Monday, February 11, 2013

Gail Dendy - The Lady Missionary (2007)



Gail Dendy. The Lady MissionaryKwela, 2007. ISBN 0 7957 0248 5.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad van Gail Dendy se digbundel The Lady Missionary is daar ‘n afdruk van ‘n vrou wat wegstap. Ons sien die suggestie van die waai van haar been. Agterop staan daar:

I wish to enjoy our delicious waltz
and a sexy rumba. I wish to be eloquent.
My shoes have the requisite diamonds at their heels.
My hips are satin. But there is a purple flower
hidden deep inside my mouth.

Die verwagtingshorison – daardie ou term van Jauss en Iser uit die dolle dae van die resepsie-estetika – laat jou jou lippe smak vir iets lekker en ongehoords. Jouissance, die plesier van die teks. Die erotiek van die teks wat ‘n bietjie been wys, skuifel-skuifel.
Gaan jy rumba of gaan jy sumba? Of chachacha?

In die Afrikaanse digkuns het ons ‘n lang tradisie van lekker “raunchy” gedigte wat goed verteenwoordig word deur Antjie Krog en Johann de Lange se Die dye trek die dye aan.

Die Engelse digkuns is ‘n bietjie aan die stywerige kant met betrekking tot die grensoorskrydende ontginning van die lyflike. Daar is / was nog nooit ‘n Koekie Ziervogel of ‘n Nagsweet nie.

Die bundel begin egter op ‘n ander noot. Sterk verse oor die jeug – soos o.a. ‘n pa wat sy vinger by saagmeule verloor en ‘n gedig “Easter Egg” waarin die verf van paaseiers ‘n klein les word oor kulturele verskille.

In “Forgive” (p. 24) is daar enorme digterlike krag:

“turn on the verbs
like rain, like nouns, like coins scattering”.

In die besondere sterk “Wedding party” word ‘n vader se konflik met ‘n dogter se huwelik sterk verwoord. Die beskrywing van die gaste is snaaks en pittig, maar algaande word die leser ingetrek in die Freudiaanse familie-romanse. Hierdie gedig, soos “The circular saw”, spreek boekdele. Nie alleen word daar knap met woorde gespeel nie, maar die digter neem jou na komplekse, onuitgesorteerde emosies oor die Vader en die familie: die broeiplek van die digkuns. “Two selves” beklemtoon dit eweneens: die buite- versus die binne-self. Die leser bekend met Clarissa Pinkola Estés se Woman who runs with the wolves sal tersaaklike kodes uit daardie Jungiaanse studie kan raaklees in gedigte – ek dink hier aan “Miss Havisham” en “Two selves”.

“Invitation to the dance” is die gedig waarna hierbo verwys is en die versugting van die spreker om los te kom van haar swaar self. (In die klein bio lees ons dat die digter tydens die 80 en 90er jare moderne dans in Suid-Afrika bevorder het.)

Sy dig suggestieryk en gedigte oor die vader is aangrypend. Die herinnering van hoe ‘n vader ‘n beseerde kormorant laat gaan het, bly lank in die gedagtes priem (“Accident”).

In “Holding Poem” dig sy soos volg:

I hold the pain in my body
the way a squirrel holds a nut

inside of its jaw. I sear I’m inside out,
swivelling round on my spine,
prickling from head to foot
in the crowded cap of a tree

with its skull of berries and leaves,
its arthritic roots, its stitched up arteries.

Die slotvers “A love letter” is ‘n gedig wat die meeste van die temas in die bundel oopmaak. Die verhouding met die ouers kom sterk na vore en ‘n besoek aan die Vallei van ‘n Duisend Heuwels waar hulle ontmoet het.

Hier onthou sy – teryl die pad kronkel soos ‘n luislang wat ‘n eier ingesluk het! – ‘n nota van haar vader agter op ‘n koevert:

We honeymooned here. Ate mielies, drank beer,
and were sick for a week.  (p. 92)

Die bundel handel oor die intiem-persoonlike: siekte, die ervaring van moederskap, hoe ‘n geliefde of kat slaap. Maar daar is verse wat ook búite haar staan soos ‘n gedig oor Johannesburg sodat daar ‘n fyn balans bestaan tussen die binnespraak / buitespraak-aspek van die digkuns.   Ek was geïmponeer met die sterk beeldende aanslag. Verse word konkrete voorstellings van dikwels metafisiese of besinnende kwessies.

Dit is ‘n pragtige bundel met ‘n handvol baie sterk verse. Die digter het al vantevore stem dik gemaak in al die bekende publikasies hier te lande en onder andere in Orbis en The Interpreter’s House in VK.

Die voor- en agterblad het my net ‘n verkeerde spoor geplaas. Maar al is die verwagtingshorison gefnuik, het die leesplesier daarvoor opgemaak!

Miskien was sy bang lesers sou afgesit word deur die té emosioneel-gelade verse.

Vir die egte “poetry junky” is hierdie ‘n moet-koop bundel. Geskryf met ‘n vaste, sekure hand – vol suggestie en innuendo.

Dit is ‘n ko-produksie van Kwela / Snailpress en lesers sal haar herken as die skrywer van Painting the bamboo tree (1999).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]