Thursday, May 26, 2016

Breyten Breytenbach - die na-dood (2016)



Breyten Breytenbach - die na-dood. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7246 2

Resensent: Joan Hambidge


I

Hierdie bundel, uitgegee deur Human & Rousseau, dra die sub-titel: die singende hand se oggendboek-hierinneringe. Dit werp dan lig op die skryfproses en hoe hierdie digter die leser sien. Die bundel word opgedra aan die Juweel in die Goue Lotus.

Dit beslaan ses afdelings (1. onder sterre se gewig, 2. oggendboek, 3. Lumen Obscurum, 4. kwartels in die loekwartboom / quails in the loquat tree, 5. Hartkrake, 6. Die singende hand).

Die datums by gedigte aktiveer die idee van 'n dagboek. Die leser word ingelei in die intieme opnames, gedagtes, waarnemings van die digter en prosaskrywer. (Daar is 'n handvol prosaverse.)
'n Mens moet hierdie bundel benader as 'n aanhangsel tot die singende hand. Daar is gesprekke met talle digters (Boerneef, Leipoldt, Marlene van Niekerk, o.a.) en kritici soos Helize van Vuuren wat die konsep "laatwerk" vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak het (128).

Die bemoeienis met die poësie - as uitskot of kots, 129 - word ook aangetref. Woordvernuf en -speletjies so bekend aan hierdie digter, word ook in hierdie bundel aangetref.

Die toon wissel van teerheid, erbarming, verwondering voor die natuur, spirituele waarnemings tot woede soos in ("Gemeentebrief", 149), 'n gedig wat nog nie voorheen gepubliseer is nie.

Die digter as openbare intellektueel kan striem; veral wanneer hy politieke ongeregtigheid of vooroordeel raaksien. Die digter is tans werksaam as ‘n aktiewe stem teen die verengelsing aan die Universiteit van Stellenbosch.

'n Sentrale vers is waarskynlik "Die toring van stilte" (179) met sy sterk Leonard Cohen-aanslag dui op 'n bemoeienis met die leser - en die Boeddhistiese saamdig van lewe en dood: die spreker is vasgevang in die ewige wiel.

Die bundel moet gesien word as 'n bestekopname van 'n lewe en digterskap.

Die voorblad met die digter as vlieënde engel (deur homself ontwerp) speel met die gedagte asof hy 'n oordeel vel oor homself.

gaan gaan
oorkantoewer gaan
klaar oorkantwoewer vergaan

o vreugde ontwaak


II

Daar is vele sleutels vir die speurende leser: die verjaarsdagverse (waaroor Van Vuuren reeds geskryf het); die betekenis van dans in die digkuns (kyk na die motto's);
verskillende ervarings van die syn (droom, dood, lewe); Robert Hughes oor Goya ("Even when we cannot hear another, the dance remains") en die (Zen)Boeddhistiese aanslag van hierdie digterskap.

In Eklips (Taurus, 1983) waarsku die digter alreeds:

3.2

al die snedige singesnyde weggooigoed,
en jy met jou ou verbleikte erns snood

(64)

Dis die “weggooigoed” wat hy hier vir sy lesers bewaar. Onderaan die vers “(Gemeentebrief”), 149 – ‘n woedende aanklag teen die ou regime wat net so van toepassing kan wees op vandag se ellendes en korrupsie – staan daar pertinent dat die gedig gered is uit ‘n verskifte lêer.

‘n Bundel dan ook as testament.

Vir my is die liriese, haikoe-agtige verse ‘n hoogtepunt:

14

nou die maan gaan lê
het ek ‘n loekwart gepluk
om aan my hart in jou plek te gloei

(142)

En die bundel waaier oop en praat met ‘n skryf- en sielgenoot: Boerneef. In Mallemole (Nasionale Boekhandel bpk, 1963) lees ons;

Die kraal is leeg die dorings wit
die dam is leeg die skaapbos wit
vou hande saam as jy kan bid
die veld is leeg geraamtes wit

(15)

Die herhaling van leeg en wit, wat tog met die woord bid gered word. By Breytenbach is dit in ‘n ander sleutel.

10

skyfie skuit klief
deur die niet
en vergaan in ‘n tint van niemeersien
soos die vlammende vis

(140)

En my lesing van hierdie bundel word bevestig deur die siening van die digter onderaan die vers “poet of nothingness, 30 Augustus 2015)”, waar hy verduidelik dat die konteks die gedig laat sing soos”bye die gerugtevrug van vlug korf toe bring” (94).

hier lê dood

hier lê dood
verganklikheid
beendere
as
woorde
wind
hier lê niks
ons almal s’n
elkeen se deel
niks
sê wat jy wil

(191)


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, May 11, 2016

Boerneef, Breyten en die berggansveer


Die vuur brand laag
die winter koud
Julie is lank
ou Sampie oud
wies saans by die deur
wat wil hy hê
is aant binnetoe beur
wil laans my lê

Hierdie klein gedig staan opgeteken in Boerneef se Mallemole (Nasionale Boekhandel Bpk, 1962). In my studentejare was Boerneef aan ons bekend gestel deur wyle Annette Theron (Snyman) wat as taalkundige die unieke woordspel van die digter ontleed het. Boerneef was ook woordeboekmaker, benewens ‘n unieke digter wat vandag nog deur sangers vertolk word. Ons dink byvoorbeeld aan Laurinda Hofmeyr se lieflike “teen dusketyd” en Pieter de Villiers se toonsettings van o.a. “Die berggans het ‘n veer laat val” en “Aandblom is ‘n witblom”.

