Willie Kühn. In die
oog van stilte. Human & Rousseau, 2005. ISBN 0 781
4472 6.
Resensent: Joan Hambidge
Een van die voordele van ‘n uitgewersbedryf wat minder
boeke publiseer, en spesifiek, minder digbundels, is dat die uitstaande en
belangrike debuut na waarde geskat kan word. Die debuutbundel van Willie Kühn,
op sy dag ‘n uitstekende boekeredakteur van Beeld, In die oog van stilte, is beslis loflik. Vormbeheer, woordspel,
ironie, paradoks, skerp waarneming en ‘n kennis van die digtradisie waarbinne
hy werk, onderskei hierdie bundel as die werk van ‘n digter wat met ‘n seker
hand dig.
In “Gedigte moet sleutels hê…” , met sy toespeling op Van
Wyk Louw, neem hy ook speels standpunt in teen die “skrywer in koesterende
portretgalery” en is hy bewus van die vers se “postmodernistiese bod”. Ons tref
dan ook dikwels verse aan wat waarnemings is van die mens se plek in die
natuur, ons algehele weerloosheid teen groter magte wat ons lot bepaal en die
proses van transformasie, soos wat die openingsgedig dit stel, waarin die
digterlike bedryf as een van vuur en suiwering gesien word.
In die pragtige “nota bene” word die mens se skelet en sy
funksies beskryf en word Eybers se “Wespark” ook raak gelees. Die slim Latynse
titel speel ook in op die letterlike bene van die mens met die skedelgryns wat
kindertjies kan bang maak! Dus die dood wat dan ook skuilhou in ons.
Die digter se satiriese aanslag in “Die laaste Afrikaanse
gedig” (inderdaad met sy toespeling op Schoeman se roman-cum-outobiografie)
steek die draak met die EngAfrikaans van ons jonger generasie wat alles so
“stunning” en “spectacular” vind.
En ‘n “Direksievergadering” is ‘n andersoortige
transformasie:
”Die portaal is weelde herbore.” Die korporatiewe leuse
vra dat almal hoop moet herwin; maar nie die soort hoop wat die digter
voorstaan nie.
Die missie is ‘n mantra en die byeenkoms ‘n soort
opwekkingsdiens in ‘n vers wat die leser opnuut bewus maak van wat agter die
toe deure van hierdie soort vergaderings gebeur.
“In die oog van die stilte” kan sowel ‘n ars poetica wees
as ‘n gedig oor die mens se soeke na stilte en inkeer. Ook die bundeltitel moet
dan gelees word op twee vlakke: die soeke na ‘n volmaakte ruspunt wat in die
meeste gedigte onderliggend blyk te wees. Tegnies is dit waarmee hierdie digter
besig is en in sy bedryf en waarnemings van die menslike aard en die natuur
soos onder andere verbeeld in “Superman”.
In “Planttyd” word die natuur en die seksuele
tegelykertyd besing in sterk beelde. Ofskoon die digter dikwels besig is met
abstraksies, word die verse in sterk konkrete beelde staangemaak wat myns
insiens altyd ‘n vereiste is vir ‘n oortuigende gedig. God laat ‘n
besoekerskaartjie en die groot reise van die kontinente (wat na die tsoenami
des te sterker en meer ironies word), beeldend skerp beskryf.
Behalwe die metafisika word die liefde ook deeglik onder
die loep geneem: ernstig en speels. Ook gesprekke met die heelal en presies wat
ons hier doen, word slim behandel (“Gesprek”). Ongelukkig rym die mens nie. En
dit is waarskynlik die refrein van hierdie bundel: ons weerloosheid binne ‘n
groter, oorrompelende heelal waarin ons dikwels niks meer is as ‘n “aardse aap”
nie. Tog is die aarde wonderlik en ryk, ons ten spyt.
‘n Mens hoor dikwels Van Wyk Louw intertekstueel saampraat
(Nuwe Verse) en ook Ovidius se Metamorfose is duidelik tersaaklik:
die digkuns is ‘n fyn kompos vir hierdie digter…
En die digterlike proses word, soos in die eerste gedig,
sterk gekoppel aan vuur (“die kop in die vuur”) se paradoksale suiwering en as.
Een van my gunstelingverse is “Encore” oor Du Pré, bekend
om haar meedoënlose vertolkings en tragiese liggaamlike verval. Ook die vers
oor Kerkorrel, “uitspanplek”, is ‘n grimmige lykdig wat onder andere ‘n nuwe
betekekenis gee aan die vertolking van “al lê die berge nog so blou” en die
pynlike slot waar die dood hom “voëlvry” verklaar.
Dit is ‘n intelligente en belangrike debuut wat die
uitgewershuis se nou onlangse reputasie as publiseerder van leë
geldmaaktreffers in die digkuns afbreek. Die bundel vra vir méér as een lees
wat telkens met stygende intellektuele en emosionele genot gepaardgaan. Ek
voorspel groot dinge vir hierdie digterskap.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]