Sunday, May 29, 2022

Resensie | Franco Colin – Skeletaal | Imprimatur, 2022

Franco Colin – Skeletaal. Imprimatur, 2022. ISBN 978-0-620-98084-5 

Resensent: Joan Hambidge

 

 

I

In die lang galery van beduidende gay-digters soos die latere Ernst van Heerden, Hennie Aucamp, Stephan Bouwer, Johann de Lange, Marius Crous, Loftus Marais, Fourie Botha, o.a. kan Franco Colin se debuut Skeletaal gevoeg word. Die “vreemde liefde” is nou bekend aan alle lesers. Onlangs is S. J. Naudé se Dol Heuning, ‘n bundel waarin die gevaarlike en makabare ontgin word, bekroon met die Hertzogprys.

 

Sewe van Colin se verse is opgeneem in Nuwe stemme 6 (2017) en twee verse is opgeneem in Maskers en mure (2021). Van sy verse is ook gepubliseer op LitNet en Versindaba.

 

Hierdie is dan die solodebuut.

 

 

II

 

In ‘n vers word Roland Barthes aangehaal: One cannot write after a hedonist. – Graham Allen Ná Pres.

 

En die vreemde dood van Barthes doodgery deur ‘n wasgoedlorrie. Barthes se veelkantige en veelstemmige tekste word vir hierdie leser geaktiveer in “Die dood van Roland Barthes”:

 

Die bourgeoisie het ook hóm 

geassimileer en naamloos 

na die Salpêtrière vervoer.

 

Die outeur is dood.

 

Hierdie debuut werk met mediese en psigiatriese kwessies, met verwysings na kunswerke, met herinneringe aan die jeug en die soeke na ‘n identiteit. Daar is portretverse oor bekendes. Lykdigte ook en herinneringsverse oor die jeug en ouers.

 

Barthes se “The death of the author” (1967) moet egter binne ‘n strukturalistiese konteks gelees word en die latere Barthes het hierdie reëls van die spel oortree.

 

"All this must be considered as if spoken by a character in a novel”, skryf Barthes in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes deur Roland Barthes, daardie baken uit 1977. Lesers is eweneens bekend met Laurent Binet se  The 7th function of language. wat in 2017 verskyn het. Is Barthes werklik deur ‘n wasgoedlorrie (per ongeluk) raakgery of is hy vermoor? Hierdie leser dink dat ‘n bundel soos Skeletaal hierdie kodes aktiveer. Die digter verneem ons is psigiater en volgens die agterblad:

 

Hy tree gereeld op as forensiese psigiater en het ’n bekende gesig geword deur sy kundige kommentaar in Katinka Heyns se reeks ’n Lewe met

 

Die epiteks is uiteraard belangrik, omdat dit kodes gee vir die lees van ‘n bundel.

 

Op die voorblad:

Vooraansig van ’n man met die vel van sy regterarm en -been in sy hand, Giulio Bonasone, sestiende-eeuse gravure.

 

 

III  Die grein van die stem

 

‘n Afdeling heet Spraakkamer. Die leser voel dikwels asof sy in ‘n spreekkamer sit.


Een van die belangrikste versamelbundels van Barthes is sy onderhoude tussen 1962 en 1980 waarin hy die siening oor die stem in al sy vorme beskou: die anonieme stem en natuurlik: die stem van die kreatiewe persoon. Barthes se analise van Balzac in S/Zillustreer hoe behendig hy tussen vlakke kan beweeg.


Ons vind in hierdie bundel portretverse, maar ook gedigte oor afwykendes: pedofiele, loervinke, transvestiete, lykskenders, ontbloters, sado-masochisme en die hele santekraam.


So die psigiater verwerk sy ellendes en ervaringe.

 

Naas(te)liefde: Lykskender 

 

Tuis verswelg die hitte van vel teen vel. 

Die dodehuis skeld alle verwyte kwyt. 

Die gewillige ontslapene vel geen oordeel, 

weier niks. Wat bly is slegs ysige respyt.

(71)

 

Die grieselige is onder andere bekend aan die digkuns van De Lange (Jeffrey Dahmer) en Marius Crous. Veral by laasgenoemde word die abjekte ontgin.

 

 

IV Om die ligaam te skryf

 

To write the body. 

Neither the skin, nor the muscles, nor the bones, 

nor the nerves, but the rest: an akward, fibrous, 

shaggy, raveled thing, a clown’s coat (aldus Barthes in ‘n motto).