“Die vuur brand laag” bestaan uit 8 reëls. Is dit ‘n oktet? Tog nie, maar dit boots die vorm en toepassing van hierdie vorm na. Ou Sampie is oud en die oorgang (volta) tussen die vierde en vyfde reëls dui op die dood. Daardie iets / iemand wat binnetoe beur, dui op die dood.

In Breyten Breytenbach se pas verskene bundel die na-dood (Human & Rousseau) staan die volgende gedig opgeteken wat “praat” met Boerneef se vers:

Saterdag 9 Mei 2015

met oogopslag die maan nog daar
‘n bolseilskuitjie wat niet toe vaar

en roos die daagruim bo die heuwels oos
terwyl nagtegale knipper en tuit soos

toe dagherinneringe geberg in kruike
vanouds uitgelek het onder donkerder struike

en alles ewig was en alles moes sterf
tot ‘n sleepsel rou onthousels op die werf (78)

Teenoor Boerneef se oktet-agtige vers staan die distigon van Breytenbach. Beide gedigte is oënskynlik eenvoudig en toeganklik. Beide eis ‘n dieper lees op, verby die eerste oogopslag.

Die maan word metafories ‘n bolseilskuitjie wat na die niet toe vaar. Die dagbreek (daagruim) lyk roosagtig. Daagruim daag ook die leser se verwagtinge uit. Die nagtegaal herinner aan Romeo and Juliet:

Juliet: Are you going? It’s still a long time until daybreak. Don’t be afraid. That sound you heard was the nightingale, not the lark.[1] Every night the nightingale chirps on that pomegranate-tree. Believe me, my love, it was the nightingale.[2]

Daardie nagtegale knipper en tuit dus (soos in ander verse?)

Die dagherinneringe geberg in kruike lei ons na Cleanth Brooks se The well wrought urn: Studies in the Structure of Poetry, ‘n seminale teks oor die poësie. Op bladsy 207 lees ons:

The poem is a “working out of the various tensions — set up by whatever means — by propositions, metaphors, symbols.” It achieves a resolution through this working out of tensions, not necessarily a logical resolution but a satisfactory unification of different “attitudes,” or dispositions towards experience. Therefore, any intellectual proposition within the poem must be viewed in the context of all the other propositions expressed in the highly changeable language of metaphor. The poem does not try to find the truth-value of a particular idea; it tries to juxtapose many, contradictory ideas together and reach a sort of resolution. The poet is trying to “unify experience” by making poetry not a statement about experience but an experience itself, with all the contradictory elements contained in one cultural expression, i.e., the poem. [3]

En dit is die jukstaposisie van teenstrydige idees wat Breytenbach se vers so knap maak.

Die dagherinneringe geberg in die kruike (urne!) dui dus nie net op die dood waarop alles afstuur nie, maar ook op die digterlike proses.

Breyten Breytenbach tree ook boeiend in gesprek met Boerneef se berggans in die volgende vers in Katalekte (2012):

‘n kolgans doodgery op die M3
Breyten Breytenbach

die kolgans het ‘n veer laat val
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê

die mense ry verby en kyk
vir ‘n droommoment by aanskoue van die lyk
terug in ‘n tyd van ruimte waar nou
die nikswees ‘n verlede vryheid oorvou

die kolgans het geen ritme vir sêplek meer
die kolgans laat val ‘n laaste veer
sy en haar soort wis uit teen die grens
van verlore naburigheid tussen voël en mens

mits dese wou sy dalk nog sê
hoe diep het ons liefde vir die lewe gelê

(Uit: Katalekte, 2012)

En die “rou onthousels op die werf” neem ons terug na Boerneef se ou Sampie op sy werf.
In my bundel Lot se vrou (Human & Rousseau, 2012) staan hierdie vers vir BB:

The well-wrought urn

Vir Breyten Breytenbach

Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.

Gister ontdek ek (toevallig?) Mallemole op my rak en ek doseer tans Boerneef met intense vreugde, danksy Henning Snyman se Mirakel en muse (Perskor, 1983). Die skrywer maak ons bewus van die vlegwerk van (en tussen) gedigte. Die spel tussen primêre implikasie (dubbelsinnigheid, vormspel, nie sigbare betekenisoorgange) versus sekondêre implikasie (ironie, metafoor met hulle meelopers) word beklemtoon. Sintaksis teenoor implikasie; magiese attribuut versus teenspraak.


Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so geel soos herfspamplier by Dwarsrivier op Ceres
slaan rem aan hou jul asem in en kyk en kyk
lank en eerbiedig soos ‘n mens na so ‘n herfs moet kyk
laat dit inbrand in jou vir later tyd
die warm geel en rooi vir latenstyd

So dig Boerneef. En Breytenbach se bundel is “laatwerk”.

“winterswael” sluit soos volg:

wat is die gedig
anders as die veerveeg skaduwee
voor die lig? (50)

The language of poetry is the language of paradox. Aldus Cleanth Brooks.


Voetskrif

[1] Die lewerik sing in die soggens, die nagtegaal sing saans.
[2] William Shakespeare. Romeo and Juliet, Bedryf 3, toneel 5.
[3] Cleanth Brooks. 1947. The well wrought urn: Studies in the Structure of Poetry. Harcourt Brace, New York.
© Joan Hambidge