor die dood handel:

antisipering van die dood
segregasie, onderhouding van taboes
rou
markering van die einde van die routyd
beskerming van oorlewendes van die dood
publisering of aankondiging van die dood
saamkom, troos
wys van dankbaarheid, respek, of simpatie
demonstrering van ‘kinship’ of status en die versekering van opvolging
dramatisering van die dood se finaliteit
handhawing van of herstel van die sosiale orde na die dood
ontkenning van die dood se finaliteit
loslating van, integrering, omhelsing van die dood se finaliteit
herdenking

“In die Afrikaanse prosa was daar baie strominge. Ons het die Sestigers gehad, en die tagtigers; daar was die moderniste en die post-moderniste; en dan was daar Karel Schoeman’, aldus Chris van der Merwe.

Hierdie opmerking is relevant – want die enorme posisie van Karel Schoeman val nie te betwyfel nie. Die verskillende reaksies in die pers en op die internet het dit deeglik bewys Wepener is ‘n fyn leser. Hy bekyk die novisiaat (die probasie of internskap) en Schoeman se lewe in kloosters. Sy bemoeienis met die landskap van die dood is dan ook ingegee deur sy blootstelling aan die lot van mense (14 – 15).

Soos wat die Die laaste Afrikaanse boek ‘n vermenging van genres is, kan ‘n mens Wepener se studie ook lees as ‘n versmelting van nadenke oor die dood, ritualiteit, die skrywer se outobiografie, kreatiewe tekste, historiese tekste, en die Boeddhisme. Schoeman het Rob Nairn vertaal as ‘n Stil gemoed.

Hy betrek eweneens dominee-portrette as bron (52) en hierdie visuele data en kerklike kodes demonstreer hoe fyn Wepener lees via Susan Sontag se On photography en Roland Barthes se Camera lucida.

By sy lees van tekste, soos ‘n Lug vol helder wolke, betrek hy vele kritiese response op die teks en wys hy tereg op J.M. Coetzee se siening van die roman as ‘n moderne plaasroman. Religieuse konsepte word bespreek in ‘n voetnoot (81), eweneens tersaaklik vir die leser van ‘n Schoeman-roman. Wanneer ‘n mens hierdie studie lees, raak jy opnuut knorrig oor Marius Crous se fatale en banale interpretasie van ‘n Ander land:
Hierdie sterwenstoneel is ’n voorspooksel van Versluis se eie komende einde. Die toneel is in die eerste instansie ’n vermensliking van Versluis en dan ’n seksualisering. In aansluiting by Denisoff (1994:70) kan die liggaam van die sterwende man ook gelees word as ’n falliese objek wat sy finale orgasme belewe voor die dood en die “bloederige skuim op die lippe” kan die semen suggereer. (Tussen mans: ’n Perspektief op homososiale begeerte in Karel Schoeman se ’n Ander land | Marius Crous. Besoek 25 Augustus 2017). 
In ‘n voetnoot verskil Wepener tereg (100) en wys op die feit dat ons hier ‘n teringlyer het wat sterf in die arms van ‘n landgenoot. Hier het ‘n mens dus ‘n bewys van wat Attridge bedoel met ‘n instrumentalistiese lesing, omdat Crous ‘n templaat op die komplekse teks afdruk wat die teks verminder.

Een van die grootste pluspunte van hierdie studie is dat dit leser veral met voetnote teologies oplei. O.a. oor die epikletiese struktuur (136). Die epiklesegebed in die Protestantse liturgie is die gebed net voor die Skriflesing en staan bekend as die gebed om die verligting deur die Heilige Gees.

