Showing posts with label Cas Wepener. Show all posts
Showing posts with label Cas Wepener. Show all posts

Friday, August 25, 2017

Resensie | Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017)

Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. SUN Media, 2017. ISBN 9781928355144

Resensent: Joan Hambidge

I
Karel Schoeman is een van Afrikaans se bakens.

Sy selfdood vroeër vanjaar het wye reaksie in die media ontlok en opnuut bevestig hoe belangrik hy geag word deur sowel gewone lesers as letterkundiges. Selfs diegene wat hom nooit ontmoet het nie, was deur sy dood geraak. En die outeur van hierdie studie het die skrywer vroegtydig in kennis gestel van die studie en haal uit sy e-pos aan van 29 April. Op 1 Mei 2017 is hy oorlede.

As historiese navorser en romanskrywer het hy geen gelyke wat produktiwiteit, diepte en stilistiese beheer betref nie. Min skrywers het so ‘n groot oeuvre nagelaat en die navorser Cas Wepener se studie is van waarde vir alle Schoeman-lesers. H.P. van Coller wys tereg op die rol van die noodlot, historiese kragte en verganklikheid in die mens se lewe wat Schoeman ondersoek.

Wepener se studie – as teoloog en gedragswetenskaplike – gee ‘n teoretiese perspektief op die betekenis van dood in Schoeman se romans. Die studie beslaan 233 bladsye, is teoreties gefundeer en soos Willie Burger opmerk in die Voorwoord, vermy Wepener ‘n instrumentalistiese benadering tot Schoeman se komplekse tekste, juis omdat hy die onbekende en onvaspenbare erken. Burger beklemtoon tereg hoe Schoeman jou in sy tekste intrek; dit maak ‘n inwaartse reis moontlik. Inderdaad dwing dit jou tot selfkonfrontasie met ‘n ritme wat ‘n mandala word (vii).

Met instrumentalisties verwys Burger na Derek Attridge se studie The Singularity of Literature van 2004 waar hierdie term beteken dat ‘n mens ‘n teks benader met ‘n voorafbepaalde doel.

Daar is passasies in ‘n Schoeman-roman wat hierdie leser van buite ken. ‘n Mens lees hierdie romans – wat nie plot-gedrewe is nie – agter die tekstuur aan. Jy kan dikwels nie ‘n finale, vaspenbare betekenis gee nie; maar passasies bly altyd in jou draal en nawerk.

II
Die boek beslaan 7 hoofstukke. In die eerste hoofstuk word die kuns van sterwe in die oeuvre ondersoek. In die tweede hoofstuk word daar gekyk na oorgangsrituele, “dominees” en die dood, terwyl die derde hoofstuk kyk na die twee dominees en Meester in ‘n Lug vol helder wolke. In die vierde hoofstuk word Pastoor August Scheffler in ‘n Ander land ondersoek. In die voortreflike Die uur van die engel (my gunsteling Schoeman-roman naas Op ‘n eiland), word Dominee Theophilus Heyns en Danie Steenkamp beskou. In die sesde hoofstuk is daar nog vier stemme en die sewende hoofstuk bespreek  die kern van die kriterium.

III
Van ons grootste literatore het oor hierdie romanskrywer boeiende en uitgebreide studies geskryf en daar word in gesprek getree met die reeds genoemde Willie Burger, Van Coller, Gert Jooste, J.C. Kannemeyer, Henriette Roos, Gerrit Olivier, Helize van Vuuren, Chris van der Merwe en Louise Viljoen. Vir hierdie leser was die outeur se analise van die viatikum boeiend. Die Romeine het ‘n muntstuk geplaas in die persoon se mond wanneer hy sterf sodat hy die bootsman Charon kon betaal. Christene, egter, het geglo dat gestorwe gelowiges na God gaan en hierom is die muntstuk vervang met die toediening van die Nagmaal net voordat die persoon sterf. Hierdie vermenging van kultus en kultuur word in die Liturgiewetenskap “liturgiese inkulturasies” genoem (voetnoot bladsy 3).

Baie belangrike inligting word vir verdere navorsing weergegee, soos die voetnoot op bladsy 160 wat handel oor die opgehefde hand wat telkens op verskeie wyses terugkeer in Die uur van die engel.