 

Die vleestekens is vir hierdie digter ‘n belangrike gegewe. 


By Barthes (en vele teoretici oor gender) handel dit oor die sogenaamde dialoog tussen die heteronormatiewe wêreld en die gay-bestaan. Hierdie spanning skep gedigte.


Gryser, met sy oog van die loep geskei,

krap die man nou kop oor binnegoed 

wat hy, verby die kamoeflage van fatsoen, 

pak in die karapaks van ’n kwatryn.

 

(“Loep”, 13).

 

 

V Ten slotte:

 

Skeltaal versus skeletaal. Verhewe versus kitsch. Die skelet van denke. 


Die digter navigeer die hebbelikhede en sondes van die moderne samelewing: van spermbanke tot bloubul-manne. Met portrette vir Judith Mason, David Bowie, o.a. Selfs ‘n “Kabaret van die Psigiatriese Kliniek” (81) vir Jeanne Goosen met baie verwysings en toespelings na Jung en Freud. “Selfportret tydens psigose: Vincent van Gogh, 1889” verwys na die “polichrome psigose van die beeld” (78) met ‘n pynlike portetgedig “Unwabo: Wopko Jensma” (77). En ‘n pragvers oor Robin Williams (63).

 

Die digter het geweldig baie gelees en verre plekke besoek.

 

Daar staan ‘n handvol beduidende verse in hierdie debuut. ‘n Ontginning van ander stemme in die self sal die pad vorentoe opeis. Inmiddels oorskadu die slimmighede en die psigiater die stem van die digkuns. En hy weet dit alreeds, soos ons lees in ‘n vers vir T.T. Cloete “Wetenskap en priesterskap” (53).

 

Maar wanneer hy dit presteer, kry ons ‘n pragvers:

 

Psigiater tydens die pandemie 

 

Ek staar bo-oor my masker gans en al verstom: 

die verborge maskers wat geoefen elke pyn verbloem 

waaruit ek normaalweg woord vir woord moet stroop, 

is konkreet oor iedere gesig gespan – oop en bloot.

(58)

 

Of in ‘n aangrypende liefdesvers “Liefde in die tyd van aardverwarming” (47). Mooi gesprekke met Breytenbach en Marlene van Niekerk staan ook hier. Mooi gedigte oor ikoonfantome.

 

Om af te sluit:

 

Vleestekens – Verwarm my by koue as – Spraakkamer –  Deurligtings – Oorskot – … 

‘n Slim spel tussen vlees/dood en nadink oor die slopende werk as psigiater.

 

Soos hy skryf:

 

taal: Hier pryk ek nou – ’n snuistery – 

teksidermies van dié gewisse slot bevry.

 

Hier gaan nog goeie verse gebeur.

 

*

 

P.s. Dis Elisabeth Eybers … nie met ‘n z nie (35)

 

Und Bitte: kan Duitse woorde asseblief met hoofletters gespel word!



Bibliografie:

 

Barthes, Roland. 1975 / 1977. Roland Barthes. Londen: The MacMillan Press. (Vertaler: Richard Howard).

Barthes, Roland. 1975 / 1977.  “The death of the author” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. Londen: Longman.

Barthes, Roland. 1975 / 1977. 1985. The Grain of the Voice. Interviews 1962 – 1980. (Vertaler: Linda Coverdale).

Barthes, Roland. 1975 / 1977. 1970/1974. S/Z. An Essay. New York: Hill and Wang. (Vertaler: Richard Miller).

Barthes, Roland. 1975 / 1977. 1973/1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill and Wang. (Vertaler Richard Miller). 

       

Binet, Laurent. 2015 / 2017. The Seventh Function of Language. Londen: Harvill Secker. (Vertaler: Sam Taylor).

 

Bowie, Malcolm. 1987. Freud, Proust and Lacan: theory as fiction. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Ciuraru, Carmela. 2011. A (Secret) History of Pseudonyms. Londen: Harper.

 

Foucault, Michel. 1979. “What is an author?” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. London: Longman.

 

Hambidge, Joan. 2018. Die allegorie van lees versus die skilpoppe van interpretasie.

 

Steiner, George. 1978. On Difficulty and Other Essays. New York: Oxford University Press.

 

 

Artikels:

 

Lacan, Jacques. 1956. “Fonction et champ de la parole et du langage en psycanalyse”. Psychanalyse I (1956), 81 - 166.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van VersIndaba)

 

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

Oggendmeditasie 6
 
Paul Kruger eers gebalsem
toe in staatsie lê langs
Gezina in die heldeakker.
 