In die reeds bekende onderhoud met Gerrit Olivier (opgeneem in Sluiswagter by die dam van stemme, 2002) bely Schoeman dat hy nie die dood vrees nie. Hy haal ook Van Wyk Louw aan:

Mooi is die lewe en die dood is mooi
(“Nog in my laaste woorde”)

In die agtergrond is daar ‘n plaashek … ‘n beeld van oorgang, liminaliteit. Sterwe is iets waarmee jy lewenslank besig is … (113)

Dis ‘n boek vir alle Schoeman-lesers. Dis baie goed nagevors en uiters leersaam.


Tuesday, May 2, 2017

In memoriam Karel Schoeman (1939 – 2017)


Om die werk van Karel Schoeman as groot te beskou, is nie oordrewe nie. Trouens, sy dood ruk ‘n mens tot stilstand omdat die Afrikaanse letterkunde ‘n skrywer van statuur verloor het. My eerste kennismaking met Schoeman se werk was in 1975 toe ons sy Op ‘n eiland (1971) behandel het in die eerstejaar prosakursus aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die subtiele hantering van die liefde en die besoek aan die versonke stad, word toe ‘n eksamenvraag, een wat jou leserskennis toets vir subtiliteit in hierdie prag stemmingsroman.

“Die hoop beskaam en die liefde beteken afstand en verlange en verlies” (127) en die volgende binnespraak sou vele lesers herken en vir jare daarna kon opsê:
Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit ‘n maan gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil – o ja, daar is eilande. (132) 
Die roman eindig met die woorde:

Dit is ‘n lang reis van die eiland na Piréus.

En onderaan: 9 Junie 1970.

Tydens my eerste jaar as dosent aan die UK, doseer ek hierdie roman. Ek verwys na die besoek aan die versonke stad as die motoriese moment en hoe daar altyd ‘n spanning is tussen die vertellende en belewende aspekte van die vertelling. Ook die binnespraak is tersaaklik.

Schoeman se gebruik van sub-teks en sy subtiele hantering van ‘n gay-liefdesgegewe, is eweneens belangrik. En natuurlik: die agterna-perspektief en die gebruik van “vreemde” woorde. Die sirkelgang van die roman …

Die tersluikse verwysing na Le Rouge et le Noir van Stendhal met die wete dat daardie hoofkarakter toelaat dat sy emosies hom sal oorrompel … (The Red and the Black - Wikipedia. Besoek 2 Mei 2017).

By die heruitgawe van die roman, skryf ek soos volg op my blog:

Daar is hartgrypende passasies oor onvervulde liefde en begeertes regdeur die teks:
mense wat mekaar toevallig in ‘n trem aanraak, by haltes afklim – maar die begeerte word nooit opgelos nie. (Woorde wat Weeg/ Karel Schoeman - Op ‘n eiland, 2009. Besoek 2 Mei 2017). 

En later sou ek sy verruklike ‘n Ander land lees (1984), Afskeid en vertrek (1990), Hierdie lewe (1993) en veral: Die uur van die engel (1995) as persoonlike hoogtepunte uitsonder.

En natuurlik sy vertaling van Rob Nairn se ‘n Stil gemoed bly ‘n wonderbaarlike vertaling. So word hierdie boekie bemark, ‘n Inleiding tot die Boeddhisme en Meditasie:
'n Stil gemoed is 'n eenvoudige inleiding tot die Boeddhisme en meditasie. Die Boeddhisme is wesenlik 'n aantal metodes om met die verstand en gemoed om te gaan. As ons hierdie metodes verstaan en op ons lewens toepas, sal hulle ons inherente vermoë om innerlike vrede, erbarming en wysheid te ervaar laat ontplooi deur die potensiaal van ons gees te ontwikkel. Mediteerders in die Weste ervaar unieke probleme as gevolg van hul kulturele, sosiale en sielkundige agtergrond.
('n Stil Gemoed / Rob Nairn. Besoek 2 Mei 2017).

Sy Witnesses to war (1999) waar hy fungeer as redakteur van dokumente rondom die Anglo-Boereoorlog, is eweneens vir my ‘n persoonlike baken.

