Arthur Attwell. Killing Time. UCT Writers Series No. 4: Snailpress, 2005. ISBN 1
874923 69 8.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Debuut is altyd ‘n heerlikheid om te
beleef as die digter ‘n mens oortuig dat hy iets te sê het en dit veral
treffend verwoord. Vanaf die omslag met ‘n ongeveer sewejaar oud seuntjie
(waarskynlik outobiografies) wat hande in die sakke staan en teen ‘n growwe
muur aanlê tot die laaste gedig, is ‘n mens bewus van ‘n keurige versorging van
die gedigte.
‘n Voorblad van ‘n bundel praat altyd saam
met die verse: dink byvoorbeeld aan Gilbert Gibson se Boomplaats (Tafelberg)
waar die guillotine al ‘n kode aanstip; of Nuwe stemme 3 (Tafelberg) waar ‘n
beeld van Claudette Schreuders iets van die toonaard verduidelik; hier het ons
‘n jong kind en in die gedigte die ouer persoon wat terugkyk na die eerste,
sublieme ervarings van die lewe. Iets wat in die digkuns bekend staan as die
nostalgie, maar dikwels tot gevolg het dat die volwassene wil terugkeer na die
ongeskonde, paradyslike bestaan. Hierin het Pablo Neruda voortreflik uitgemunt:
om te vertel hoe die eerste gedigte na hom gekom het uit en deur die natuur en
in die fiksionele film, Il postino, word hierdie krag goed verbeeld.
Killing time. Om verveeld te wees. Om te
wag op iets. Om ‘n naweekdigter te wees (dalk) soos Wallace Stevens. Dit was ‘n
leuen, weet ons, want digters skryf juis wanneer hulle nie skryf nie. Dan neem
hulle waar, herbesoek inhoude, herinneringe en die pragtige, ontroerende
“Killing time” waarin ‘n vlermuis doodgemaak word, sien ons hoe die digter die
onsêbare verwoord:
Just after dusk, our parent sin the church,
we gathered outside on the patio
killing time. What brought us, then, the
gift
of a bat in flight? ...
Die opposisie tussen die kerk (orde) en die
kinders se ontmoeting met die vlermuis (simbool van die onsienlike, bose,
buitenissige..) word in opposisie geplaas. Die kinderlike vernielsug word dan
gekoppel aan iets groters; die soeke na die onsienlike. Die terugkeer na
hierdie oomblik (‘n belangrike vers in die bundel) is ‘n primordiale ervaring
vir die jong digter wat gekonfronteer word met magte groter as hy...
Die digter dra die bundel op aan sy ouers
en vele verse beleef hy die jeugjare en die onvermydelike verwonding wat dit
inhou. Die openingsvers, “My father’s churchyard” aktiveer ‘n delikate
verhouding tussen kind en ouer. Die tuin wat so raak beskryf word aktiveer ‘n
hele Engelse landskaptradisie en natuurlik die digter Robert Frost praat ook
(subtiel) hier saam.
Die simboliese lading van die verse word
stiekem hanteer. In “Finding crabs” word dit méér as die vangs. Dit word ‘n
onthutsende ervaring van die krap wat geboorte gee aan “sowing crabs” en
kinders wat wegswenk van die brose “unguarded belly”. Freud en Melanie Klein
het diepgaande geskryf oor die impak wat só ‘n geboorteproses op die jong kind
se psige het. In die veelvuldige studies oor melancholie deur Freudiane kan
hierdie dwingende proses ‘n geweldige merk laat op die gemoed van die gevoelige
persoon – iets waarop die digter en kreatiewe persoon altyd teer, soos Freud
dan uitwys in sy studie oor Leonardo da Vinci. Die enigmatiese glimlag van die
Mona Lisa het Freud ondersoek en belangrike uitsprake gemaak oor verlies en
sublimasie na aanleiding van ‘n oorrompelende ervaring wat die jong kunstenaar
gehad het (“Leonardo da Vinci and the memory of his childhood”. 1910). Maar was
dit waar? En presies wát het die kind gesien? ‘n Klein voetnoot: ‘n vertaalfout
het ingesluip en ons is steeds vandag nie seker of Leonardo ‘n arend gesien het
of nie...
In ‘n onderhoud op Litnet bely die digter
‘n kennis van Ovidius en “Frog” aktiveer iets van ‘n transformasie-proses
waaroor hierdie digter so uitvoerig geskryf het. In “Eohippus” is daar ‘n spel
rondom die betekenis van die argetipiese perd. Die digter aktiveer ‘n hele
intellektuele betekenisveld wat hy slim aktiveer sodat die leser ook Pegasus
hier inlees.
Tekstuele verwysings is bykans in elke vers onder die oppervlak
aanwesig: menige leser sal sug en meen dis waarskynlik toe te skryf aan die
feit dat die digter hierdie manuskrip in MA-Kreatiewe Kursus voltooi het. Die
digkuns helaas werk altyd ten beste wanneer ‘n tradisie erken en slim ondermyn
word. Juis hierom sou ‘n mens wou weet presies wat Lina Spies bedoel wanneer sy
van ware poësie praat en dat hedendaagse bundels haar nie juis behaag nie. Is daar
enigsins nie plek vir verskillende soorte diskoerse nie? (“Bloemlesing van ware
poësie”, Die Burger 17 Oktober 2005).
Die verwysing na Wallace Stevens se
beroemde uitspraak dat alles in ‘n mens se jeug fisies is en later as psigies
ervaar word (“Adagia”), loop soos ‘n fynskrif deur hierdie bundel en “Before
thirteen” is so skerp, so helder verwoord:
A teacher will carelessly stop your heart
like a wrench on a tap.
En tog oorleef ‘n mens al hierdie verliese,
net as jy dit kies.
In “My first England” imponeer die fyn
metaforiek (die verwysings na Turner en (S)wift veral!), die ware digter se
handtekening. Tot sover die eerste afdeling.
In die tweede afdeling betrek hy die
skryfproses openlik in “Postcard”. Die gedig-as-poskaart is nie ‘n nuwe gedagte
nie; trouens, in Afrikaans het ons ‘n hele bloemlesing wat Poskaarte heet. Tog
speel hy interessant met die betredende posisie van die leser wat ‘n gedig
lees. Daar is hier ‘n groter betrokkenheid met die grootmenselewe (“Root
canal”).
In die derde afdeling skryf hy oor die
Karoo-landskap, oor “Officer’s log, the wrecked Cabalva, July 1818”), oor
“Ghost lakes”, “Robber’s Grave”, langer, uitgesponne verse. As ek dit mag noem:
hierdie digter is beter in die korter vers, vir my smaak altans. Die log-boek
gedig aktiveer ‘n herinnering na die Titanic-logboek wat ek by Halifax gesien
het en die assosiasies wat dit by die kyker meemaak oor presies wat alles by
hierdie skriba moes plaasvind...
Daar is ook endnotas en ‘n intertekstuele
verwysing na Kim McClenaghan se Revisitings (Snailpress/UCT, 2002), self ‘n
opwindende digter.
Om af te sluit: ‘n bundel waarin die digter
ortuig dat hy vakman is en iets het om te sê. Dit is ‘n debuut waaroor ‘n mens
uiters dankbaar kan wees en een wat gerus gelees kan word deur diegene wat ‘n
onbehae voel met die hedendaagse digkuns. Carthago delendum est.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Litnet Seminaarkamer geplaas.]