Hierdie studie kan breedweg beskou word as ‘n teks wat sowel tot die teologie as die letterkundige studie behoort. Enersyds die ars moriendi dan met verwysings na die rituele kritiek (o.a. van Ronald Grimes, Catherine Bell, Elizabeth Kübler-Ross, o.a.); andersyds tree dit in gesprek met bekende letterkundige tekste oor die werk van Schoeman. Daar is ook teologiese insette en die sosiale wetenskappe (Kulturele Antropologie en Rituele Studies). So beskou is dit ‘n multi-dissiplinêre studie.

Grimes se inventarisasie van dodesrites (42 – 43) is van groot waarde vir die ontsluiting van enige teks wat oor die dood handel:

antisipering van die dood
segregasie, onderhouding van taboes
rou
markering van die einde van die routyd
beskerming van oorlewendes van die dood
publisering of aankondiging van die dood
saamkom, troos
wys van dankbaarheid, respek, of simpatie
demonstrering van ‘kinship’ of status en die versekering van opvolging
dramatisering van die dood se finaliteit
handhawing van of herstel van die sosiale orde na die dood
ontkenning van die dood se finaliteit
loslating van, integrering, omhelsing van die dood se finaliteit
herdenking

“In die Afrikaanse prosa was daar baie strominge. Ons het die Sestigers gehad, en die tagtigers; daar was die moderniste en die post-moderniste; en dan was daar Karel Schoeman’, aldus Chris van der Merwe.

Hierdie opmerking is relevant – want die enorme posisie van Karel Schoeman val nie te betwyfel nie. Die verskillende reaksies in die pers en op die internet het dit deeglik bewys Wepener is ‘n fyn leser. Hy bekyk die novisiaat (die probasie of internskap) en Schoeman se lewe in kloosters. Sy bemoeienis met die landskap van die dood is dan ook ingegee deur sy blootstelling aan die lot van mense (14 – 15).

Soos wat die Die laaste Afrikaanse boek ‘n vermenging van genres is, kan ‘n mens Wepener se studie ook lees as ‘n versmelting van nadenke oor die dood, ritualiteit, die skrywer se outobiografie, kreatiewe tekste, historiese tekste, en die Boeddhisme. Schoeman het Rob Nairn vertaal as ‘n Stil gemoed.

Hy betrek eweneens dominee-portrette as bron (52) en hierdie visuele data en kerklike kodes demonstreer hoe fyn Wepener lees via Susan Sontag se On photography en Roland Barthes se Camera lucida.

By sy lees van tekste, soos ‘n Lug vol helder wolke, betrek hy vele kritiese response op die teks en wys hy tereg op J.M. Coetzee se siening van die roman as ‘n moderne plaasroman. Religieuse konsepte word bespreek in ‘n voetnoot (81), eweneens tersaaklik vir die leser van ‘n Schoeman-roman. Wanneer ‘n mens hierdie studie lees, raak jy opnuut knorrig oor Marius Crous se fatale en banale interpretasie van ‘n Ander land:
Hierdie sterwenstoneel is ’n voorspooksel van Versluis se eie komende einde. Die toneel is in die eerste instansie ’n vermensliking van Versluis en dan ’n seksualisering. In aansluiting by Denisoff (1994:70) kan die liggaam van die sterwende man ook gelees word as ’n falliese objek wat sy finale orgasme belewe voor die dood en die “bloederige skuim op die lippe” kan die semen suggereer. (Tussen mans: ’n Perspektief op homososiale begeerte in Karel Schoeman se ’n Ander land | Marius CrousBesoek 25 Augustus 2017). 
In ‘n voetnoot verskil Wepener tereg (100) en wys op die feit dat ons hier ‘n teringlyer het wat sterf in die arms van ‘n landgenoot. Hier het ‘n mens dus ‘n bewys van wat Attridge bedoel met ‘n instrumentalistiese lesing, omdat Crous ‘n templaat op die komplekse teks afdruk wat die teks verminder.

Een van die grootste pluspunte van hierdie studie is dat dit leser veral met voetnote teologies oplei. O.a. oor die epikletiese struktuur (136). Die epiklesegebed in die Protestantse liturgie is die gebed net voor die Skriflesing en staan bekend as die gebed om die verligting deur die Heilige Gees.

In die reeds bekende onderhoud met Gerrit Olivier (opgeneem in Sluiswagter by die dam van stemme, 2002) bely Schoeman dat hy nie die dood vrees nie. Hy haal ook Van Wyk Louw aan:

Mooi is die lewe en die dood is mooi
(“Nog in my laaste woorde”)

In die agtergrond is daar ‘n plaashek … ‘n beeld van oorgang, liminaliteit. Sterwe is iets waarmee jy lewenslank besig is … (113)

Dis ‘n boek vir alle Schoeman-lesers. Dis baie goed nagevors en uiters leersaam.