Hier sien jy die samehang tussen sy historiese werk en sy kreatiewe tekste. Hoe die navorsing die romankuns voed.

Schoeman skryf in sy Voorwoord dat mense oorloë romantiseer. Hierdie oorlog was egter een verveling, frustrasie, futiliteit en fisiese ongemak, skeiding, destruksie, swak vervoer en kosvoorsiening, disenterie, blase, stof, modder, vlieë, luise - teen die konstante agtergrond van potensiële geweld en gevaar. Hy wys op die geweld teen vroue in  die konsentrasiekampe en hoe kinders dikwels op doodskiste geslaap het.

26 370 wit vroue en kinders is dood in die ABO en veel meer as die 14 154 swart mense  as wat die offisiële statistiek weergee. (Woorde wat Weeg/ Karel Schoeman (Red.) - Witnesses to war, 1999. Besoek 2 Mei 2017)

Sy Na die geliefde land is verfilm as Promised land (2002).

In ‘n nuusflits uit Engeland, stuur ‘n vriend die volgende nuusberig aan:
Karel Schoeman died this morning in the Bloemfontein retirement village where he'd lived for the last few year. He took his own life, aged 77, and left a sober, unemotional and detailed explanation with his attorney, who has now released it to the media. The note describes his increasing lack of interest in research and writing, and his gradual physical deterioration. Not wanting to be a burden to others, and disinclined to deal with the indignities and pain associated with the later ageing process, he decided to commit suicide. He talks a bit about the necessity of public debate around assisted dying and the individual freedom to take one's life at the end. In spite of the legal restrictions operative in this country he notes that with knowledge and the assistance of relevant contacts there are ways to achieve a peaceful self-death.
En dit is ‘n raak opsomming van Schoeman: ‘n sobere, nie-sentimentele uitkyk wat kenmerkend was van sy skryfwerk.

Die invloed van Schoeman se werk op J.M. Coetzee se skryfwerk – veral die vroeëre Schoeman  – moet nog deeglik beskou word. Twee groot skrywers wat die landskap van stilte verwoord.

© Joan Hambidge

Wednesday, March 27, 2013

Karel Schoeman (Red.) - Witnesses to war (1999)



Karel Schoeman (Red.) Witnesses to war. Human & Rousseau, 1999. ISBN 978-0798138482.


Resensent: Joan Hambidge

Witnesses to war dra as sub-titel: Personal documents of the Anglo-Boer War (1899 - 1902) from the collections of the South African Library. Die samesteller is Karel Schoeman, een van ons voorste romansiers en historiese navorsers.

Telkemale publiseer Schoeman saam met 'n roman 'n stuk historiese navorsing. Hieruit kan 'n mens dan aflei dat hy vir die leser agtergrondsinligting wil gee vir die bestudering van sy eie fiktiewe tekste. Witnesses to war moet dus saamgelees word met sy jongste reeks romans.

Volgende jaar is dit die herdenking van die Anglo-Boereoorlog en nou onlangs was daar 'n kongres in Pretoria aangebied oor die kongres. Ons noem dit nie die Suid-Afrikaanse oorlog nie, sê Swart historici wat nie almal was daarby betrokke nie. Selfs oor die naamgewing gaan die vonke spat. En wie se oorlog was dit presies? En as daar 'n gender-analise gemaak word - soos Helen Bradford van die Departement Geskiedenis aan die UK gedoen het  - dan is daar ook nie eenstemmigheid nie.

Schoeman skryf in sy Voorwoord dat mense oorloë romantiseer. Hierdie oorlog was egter een verveling, frustrasie, futiliteit en fisiese ongemak, skeiding, destruksie, swak vervoer en kosvoorsiening, disenterie, blase, stof, modder, vlieë, luise - teen die konstante agtergrond van potensiële geweld en gevaar.