Perde in die ABO se geproes
verklap verkenners glo;
ry eerder fiets as equus.
 
Pegasus nou my perd, my saal,
my toom, my rym-ding so
in ‘n tyd vér van daardie museum:
 
Tom Claridge en Charles Clark,
se ontwerp op 59 Nkomo-straat
paar blokke weg van Kerkplein
 
waar Oom Paul staan waar
hy staan nes Barney Barnato
se leeus op daardie veranda
 
langs die knipmes sonder duim:
vér van die keil in die Rijksmuseum
tot die lyk sonder kram se lange terugreis.
 
 
Oggendmeditasie 7
 
Die meditasies van die hart
‘n spel met prosodie, posodinie
plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.
 
Nagteliks besoek jy my in drome
verwonder soggens oor tathata
se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke
 
van onthou word voor middernag
‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel
in ‘n soort retrograde belewenis
 
dat die dag sal breek in voorwete:
onthou duur langer as vergeet,
verdring staan immer tru voor berou. 


Oggendmeditasie 9
 
Ek is ‘n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer eks op hol
 
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
 
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
 
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
 
ja wit was dié wêreld vir W.E.G. Louw
wyl Nicolaas dig oor die wolfdoring se grou
 
nevvermaaind ek brei en rammel beswaard
speel op my ramkietjie met net een snaar
 
was vergifnis ooit ‘n maklike ding of kroes
op Peter Blum se vasteland waarop ons boer?
 
“Die bietjie wat Ek vra” in dié oordryf,
bly maar ou Hambidge se nurkse bedryf.


© Joan Hambidge 

Wednesday, May 25, 2022

Resensie | Johan Myburg – Narreskip | Protea Boekehuis, 2022


Johan Myburg – Narreskip. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1345-8  

Resensent: Joan Hambidge



Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap

 

Narreskip van Johan Myburg se voorblad betrek die derde paneel van die drieluik wat bekend staan as Die tuin van aardse luste van Jheronimus (Jeroen) Bosch, te siene in die Prado-museum, Madrid. Ons sien hier ‘n greep uit die hel en hierdie ryk geskakeerde bundel verwys na die inferno wat die moderne mens ervaar. Ekologiese onsekerhede, geweld, die Corona-19 virus, oorlog, en uiteraard: die kondisie van paranoia.

 

Afdeling I

Die digter gebruik skipbeelde om sy gevoelens te navigeer in ‘n tyd van onrus wat alreeds in die geskiedenis opgeteken is soos die gedig “Politeia” (Boek IV) waarsku. Die digter se opleiding in die klassieke tale én sy kennis van die beeldende kuns word belangrike kodes vir die digbundel as ‘n soort bark. (‘n Kopknik na Lucas Malan se ‘n Bark vir die ontheemdes.)

 

Ons is op ‘n Ship of fools uitgelewer aan stormagtige en onvoorspelbare draaipunte. 

 

Nie een is onderlê in die kuns van laveer

nie, meen dis oorbodig om te buig oor kaart

en bakens op dié vaart, om fyn te navigeer (8).

 

Alles is onvas, onbestendig lees ons in die komplekse vers; ons is op pad na Narragonië, ‘n plek wat op geen kaart voorkom nie.

 

Die digter gee wel vir ons die kaart en transport van die klassieke wêreld waarteen hy die hier-en-nou afspeel.

 

Circe se swyne en Odusseus se lot word skitterend verwoord in “Moralia” (met verwysing na Plutargos):

 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot – 

van die lot een van die flinkste breine.

Circe se beswymelde swyne 

weet presies waar trek mens lyne 

tussen vark en Odusseus die sot. 

Circe se beswymelde swyne 

steun almal op Gryllus die ot (14).

 

Hierdie knap spel met rympatrone wat verbreek word met lyne / breine beklemtoon die sotheid van alles. In die derde afdeling van die gedig kry dit ‘n wrang toespeling op manlikheid (soos dit nou daar uitsien).

 

Afdeling II

Die gedigte lewer kommentaar op mense se onvermoë om te weet wanneer om stil te bly en die sosiale maskers wat ons dra:

 

Wie kan praat en wie moet swyg; 

wie het en wie kry die mirtetwyg? (21)

 

In “Note to self” (22) maan die digter homself tot (self)vermindering, tot sag praat; vra eerder vrae as wat jy stellings maak. Die satiriese en skerp blik op ander word hier op homself gedraai.

