André le Roux du Toit (Koos Kombuis), Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden. Brekfis met vier. Human & Rousseau, 1982/2005. ISBN 07981 4537 4.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Tydsdokument. Dis hoe ‘n mens ten beste hierdie
heruitgawe van Brekfis met vier kan beskryf. ‘n Bundel wat
indertyd verskyn het by Uitgewery Skoppensboer en vier debutante gelanseer het
wat nou, in eie reg, skrywers van formaat geword het. Dit is dan ‘n bundel
waarin vier skrywers se “brekfis” vir ons weer aangebied word, terwyl al vier
reeds besig is met ‘n lang skrywers-lunch in ‘n gesogte restaurant van hul eie
keuse. (Dalk vir Koos steeds die Wimpy, maar ons verwag Van Heerden by La
Perla…)
Koos Kombuis is bekend as openbare figuur en
romanskrywer. Hugo as veelbekroonde radiopersoonlikheid by RSG en beoefenaar
van die speelse en spulse vers. Snyders as bekende skrywer en satiriese
skrywer. Van Heerden, lank nie meer digter nie, maar internasionaal gelanseerde
skrywer wat in verskillende tale sy stem dik maak.
Dit is dan ook ‘n bundel waarin tagtig aangekondig word.
‘n Dissidente beweging wat veral deur “little magazines”, soos Stet, Graffier, Taaldoos, en ander teen
die heersende kanoniseringsproses en politieke orde in opstand gekom het. Tydskrif vir letterkunde was maar een
plek, soos Standpunte, waar jong
skrywers ‘begin’ het, maar die werklike arena, was die ruimte van ondermyning,
dissidensie, self-uitgawe, comic-strip, Taurus.
Dieselfde skrywers wat in Tydskrif vir letterkunde gepubliseer
het, was ook krities oor hierdie behoudende tydskrif. ‘n Mens dink hier aan die
tekste van Koos Prinsloo of Koos Kombuis wat later op ander plekke al hoe
driftiger en skerper geword het. ‘n Mens onthou ook die ontsteltenis toe Stet die eerste openlike gay-gedigte
gepubliseer het. Of toe Koekie Ziervogel se send-up van De Kat versprei is met parodieë van Totius en ‘n lugubere
blokkiesraaisel.
Beoordeel as tydsdokument is Brekfis met vier dan belangrik. Dit neem ‘n mens terug na die
eerste probeerslae van jong mense met durf. ‘n Mens kan insien hoekom D.J.
Opperman publikasie geweier het met ‘n aanmoedigende brief. Terselfdertyd is
daar ook die verrassing van Daniel Hugo se eerste gedigte wat so trefseker en
in die kol is! Ek dink steeds dat die lykdigte rondom sy broer se dood pragtig
en onthoubaar is. “Ex unitate” is ook Hugo op sy beste:
Liewe liewe vrou – my uniegebou
met tweelingtorinkies kompleet – in jou
sal my minister van binnelandse sake
vannag sy dringende spitsberaad hou
Die vormvastheid van die verse val op in ‘n bundel waar
die vrye versvorm ryklik ontgin word.
Van Heerden, wat inmiddels die digtersambag verlaat het,
se skerp blik is opvallend in sy gedigte. In “Besoek aan Stikland” is daar ‘n
bykans surrealistiese beeldgebruik:
‘n Verlepte pilsakkie
stort kokongeel spinnekoppies
oor die tafelblad.
‘n Lemoen lag soos ‘n nar
teen jou mond (…)
Peter Snyders wat in sy “gammattaal” in opstand kom teen
die korrekte Afrikaans wat toe hoogmode was en die lewenslot van die “ordinary
mens” beskryf. Nie alleen word die lewe van bruin mense, of in sy woorde,
“coloureds” vir die eerste keer werklik deurpriem nie, maar ook die siening van
hoé ‘n gedig moet lyk, is deur hierdie belydenisverse op sy kop gekeer en die
weg gebaan vir ander sogenaamde Vlakte digters. Onder leiding later van Hein
Willemse, om dit wat nog altyd ge-grootverseboek is, te ontmasker as vals en
leeg wanneer ‘n land brand. Ten minste dan vir mense wat nie tot die Afrikaanse
pooizie behoort nie.
Die ironies-navrante “Dankie my baas” skeer ook die gek
met wit mense se geykte seining van bruin mense: hierom word hulle bedank vir
die “sugar coating” rondom die pil. Hierdie verse het na al die jare nog baie
skop in hulle!
Koos Kombuis is natuurlik een van die eerste beoefenaars
van die postmodernisme. Hy begin dan ook met “n apologie”waarin die
eksperimentering met dwelms openlik bely word en A.G. Visser grondig herskryf
word. Ook Opperman word aangespreek in “Krismis uit ‘n koffiefles” en die rol
van die digterskap word telkens debunk
by Koos Kombuis wat ook die lewe van die skisofreen vir ons karteer.
Gedigte handel dus nie net oor “mooi” onderwerpe wat in
netjiese strukture ingeplant word nie. Nee, die digters dig oor die on-mooie,
oor dwelms, waansin, apartheid, kanker, die dood… Hierom kan ‘n gedig op
toiletpapier geskryf word. Hierom vind ons anti-verse of gedigte wat in
speelse-Nederlands wil praat of in Kaaps aangebied word.
En die foto’s agterop? Neffens die eerste foto dan ‘n
resente foto van die skrywer wat roep om ‘n semiotiese ontleding. Koop gerus
hierdie stukkie Africana.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]