Sunday, October 20, 2013

Cas Wepener - Dubbelfoto (2013)



Cas Wepener. DubbelfotoProtea Boekehuis, 2013. ISBN: 9781869199678 
Resensent: Joan Hambidge

Literatore wat gereeld resenseer sou met groot eenstemmigheid om die ronde tafel van die literatuur kon sit: daar word tans te veel boeke gepubliseer en wie koop dit? Stap by ‘n gesogte boekwinkel in en jy vind niks wat boeiend is nie. Dit staan dalk eerder by tweedehandse boekwinkels. So ‘n jaar terug het ek vir RSG ‘n boekeprogram hanteer en ek kon nie voorbly met die swak en middelmatige boeke wat in bokse voor my deur geland het nie. Hierom bestel ‘n mens eerder via die internet ordentlike boeke. Uitgewers bely: goedkoop om ‘n boek te publiseer, duur om te bemark.

Cas Wepener se Dubbelfoto is ‘n kortkunsdebuut wat op die agterblad beskryf word as ‘n “glansende toevoeging tot die kortverhaalskat in Afrikaans”. 

Ons verneem van ‘n boeiende leeservaring en dat dieselfde storie uit verskillende oogpunte vertel word. Verder gee verhale nie sommer hulle geheime alte maklik prys nie.

Sluit dit aan by die nuwe tendens om boeke ten alle koste te bemark?

As resensent glo ek: gun elke diertjie sy meninkie.

*

Vir my was hierdie verhale bloot anekdoties, optekeninge, opgedra aan Drienie “’n storiemens”. Maar dan soek ek, wel, ‘n storie. ‘n Storie soos by Tsjekof of O'Henry. Of Alice Munro.

Die motto uit Roland Barthes se Camera lucida rig die verhale: Barthes verwys immers na die punt wat die foto moet maak en die studium of komposisie. Inderdaad speel verhale op mekaar in – o.a. die Bentwood-stoeltjie is ‘n herhalende motief in die bundel. Dit word ook afgedruk by die begin van elke verhaal.

Die bundel bly in gebreke om die diepgang van Duiwel-in-die-bos te ewenaar in die herhaling van motiewe of as eenheidsbundel.

Die eerste verhaal “Memento mori” mag dalk gekanoniseer word in De Vries se kortverhaalbloemlesing of deur Aucamp in Die blote storie behandel word.

Ongelukkig is die meeste verhale wat hierdie leser betref beslis nie ‘n glansende toevoeging tot ons sogenaamde kortverhaalskat nie. Op hierdie gebied is daar wérklike meesters en die meeste verhale is gawe vertellinge of stories, maar helaas nie groot nie.

Oor familieportrette het ons al by Aucamp iets substansieels gevind en by Koos Prinsloo iets wat jou lank bybly.

“Memento mori” analiseer die betekenis van die dubbelfoto of dubbelportret. Die verhaal “Die naakte waarheid” verpas egter die geleentheid om seksuele taboes diepgaande te ontgin. Die meeste van hierdie verhale is nog nie genoegsaam verhaal nie. Hierdie verhaal som die problematiek op: ‘n soort selfbewustheid rondom broekies-aftrek en afloer. 

*

“En tog is ons almal verbind aan mekaar deur hierdie landskap” (82), word daar opgemerk, maar dit word nie genoegsaam uitgewerk nie. Die dor land (in aansluiting by Van Wyk Louw waartoe ons behoort). Ook die verbintenis tussen lewe en dood (die sogenaamde dubbelfoto) verras nie eintlik nie.

Van platteland tot die stad; van voorgeslagte tot agterkleinkinders. Dit is waarskynlik ‘n verhalebundel vir die meer populistiese mark. Wat bepaald ‘n plek het – maar die agterblad is misleidend en die verhale is nie dwingend genoeg nie. 

Die bundel het my wél teruggeneem na Barthes se meesterlike Camera lucida (1980) en die betekenis van foto’s. La chambre Claire heet die Franse titel – en dis presies hoe ‘n vertelling moet wees. Die Engelse weergawe het in 1981 by Hill and Wang in New York verskyn.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]