 

In “Wolkstaar” (25) fantaseer die spreker deur verskillende figure in die wolke raak te sien en uiteindelik met die wete dat geskepte Wolkekoekoeland vertroostend oor hom hang. Dit hang saam met die gedig “O dapper” (26) waar die verbeelding vrye teuels gegee word. 

 

Telkens die knusheid van die bekende en die besoeke aan ander plekke, hetsy deur boeke of in die verbeelding. “Les I” (29) is ‘n liefdesvers en die ingeboude verlies so bekend aan hierdie soort gedig wat hierdie leser treffend vind. Die geliefde en liefde word behou deur daaroor te skryf; die verlange na die lyflikheid kan helaas nie deur die gedig opgelos word.

 

In die opvolgvers “Les 2” (30) is die geliefde onbereikbaar:

 

Op dae soos dié wanneer telepatie 

so ontoereikend blyk 

begeer ek die taalreëls van jou nuwe 

onderaardse ryk.

 

In hierdie afdeling is daar selfpraat en ‘n gesprek met die onmoontlike toestande van stilte en die dood.

 

Afdeling III

In hierdie afdeling word die museum van verlore objekte besoek. Die digter se kennis van die klassieke wêreld en die kunsgeskiedenis word goed versoen in netjiese verse. 

 

“Ex ungue leone” (36) praat terug met Louw se belangrike vers en beide digters se kennis van klassieke tale en simbole flits na mekaar. Enige dosent wat intertekstualiteit wil verduidelik vir jong studente sal hierdie gesprek waardevol vind.

 

“Rhinocerus” is ‘n juweel: via Plinius tot by Dürer met die wete dat groot kunswerke jou kan laat voel (39). “Jagger reading room” (42),  wat die brand van die biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad beskryf, sit vol ironie: Léon Gautier se La Chevalerie, ’n boek opgedra aan Miguel de Cervantes Saavedra is nie verwoes nie. Tog word die Ideale van hierdie skrywer gefnuik:

 

Gepluk uit vuur ruik dié edel ideale, en die boek,

buiteblad met goud versier, nou na roet.

 

Afdeling IV

Via Jeroen Bosch se skets word die geweld en wreedhede van ons land helder beskryf. Dit staan reeds opgeteken en die digter het oë en ore wat die nonchalante plundering van mense se organe as ‘n siek heldedaad in ‘n moetiemoord verbeeld. In die hartverskeurende gedig oor ‘n ou vrou wat vee oppas, word die leser blootgestel aan die sinnelose moord; iets wat elke dag rondom ons gebeur. Die gedig is juis so pakkend, omdat dit in ‘n liriese toonaard geskryf is. In die Afdeling VI van hierdie reeks is ons terug by Jeroen Bosch se demoniese hellevaart.

 

Die digter gee die verskillende weergawes van geweld: plaasmoorde en moetiemoorde. Haatlikheid. Onversetlikheid. In die ix-de deel beweeg ons in die fantasie van ‘n vrou wat alles beskryf vanuit die dood.

 

Afdeling V

Hier word gekyk na die impak van die grendeltyd, iets waaroor vele digters bloeiend geskryf het. Bloeiend en boeiend. En die spreker wys op hoe hierdie tyd ongeregtighede duideliker uitgewys het.

 

B(l)oeiend …

 

Afdeling VI

‘n Gedig oor die wildtuin handel oor meer as oor die wildtuin. Hier die besoekers (ryk) wat na die wrede dierelewe kyk (72). Die digter laai dit met kodes uit Dante se Heilige komedie en implisiete bybeltekste. In die gedig “Hel” via Giotto in die Scrovegni-kapel in Padua tot by Goya se Kronos en Bosch eindig die vers met die wete dat die diepste put is “van ewig vreet en ekskreteer in dié helse latrine”. (Julia Kristeva en die abjekte in Powers of horror uit 1980.)

 

“Skemer”(79) is ‘n puik distigon vir Eugène Marais en hesperiese depressie. In min, spaars woorde word Marais se siening van weemoed beskryf en sy eie uitgang beskryf in ‘n skitterende portretvers.

 

“Quinta del Sordo” (82) vir en oor die kunstenaar Diane Victor, wys op ander kant van die melancholiese munt: woede.

 

En die poging om ‘n tuin te maak, geluk nie. Hierom kan daar geen paradys wees nie.