Dit is 'n fassinerende boek wat tydig op my lessenaar geland het. Dit bevat tersaaklike persoonlike kommentaar op 'n oorlog wat volgende jaar herdenk word. Antjie Krog het op Donderdag 22 Oktober (in 'n forum op Stellenbosch) 'n relevante vraag gevra oor ons historiografie: hoé is dit moontlik dat ons vir dertig jaar in hierdie land met blindheid geslaan was? En waarom is dit vir ons maklik om oor die Boereoorlog te kan praat en skryf? Is dit omdat die Afrikaner toe 'n held was?

Gewoon net die hewige reaksie op haar Country of my skull aktiveer 'n belangrike vergelyking tussen die Waarheids- en versoeningskommissie versus die dokumentasie rondom die Anglo-Boereoorlog, die term wat ek verkies.

Schoeman se Witnesses to war bevat hartverskeurende passasies. 'n Mens kan werklik nie ongeroerd staan teenoor die waarnemings en ervarings oor die onmenslike toestande van die konsentrasiekampe nie. Die beskrywing van moeder se totale magteloosheid ten aanskoue van haar kind se siekte, is werklik aangrypend. Ook wanneer die “lijkwagen” opdaag - en die ritueel vangesange sing - laat geen leser koud nie.  En niemand kan sê die buite-wêreld het nie geweet nie. Mevrou Jacoba Lorentz het in Switzerland etlike lesings gegee oor die kondisies in die kampe.

Die belangrikste effek van hierdie roman is dat dit onwillekeurig 'n mens dink aan al die verhale wat jy as kind oor die Boereoorlog gehoor het. Ma weet te vertelle van Ant' Breytie Breytenbach-hulle wat na die oorlog op hul plaas in Frankfort opdaag. Die Engelse het alles geplunder. Behalwe: langs die varkhok staan die boerpampoene dik gestoel van die pitte wat die varke uitgespoeg het.

Daar is vir my nie 'n meer gepaste metafoor as hierdie een vir die Boereoorlog nie.

Of die verhaal van die boereoom wat verflenterd opdaag na vele ontberinge in die oorlog, sy ou vrou vir die eerste keer sien na sy uit die konsentrasiekamp weg is en meteen besef: sý oorlog was absoluut niks in vergeleke met hare nie.

Of die mite dat die boere gesê het: moenie 'n Engelse generaal skiet nie. hy is ons beste vriend wat sy swak oordeel en bevele het die boere menige keer goed te staan gekom.

Schoeman se boek bevat vele wetenswaardighede. 26 370 wit vroue en kinders is dood in hierdie oorlog; en daar is meer swart mense dood as die 14 154 as wat die offisiële statistiek aangee.

Dit is werklik 'n boek wat 'n mens keer op keer tref. Soos die profetiese droom van die twaalfjarige Anna Kloppers (p. 161): in hierdie droom vertel die man vir haar dat God nie die klein volkie sal uitwis nie.

Of die beskrywing van die lykwaentjie wat die dooie kind moet kom haal en die ritueel van afskeid. Of die jong kinders wat in die kampe op die kiste slaap.

Die moderne historiografie is dan ook besonder geïnteresseerd in die orale oorlewing of persoonlike dokument wat dikwels 'n verrassende bydrae lewer tot 'n epogmakende insident.

Ook die foto-materiaal in hierdie studie verdien vermelding. Op bladsy 109 sien 'n mens duidelik hoe swartmense weliswaar deel gevorm het van die oorlog, uniform en al. Met hierdie publikasie word sodanige bydraes aan die vergetelheid ontruk. 


Ek het lanklaas 'n non-fiksie boek só geniet. In aansluiting by al die bekendste studies oor die Boereoorlog - waarvan Spies se Methods of barbarism vir my persoonlik die meeste beteken het - is hierdie dokumente-studie 'n moet alle belanghebbendes.

Die teks is uiters goed versorg en die Engels vloei goed. 'n Mens is werklik dankbaar vir Schoeman se ywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]