 

Afdeling VII

“Twee ryme in die trant van Sebastian Trant” (91) is gepak met selfspot oor geleerdheid en sy eie Ptolomeus-projek. Die inkyk op sy kennis van Latyn (wat hy ook in klein tawerne-drink-gedigte opstuur) loop uit op die wete:

 

As doktor het ek meer as kalot

’n mus nodig sodat tussen grys 

my eselsore tog net nie wys

 

“Rose Tatane” (92) is ‘n skrynende, skreiende politieke vers oor onreg. Hierdie vers ruk aan die hart (Andries Tatane's Wife Killed In A Car AccidentBesoek 7 Maart 2022).


“Siedaar, die man” (96) speel in op die Ecce Homo van Wilma Stockenström en verder terug in die tyd, op Louw se bekende vers. En die wete dat dit ook die titel was van Nietzsche se teks.

 

“Hymie”(97) vir Etienne Leroux wys op die dwaasheid van alles. Ook hier vind is die satiriese aanslag.

 

“Brueghel se twee ape” (97) en “Dulle Griet” (98) werk met die primordiale. Alles wat gebeur het, word nou in die tyd herhaal. (“About suffering they were never wrong …”, aldus Auden).

 

‘n Sentrale vers is “Hillbrow” waar die digter terugkyk na sy jeug. Hy is agter in die motor van sy vader en die herinnering gebeur agterstevoorom. Toe hy uiteindelik as volwassene die stad betree, onthou hy die toring en die narreskip. Die stukkende stad word so gesien:

 

sy rug gebreek soos ’n boek argeloos hanteer

 

Le Corbusier en ander argitekte word betrek om die landskap van ‘n vervalle stad te beskryf in hierdie verruklike vers.

 

Inderdaad konkludeer die spreker:

 

Die droom bly ’n mens jaag as rede begin te slaap. (102)

 

Die swart son soos Julia Kristeva dit beskryf in Black Sun: Depression and Melancholia (vertaal deur Leon S. Roudiez) is van belang. Hierin kyk sy na die taal van melancholie in kuns, letterkunde, filosofie, godsdiens en hierdie psigoanalitiese studie is van waarde vir die begryp van Myburg se werkswyse. Die verlies aan identiteit, self, die sentrum wat nie meer bestaan nie, pakkend beskryf in ‘n vers waar Mahler in die agtergrond draal en die sermoen vergete raak … (105)

 

Diegene wat getwyfel het aan Johan Myburg se bekroning met die Hertzogprys sal nou moet toegee: hierdie is ‘n digter wat verskillende vorme en uitinge kan hanteer. Die toonaard wissel van melancholies na satiries, speels en ernstig. Verwysings na die skilderkuns (Bosch, Brueghel en vele ander) en digters (o.a. Dante, Van Wyk Louw,  Wisława Szymborska, TT Cloete) met ‘n blik op ‘n wêreld waar geweld die nuwe aanvaarbare taal geword het.

 

En ja die titel aktiveer ook die film Ship of fools (1965) deur Stanley Kramer, met Vivien Leigh (haar laaste rol), Simone Signoret, Lee Marvin en José Ferrer. Dit is gebaseer op Katherine Anne Porter se gelyknamige roman van 1962.

 

‘n Skeepsvaart van Duitsland na Mexiko in 1933.

 

Dis ‘n boek van verlies wat diep inkyk in die mitologie en primordialiteit:

Visualiseer oopgelate frases, 

die slotsom afwesig, 

en sonder om finaal te konkludeer.

 

*

 

Katabasis en anabasis word in balans gehou. Die afdaal in die hel en die gedig wat die anabasis word in ‘n psigiese opbeweeg uit ellende. Daar is ‘n fyn balans tussen verwysing en emosie in hierdie bundel.

 

In “Out of place”, wat verwys na Edward Said, het die digter ‘n kopskuif gemaak en reeds verkas uit hierdie troostelose toestand “na vistas waar niks ooit onbekender was”. Said se Orientalism en die ewige soeke na die sentrum word so opgeroep. Daardie boek oor grense en grensverskuwings uit 1978 en hoe die Weste die Midde-Ooste verkeerd verstaan of romantiseer.

 

‘n Plakkaat van Said staan in my kantoor toe daar ‘n huldigingsrede aan die UK vir hom gehou is: The Task of the Intellectual.

 

Ek sluit dan af met hierdie veelseggende gedig wat sterk resoneer met die vreemde tye waarbinne ons leef:

 

Out of place

Edward Said

 

Sonder om willens of wetens ’n skuif 

te beplan óf te maak, sonder om voet

uit die land te sit, met ’n laaste wuif 

 

te groet, het ek reeds verkas,

as kopskuif ’n grens oorgesteek na vistas

waar niks ooit onbekender was

(104)

 

Postscriptum:

 

Myburg skryf insiggewend oor die kuns van William Kentridge in Meevoerend elegant en melancholies/ William Kentridge se kortprente – LitNet. Besoek 16 Maart 2022.


Auden se beroemde gedig:

 

Musee des Beaux Arts 

W. H. Auden 

 

About suffering they were never wrong,

The old Masters: how well they understood

Its human position: how it takes place

While someone else is eating or opening a window or just walking dully along;

How, when the aged are reverently, passionately waiting

For the miraculous birth, there always must be

Children who did not specially want it to happen, skating

On a pond at the edge of the wood:

They never forgot

That even the dreadful martyrdom must run its course

Anyhow in a corner, some untidy spot

Where the dogs go on with their doggy life and the torturer's horse

Scratches its innocent behind on a tree.

In Brueghel's Icarus, for instance: how everything turns away

Quite leisurely from the disaster; the ploughman may

Have heard the splash, the forsaken cry,

But for him it was not an important failure; the sun shone

As it had to on the white legs disappearing into the green

Water, and the expensive delicate ship that must have seen

Something amazing, a boy falling out of the sky,

Had somewhere to get to and sailed calmly on.  

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van VersIndaba)

Wednesday, May 18, 2022

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

 Oggendmeditasies

 

Pase 2022

 

Die nag ‘n oorvol asbak

met besoeke van en na

verre plekke, ontmoetings

met vergetenes, vertrekkendes.

 

Vrese tot die dag breek:

‘n stil gebed soos Eugenio Montale

soekend na die stil punt van die wêreld

nes Eybers in haar winter-surplus.

 

Daardie Stil punt van die aarde,

soos my vriend dig, nou onmoontlik

met modderrampe en ‘n oorlog

op ons klein en silwerige planeet.

 

In hierdie concordia discors

onthou ek Pase by my ouers,

my vader se studeerkamer

‘n atlas-van-die-wêreld.

 

Toe was alles ver en in beheer

met “Vroegherfs” ‘n gebed

vol hoop en verlossing …

Nou smag ons na berusting.




Oggendmeditasie 2

 

‘n Dooie vlieg langs ‘n skuifspeld

tandestokkie neffens ‘n bril gebreek

laat my opnuut wonder oor jou vraag:

 

hoe bepaal ons die toon van die gedig?

Amper iets soos in ‘n droom kleurloos

waarin jy verskyn en steeds knieknik?

 

Iewers tussen hierdie beelde en ritmes

en hortende metrum met weefwerk bekyk

deur Ina Sintaksis en Henning Semantiek

 

hoor ek jou smalend lag oor die gedig-

as-literatuur-teorie en sien jou wegloop

met dié nikswerd-gedig nes ‘n dooie vlieg.

 

 

 

Oggendmeditasie 3

 

Die monodie in die Griekse tragedie,

‘n lament, oor die dood van ‘n ander.

George Steiner sou waarskynlik meen

nie sprake van soiets ná die 17e eeu.

 

Treurend oor jou in ons Ioniese drama:

Creusa versaak Ion en Hermes verklap

alles van Apollo se dade in ‘n grot …

Met ‘n terugkeer word ek dalk Pythia?

 

Jy verlaat my lank terug en voetspore

in ‘n herinneringsgrot die leidraad:

jou voete loop na ‘n Griekse eiland,

maar ek ontleed οἷα εἶναι δεῖ …

 

Euripides het dit reeds vertel: verraad

en versaking, immer met ‘n terugkeer

na die plek van skending of verminking:

in my grot van herinnering ‘n trenodie?

 

 

 

Oggendmeditasie  4

 

Verloor my Mont Blanc-pen, ‘n cadeau

van haar, vind dit op ‘n ander plek gestoor:

met hierdie pen in ‘n kroeg, einste seimste

‘n weddenskap gewen: ein Meisterstück

 

korrek vertaal, want sy was ‘n Duitse nooi

wat immer lag oor my grammatika-boeke

(hoog opgestapel langs my bed ‘n berg)

met Nachfüllung vir dié pen so woekerend.

 

En vandat sy weg is, is hierdie pen op stuk

van sake, in kompetisie met ‘n potlood

en skerpmaker, wat ek draai en draai

om die grein van haar stem te ont-hoor.



© Joan Hambidge